“Dis vreemd. Hmm. Die belangrikste bladsye ontbreek, ja.”
“Ek het fotokopieë van alles in die lêers gemaak om elke stuk chronologies te kan plaas,” vertel die skrywer. “Dié generaal Stoker lyk na ’n interessante geval. Hy’s minstens een wat bereid was om te luister. Jy’t hom ontmoet, merk ek.”
“Stoker was die eerste poliesman wat kon insien dat Moleko onbillik behandel is. Hy wou hom nog ’n kans gee om van voor af te begin, heeltemal op ’n ander plek. Maar ek vrees, dit was toe al te laat … jy gaan dus iets skryf?”
“Op my manier ja.”
“Nou hoe is dit?”
“Ek sal dit moet aanbied as fiksie.”
“Fiksie!”
“Om mee te begin, is die gevaar van laster te groot, nie waar nie?”
“En die dossier is nog nie gesluit nie, die saak is nie afgehandel nie, ja.”
“Ek sal al die name moet verander.”
“Ja, maar fiksie! Dink jy dit sal die saak enigsins help?”
“Hoe erg dit ook mag klink, gaan dit vir my om ’n geval, dat so iets met jou gebeur en niemand eens daarvan weet nie. Ek sal Moleko nie daardeur ’n nuwe lewe kan gee nie, ek sal die onreg nie kan goed maak nie, nie die skuldiges aan die man bring nie, maar … miskien wel.”
“Wat hulle faksie noem,” sê die vriend, “dis wat hy bedoel, iets tussen feit en fiksie.”
“Nou goed, as julle so dink.” Hy gee aan die skrywer ’n papiertjie met twee telefoonnommers.
Na die afspraak met die prokureur (later sal hy Craig Byron genoem word) maak die skrywer en sy vriend ’n draai by die uitgewer. Hy begelei hulle na sy studeerkamer aan die agterkant van sy huis waar hy besig is om pynlik presies die skerwe van ’n kleipot (“opgetel op ’n vriend se plaas, laas naweek”) aanmekaar te las.
“Tom Huffman meen dit dateer uit die Laat Steentydperk,” sê hy en grinnik. Hy sit aan hulle bier en biltong voor.
Wie sou kon dink hierdie kleipot is so oud? wonder die skrywer, of miskien is die Steentydperk nog nie heeltemal verby nie!
Buite spook die lente om gesien en gehoor te word.
“Jy moet sommer van die dokumente uit die lêers net so afdruk in jou manuskrip,” meen die vriend, “dat dit eg lyk.”
Ek sal noodgedwonge moet verander, dink die skrywer. Die besonderhede wat ek nie kan uitvind nie, sal ek uitdink; ander se menings sal ek met my eie aanvul en my onkunde moet ek verberg agter die seepgladheid van ’n storie. Ek sal by die name begin en die aardrykskunde van die land verder vervorm sodat diegene wat kolonel Van Niekerk en adjudant-offisier Mabe ken nooit sal droom dis hulle nie, terwyl die mense van die arm buurt sal weet dis niks anders as die Suid-Afrikaanse Polisie nie. Staatkundige grense sal ek dalk hier met enkele meters verskuif en die verspreidingsgebied van ’n plantkundige spesie daar met ’n honderd kilometer.
Ek gaan oral inmeng dat my brousel so deurmekaar sal lyk soos die werklikheid self.
Daarom sal ek Tumelo John, Tumelo John noem om die verwardes te verwar en die verbeeldingrykes te laat sien.
“Ek sal hom Tumelo John noem,” sê die skrywer. “En sy van: Moleko. Tumelo John Moleko.”
Die ander twee staar hom verdwaasd aan.
5 Hammanskraal, 19 Augustus 1983
Met sy troue vroeg in 1977. Dis waar ons hom laas gelos het.
In Soweto sou hy en Busi skaars ’n jaar by sy tant Mapheko bly. Januarie 1978 kry hy die verplasing na Hammanskraal waarvoor hy gevra het. Dit was nou wel verder weg van albei se familie, maar die kans was hier groter om huis te kry.
Sy tant Mapheko het hom nogal aan sy oupa laat dink, ewe arm, en met dieselfde oog vir die wêreld. Omdat hy soveel tot die huishouding bygedra het, is die dubbelbed in die slaapkamer aan hom en Busi toegeken. Op die driekwartbed het vier kinders geslaap, sy tante op die enkelbed. ’n Kamer met beddens was dit en jy moes maar jou loop ken. In die woonvertrek was twee banke wat saans teen mekaar geskuif is. Daarop het sy neef en dié se vrou geslaap.
