Klassiek reeks: Kroniek uit die doofpot. John Miles. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: John Miles
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798173094
Скачать книгу
wat hy met sy ouer word al hoe gouer sou sluk, want die ou Tshidiso het nie verniet so stadig geloop nie. Vir elke tree wat hy gee, het hy met sy gedagtes ’n tree teruggeloop en om ’n dag saam met hom in die veld te wees, het jou laat voel jy was baie ver weg as jy die middag terugkom. Boonop was die huis nou ook anders as toe julle weg is.

      Wat jy alles van die veld kan leer, dit het Tshidiso hom ver­tel. Soos wanneer jy van die gougoubossie se grysappeltjies kan eet, want oppas, eet jy hulle te groen dan slaan jou ore uit!

      Tumelo John se pa was plaasarbeider. Sy ma ook. En sy ooms met vier van hulle seuns. Sy oupa veral het die plaas soos die holte van sy hand geken. Sommer lank gelede het hy – destyds as deelboer – daar ingetrek.

      “Jou oupa is een van die gelukkiges,” het Tumelo John se ma menigmaal vertel. “Na al die jare sit hy darem nog op die grond waar hy begin het; die Van Niewenhuizens is goeie mense, dis daarom dat jou oupa so lank met hulle kan ooreenkom. Maar óns mense was nie so voorspoedig nie.”

      Sy ma was ’n boorling uit die Hoopstadomgewing, ’n senu­weeagtige mens. En darem net te nederig, te onderdanig, so anders as sy trotse ou oupa.

      “Ons was nooit seker van ons blyplek nie.” Dan het sy ma vertel – met sy pa wat hom altyd doof hou, het Tumelo John nie geweet wie almal luister nie – van die man wat glo jare gelede met ’n fiets deur die land gery het om swartmense raad te gee en moed in te praat, mense wat soos haar familie destyds maande lank met hulle vee op pad was om bywonerplek te soek.

      Aan die einde van sy standerd ses is Tumelo John dorp toe om werk te soek. Sy oupa het hom self met die donkiekar na die winkel by die kruispad geneem om hom die bus te laat haal.

      Waar die teerpad begin, het ’n kombi by hulle verbygejaag, ’n ent verder naby ’n plaashek stilgehou en mense afgelaai.

      “Daardie man het nie hier tussen ons mense grootgeword nie,” het die ou Tshidiso gesê en met sy seningrige swepie oor die lywe van sy spogdonkies gewys na ’n groot man met ’n kakiemus op.

      “Hoe so?” vra Tumelo John en kyk na die man wat sy oupa uitgewys het, ’n grootgeboude kêrel met lang bakarms en hande so groot soos skopgrawe.

      “Jy kan dit sien aan sy loop,” en van ergernis kap-kap die ou man met sy swepie teen die houtbankie waarop hulle sit.

      “Sy loop?” Tumelo John let die groot paar stewels op wat kortpad deur die veld aanstryk om by ’n voetpad aan te sluit.

      “Kyk,” en sy oupa leun teen hom aan om mooi te kan be­duie, “kyk, die vent het dwarsoor daardie klein druifbossie ge­loop. Watter mens sal oor kos loop?”

      En toe hulle by die winkel groet, was sy oupa se woorde: “Oppas vir die lelike ene. Onthou, hy hou sy lyf jakkals, hy ken al die maniere om jou gerus te maak. Want hy lyk tog so baie soos jy self.”

      As jy eers in die grootwêreld woon, is sulke herinneringe baie ver, jy dink nie aldag daaraan nie.

      In Senekal het Tumelo John allerhande los werkies gedoen en later kon hy by die dorpsapteek oorkant die kerkplein (met sy versteende bome) help met die uitwas van bottels om weer vir medisyne (aan swartmense) gebruik te word. Intussen het hy by die polisiemag aansoek gedoen.

      Ek stel my voor dat Tumelo John later van tyd tot tyd aan sy oupa sou terugdink. Die fier een, die een wat reeds baie oud was toe Tumelo John die Vrydag terug is plaas toe om sy mense te groet, want hy is deur die Suid-Afrikaanse Polisie as rekruut aanvaar en moes hom in Johannesburg vir diens aanmeld.

      “Hoe laat jy my skrik!” sê sy oupa met die opkyk, die dag was al wit.

      “Kom nou, Oupa, jy word rêrig oud. Hoe sal ek jou laat skrik?”

      Maar die ou man hou sy gesig strak: “Hoekom loop jy so stil?” sodat Tumelo John vir hom lag.

      “As jy aankom, slaan my ore toe.”

      En die jongman lag harder: “Dit lyk my Oupa het te veel groen grysappeltjies geëet!”

