Goudmyn. Wilbur Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Wilbur Smith
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Исторические приключения
Год издания: 0
isbn: 9780795708220
Скачать книгу
van tientalle meter te toets. Dis wat defleksie behels.

      Allen is een van die heel bestes. Hy kan sy prys maak en hom soos ’n primadonna gedra, en die base sal nog steeds sy voete soen, want wat hy nie als met ’n diamantboor kan regkry nie, is van ’n ander wêreld.

      Nou beoordeel hy die hoek vir sy eerste defleksie. Gister het hy ’n lang bronsfles tot onder in sy boorgat laat afsak en dit oornag daar gelos. Die bottel is half vol gekonsentreerde swawelsuur, en dit het die bronsfles weggevreet. Deur die hoek van die weggevrete vlak te meet, kan hy sien hoe ver sy boor van die oorspronklike loodregte gat afwyk.

      In die klein sinkgeboutjie langs die boortoring voltooi hy sy opmetings en staan tevrede terug van sy werksbank af.

      Uit sy broeksak haal hy ’n mieliestronkpyp en twaksak. Toe hy klaar die tabak in die pyp gestop het en dit aansteek, is dit duidelik waarom hulle hom Popeye noem. Hy lyk kompleet soos die strokieskarakter met sy aggressiewe ken, kraalogies, verweerde seemanspet en al.

      Hy rook rustig, en kyk deur die hut se enigste venster hoe die span die sleurtaak uitvoer om die boor weer in die aarde te laat afsak. Dan haal hy die pyp uit sy mond uit en spoeg akkuraat deur die oop venster, sit die steel terug tussen sy lippe en buk om sy opmetings nogeens na te gaan.

      Sy voorman onderbreek hom van die deuropening af: “Ons is onder, gereed om te draai.”

      “Gmf!” Popeye kyk op sy horlosie. “Twee uur en veertig minute om onder te kom … julle is nou nie juis haastig nie, lyk dit my.”

      “Dis nie so sleg nie,” stribbel die voorman teë.

      “En dis vir seker ook nie vinnig nie. Nou ja toe, kry end met die gebabbel en laat ons hom aan die draai kry.” Hy hop behoorlik by die hut uit terwyl hy vlugtig om hom rondkyk.

      Die boormasjien is ’n toring van staalbalke, vyftig voet hoog, en in die middel hang die boorstang en verdwyn in die gat se bek. Die twee dieselenjins van tweehonderd perdekrag elk luier, gereed om krag te lewer, met hulle uitlaatpype wat blou rook in die vroegmôrelig in blaas. Langs die boormasjien lê ’n berg boorstawe, en daaragter die veertigduisend-liter-gronddam wat water vir die gat voorsien. Water word heeltyd in die gat in gepomp om die boorpunt af te koel terwyl hy in die rots kerf.

      “Staan reg vir aansit,” roep Popeye vir sy span, en hulle neem hulle posisies in. In hulle blou oorpakke, onder helder veselglashelms en met handskoene aan, staan hulle soos vere gespan. Dis ’n spanningsvolle oomblik vir die hele span – die krag moet geleidelik, versigtig vir die anderhalfmyl lange staaf gevoer word, of hy sal knak en breek.

      Popeye gaan klim op die kraag om die boorgat se bek en kyk om hom heen om seker te maak alles is gereed. Die voorman is by die beheerpaneel, sy aandag volledig op Popeye gefokus, sy hande op die hefbome.

      “Krag aan!” roep Popeye en maak ’n sirkelbeweging met sy regterhand. Die diesels brul hard en hy reik uit en vat die boorstaaf in sy linkerhand. Dis hoe hy dit doen, deur die staaf met sy kaal hand te voel as hy die krag begin deurvoer – hy neem sy besluite op grond van die spanning wat hy met sy oor en oog en gevoel waarneem.

      Sy regterhand beduie en die voorman laat die koppelaar effens skiet. Die staaf beweeg onder Popeye se hand. Hy wys weer, en dit begin stadig draai. Hy kan voel dis naby breekpunt, en hy sny dadelik die kragtoevoer, en begin dan weer. Sy regterhand beweeg veelseggend, soos ’n dirigent s’n, en die voorman volg dit, die junior lid van ’n hoogs bedrewe span.

      Stadig begin die spanning afneem namate die boor vinniger draai, totdat Popeye met sy vuis in die lug wys dat als reg is en van die kraag afspring. Die manne loop rustig weg om hulle ander take te gaan uitvoer, terwyl Popeye en die voorman terug na die hut toe loop en die boor los om teen vierhonderd revolusies per minuut deur die klip te skraap.

      “Ek het iets vir jou,” sê die voorman toe hulle by die hut ingaan.

      “Wat?” wil Popeye weet.

      “Die nuutste Playboy.”

