Die plesierboom. Audrey Blignault. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Audrey Blignault
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624078432
Скачать книгу
blootstel nie. Daarom is dit altyd goed om vrae te vra oor geld, oor kos, oor sport, oor motors en moontlik oor die liefde:

      Dink u dis waar dat die aandelemark sal styg as ons rugby verbeter?

      Hoe lyk dit, het u nie vir my ’n vuurwarm wenk vir die July nie?

      Weet u miskien of Clydesdale-merries nou op prys is?

      Het u al oesters geëet saam met swart brood en vonkelwyn?

      Waar kan ’n mens tog deesdae volstruisbiltong koop?

      Het u al op George se gholfbaan ’n toernooi gespeel?

      Stel u belang in onderwaterduikery?

      Is dit só dat die onderdele vir Mercedes-motors moeilik verkrygbaar word?

      Sou u sê dat ’n mens regtig verlief is as jou linkeroog spring?

      Hier en daar het ek al onverwagse sukses behaal met so ’n bietjie verrassingstegniek:

      Het ’n tier al ooit op u gespring?

      As u kon kies tussen die koningin van Skeba, Elizabeth Taylor en Mimi Coertse, wie sou u kies?

      Is u ook een van die outydse individualiste wat weier om tou te knip?

      Kan u my miskien sê wat ’n basuutjie is? En ’n dikoulap? En ’n Abraham-boekpens?

      Dan breek dit my so in as my tafelmaat vir my vra of ons nie baie wind in Kampsbaai kry nie, of ek Wildtuin toe was in die winter en of daar nog oop erwe te koop is op Struisbaai of Waenhuiskrans.

      Niemand het my nog ooit gevra waar ’n mens klokkiesheide in die lente kan ruik, hoe ek my man so jonk hou en wat vir my die mooiste teks in die Bybel is nie.

      Ek het al langs mense gesit wat my glad niks gevra het nie.

      Daar is ook diegene wat met voorbedagte lis rookskermvrae stel. Hulle het nie lus om self te praat nie, dus stel hulle gou ’n vraag wat daarop gemik is om hulle tafelmaat aan die praat te kry en lank aan die praat te hou en dan kan hulle lekker lui sit en rondkyk of hulle eerste wynslapie oopoog klaar slaap. Sulke rookskermvrae wat nooit afklap nie is vrae oor kwale, oor kleinkinders, oor kameras en oor koekmakrankas soek in Piketberg. Dis ’n laakbare gewoonte om ’n mens se sosiale luiheid met dié soort vrae toe te dek, en dis jou verdiende loon as jy later uit wanhoop glad te veel wyn drink.

      Uit my jeug onthou ek met plesier die opwindende newebetekenis van die rituele vryvrae. Die eerste Kabbalistiese vraag waarmee ’n mens in jou vroeë kêreljare te doen gekry het, was:

      Kan ek asseblief ’n bietjie drinkwater kry? As ’n seun op ’n Sondagaandse besoek dít vra, het jy óf daardie lekker lam-in-bene-warm-agter-die-ore-gevoel gekry en dadelik saam met hom kombuis toe gegaan óf ’n hoesbui het jou neergetrek en jy het maar met jou hande beduie waar die waterkraffie in die gang staan.

      O, die opstuwende verwagting as ’n kêrel vir jou vra: Wat maak jy vanaand? Natuurlik maak jy niks, niks, niks, in elk geval niks besonders nie, al weet jy voor jou siel dat jou seminaar oor die Diamantveldekwessie môre ingelewer moet word, dat jy twee weke laas vir jou ma geskryf het en dat al jou kouse vuil lê in jou laai. ’n Mens moet mos weet hoe om ’n vraag te takseer en dit dan te herlei tot sy essensie. Die liefde mag nie strand op die letterlike vertolking van ’n suiwer rapsodiese vraag nie.

      En dan die sielsrukkende vreugde as daardie laaste, hoogste vraag eindelik gevra word: Sal jy omgee as ek ’n bietjie jou raad kom vra oor ’n probleem wat my kwel?

      Dan wéét jy: die teerling is geworpe en jy gaan dadelik vir jou ’n botteltjie Evening in Paris koop.

      Dis eers later, baie later, wanneer ’n mens self kinders het, dat jy begin bang word vir vrae, dat jy ’n vraefobie ontwikkel:

      Ma, hoekom is ’n Engelsman se nek dan rooi?

      Ma, waar is my katte se pa?

