“Jou lae …” snou Johnny. Hy gryp sy die spanleier aan die skouers, ruk hom agtertoe en pen hom teen die rotswand vas. Hy trek sy vuis met al die swaar ringe terug, gereed om dit in die spanleier se gesig te laat ontplof.
“Slaan net en jy weet wat gaan gebeur,” sê die spanleier sag, sy uitdrukking kalm en neutraal, terwyl hy reg in Johnny se oë kyk. Johnny huiwer. Hy weet wat die maatskappy se reëls sê, hy weet wat die houding van die regering se arbeidsamptenare is, hy weet wat die polisie sal doen. As hy slaan, sal hulle hom aan die pen laat ry.
“Jy’s ’n vark!” sis Johnny vir hom.
“Jy het ’n vrou,” sê die spanleier. “My vrou is in Swaziland. Ek het haar twee jaar laas gesien.”
Johnny laat sak sy vuis. Twaalfduisend mans en geen vroue nie. Dis ’n feit. Die werklikheid daarvan maak hom siek, maar hy besef waarom dit gebeur.
“Trek aan.” Hy staan agteruit en laat los die spanleier. “Trek aan, al twee van julle. Kom na die stasie toe, ek wag vir julle daar.”
18
Dis nou al ’n week dat Grootbul op Jak se opdrag nie in die werkgang is nie, vandat die dak in seksie 43 ingestort het. Die verskoning is dat die wit mynwerker in Grootbul se span in die rotsstorting dood is, en dat hy nou moet wag om aan ’n ander seksie toegewys te word. In werklikheid wil Jak hom ’n ruskans gee. Hy het tydens die reddingspoging die fisieke en emosionele spanning in hom gesien. Toe hulle saam die mynwerker se lyk ontdek, die man saam met wie Grootbul gewerk en gelag het, het Jak die trane onbeskaamd oor Grootbul se wange sien rol toe hy die lyk optel en teen sy bors vasdruk.
“Hamba kahle, ndoda,” het hy gemompel. “Gaan in vrede.”
Grootbul is ’n legende in Sonderkloof. Hulle spog oor hom – hoeveel bier hy in een sitting kan drink, hoeveel klip hy man-alleen in een skof kan laai, hoe hy enige ander man van sy voete af kan dans. Hy het al meer as duisend rand se toekennings vir dapperheid gekry. Grootbul gee die toon aan, ander probeer hom dit nadoen.
Jak het hom in beheer van ’n vervoerspan gesit. Vir die eerste paar dae het Grootbul die geleentheid geniet om kragtoertjies te doen en te kuier, want die vervoerspan gaan oral in die werksarea rond, sodat hy tydens die skof die meeste van sy talryke vriende te siene kry. Maar nou raak Grootbul verveeld. Hy wil teruggaan na die werkgang toe.
“Hierdie werk,” sê hy grootdoenerig vir die vervoerspan, “is vir ou mans en jong vroue.” En met een beweging tel hy ’n tweehonderd-liter-drom diesel man-alleen op en sit dit op die lokomotief se platform.
’n Tweehonderd-liter-drom diesel weeg ’n raps oor die 360 kilogram.
19
Al die moeite net hiervoor. Dawie de Lange hou ’n oomblik lank op om die Dynagel in die skietgate in te stop. Hy leun vorentoe om die rif te inspekteer. Op die werkgang se wand is dit ’n swart streep in die blou kwartsklip.
Die koolstof-gidsrif is wat hulle dit noem. ’n Dun lagie koolstof wat nooit meer as ’n klompie sentimeter breed is nie. Swart roet, dis wat dit is. Dawie skud sy kop ingedagte. ’n Mens kan nie eens die goud daarin sien nie.
Dawie is twee jaar ouer as sy broer Johnny, en daar is geen ooreenkoms tussen hulle wat voorkoms of ingesteldheid betref nie. Dawie se ligte hare is konvensioneel kortgeknip aan die kante. Hy dra geen juwele nie, en is stil en terughoudend van aard.
Johnny is lank en skraal, Dawie kort en gespierd. Johnny is uitspattig, Dawie versigtig, selfs suinig. Hulle enigste gedeelde eienskap is dat albei eersteklas-mynwerkers is.