      “Jy speel seker!” beskuldig Popeye hom verheug, en die voorman bring die opgerolde tydskrif uit sy kosblik te voorskyn. “Allamapstieks!” Popeye gryp die tydskrif by hom en blaai dadelik na die middelbladfoto. “Kyk net so!” Hy fluit. “Hierdie poppie kan in ’n slagpale werk, sy kan die osse met daai pramme doodslaan!”

      Die voorman val by hom in, en saam bespreek hulle die jong dame se anatomie, en twee minute lank kom nie een van hulle agter dat die boor se geluid verander het nie. Popeye hoor dit eerste deur die bruising van erotiese opwinding. Hy smyt die tydskrif neer, en storm wasbleek by die hut uit.

      Dis vyftig meter van die hut tot by die boormasjien, maar selfs op daardie afstand kan Popeye sien hoedat die boorstang vibreer. Hy kan hoor hoe die dieselenjins beur onder die ekstra stremming, en hy hardloop soos ’n foksterriër om by die beheerpaneel te kom en die enjins af te skakel voordat dit te laat is.

      Hy weet wat gebeur het. Sy boor het een van die skeure oopgesny wat hierdie vrot grond deurspek. Die water in die boorgat het weggeloop, sodat die boorpunt teen droë klip skaaf. Die wrywing het opgebou, die stof is nie weggewas nie, en die boorpunt het vasgeslaan. Hy word aan die een ent stewig vasgehou, terwyl die twee diesels beur om die ander ent te draai. Die ganse kontrepsie gaan binne sekondes afknak.

      Daar was veronderstel om ’n operateur by die beheerpaneel te wees vir juis so ’n noodgeval, maar die kêrel is honderd meter ver, verskyn uit die sinkkleinhuisie anderkant die dam. Hy is naarstiglik besig om sy broek op te trek, die gordel vas te maak en terselfdertyd te hardloop.

      “Jou hoerkind!” brul Popeye terwyl hy self hardloop. “Waddehel doen jy weg van jou pos af?” Hy het skaars die woorde uit en is pas by die enjinkamer se deur, toe is daar ’n knal soos ’n kanonskoot soos die stang breek, en dadelik skree die diesels toe die revolusies, verlos van die gewone stremming, die hoogte inskiet. Net te laat stamp Popeye die afsitknop en die enjins vrek proestend.

      In daardie stilte snik hy van inspanning, frustrasie en woede.

      “ ’n Breek,” hyg hy. “En diep daarby. Ag jirretjie tog, nee!” Dit kan twee weke duur om die gebreekte stang uit te vis, sement in die kraak te pomp om dit af te seël, en dan weer te begin.

      Hy haal sy hoed af en slinger dit met alle mag op die enjinkamer se vloer. Dan begin hy met albei voete daarop spring. Dis heeltemal gewoon vir hom. Popeye spring minstens een keer per week op sy pet, en die voorman weet as hy daarmee klaar is, sal hy enigiemand te lyf gaan wat dit te naby waag.

      Die voorman glip stilletjies agter die Ford-bakkie se stuur in, en die res van die span klouter haastig agterop. Dan ry hulle stampend weg op die tweespoorpad. Langs die hoofpad is daar ’n winkel en eetplek waar hulle op sulke tye gaan koffie drink.

      Toe die rooi mis van woede genoegsaam verslaan het, begin Popeye ’n slagoffer soek, iemand om op die brandstapel te offer, maar die hele omtrek is stil en verlate.

      “Spul banggatte!” bulder hy gefrustreerd agter die bakkie aan wat in die verte verdwyn. Raadop wend hy hom tot die hut om sy besturende direkteur te bel.

      Die man wat in Hart Boorgate en Sementvoerings se lugverkoelde kantoor hoog bokant Rissikstraat in Johannesburg sit, is ietwat uit die veld geslaan toe hy hoor dat hy, die besturende direkteur, regstreeks daarvoor verantwoordelik is dat ’n duur diamantboor by Sonderkloof se nommer 5-gat afgeknak het.

      “As jy vir ’n slag daardie vlapoeding inspan wat jy ’n brein noem, dan sal jy sorg dat ons nooit gate in hierdie ondergrondse kraaines boor nie!” skel Popeye in die telefoon in. “Ek sal eerder my pa in ’n vleismeul druk as om ’n boor in hierdie grond te waag. Dit stink ten hemele, ek sê jou! Dis regtig erg daar onder. Die Here help die arme sot wat hier probeer delf!”

      Hy plak die gehoorstuk neer en stop sy pyp met bewende vingers.

      Tien minute later is sy asemhaling weer normaal en bewe sy hande nie meer nie. Hy tel weer die foon op en bel die eetplek langs die hoofpad. Die eienaar antwoord.

      “José, sê daar vir die manne dis veilig, hulle kan nou maar terugkom.”