Johnson Johnson (34) was volgens ’n docket-inskrywing ’n “private protection consultant”.
Sewentien dae gelede, op Saterdag 5 Augustus, het hy saam met ’n kliënt op ’n luukse trein van Rovos Rail in die Kaap geklim. Die kliënt vir wie hy as lyfwag opgetree het, was ’n Nederlandse toeris, ene mevrou Thilini Scherpenzeel. Die trein was op pad Pretoria toe.
“Thilini Scherpenzeel,” het Cupido die naam in sy mond getoets. “Daai’s ’n naam, pappie, all elegance. Ek wed jou sy’s ’n pop.”
Johnson is die laaste keer gesien toe hy dié Saterdag, nadat hy saam met mevrou Scherpenzeel aandete op die trein geniet het, haar by haar kompartement se deur afgesien het. ’n Woordvoerder van Rovos het later bevestig dat Johnson nie op die trein was toe dit die Maandag in Pretoria aangekom het nie. Sy kliënt en die trein se personeel het aanvaar dat hy die trein die Saterdagnag vrywillig verlaat het, want sy reistas was skynbaar ook weg. Dit is eers die Maandag gevind toe die trein sy Pretoria-bestemming bereik het – diep onder sy uitvoubed ingestoot.
Daardie Maandagmiddag is Johnson deur sy eksvrou, Robyn, as vermis aangegee. Sy het die verdwyning laataand gaan aanmeld by die polisiestasie in Brackenfell, die Kaapse noordelike voorstad waar sy en Johnson apart gewoon het.
Geen poging om Johnson op te spoor het vrugte afgewerp nie.
’n Week later, op Maandag 14 Augustus, is die lyk van ’n man langs die hoofspoorlyn naby Drie Susters in die Karoo gevind. Die oorsaak van dood was klaarblyklik ’n massiewe skedelfraktuur. ’n Forensiese ondersoeker van die SAPD op George het ’n dag later bloed, weefsel, beensplinters en hare gevind teen die staalpaal van ’n elektrifiseringspiloon, ’n paar meter van die liggaam af, op ’n hoogte wat aandui dat die oorledene dit getref het toe hy uit die trein gespring het of gegooi is.
In sy baadjie se binnesak was ’n stukkende selfoon. Dit is sy liggaam wat op die foto’s in die dossier verskyn.
Op Woensdag 16 Augustus het die ondersoekende speurder van Beaufort-Wes, sersant Aubrey Verwey, deur die IMEI-nommer van die stukkende selfoon na te gaan, vasgestel dat die oorledene bes moontlik die verdwene Johnson Johnson is.
Dis ongeveer die somtotaal van die inligting tot hul beskikking.
Cupido sit die blou merker neer en staan terug. “Jurisdictional nightmare,” sê hy. “Brackenfell, Pretoria, Drie Susters, Beaufort-Wes, en niemand weet waar dié dude dood is nie. We’ll have to start from ground zero.”
Wat ’n plek in die Karooveld langs ’n treinspoor anderkant Drie Susters is. Daarom bel Cupido Beaufort-Wes toe, praat met sersant Aubrey Verwey en maak ’n afspraak om die volgende dag deur te ry om na die toneel te gaan kyk waar Johnson Johnson se liggaam gevind is.
Griessel begin die verspreide foto’s en dokumente bymekaarmaak om terug te plaas in die geelbruin lêer. “Kom ons gaan praat met die eks,” sê hy.
“En ons moet by Thilini Scherpenzeel ook uitkom,” sê Cupido hoopvol, “sooner or later.”
“Is jy nie die man wat so vlerksleep by ene Desiree Coetzee van Stellenbosch nie?” vra Griessel.
“I am him,” sê Cupido. “My interest in missus Scherpenzeel is purely professional.”
“Natuurlik,” sê Griessel.
Dit is net ná drie in die middag. Hulle loop uit, en in die skemerte van die gang af, want ’n paar buisligte werk nie.
3
Augustus. Daniel Darret. Bordeaux.
Hy is ontsteld, dae lank ná die geveg by die rivier.
En dankbaar dat sy werkgewers met vakansie is, want sy gesig is verkleur en geswel, sy hand swaar verbind.
