'n Liedjie vir Anine. Elsa Winckler. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsa Winckler
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320032
Скачать книгу
druk die bak in sy hande. “Sal jy dit uitneem, asseblief; ek bring …”

      Hy glimlag skeef. “Ek het kom help, maar ek wil ook met jou praat.”

      “My pa het geroep, daar is nie nou tyd vir praat nie.”

      Hy gryp haar hand vas. “Ek is ernstig oor die idee van ’n onderhoud. Ek het vanoggend met my agent, Charles, daaroor gesels en hy dink ook dis die regte tyd om ’n indringende onderhoud toe te staan. Soos ek, dink hy ook jy is die regte persoon om dit te voer.”

      Sy probeer haar hand loswoel, maar hy hou dit styf vas. “Onderhoude met popsangers is nie wat ek doen nie. Daar is baie ander joernaliste wat oor celebs skryf, ek kan vir jou name gee.” Vergeefs probeer sy haar hand loswoel.

      Hy trek haar egter nader sodat sy feitlik teen hom staan.

      “Ek wil nie ’n ander joernalis hê nie, ek wil vir … jou hê.”

      “Zander, ek …”

      “Ma vra waar is die slaai, Anine?” roep Evan van die kombuisdeur af. Sy oë val op hulle hande wat inmekaar gevleg is en hy frons. “Wat is hier aan die gang?”

      Anine pluk haar hand los, gryp die bak uit Zander se hande en glip vinnig by hom verby. “Hier is die slaai, en niks is aan die gang nie.”

      Die een oomblik was Anine nog teenaan hom en die volgende oomblik is sy by die kombuis uit. Haar broer, Evan, kom stadig ingestap, die frons op sy voorkop nog dieper gekeep.

      “Hoekom hou jy my suster se hand vas?”

      “Omdat ek daarvan hou.”

      Evan se oë vernou. “Wat de duiwel bedoel jy daarmee?”

      “Net wat ek sê. Ek hou daarvan om aan haar te vat.”

      “Jy’t elke week ’n ander vroumens op sleeptou. Mors jy met Anine, mors jy met my. Verstaan ons mekaar?”

      “Jy behoort te weet jy kan nie alles glo wat jy in die koerante lees nie. Jy is ’n rugbyheld. Daar was ook heelwat stories oor jou voordat jy met my suster getroud is.”

      ’n Spier spring in Evan se wang. “Die stories oor my was nie waar nie …”

      “Die stories oor my is ook nie waar nie.”

      Evan staar Zander sekondes lank aan. Toe glimlag hy en slaan hom op die skouer. “So dís hoe die wind waai. Hoekom sê jy my nie?”

      “Wat bedoel jy?”

      Evan lag. “Jy sal dit nog uitfigure. Ons mans is glo maar stadig wat dié dinge aanbetref. Bier?” Hy maak die yskas oop.

      Zander krap sy kop. Hy het nou geen idee waarvan Evan praat nie, maar ten minste wil hy hom nie meer bydam nie.

      “Ek wil hê sy moet ’n onderhoud met my voer. Sy word beskou as een van die beste joernaliste en my agent reken dis nou die regte tyd vir so iets.”

      Evan gee vir hom ’n bier aan. “En? Wat sê sy?”

      Zander skud sy kop. “Nie iets wat sy wil doen nie.”

      “Stap saam en leer, swaer. Soms is ’n groot familie ’n aanwins.”

      Hulle het skaars begin eet toe Evan die bom los. “Anine, ek hoor jy gaan ’n onderhoud met Zander voer? Ek dink dis ’n briljante idee.”

      Anine stik en gryp na ’n glas water. Proestend begin sy keer. “Dis nie wat …”

      “Anine!” roep Zander se ma uit en druk haar hande teen haar hart. “Kind!” Haar oë blink. “Ek het al so gewens ’n gesoute joernalis wat nie net agter ’n lekker storie aan is nie, wil ’n onderhoud met ons kind voer. En nou gaan jy. Iemand wat so pas ’n prys gewen het vir puik verslaggewing. Dis die wonderlikste nuus vir hierdie ma.”

      “Tannie Marietjie … ” probeer Anine weer keer.

      “Goeie plan,” val Zander se pa haar in die rede, en lig sy glas.

      “Maar dit is die wonderlikste nuus!” Anya val vir Zander om die nek. “Wie se idee was dit? Joune of Charles s’n?”

      Anine probeer vergeefs Zander se oog vang. Hy weet mos sy het baie duidelik nee gesê vir sy voorstel. Hoekom sê hy dit nie vir almal nie? Maar Zander se kop is in Anya se rigting gedraai en hy sien oënskynlik nie haar pogings om sy aandag te trek nie.

      “Ek het daaraan gedink, maar Charles reken ook dis nou die regte tyd vir so ’n onderhoud.” Toe draai hy sy kop en kyk na Anine. “’n Onderhoud deur iemand wat onbevooroordeeld is, is veral na die naweek se storie noodsaaklik.”

      Anine kners op haar tande. Asof hy regtig glo sy sal onbevooroordeeld wees. Die stekie na haar kant is nie iets wat enigiemand anders sal hoor nie. “Zander, ek het jou baie goed laat verstaan …” begin sy heftig, maar almal is so opgewonde aan die gesels dat niemand na haar luister nie.

      Anine is so vies dat sy kan opstyg. Daar is geen manier waarop sy met grasie uit hierdie situasie kan kom nie. Nie terwyl Zander se ma haar met blink, dankbare oë aankyk nie.

      Sy gluur na Evan wat die petalje ewe onskuldig dophou, maar sy ken haar broer. Hy het baie goed geweet sy wil nie die onderhoud doen nie. En sy kan haar kop op ’n blok sit dit was sy idee om die hele ding voor almal te bespreek. Op dié manier kan sy nie weier nie.

      Uiteindelik raak die opgewonde stemme stil.

      Anine maak keel skoon. “As ek nou my sin kan klaarmaak … ”

      “Natuurlik, hartjie, ons is net so dankbaar,” sê Zander se ma.

      Anine wens sy kan in die aarde wegsink. Maar sy het so pas aan ’n manier gedink om uit die hele ding te kom sonder om iemand te na te kom. “Om baie eerlik te wees, ek het vir Zander gesê onderhoude met popsterre is nie wat ek doen nie …”

      Zander se ma se oë rek en haar eie ma trek haar asem skerp in.

      “… maar omdat hy famílie is, sal ek met my baas praat. Die kanse dat hy sal instem, is skraal. Ek is immers aangestel om oor politieke sake berig te doen maar ek sal vra.”

      Sy het die woord “familie” met opset beklemtoon en is baie bewus van Zander se oë op haar.

      Dis tyd dat sy vir hom, maar veral ook vir haarself, duidelike grense stel.

      Hoekom, Here? Hoekom nou? Die man kan regtig op geen manier deel van die plan van haar lewe wees nie. Hy … hy … Hy’s ’n popster van alle dinge.

      Zander staar minute na Anine, maar sy het haar kop weggedraai. Hy het die klem op “familie” gehoor. Maar hy het haar gesoen. Wat meer is, sy het hom teruggesoen. En dit was nie ’n jy-is-my-sussie-tipe-soen nie, maak nie saak wat sy sê nie.

      Hy begin weer eet en onthou die onsekerheid in haar oë gisteraand.

      In die lug rondom hom klink heerlike majeurakkoorde op.

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным