Goudmyn. Wilbur Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilbur Smith
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Исторические приключения
Год издания: 0
isbn: 9780795708220
Скачать книгу
Jak Stapelberg hou die dosyn papierprobleme wat hom op sy lessenaar inwag meer genoegdoening in as gewoonlik. Terwyl hy in sy kantoor werk, onthou hy heeltyd dat Manfred Steyner die knoop moontlik gaan deurhak, dat hy dit net perdalks gaan regkry.

      Sonderkloof sal miskien binnekort syne wees. Hy raak ontslae van die laaste probleem en leun agteroor op sy draaistoel. Die naweek se spinnerakke is uit sy kop geblaas en soos gewoonlik voel hy gereinig en skoon.

      As ek hom kry, sal ek hom die blinkste ster van almal maak, dink hy, die ene ywer. Hulle sal van die Johannesburgse Effektebeurs af tot in Wall Street van Sonderkloof praat, en oor die man wat hom bestuur. Ek weet presies hoe om dit te doen. Ek sal koste tot op die been sny, ek sal vasvat. Frank Lemmer was ’n goeie man, hy kon erts onder die grond uithaal, maar hy het die koste laat oploop. Dit het hom byna nege rand per ton gekos om die erts te ontgin. Ek sal dit net so goed uitkry soos hy, dink Jak, en ek sal dit goedkoper doen. ’n Organisasie se temperament is dié van sy hoof. Frank Lemmer het elke dan en wan oor koste gepraat, maar hy was nie ernstig daaroor nie, en almal het dit geweet.

      Ons het ’n spandabelrige besigheid geraak, want ons is op ’n ryk rif, ons het te veel begin uitgee, dink Jak. Wel, ek gaan oor koste praat, en ek sal elkeen wat dink dat ek sommer speel se agterent skop.

      Verlede jaar het Hamilton by Western Holdings sy bedryfskoste tot ’n raps oor ses rand per ontginde ton beperk. Ek kan dieselfde hier doen. Ek kan die wins binne een jaar met twaalfmiljoen rand opstoot. As hulle my die pos gee, sal ek Sonderkloof se naam oor die wêreld se finansiële markte laat weerklink.

      Die probleem waaroor Jak dink, is die goudmynbedryf se grootste nagmerrie. Die goudprys is al sedert die 1930’s op 35 dollar per fyn ons vasgestel. Elke jaar sedertdien het die koste om dit te ontgin voortdurend gestyg. In die ou dae het hulle gedink ses gram goud per ton erts is winsgewend. Deesdae is selfs twaalf gram skaars die moeite werd.

      Intussen is al daardie miljoene tonne erts waarvan die waarde tussen ses en twaalf gram val, buite perke verklaar tot tyd en wyl hulle die goudprys opstoot.

      Daar is baie myne met reuse-goudreserwes, miljoene der miljoene, waarvan die waarde net onder die gewenste nommer twaalf val. Daardie myne staan eensaam en verlate, met roes wat hulle skagtorings verweer en geboue waarvan die sinkplaatdakke langsaam insak. Toenemende koste het hulle lamgelê, en hulle is veroordeel met die enkele woord: onlonend.

      Sonderkloof loop teen dertig tot veertig gram per ton. Die myn is ryk, maar kan nóg ryker wees, besluit Jak.

      Iemand klop aan die deur.

      “Kom in!” roep hy en kyk op sy horlosie. Dis al negeuur, tyd vir sy Maandagvergadering met die mynkapteins.

      Hulle kom een-een en twee-twee in, twaalf van hulle. Dis Jak se manne aan die front, sy bevelvoerders. Hulle gaan elke dag af onder die grond, elkeen na sy eie seksie toe, en lei die fisieke aanslag op die klip.

      Terwyl hulle los praatjies maak en wag dat die vergadering begin, kyk Jak hulle onderlangs deur, en onthou ’n opmerking wat Herman Koch van Anglo American op ’n keer teenoor hom gemaak het: “Mynwerk is harde werk, en dit lok harde manne.”

      Dis harde manne hierdie, sterk van lyf en kop, en Jak besef met verbasing dat hy een van hulle is. Nee, meer as net een van hulle. Hy is hulle leier, en met ’n hart wat wil bars van trots open hy die vergadering.

      “Nou ja, laat kom die klagtes. Wie gaan eerste die wind uit my seile haal?”

      Daar is ’n sekere soort man wat mense kan lei en die beste uit hulle kry, en Jak is een van hulle. Dit gaan oor meer as sy fisieke grootte, sy sterk stem en hartlike lag. Dis ’n spesiale magnetisme, persoonlike sjarme en foutlose tydsberekening. Onder sy voorsitterskap bars emosies soms los, met skerp stemme en woorde, en versplinter dan in lagbuie en instemmende kopknikke as hy praat.

      Hulle weet hy is net so gehard soos hulle, en hulle respekteer dit. Hulle weet dat sy woorde gewig dra, dus luister hulle. Hulle weet dat hy sy woord gestand doen, en word daardeur gerusgestel. En hulle weet as hy ’n besluit neem, voeg hy die daad by die woord, en elkeen weet presies waar hy met hom staan.

      As jy hulle sou vra, sou elkeen van hierdie mynkapteins teësinnig erken Jak Stapelberg “is nie vol stront nie”. Dis so goed soos ’n sitaat van die staatspresident af.

      “Nou goed dan,” sluit hy die vergadering af. “Julle het nou goed twee uur van die maatskappy se tyd met julle kletsery gemors. Sal julle nou asseblief gat skoonmaak, afgaan ondertoe en die erts boontoe begin stuur.”

      15

      Terwyl hierdie groep hulle week se werk beplan, is hulle manne in die grond onder hulle aan die werk.

      Op vlak 87 loop Kowalski soos ’n groot beer in die dofverligte strekgang af. Hy het sy koplamp afgeskakel, en hy beweeg geluidloos vir so ’n groot man. Hy hoor stemme in die tonnel voor hom, en gaan staan stil om mooi te luister. Hy hoor nie die geluid van grawe wat in die los klippers skrop nie, en Kowalski se Neanderdal-gelaatstrekke vertrek skrikaanjaend.

      Bliksems, gaan dit deur sy gedagtes. Hulle dink ek is in die werkgang, of hoe? Hulle dink dis kans vir hulle om op hulle vet agterente te sit, g’n klip te grawe nie, of hoe?

      Hy beweeg weer vorentoe, ’n beer op katvoete.

      Hulle kry nou iets nuuts om oor te dink, sommer gou-gou! belowe hy homself.

      Hy tree om die tonnel se hoek en skakel sy lamp aan. Daar is drie van hulle wat hy aangesê het om die los erts van die grond af in die koekepanne in te laai. Twee van hulle staan teen die koekepan, rustig aan die rook, terwyl die derde hulle vermaak met ’n storie oor ’n bierdrinkery die afgelope Kersfees. Hulle grawe en voorhamers staan teen die muur.

      Al drie vries stokstyf toe die lamplig oor hulle speel.

      “O so!” plof die woorde uit Kowalski se mond, en hy gryp ’n swaar voorhamer in een massiewe vuis, keer dit om en stamp die steel teen die grond. Die hamer se staalkop val af, en laat hom met ’n swaar houtsteel van meer as ’n meter in die hand.

      “Jy, spanleier!” bulder hy, en sy los hand skiet uit en gryp die naaste man aan die keel. Met een beweging ruk hy die kêrel van sy voete af op sy knieë en begin hom in die tonnel af sleep. Selfs in sy woede maak Kowalski seker dat daar nie getuies is nie. Die ander twee mans bly sit waar hulle is, te verskrik om te beweeg, terwyl hulle metgesel se gekerm en geskree in die donkerte verdof.

      Dan eggo die eerste hou in die nou tonnel, gevolg deur ’n pynkreet.

      Nog ’n hou, en nog ’n skreeu.

      Die gedoefdaf hou ’n ruk lank aan, maar die skreeue wat daarmee saamgaan, kwyn tot ’n sagte gekreun en gekerm, en raak dan heeltemal stil.

      Kowalski kom alleen met die tonnel langs terug. Hy is natgesweet in die lamplig, en die hamer se steel in sy hand is donker en glinster van die bloed.

      Hy smyt dit voor hulle voete neer.

      “Werk!” blaf hy, en dan is hy weer weg, groot soos ’n beer in die skadu’s.

      16

      Op vlak 100 spuit en vee Joseph M’Kati die grond op wat van die groot vervoerband afgeval het. Hy doen al vyf jaar lank hierdie werk, en is ’n tevrede en ingenome man.

      Joseph is ’n Sjangaan van byna sestig jaar oud, die eerste wit ryp begin in sy hare sit. Lagplooie wys om sy oë en sy mondhoeke. Hy dra sy helm agtertoe gestoot op sy kop, sy oorpak is handgeborduur en swierig blou en rooi gelap, en hy loop met ’n opgewekte wip in sy stap.

      Die vervoerband is baie honderde meter lank. Van al die hoër vlakke af word die verbrokkelde gouderts van die werkgang af gelaai en in koekepanne met die vervoerweë langs gestuur. Uit die koekepanne word dit in die bek van die ertsglybaan uitgekantel. Dit is ’n vertikale skag wat afgaan tot op vlak 100, honderde meter deur die rotse, om die erts op die vervoerband uit te spoeg. ’n Stelsel van staaldeure reguleer die vloei van erts tot op die vervoerband, en die band voer dit met die tonnel langs tot in enorme opslagbakke. Van hier af word dit outomaties