Die goudbaronne. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия: Mannheim-sage
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798174862
Скачать книгу

      

      DIE MANNHEIM-SAGE 3

      Die goudbaronne

      Lerina Erasmus

      Human & Rousseau

      Aan al die lojale lesers wat my voortdurend aangevuur het

      om tóg die derde boek van Die Mannheim-sage te voltooi

      Hoofstuk 1

      Die landskap buite die treinvenster versmelt in die monotone kleure van die winter. Sober. Vorm en lyn is eerlik, skerper afgeëts teen die lykskleed van diep sneeu. Dit fassineer Karl Mannheim vandag, dié eentonigheid. Sy blik bly gevestig op dit wat hy buite die ruite van die eetsalonwa waarneem. Hy skommel nou al ure lank so voort op reis van Calais na Parys. Hoeveel keer het hy al op hierdie spoorlyn gery sedert daardie eerste keer in 1903? Agt, nege maal? Dit was byna ’n jaarlikse bedevaart.

      Wat maak dit saak. Waarom nou daaraan dink? Hoogs waarskynlik is dit hierdie keer die laaste maal. Dit sal ook ’n vaarwel aan Parys wees, trouens aan alles wat vir hom waarde het. Ja, daar is van nou af ’n finaliteit aan elke oomblik. Ook die reis verder na Wene sal dié keer as ’n grand finale uitstaan. Sigmund Freud, Karl se vriend en sielkundige, verwag hom. Destyds, toe Karl hom die eerste keer in 1903 tydens ’n konferensie in Parys ontmoet het, was Freud ’n onbekende doktertjie, iemand wie se teorieë oor psigopatologie openlik met agterdog bejeën is. Nou, met die aanbreek van 1913, is hy ’n gevierde psigoanalis, en sy lesings is van Moskou tot New York in groot aanvraag. Teenoor Karl het Freud nog nooit verander nie. Deur al die jare dat Karl hom besoek het in die hoop om sy depressie te besweer, het hulle elke keer opnuut hul vriendskap hervat. Sy hoop van vroeër, dat iemand soos Freud hom sou kon red van die lot wat sy ma getref het, koester Karl al lankal nie meer nie. Maar die jaarlikse terapeutiese gesprekke is balsemend, en vir ’n kort rukkie ná elke besoek verlig dit sy angs. Freud is seker die enigste mens wat hom ten volle ken en tog nie wegdeins van sy verwronge siel nie.

      Ja, Freud ken hom, hy weet alles. Alles? Nee, nog nie alles nie. Daar is nog die laaste galsterige droesem oor wat hy tydens hierdie laaste besoek ook sal moet uitbraak. Miskien sal dit hom finaal die moed gee vir wat voorlê. ’n Belydenis, ja, maar een wat niks ooit ongedaan kan maak nie. Hy weet nie eens of hy daaroor berou het nie. Mens trap tog maar jou spore in die stomende slyk van jou noodlotsgang. Dit raak jou en ook jou naastes, en as die slyk met verloop van jare begin stol, dan lê almal se begeertes in die kilheid van verspilde jare blootgestel – hul pyn, hul selfsug, en hul verydelde passies – soos spore wat onherroeplik versteen in rots.

      Watter spoor laat hy na? Hy, Karl Mannheim, ’n wrak van ’n mens. ’n Frats met een arm, wat hom nog steeds voordoen as die een of ander genie. En sy? Deborah? O ja, sy het ook versteen, hard geword, hard en glinsterend soos ’n geslypte diamant. Ja, sy is formidabel. Die ysterhand wat die Mannheim-empire regeer. Maar omdat hy haar vroeër geken het, wil Karl soms huil oor dit wat sy geword het. Sou sy nog oor enige emosie beskik? Selfs haat? Hy twyfel. As sy daartoe in staat was, sou dit minstens ’n teken van menslikheid gewees het, maar sy het hom nie eens haat gegun nie. Dat hy die oorsaak is van dit wat sy geword het, ontken hy nie. Tog wou hy, in die hoop dat sy hom sou vergewe, hom sou aanvaar, sou leer liefkry, nooit sy nederlaag erken nie. Dit was ook ’n fout.

      Karl kyk af na die koppie tee wat hy bestel het. Dit het koud geword, ’n melkerige vel lê bo-op. Skielik voel hy naar. Hy stoot die koppie weg en kom haastig orent. Hy slinger die gangetjie af, biddend dat hy homself nie voor die ander passasiers sal verneder nie. Hy móét sy kompartement betyds haal!

      Toe sy maag uiteindelik bedaar, vly Karl hom moeg op die gestoffeerde treinbank neer. Hy sal in die toekoms meer versigtig moet wees. Dié slag het dit hom amper gevang. Sy oë soek weer uitkoms in die landskap buitekant. Hy sien dat die trein nou voortsnel deur die Montdidier-distrik met sy digte breëblaarwoude. In die somer word die sonlig flikkerend deur die bome se digte lower gefiltreer en is die woud gehul in ’n somber groen gloed. Soms, soos nou, sien mens ook die figure van mense wat in die oop kolle van die bos arbei. Landbouers wat die bevrore aarde probeer omdolwe. Knoetserige Van Gogh-figure, toegewikkel in swart of bruin kledingstukke, asof hulle ook soos die bome uit die aarde gespruit het.

