Ja, ek verlang na ’n onbevolkte gebied wat wyd en ongerep om my kring. Ek wil graag na die ruimte reis omdat ek daar vry sal wees van winteruitverkope, mannekynparades, rasseaangeleenthede en padongelukke, maar ek wil darem nie heeltemal alleen gaan nie. Ek het groot sin aan die ruimte, maar ek sien darem nie mensalleen daarvoor kans nie. As ek op ’n ruimtereis gaan, moet my man saamgaan.
Ek moet iemand hê vir wie ek kan sê wat ek sien en hoe ek voel oor wat ek sien en vir wie ek kan vra of hy dit ook só sien en só daaroor voel. Daar moet darem iemand wees om saam met my aan te sit as ek my buisie ruimtepasta eet. Daar moet iemand wees vir wie ek kan vra: Dink jy ons trek nou oor die Kaap? Sou jy sê dit reën in die Swartland? Ek wonder of die Overbergse boere al skeer.
En buitendien, as ’n mens deur die ruimte reis, moet daar iemand wees om die lewenslyn vir jou vas te hou. Jy kan nie uit die ruimskip klim sonder die goue koord wat jou verbinding met jou één vaste punt in die vloeibare ruimte is nie. En alleen kan jy jou nie aan die lewe hou nie.
Ek moet dit erken: ek wil met my voete in die ruimte staan, ek wil die aarde op ’n afstand sien, ek wil die oneindige gewaar, maar ek wil darem weer terugkom. Ek wil darem weer met die goue lewenslyn teruggetrek word na ’n beskutting waar iemand vir my wag.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.