John Miles
Kroniek uit die doofpot
POLISIEROMAN
Human & Rousseau
vir Tshidiso
die liggaam is ’n abbavel
Tswana-pryslied
’n moorddossier word nooit gesluit nie
Generaal Jaap Joubert
Voorwoord
Toe Kroniek uit die doofpot in 1991 verskyn het, het dit groot indruk gemaak vanweë sy uitgesproke kritiek teenoor die apartheidstelsel en die gepaardgaande misbruik van mag.
En inderdaad kan ons vandag, ná die onthullings voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie, vasstel in watter mate hierdie “polisieroman” ’n kroniek van die laaste jare van apartheid is. John Miles, dit besef ’n mens nou duideliker, het die verhaal van Tumelo John Moleko fyn beplan om die apartheidsera, veral dan sy krisis en ondergang, in sy biografie te weerspieël. Tumelo John is in die eerste jare van die Nasionale Party se bewind gebore en sy eintlike storie begin in 1973, die jaar van die eerste onrus op die arbeidsfront. Die aanranding op hom en die begin van sy stryd met die owerhede val saam met die aanvang van die “struggle” teen apartheid met die grootskaalse onluste in September 1984. Tumelo John se verhaal speel hom dus teen die agtergrond van die verset teen apartheid af en is ten nouste daarmee verweef.
Die polisie in die roman word ’n mikrokosmos van die destydse samelewing, waar saamleef en saamwerk van wit en swart gekenmerk word deur óf paternalisme óf hardvogtigheid en rassisme aan blanke kant en, aan die kant van swartmense, deur ’n gedienstige maar onwillige aanvaarding van harde en basies onregverdige behandeling.
Terwyl Kroniek uit die doofpot dan as ’n dokumentêre en kennelik as ’n politieke, of “betrokke”, roman beskou kan word, gaan dit op ’n dieper vlak egter oor ’n meer algemene, selfs universele, tema: die wedervaringe van ’n gewone mens “voortdurend uitgelewer aan ander wat namens hom besluit”. Dit is die storie van een mens se stryd om geregtigheid teen ’n magtige stelsel, ’n kroniek van die geleidelike uitmergeling en onderdompeling van ’n enkeling wie se regte verguis is. Sy voorgangers heet Michael Kohlhaas, Josef K. of Bart Nel. By John Miles is hy ’n swart polisieman onder apartheid, ’n gewone mens wat net na beskeie geluk vir homself en sy gesin streef en nie eens in politiek belang stel nie.
Maar terwyl die aktualiteit én die tydloosheid van hierdie roman vandag nog boei, maak ’n herlees ’n mens ook sterker bewus van sy literêre aanbieding. Só word elke hoofstuk wat ’n verdere stap in die kroniek van onreg weergee, aangevul deur die optrede van die skrywer wat daardeur self deel word van die teks, oor die skryfproses nadink en direk tot die leser spreek: “Jy moet jouself oral en in alles raaksien.” Dit is bewustelik ’n Afrikaanse teks vir die Afrikaanse leser wat egter geensins deur ’n parogiale benadering beperk word nie. Hierdie metafiksionele kommentaar verleen verdere diepte aan Miles se roman.
Tumelo se besering en die gestadige proses van doof word – waarop die titel vernuftig sinspeel – verteenwoordig die miskenning en skending van die individu, tot hy ironies kan verklaar: “Dat ek doof moes word om [na die onreg rondom hom] te kan luister.”
Kroniek uit die doofpot gee die leser ’n onthutsende blik op ’n verlede wat steeds by ons bly spook, maar het tewens met die ontplooiing van nuwe magstrukture sedert 1994 geensins sy aktualiteit ingeboet nie, en is, al is dit op ’n ander manier, steeds relevant.
GUNTHER PAKENDORF
Kaapstad, 2005
Naamlys
Tumelo John Moleko
Penelope Busisiwe (Busi), sy vrou
Tshidiso (jr.), hulle seun
Die Hlongwanes, skoonouers van Tumelo John
Solane Richard Hlongwane, sy swaer
Mapheko, sy tante
Kopiki, sy jongste broer
Temba Kefasi, sy vriend in die apteek
Zondi, UDF-aktivis
Nuni, vriendin van Busi en vrou van Nkosi
Pallo Seleke, Johannesburgse koerantman
Vroegste kollegas in die polisie, alfabeties
Kriek, later kaptein by Hammanskraal
Nkosi, later kaptein
Sithole, later luitenant in die veiligheidspolisie
By die Hammanskraalse polisiekollege, alfabeties
Borea, sersant (personeel)
Botha, brigadier en hoof van die kollege
Engelbrecht, kaptein (personeel)
Lekalakala, konstabel
Letshoene, adjudant-offisier
Mabe, adjudant-offisier
Mgabi, arbeider
Mohlaki, adjudant-offisier (personeel)
Nienaber, majoor (personeel)
Nomsa, konstabel
Ntotshi, sersant
Rambao, kaptein
Sithebe, kaptein
Stander, luitenant (sportorganiseerder)
Van Niekerk, kolonel en senior stafoffisier
Welgemoed, kaptein
Hammanskraalse polisiestasie, alfabeties
Gouws, sersant
Kriek, kaptein
Mabetha, sersant
Nobala, sersant
Opperman, kaptein en stasiebevelvoerder
Rappuni, konstabel
Wiemann, sersant
Groblersdalse polisie
Tsepo Makoko, sersant
Bophuthatswana-polisie
Makgato, sersant by Temba-polisiestasie
Molope, brigadier
Polisiehoofkantoor, alfabeties
Bestbier, generaal
Stoker, generaal
Venter, brigadier
Regsmense, alfabeties
Craig Byron, prokureur, later van Regslui vir Menseregte
Hess, tweede advokaat
Brian Huma, prokureur
Harry Maphanga, eerste prokureur
Van Niekerk, eerste advokaat
Medici, alfabeties
Broekman, algemene praktisyn
Goedhals, distriksgeneesheer
Mabena, algemene praktisyn
Vitkovsky, van Ga-Rankuwa-hospitaal en Medunsa
1 Senekal in die Vrystaat, 1952 …
Tumelo John was maar nege toe hy ’n dag of so na die dood van sy oom wat skynbaar nooit sou kon rus voor hy nie geweet het wie sy spogooi gesteel het nie, op ’n toevallige vraag van sy oupa sê hy wil eendag polisieman word. Sy ma het gemeen dis goed. Hy sou moes deurbyt op skool, het sy gesê, want om skelms vas te vat, moet jy slim wees. En uitgeslape, het die oupa bygevoeg, want die Groot Geneuk het soveel houdings en hy lê jou altyd op die mees onverwagte plekke voor.
Was