“Rian! Daar’s foon vir jou!”
Die man aan die ander kant van die lyn het blykbaar reeds heelwat inligting oor my gehad. Hy het homself voorgestel as ’n regisseur van die televisieprogram Agenda en vertel dat hulle ’n program beoog waarin sekere jeugdiges vrae kon stel aan die president. Die idee was om jeugdige verteenwoordigers van die belangrikste politieke partye te kry. Blykbaar was daar reeds iemand van SASCO (namens die ANC), ’n IVP-verteenwoordiger, ’n NP-meisie en ek.
En soos jy seker kan raai, het ek die KP (en seker ook die regses) verteenwoordig, alhoewel ek in daardie stadium nie amptelik aan enige politieke party behoort het nie. Maar die stories oor die Vierkleur en die AWB-kenteken het geloop, sien?
Almal was vreeslik opgewonde oor my afspraak met FW. My ma het vir almal by die haarsalon en by die kleuterskool waar sy onderwyseres was, vertel, terwyl my pa veral geïnteresseerd was in watter vrae ek sou vra. By die skool het die skoolhoof dit een middag oor die interkom afgekondig terwyl ek in die einste Engelse klas gesit het waaruit ek kortstondig verban is.
Rian met die bruin skoene was nou in ’n ander liga. ’n Presidensiële liga. En net 17 jaar oud.
Ek het lank getob oor wat ek moes vra en toe besluit dat ek hierdie volksverraaier sommer met my eerste vraag sou uitboul. Ek het dit ingeoefen, my skoolbaadjie laat droogskoonmaak en my hare spesiaal laat sny. ’n Bussie het ons paar kom oppik om eers ’n draai te gaan maak by die SAUK in Auckland Park waar ons op ’n toer deur die Agenda-ateljee geneem is.
Ek onthou veral twee dinge van daardie eerste stop: Eerstens was daar basies geen gesprekvoering tussen ons tieners nie weens die wantroue wat in daardie stadium geheers het, en tweedens het ons Freek Robinson ontmoet toe die hysbakdeure op die Agenda-vloer oopgaan. Ek was oorstelp!
Hy was as bekende televisie-aanbieder my eerste celebrity wat ek in lewende lywe ontmoet het en die naaste wat ons gesin ooit aan bekendes kon kom met die uitsondering van my pa wat ’n jaar tevore vir David Kramer op die lughawe gesien het. O ja, en daar was ’n outjie saam met my in standerd 1 wat eenkeer sy witrot na die Wielie Walie-speelkamer gevat het vir show and tell … Maar dit was basies dit.
Freek het gegroet en net die NP-meisie het gereageer. Ons ander kon óf nie groet nie óf wou nie. By die Agenda-ateljee het nog ’n verrassing gewag, die bekende joernalis Clarence Keyter sou die program lei! Ek dink dit was dalk ingeval een van ons sou vries – Clarence kon mos iets kry om oor te praat, al het jy lankal oor die weer gepraat.
(Hy het dit mos teen daardie tyd al bewys met sy dekking van Madiba se vrylating, wat ure gevat het. Clarence was mos besig om te gesels oor die dieper betekenis van ’n lekkende kraan toe Madiba uiteindelik deur daardie Victor Verster-hekke stap.)
Uiteindelik het die bussie weer vertrek en voor die presidensiële gastehuis stilgehou. Ek was nogals teleurgesteld, ek dog die gesprek sou in sy kantoor in die Uniegebou plaasvind, daar waar die setel van alle mag na my wete was. Maar nou ja, die gastehuis was netjies genoeg (ligjare weg van avo-groen huise) en ’n impromptu atlejee is in die pragtige tuin opgestel. Daar sou ons wag op die president.
Soos ek nou terugdink, weet ek nie presies wat ek verwag het nie. Dalk trompetgeskal met sy aankoms of ’n marsjerende peloton wagte wat hom vooruitloop. Maar skielik was hy daar, sonder fanfare. ’n Blesserige oom in ’n kerkpak en baie korter as wat ek verwag het. Wat hom nog meer menslik gemaak het, was sy soektog na ’n lighter in sy binnesakke om sy sigaret aan te steek.
Ons is voorgestel en het met FW bladgeskud (ek dink die NP-meisie het gecurtsy) en is gevra om ons plekke in te neem.
Die NP-meisie was eerste aan die beurt, as ek reg onthou, en het iets gevra soos: “Is dit nie moeilik om so amazing te wees nie?” Of so iets. Ek het nie regtig aandag geskenk nie. Ek was te besig om my vraag oor en oor in my kop te oefen.