As Johnny meer rots breek as Dawie, is dit net omdat Dawie versigtiger is as hy; hy waag nie dieselfde kanse nie, hy volg al die veiligheidsprosedures wat Johnny goedsmoeds verontagsaam.
Dawie verdien minder geld as Johnny, maar spaar elke sent wat hy kan. Vir sy plaas. Hy gaan eendag ’n plaas koop. Hy het al klaar meer as 49 000 rand daarvoor gespaar. Nog vyf jaar, dan het hy genoeg. Dan kan hy vir hom ’n plaas koop en ’n vrou kry om hom te help boer.
In teenstelling spandeer Johnny elke sent wat hy verdien. Hy is gewoonlik teen die einde van elke maand in die skuld by sy broer. “Leen daar vir my honderd tot betaaldag, ag toe, Dawie.”
Teësinnig leen Dawie dan maar vir hom die geld. Hy keur alles omtrent Johnny af – sy voorkoms, kleredrag en gewoontes.
Dawie hou op om die gidsrif so te bestudeer en begin weer die plofstof in die skietgate indruk. Hy werk versigtig en presies, want dis ’n hoogs gevaarlike proses.
Die plofstofkerse is toegerus met slagdoppies en gereed om te skiet. Volgens wet kan net die myner in beheer hierdie operasie doen. Dawie doen dit werktuiglik terwyl hy oor Johnny se jongste vergryp dink. Hy het sy huur opgestoot.
“Honderd rand per maand!” protesteer Dawie luidkeels. “Ek is sommer lus en trek weg en soek ander blyplek.”
Maar hy weet hy sal niks van die aard doen nie. Hettie kook te lekker, en haar teenwoordigheid is te vroulik en aanloklik. Dawie sal by hulle bly.
20
“Jak.” Daniël Stander se stem is laag, ernstig. “Ek het ’n tameletjie vir jou.”
“Dis nét wat ek nodig het.” Jak laat sy eie stem afgemat en gelate klink oor die foon. “Ek is net op die punt om op my ondergrondse toer te gaan. Kan dit wag?”
“Nee,” verseker Daniël hom. “Dis in elk geval op jou pad. Ek bel van die noodhulpstasie af by die skagbek. Kom hiernatoe.”
“Wat is dit?”
“Aanranding. Wit op swart.”
“Hemel tog.” Jak sit penorent op sy stoel. “Erg?”
“Sleg. Hy’t hom met ’n swaar hamersteel bygedam. Ek het 47 steke ingesit, maar ek’s bekommerd sy skedel is gekraak.”
“Wie het dit gedoen?”
“ ’n Kêrel genaamd Kowalski.”
“Daai swernoot!” Jak se asem jaag. “Nou goed, Daniël. Kan hy ’n verklaring aflê?”
“Nee. Nie vir ’n dag of twee nie.”
“Ek’s nou-nou daar.”
Jak plak die foon neer en loop na sy assistent se kantoor toe. “Dimitri.”
“Jak?”
“Kry vir Kowalski uit die werkgang uit. Ek wil hom so gou moontlik in my kantoor hê. Stuur iemand anders om sy skof klaar te maak.”
“Reg. Wat’s die probleem?
“Hy’t een van sy manne vet gebliksem.”
Dimitri fluit sag, en Jak hervat: “Bel vir Personeel, hulle moet die polisie laat kom.”
“Ek maak so.”
“Sorg dat Kowalski hier is as ek terugkom van my inspeksie af.”
Daniël wag vir hom in die noodhulpkamer. “Kyk self.” Hy wys na die figuur op die draagbaar.
Jak kniel langs hom, en sy mond vertrek in ’n bleek lyn.
Die swart steke strek netjies oor die geswolle snye in die man se vlees. Een oor is afgeskeur, en Daniël het dit weer vasgewerk. Daar is ’n swart gat agter die geswelde, pers lippe waar sy tande was.
“Die ergste is nou verby, jy sal dit maak,” sê Jak met deernis, en die man se oë draai na hom toe. “Die man wat dit aan jou gedoen het, sal gestraf word.”
Jak staan op. “Gee my ’n geskrewe verslag van sy beserings, Daniël.”
“Ek sal daarvoor sorg. Sien ek jou ná werk by die klub?”
“Beslis,” sê Jak, maar innerlik