      Ma, hoe oud is my Ghrên nou regtig?

      Ma, waar broei mensvlooie uit?

      Ma, as ek nou doodgaan, is dit my vel wat begrawe word en my binnegoed wat hemel toe gaan, of is dit my binnegoed wat begrawe word en my vel wat hemel toe gaan?

      Dís die slag dat ’n mens sonder om nog te wik of te weeg oor die opvoedkundige implikasies van jou besluit, jou kinders leer dat daar sekere vrae is wat hulle nooit, ooit vir enige mens mag vra nie:

      (1) Jy vra vir geen mens hoe oud hy is nie.

      (2) Jy vra nie vir iemand hoeveel hy verdien, wat sy nuwe huis gekos het en of hy darem iets van sy pa geërf het nie.

      (3) Jy vra nie vir ’n mens vir wie of vir wat hy gaan stem nie.

      (4) Jy vra nie vir ’n vrou hoekom sy nie kinders het of hoekom sy net een het nie. Jy vra liewer glad nie oor kinders nie.

      Ek voel sterk daaroor dat ’n kind kleintyd moet leer om te dink voordat hy vra wat hy wil vra. Dan sal hy miskien as hy ’n grootmens is ’n bietjie terugdeins voordat hy die ou pangavrae stel:

      Hoekom is jy so vet?

      Hoekom is jy so maer?

      Hoekom lyk jy so moeg?

      Hoekom is jy so grys, so oud, so vol rumatiek en so sonder man?

      ’n Mens sal egter nog altyd moet rekening hou met die vrae waarop daar geen antwoord is, geen antwoord ooit was en geen antwoord sal wees nie:

      Hoe het jy dit reggekry om die bord te breek?

      Maar wat het jou makeer om met Flip te trou?

      Kan jy dan nie sien hoe jy die hek moet oopmaak nie?

      Wie eet my sakdoeke op?

      Ag, wat sal ek na San se troue aantrek?

      Waar het ek tog weer my brilhuisie laat lê?

      En dan is daar gelukkig ook nog altyd die stomslaanvrae wat onweerlegbaar die bewys bly van die raaisel wat die mens is in sy onvoorspelbare gang oor die aarde:

      Waar kan ’n mens geelrys koop?

      Was Moby Dick die man of die vis?

      Is dit waar dat grondboontjies ’n dooierige man sal lewendig maak?

      Behoort ’n mens met ’n wewenaar te trou wat nog wolsokkies dra?

      Hoekom kan ’n klavierstemmer nie lag nie?

      HET SPOKE NEKKE?

      DIE DAWIDSMENSE

      Ek verkneukel my altyd in die antwoord waarmee oorlede oom Attie Louw van Calvinia op ’n keer die dominee ontwapen het toe die leraar met ’n huisbesoek dit sy plig geag het om oom Attie bietjie oor sommige van sy sosiale bedrywighede te vermaan.

      “Kyk, dominee,” sê oom Attie toe hy agterkom waarop die gesprek afstuur, “die saak is só: dis nie dat ek en die vrou ons in die sonde wil verlustig met die ou bietjie dansery van ons nie. Dis net dít, dominee: ons is nou maar so – ons is Dawidsmense – ons huppel graag.”

      Vir my amper net so ’n mooi antwoord soos dié wat koning Dawid self die dag met die groot arkfees in Jerusalem vir sy suurgesigvrou, Migal, gegee het toe sy hom so heilig uit die hoogte op die stang gedryf het oor sy ligsinnige gedans en gehuppel voor die oë van die slavinne. Ek sien sommer hoe Dawid se rooi gesig nog rooier geword het, hoe sy oë vuurvonke geskiet het toe hy met dieselfde hand wat Goliat uitgeslaan het, oor die siter streep en dit luid uitdawer: Voor die aangesig van die Here sal ek vrolik wees.

      Net soos oom Attie voel ek vir koning Dawid as ek lees hoe hy daardie keer in die seëvierende optog na Jerusalem met alle mag gedans het, hoe hy brandoffers en dankoffers gebring het, hoe hy die hele huis van Israel op siters en harpe en tamboeryne en bekkens en simbale laat speel het. Ek weet dat ek baie eerder aan daardie jubelende optog van Dawid sou wou meegedoen het as om daar by die loerende Migal in die venster te gestaan het. Ek sou my beslis ook oorgegee het aan die gejuig en die basuingeklank en my die misnoeë