Uiteindelik (na heelwat Nasionale Party-bla-bla-bla) het Clarence in my rigting geknik: “Het jy ’n vraag vir mnr. De Klerk?”
FW het vol selfvertroue na my gekyk. Hy was die president en ek was maar ’n hoërskoolleerling. Ek sou hom wys! Toe trek ek los: “Meneer De Klerk, hoe gaan u die identiteit van die Afrikaner beskerm as u beplan om ontslae te raak van ons vlag en ons volkslied?”
Hy het geglimlag en geantwoord: “Dit lyk vir my jy is die slagoffer van propaganda.”
Hierna het hy oorgeslaan na ’n antwoord vol geprop met propaganda. Ek was onmiddellik vies. Hoe durf hy? Ek het self aan daardie vraag gedink! Ek het teëgestribbel oor hoe ek bloot my vrese uitspreek as bekommerde jong Afrikaner en begin vra oor kultuurgebonde onderwys. Skielik het Clarence ingespring en aangekondig dat dit tyd is vir ’n advertensiebreek.
En dit was tydens hierdie onderbreking dat my mikrofoon weggeneem is.
Dit was die einde van my geleentheid om te probeer debatteer met FW. Vir die res van die program moes ek maar na die ander se vrae en antwoorde luister.
Die produksiespan het ons darem hierna vir ’n gratis ete by die Meat & Eat in Hatfield geneem. Miskien het ek toe al ’n verdere renons in stilbly begin kry, iets wat ek uiteindelik begin verafsku het.
Kort ná die program uitgesaai is, het ek ook my eerste klagtes gekry. Ons was in die kombuis van ons huis (ons derde huis in Elarduspark, Pretoria) toe my pa die koerant van die dag te voorskyn bring en my die briewekolom wys. En daar was dit, swart op wit: “Wie dink hierdie snotkop is hy om so sonder respek met die president te praat?”
Dit sou die begin wees van nie net ’n loopbaan in televisie en radio nie, maar dit was ook ’n voorsmakie van hoe genadeloos die publiek kan wees.
Al is jy 17 jaar oud en bekommerd oor jou toekoms.
2
HOE SKENK KRIMPVARKIES
GEBOORTE?
In die begin van 1992 het ek by die Universiteit van Pretoria aangemeld om te begin met my regstudie. Hoekom regte?
Wel, soos jy seker al begin agterkom het, het ek ’n voorliefde vir die politiek begin ontwikkel, en ek het vasgestel dat bekende politici (van Madiba tot FW) almal eers gaan regte swot het. So, blykbaar was dit ’n sine qua non (sien, ek onthou nog ’n bietjie van my Regslatyn!) vir ’n loopbaan in die politiek. Dit was my uiteindelike doel, my eie party waarmee ek kon veg vir die voortbestaan van die Afrikaner wat ek in daardie stadium steeds gesien het as die uitverkore volk. Ek sou die HAP begin. Die Handhawing van die Afrikaner Party. Dit het my ontgaan dat die akroniem nogals baie na aan die groot budjieboer Jaap Marais se baie konserwatiewe HNP was.
Twee weke ná my aankoms op kampus het ek ’n toespraak op die grasperk voor die Geestesweerbaarheid-gebou (GW) gelewer. Dit was ’n kort toespraak maar vurig. My plan was dat dit ’n tipe bekendstelling sou wees van die HAP. ’n Tipe hap van HAP.
Ek het aangedring op ’n volkstaat en volkseie onderwys en beperkte politieke regte vir die ANC. ’n Groepie geamuseerde Asterhof-koshuismeisies en vier duiwe het my toespraak aanvanklik aangehoor, maar kort voor lank was dit net een duif en ’n leë pizzaboks.
Ek het besef dat daar ander maniere gevind sou moes word om gehoor te word. Ironies genoeg, op dieselfde dag, het ek my stokou Mini in Duxburystraat aan die kant van ’n ou huis geparkeer. Gewond maar onoorwonne ná my toespraak was ek op pad terug na my motortjie toe ek vir die eerste keer behoorlik die bord voor die ou huis raaksien: Radio Tuks.
In my kop het allerhande sinapse begin vuur. Dit was mos nou perfek! Wat is dan nou ’n beter medium as radio om HAP se boodskap te versprei? Ek het links op die sypaadjie gedraai en die ou huis ingegaan. Daar was ’n gang met ’n toe deur aan die linkerkant en ’n sekuriteitshek aan die punt. Aan die een kant van die