Hy is ontsteld oor die risiko. Hy bly in die multikulturele Saint-Michel-buurt; daar is ’n moskee ’n blok van sy woonstel af. Dit is algemene kennis in dié omgewing dat die Franse DGSI, die Direction Générale de la Sécurité Intérieure, hier woeker. Sy leefstyl en verbintenisse sou lank reeds verseker het dat hulle hom as skadeloos beskou, maar sy foto sal iewers in ’n databasis lê. En die polisie in hierdie stad is doeltreffend, met hul uitgebreide stelsel van CCTV-kameras. Dit sal nie onmoontlik wees om hom aan die geveg te koppel en dan op te spoor nie. Selfs al kan hy selfverdediging pleit, al is daar ’n getuie wat dit kan bevestig, is dit die skerper aandag en fokus wat hy nie wil hê nie. Wat hy nie kan bekostig nie.
Hy is ontsteld oor hoe baie skade vyf jong amateurs hom kon aandoen, hoe ouderdom hom verswak en stadiger gemaak het.
Hy is ontsteld omdat hy weer oor sy skouer moet kyk, omdat hy die Camille Pelletan-plein onder die woonstelvenster nou weer moet dophou, sy ore moet spits as hy ’n sirene hoor, en na binne verstyf by die aansig van ’n uniform.
Hy wil nie daardie lewe terughê nie.
Die koerante dra die storie, van die vyf wat in die park oorkant die rivier in ’n “bloedige bendeoorlog” betrokke was. Twee van hulle word gesoek vir ander misdade.
Daar is geen klop aan sy deur nie, geen polisielid wat agterdogtig na hom kyk nie.
Dit waai oor. Die swelling aan sy gesig sak.
Maar niks is presies soos dit was nie.
En dan sien madame Lecompte hom.
4
Augustus. Bennie Griessel. Brackenfell.
Hulle hou in die parkeerterrein van die Fairbridge Mall in Brackenfell stil, stap dan oor na die groot troeteldierwinkel wat agter langs die treinspoor staan.
Hulle loop langs mekaar, Bennie Griessel en Vaughn Cupido. Griessel met sy deurmekaar hare, altyd een sny agter, en sy donker, amandelvormige oë wat al as “Slawies” beskryf is. Hy is meer as tweehonderd-en-veertig dae op die waterkar, maar sy stryd met die bottel het diep spore oor sy gesig gelaat, sodat hy ’n dekade ouer lyk as sy amptelike ses-en-veertig. En die flambojante Vaughn Cupido, ’n kop langer, nege-en-dertig jaar oud, in sy elegante winterjas. Hy sê al maande lank: “The big four-oh, pappie, it’s coming for me. And you know what they say, when forty hits, you have to hit back …”
Hy het nog nie gesê hoe hy beplan om terug te slaan nie.
Die troeteldierwinkel lyk soos ’n miniatuur-plaaswerf en -opstal. Op die groot naambord by die hek staan Robyn’s Ark. Hulle moet eers by die hekkie in, en daarna deur die tuin waar hoenders en hase en eende wei, voor hulle by die winkel se deure kom. Binne ruik dit na voëlmis en hondekos en kat-urine. ’n Kakofonie van papegaaie, kanaries, vinkies en hondjies vul die plek. Een hele muur is vol vistenks, met daarin die enigste vorm van lewe in dié plek wat nie hoorbare geluide maak nie.
’n Vrou kom na hulle toe aangestap. Sy is in haar dertigs en vol van figuur. Haar grimering en haarstyl is ietwat oordadig, die oorbelle groot, haar naels lank en donker geverf.
“I’m Robyn,” sê sy. “Julle is van die SAPS, right?”
“Die Hawks,” sê Cupido.
“Ek ken polisiemense; ek was lank met een getroud,” sê sy. “It’s about time they got the Hawks involved.”
Hulle stel hulself voor, vra of hulle met haar oor Johnson Johnson kan gesels.
“Of course. But it’s J.J.,” sê sy. “Almal het hom J.J. geroep. Kom deur, ons praat in my kantoor.”
“We’re very sorry for your loss,” sê Cupido. “It must have been really hard.”
Sy staan by die deur, wag dat hulle instap, sê dan: “Yes, it’s hard. Veral vir die kinders. Ma’ dis al drie weke, ek cope nou beter. Ek het eintlik ma’ geweet, toe J.J. nie uitkom daai aand nie, toe het ek eintlik ma’ geweet. So I’ve had time to grieve …”
En sy maak die deur agter hulle toe.