      Karl sluit sy oë moeg en ’n paar oomblikke hang die onbekende werkers nog agter sy ooglede soos vasgespelde bruin motte. Hoe beny hy hulle hul eenvoud! Hulle bevraagteken nie alles nie. Hulle werk, eet, slaap, drink miskien nou en dan ’n bottel wyn, om daarna warmte te vind in die skoot van ’n vrou. Kinders word gebore, wat op hul beurt net soos hul ouers sal word. Dis sekerheid, dink Karl. Permanensie. Eenvoud het tog voordele.

      Hy draai weg van die venster. Hy moet liewer ophou dink, probeer om te slaap. Daar is nog genoeg tyd daarvoor voor hulle Parys bereik.

      Karl word met ’n rukbeweging wakker. Die sussende beweging is nie meer daar nie. Die trein het ’n halte bereik. Hy kyk met bloedbelope oë na buite. Op ’n naambord lees hy die stasie se naam: Senlis. Amper daar. Slegs een stasie voor hulle Saint-Lazare-stasie in Parys sal binnestoom. Hy kom orent, spoel sy gesig af en kam sy hare.

      Deborah se broer Heinrich, nou al ’n man van ses-en-twintig, sal daar wees om hom te ontmoet. Die jong man is op ’n grand tour. Deborah wou daarvoor betaal, maar Heinrich het die aanbod van die hand gewys. Dit het Karl respek laat kry vir die man wat nog altyd vir Deborah byna soos ’n eie kind was, eerder as haar halfbroer. Sorgenfrei, die familie se erfplaas in die Karoo, het sy wel aan Heinrich geskenk met sy mondigwording. Karl het destyds getwyfel of die geskenk byval gevind het by die jong man. Heinrich is geen boer nie. Van meet af aan was hy ’n fynbesnaarde kind. Maar Deborah was blind daarvoor. Al wat vir haar van belang was, was dat Heinrich die erfgrond sou oorvat wat aan haar pa – na wie haar broer vernoem is – behoort het.

      ’n Tiran, dit is wat sy dierbare vrou geword het, dink Karl terwyl hy sy krawat verstel. Hy grinnik wrang vir sy eie weerkaatsing in die spieël. Niemand kon voorsien het dat Deborah so sou uitdraai nie. Wat het haar gemaak wat sy nou is? Hy ontken nie sy aandeel in die slyp van daardie hartelose diamant nie. Maar wat was die ander faktore? Hy haat haar soos hy homself ook haat, haat dit wat sy geword het. Ja, ja, dit is deels sy skuld, want dit was sy leuens oor Malloy wat die lig, die sagtheid in haar oë gedoof het. Maar dit was ook die oorlog wat hulle vertrap het. Al twee van hulle sit met hul eie letsels. Hy met sy een arm, sy met haar siellose kilheid. Twee geskende wesens wat oor die jare knellend verstrengel geword het in mekaar.

      Die trein fluit ’n jolige waarskuwing toe die groot lokomotief die buitewyke van Parys binnestoom. Karl trek sy jas aan. Hy het net ’n enkele stuk bagasie. Hoe min raak jou behoeftes soos jy ouer word, dink hy, terwyl hy in die treinwa se nou gangetjie afstap. Sy ore tuit van die oorverdowende getrompetter van die lokomotief om sy aankoms in die stasie van Saint-Lazare uit te basuin.

      Die huurperdekar waarin Karl en Heinrich teenoor mekaar sit, rol rammelend oor die nat keisteenstrate. Hulle ry verby die sneeubedekte Tuilerieë, waar die gesnoeide bome nou vormloos onder hul sneeukomberse skuil. Die Ritz, waar Karl bespreek het, is nou nie meer te ver nie. Hy is bly daaroor, want hy is moeg, wens hy kon dadelik gaan rus. Maar hy mag nie dat Heinrich onraad merk nie, want dié kan dalk vir Deborah laat weet. Hoekom is die jong man so afgetrokke? Het hy miskien iets op die hart?

      “Karl?” onderbreek Heinrich sy gedagtes. “Kan ek jou uitneem vir ete of wil jy eers rus?”

      Karl glimlag en skud sy kop. “Nie een van die twee nie. Maar ek kan doen met ’n goeie bottel wyn iewers waar dit warm is. Afrika en die ouderdom verdun die bloed. My gewone suite in die Ritz het ’n kaggel, ons kan later iets te ete bestel.”

      Heinrich knik dankbaar, hy is duidelik verlig. “Ja, miskien is dit die beste …” Hy huiwer ’n paar oomblikke voor hy stamelend sê: “My planne het verander, Karl. Ek is bitter jammer daaroor, maar ek kan nie meer die res van die reis met jou meemaak soos wat ons beplan het nie.”

      Die perdekar kom skommelend tot stilstand voor die agtiende-eeuse fasade van die hotel. Karl glimlag skouerophalend. “Quel dommage! Mais … Komaan, swaertjie, betaal die drywer! Voor my kaggel kan jy my alles vertel.”

      Karl het daarop aangedring om vir hulle ’n ligte maaltyd te bestel, maar nie een van hulle het juis lus gehad om te eet nie. Heinrich het minstens