Maar een nag in die winter het al nege van hulle in die kamer met beddens deurgebring toe die neef en vrou soontoe vlug, die deur van binne sluit en toestapel met koffers en dose wat normaalweg onder die beddens gehou word. ’n Bende het toegeslaan, daar was ’n gerammel aan die agterdeur, uitgerekte gille by die huis langsaan, skote en ’n ruk later het iemand honend in die straat uitgeroep: “Kom uit as julle wil baklei, onnosele donkies!” So is sy neef sy radiostel kwyt, maar hulle kon van meer geluk spreek as die bure.
Van Busi se studie het daardie jaar nie veel gekom nie. Hulle het dikwels by haar mense gekuier, maar om hier aan te klop vir verblyf, daarvan wou Tumelo John nie hoor nie. Hy het koppig volgehou dat hy self vir hulle ’n huis sou kry.
Die week voor sy verplasing na Hammanskraal word ’n vriendin van Busi, een wat saam met haar in Newcastle op skool was, se man voor hulle huis in Kwa Mashu by Durban doodgeskiet terwyl hy ’n battery uit sy motor haal. Tumelo John het Stephen Mtshali nie geken nie. Hy sou wel later sy vrou ontmoet. Mtshali was glo eers lid van die ANC se militêre vleuel, maar hy’t gedraai en ten tye van sy dood het hy vir die veiligheidspolisie gewerk. Hy was staatsgetuie in ’n politieke verhoor. ’n Uur na sy dood word ’n tweede persoon op soortgelyke wyse in Durban vermoor. Dr. Richard Turner, die ses en dertigjarige gebrandmerkte dosent, sterf voor sy twee jong dogters. Die koeël kom deur die stoepvenster en die polisie moet later bevestig dat verskillende vuurwapens tydens die twee aanslae gebruik is.
Sersant T.J. Moleko sit by sy tafel in die dienskamer van die opleidingskollege. Dis ’n Vrydag, middel Augustus en vyf jaar later, 1983.
Aan die einde van sy skof word dit van hom as dienssersant verwag om alle inskrywings in die voorvalleboek te kontroleer en te vergelyk met die uitstaande verwysingsnommers op die swartbord teen die oorkantste muur. Sedert sy bevordering tot sersant drie jaar gelede is dit die werk wat hy die graagste doen: administratiewe pligte soos dié van die dienskamer.
Die dienskamer staan los van die kollegegebou, ’n platdakgeboutjie (verdwerg deur twee jakarandas) met ’n smal sementstoep vlak langs die hoë toegangshek. Hier word die kom en gaan van alle personeel, studente en besoekers opgeteken.
Skuins voor hom op die tafel lê die 9 mm-dienspistool wat konstabel Phadu ’n rukkie gelede ingelewer het. Tumelo John lees sy voorlaaste inskrywing in die voorvalleboek: 13h15. Staatseiendom: Konstabel Phadu oorhandig 9 mm-pistool met agt rondtes ammunisie aan sers. Moleko.
Hy is bly sy naweek begin hierdie week so vroeg. Eers gou die gasbottel by die handelshuis gaan vul, ’n draai ry by die apteek net ingeval die laaste klomp foto’s al ontwikkel is, daarna by sy ou oompie langs in Majaneng en dan huis toe, na sy vrou en kind by die huis.
Sy eie huis. As hy daaraan dink, kan hy kwalik sy trots verberg. Dis nou al langer as twee jaar dat hy vergunning gekry het om ’n nuwe huis hier langsaan in Temba te koop. Sonder moeite het dit wel nie geskied nie. Hy en Busi moes aansoek doen om burgerskap in Bophuthatswana, wat hulle nou nog nie gekry het nie. Reg om vaste eiendom te besit het hulle wel omdat hy hier op die grens werk en natuurlik omdat hy in die polisie is. En dan het sy vriendskap met Nkosi verdere rompslomp uitgeskakel. Dis net asof dinge begin vlot sedert Nkosi van Johannesburg hierheen verplaas is. Is Nkosi jou bondgenoot, dan word daar nie met jou gesukkel nie. As luitenant weet hy ook hoe om die ou adjudant-offisier Mabe in sy spoor te laat trap.
Mabe: ’n ou brulpadda van Tembadam, noem die spotvoël Lekalakala hom (as die geselskap reg is, natuurlik). Omdat hy so jaloers waak oor die kliek wat hy om hom versamel en op die voorregte wat hy meen hom toekom, ’n man vir witbroodjies. In sy beginjare op Hammanskraal was Tumelo John gelukkig om baie gou verblyf te kry in die getroude kwartiere