Net jammer dat Sithebe moes meen hy het – vanweë sy senioriteit – nie nodig om ’n jong konstabel vir sy werk en moeite met die foto’s te betaal nie, nie eens as jy so in jou skik is met die gehalte daarvan dat jy een – een wat jy oral en aan bykans elkeen gewys het – stuur om in die polisiejaarboek afgedruk te word nie. (Hy sit militêr maar kyk ver by die kamera verby die toekoms in en langs sy skouer, die nuutbevorderde skouer met sy vleklose, gedekoreerde epoulet, ’n vol bloeiende trossie van ’n bosveld-koraalboom; feitlik skemer, lensopening op sy grootste, definisie onbesproke.)
Tumelo John het daarop die pas bevorderde Sithebe by die hoof van die kollege, brigadier Botha, verkla en die uiteinde was dat kaptein Sithebe hom vir sy dienste moes vergoed. Daarmee sou alles dalk afgehandel gewees het, vergete. As Mabe nie gedink het daar is voordeel vir hom om sy neus hier in te steek nie. Hy sou die kaptein wys hoe jy met ’n parmantige snuiter werk en waar hy maar kon, het hy die lewe vir die jong konstabel begin moeilik maak. Ook met Busisiwe het hy skoorgesoek: as jy wil leer, gaan skool toe en bly by jou mense wat vir jou moet sorg, hier’s g’n plek vir ’n gelêery bedags met boeke nie. Maar almal het geweet Mabe wil ’n nefie van hom op die kampus inskuif en Tumelo John was taktloos genoeg om weer ’n klag teen een van sy seniors te lê oor die onbillike wyse waarop daar van hom en sy vrou slagoffers gemaak word.
Mabe is ook tot orde geroep en alles is oënskynlik in der minne geskik (die jongklomp het gelag en gesê ou Mabe is seker skytbang vir brigadier Botha se honde) alhoewel die ou man se oë vandag nog ’n ander storie vertel (astrante klein hel, jou sal ek nog regsien! wag maar) wanneer hy die slag na Tumelo John kyk.
Tog was alles die moeite werd. Sy kans het gekom om ’n nuwe huis te koop, sy pa en ma het al twee maal kom kuier en elke keer sê sy pa as hy voor die deur uitklim: tja, julle bly soos witmense op die dorp.
Hy’s gelukkig hier, hier wil hy bly. Hy staan op, kyk af na sy uniform, klop die dienspistool op sy heup in posisie. Saam met sy foto-inkomste verdien hy genoeg om af en toe iets huis toe te stuur. Aan die begin van die jaar kon hy sy jongste broer, Kopiki, in die Vrystaat gaan haal om sy matriek hier in Temba te maak – hy bly nou by hulle, hulle sorg vir hom – en hy kan ’n ogie hou oor sy ma se oom wat, oud en verdwaald, ’n huisie het in Majaneng. En na die motorongeluk in Desember kon hy – die versekering het hom goed uitbetaal – maklik ’n nuwer model aanskaf. En as Busi ook vanjaar klaarmaak met haar matriek (sy kort net twee vakke) sal sy met verpleging kan begin hier oorkant in Jubilee-hospitaal. Dan sal hy sy garage agter die huis kan aanbou … Nee, dit gaan voor die wind met hulle.
Hy kyk op sy horlosie, kaptein Welgemoed behoort enige oomblik te kom om hierdie skof af te teken. Deur die venster sien hy vir Mgabi met die pad aankom.
“Wanneer kom die reën, ouman? Wat sê die ekspert?” vra Tumelo John toe die ou man die dienskamer inloop.
“Reën, wat praat jy van reën? Jy weet mos die wind moet eers kom.”
Mgabi is al baie jare lank opsiener oor die tuine op die kampus. “En as hy eers gekom het, daardie wind, gaan hy waai dat ons party dae voel ons word mal.” Tumelo John gaan sit agter sy tafel om die gebruiklike aantekening te maak: Staatseiendom: Arbeider Mgabi bring sleutels van hoenderhokke.
“Maar as die wind klaar gespook het, is dit nie so lank voor die reën val nie,” mymer die ou man voort, “dis net dat almal so ongedurig is totdat dit kom. Mense is soos plante, soos hoenders, ene onrustigheid dié tyd van die jaar. Alles ontspan eers as die water loop. My kleinkinders by die huis, hulle neem die plek op horings, hulle soek met almal skoor. Hier by die werk ook is almal so moeilik: hoekom is dít nie klaar nie, waar is dié ding, waarom? Ek sê niks, ek weet, ek wag maar vir die reën. As hy eers kom, dan gaan dit beter. Dis net soos met hoenders.”