      Die ou man het oor die weer begin praat. Dit was die middel van Mei en die herfsaande – gaan kyk maar na die weerver­slae van 1973 – onverwags bitter koud.

      Op Vrydag 25 Mei 1973 begin Tumelo John Moleko sy diens by die Suid-Afrikaanse Polisie in Cleveland, Johannesburg.

      2 Johannesburg, Augustus 1988

      Hierdie verhaal het eintlik geen begin nie.

      Die skrywer het die naam Moleko die eerste keer gehoor in ’n gesprek met sy vriend. Moleko was ’n geval, sy naam niks­seggend, ’n naam sonder politieke bybetekenis. As jy dié naam voor ’n vergadering mense uitroep, sal jy met stompsin­nige stilswye begroet word; voor jou ’n versameling verdwaas­de gesigte vol onbegrip. Dit is ’n naam wat wegraak in ’n see van ander name, ’n naam nie van naamloosheid te onderskei nie.

      T.J. Moleko was die spreekwoordelike gewone mens wat ge­dink het die lewe is ’n vuurtjie om jou by warm te maak en met vuur kan jy maar speel.

      Die skrywer se belangstelling was geprikkel en die vriend het onderneem om die lêers van die geval – “dit gaar tog net stof op by die prokureurs,” het hy gesê – vir hom in die hande te kry. Want veertien en ’n half jaar nadat hy uit die Vrystaat weg is, het iets afsigteliks hom daar op die aand van 30 Novem­ber 1987 in die nabyheid van Tumelo John afgespeel.

      ’n Paar dae na die gesprek met sy vriend kom die skrywer tuis en daar lê dit. ’n Spul lêers in ’n groterige geel plastiek­inkopiesak ingedruk. Hoewel hy min of meer geweet het wat om te verwag, was die eerste dokumente in die boonste lêer – die mees onlangse – vir die skrywer nie sonder skokke nie en ineens het hy die eienaardige gevoel gekry dat hy liewer nie dieper moet grawe nie, dat iets verskrikliks ook met hom sal gebeur as hy verder lees. Dit het hom ’n ruk geneem om die gevoel van hom af te skud.

      Hy het die warboel verklarings, briewe, ’n oneindige aantal vorms – wat ’n armsalige beeld van ’n lewe! – in ’n lyn van oor­saak en gevolg probeer plaas.

      Wat die lewe sogenaamd met ons aanvang, is nie die ergste nie, het hy laat daardie aand gedink. Daardie “lewe” is net nog ’n woord, ’n doekie wat taal ons om die oë draai, want wat kan ons meer verbyster as dit wat die een mens in staat is om die ander aan te doen?

      As ek ’n boek hiervan moet maak, dan is ek en hy saam daarin: die polisieman en die skrywer, die swarte en die witte, elk afgekamp in sy eie hougebied, maar saam tussen die kake van ’n opvreetmasjien waar net die blindes uitsig het en vryheid van beweging. Sy geskiedenis is my storie, sy verhaal: my be­heptheid.

      Die lêeromslae was nie van dieselfde tipe nie. Jy kon hulle nie sommer in enige volgorde op ’n hopie pak sonder om gevaar te loop dat die hele spul begin gly en van die tafel aftuimel nie. Die stywe, skuinslopende swart omslag was onvanpas tussen die pap groenes. Dit was dan ook van die kliënt self, die brok­kies getuienis wat jy as leek oor jou eie saak sal versamel: per­soonsbewys, salaris en troudatum, die kind se geboorte, ampte­like briewe in ’n uitblafstyl om van doof te word, dowwe foto­kopieë …

      Hoe sou hierdie versameling aan sy geel Checkerssakkie ge­kom het? het die skrywer gewonder. Al die moeite om ’n saak, ja meer as een, op te bou lyk skielik so tevergeefs. Om die een of ander rede kon die stapel voorbereidings nooit daarin slaag om ’n advokaat op pad na die hof se leertas te haal nie. En die kans lyk skraal dat daar aan hierdie feite plek afgestaan sal word in leergebonde regsuitsprake.

      Die geel plastieksak was daarom nie onvanpas nie, ’n nuttige houer om van ’n nuttelose sameraapsel saam met jou tuinafval by ’n munisipale stortingsterrein ontslae te raak.

      En, het dit by die skrywer gespook, vir jou is daar sekerlik meer as dit? Jy sien tog hoe dit skakel met die geel van die Vry­staat self. Jy moet gaan plek maak vir Tumelo John in die trotse grond van sy Senekalse oupa.

      3 Johannesburg, 1973 …

      Die Vrydag in 1973 toe Tumelo John by die Clevelandse polisie­stasie opdaag,