Tumelo John moet lag, hy wonder wat die kaptein sal sê as hy hom so iets sou vertel? Dan sien hy hoe Mgabi ’n R10-noot langs die dienspistool op die kant van die tafel neersit.
“En dit, oompie?”
“Dis wat jy my laas week geleen het, jy’s ’n goeie seun, sersant. Jy’t my baie gehelp.”
Tumelo John tel die pistool op om dit in die kas toe te sluit. “Dis dan nog nie end van die maand nie …” Die deur spring oop. Mgabi wip van skrik.
Dis kaptein Welgemoed. “Klaar met jou inskrywings, Moleko? En is alles reg? Dit moet wragtig reg wees, vandag is ek haastig.”
“Alles reg ja, kaptein. Kaptein is ook altyd haastig.” Welgemoed kyk vinnig op, ontspan (hy sien my verleë glimlag, dink Tumelo John). “Ek gaan Pretoria toe, dis my pa se verjaarsdag. En jy, wat maak jy vanmiddag?”
“Nee, vanmiddag bly ek by die huis. Ek gaan tamaties plant vir die somertyd. Kaptein moet my uie sien, is al mooi groot.”
“Shit, ek wens ek was so gelukkig.”
Tumelo John bêre die pistool. Hy kyk by die venster uit. Van Mgabi is daar geen spoor nie.
Net na twee-uur vertrek hy van die kampus. By die hek skerts hy eers met die hekkonstabels en Motasi wat as dienssersant by hom oorgeneem het, kom ook uit op die stoepie om saam te lag. Motasi vertel hulle van die poets wat een van die jongklomp in die enkelkwartiere vir kaptein Sithebe gebak het. Die hoof van die kollege het alle personeel verbied om hulle privaat voertuie op die kampus te was (of te laat was); toe gaan iemand en stoot stilletjies die tuinslang met sproeier onder die kaptein se motor en draai die kraan net effe oop sodat dit spoedig lyk of die motor waarop Sithebe so presies is en wat altyd blink, pas ewe oordadig afgespuit is.
“Kan julle dink hoe verontwaardig die brigadier of die kolonel gaan wees as hy daarop afkom?”
“Dis sweerlik Lekalakala se werk,” sê die een konstabel en die ander een beaam, ja, dit kan net hý wees.
Die gedrang is groot by die Algemene Handelaar. Sonder ophou trek die taxi’s weg, mense klim af. Naby die groot raasblaar waar ou Sekhu (sy oompie in Majaneng se een buurman) stoertoere maak en verkoop, hou Tumelo John stil. Die ou man roep en beduie ’n groet bokant Brenda Fassie se stem uit iemand verder aan se transistor. Hier kan jy hom elke dag van die week buiten Sondae kry, afgeslyte blikskêr pal in die hand.
Tumelo John haal die leë gassilinder uit sy kattebak. “Hierso, baba!” roep iemand na hom uit die oop mark se rigting. Dis ’n vrou by wie hy dikwels vrugte koop; dié week het sy lekker appels, en daai bielie van ’n seun van hom kan een verniet kry.
“Netnou!” roep hy terug. Die laaste een is bewus van die kloppende loomheid van ’n nuwe seisoen, jy hoor dit aan die stemme.
By die ysterwaretoonbank gesels hy met die skoolhoof. (Hoe vorder daardie jongboet van my, meneer?) Tot iemand hom teen die skouer klap en hand uitsteek. Tsepo Makoko.
Hy het Tsepo lanklaas gesien, nie sedert sy verplasing twee jaar gelede na Groblersdal nie. Hy was eers konstabel hier by die Hammanskraalse polisiestasie.
“Ons het die naweek kom kuier by my vrou se mense.”
Dis hier agter in Winterveld, onthou Tumelo John. Dis waar Tsepo self ook grootgeword het. Hy is die jongste seun en het saam met sy pa-hulle hier padgegee so ’n jaar nadat Bophuthatswana onafhanklik geword het. Sy pa het nie daarvoor kans gesien om die heeltyd lastig geval te word deur die nuwe regering se amptenare net omdat hulle nie Tswanas is nie. Sommer baie mense het in dié tyd weggetrek. Tsepo-hulle het by ander Sotho-families gaan woon in Moutse.
“Hulle gaan ons ingooi by Skosana se mense.” Dit gaan nie goed nie, dit kan jy sommer aan sy houding sien.
“Maar jy weet mos hulle sal dit nooit doen nie.” Tumelo John betaal vir sy gas. “Daardie plek is dan al die jare onder Sothokapteins, daar bly mos nie eintlik van sy mense nie. Skosana droom, al die mense sê so. Wat steur jy jou aan sy praatjies?”
“Ek dink Makoko is reg,” kom die skoolhoof tussenbeide. “Daardie Skosana is so slim soos die galghoutjie. Luister, Tumelo, jy’s reg as