'n Liedjie vir Anine. Elsa Winckler. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elsa Winckler
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796320032
Скачать книгу
’n nuwe song, hoekom is dit so ’n gesukkel om een te skryf?

      Maar al wat hy voor hom sien, is Anine se viooltjieblou oë.

      Here, help my? Wat wil U vir my sê? Wat moet ek doen? Wat wil U hê moet ek sing?

      Moet ek ophou sing?

      Weer flits Anine se gesig voor hom en gefrustreerd sit hy sy kitaar eenkant. Daar is vanaand nie vir hom antwoorde nie. Hy het ’n vroumens op die brein en kan niks anders hoor of sien nie.

      Anine staar na die selfoonskerm. Maar geen boodskap kom terug nie. Sy druk haar gesig in haar hande. Sy kan nie glo sy het die woorde “aantreklik” en “sexy” in haar sin ingewerk toe sy Zander vroeër vanaand beskuldig het nie.

      Wat op aarde moet die man van haar dink?

      En hoekom maak dit hoegenaamd saak wat hy van haar dink? Vir ’n oomblik wil sy haar voete soos ’n kind stamp. Sy wil nie aan Zander Breedt dink nie. Sy wil nie wonder of wat oor hom geskryf word, waar is of nie. Sy wil nie oor hom dink nie, punt.

      Sy wil nie ’n man in haar lewe hê nie. Sy wil nie …

      ’n Geluid laat haar vinnig opkyk. Kom dit in die rigting van die straat? Sy stap tot by die venster en trek die gordyne effens weg. Daar is op die oomblik geen beweging nie, afgesien van die rooi agterliggies van ’n voertuig wat om die hoek verdwyn.

      ’n Rilling gly langs haar ruggraat af. Goeiste, sy is regtig verspot. Nou gaan sy slaap.

      Vier

      Toe Zander voor die Vosse se huis indraai, staan Anine en Lizet langs Anine se motor. Lizet het ’n groot boek in haar hande wat sy uithou na Anine wat met haar rug na hom gedraai staan.

      Hy hou stil, neem die bottel wyn wat hy saamgebring het, en klim uit.

      Lizet waai vir hom en Anine draai haar kop. Sy is ontsteld. Hy weet nie hoe hy dit weet nie, maar sonder om verder daaroor te dink stap hy na hulle toe. “Kan ek help dra?”

      “Hi, Zander. Ek wil hê Anine moet hierdie album sommer in haar motor sit sodat sy dit kan saamneem. Ek en sy het nog voor my troue vir ons ’n plakboek van ons suster, Marina, gemaak. Ek het dit weer vanoggend raakgesien en gedink dis nou jou beurt om dit te hou, Anine.”

      “Dis nie nodig nie, dit was om jou te help, onthou jy?” Anine buk in haar motor om iets uit te haal.

      “Dit was baie lank by my, hou dit nou by jou.” Lizet sit die album op die agterste sitplek neer.

      Anine sê niks nie, haal net ’n bak slaai te voorskyn.

      “Ek sal dit dra.” Zander steek sy hand uit.

      “Dankie …” Sy kyk vir ’n oomblik op na hom, maar dis lank genoeg vir hom om die rou seer in haar oë te sien. Sy eerste instink is om sy arms om haar te slaan, maar sy druk die bak slaai in sy hande voordat sy omdraai en die motor sluit.

      Lizet haak by haar in en al geselsende loop hulle voor hom uit.

      Zander stap stadig agter hulle aan, sy oë op Anine. Vandag is haar hare weer styf agtertoe gekam en in een of ander ingewikkelde rol vasgemaak. Sy het ’n ligblou kolletjiesrok aan wat uitklok en net-net onder haar knieë hang.

      En sy lyk lieflik.

      Maar dis nie haar lang bene of haar lang hare wat sy gedagtes besig hou nie, dit is die seer in haar oë. Uit al die gesprekke met sy broer en Lizet kon hy aflei die dood van die Vosse se suster, Marina, is iets wat die hele gesin moeilik verwerk het.

      Maar Lizet het meermale genoem dat sy dink Anine het dit die maklikste verwerk. Volgens Lizet was Anine die een wat haar en hul broer, Evan, gehelp het en wat soos ’n rots in die Here se plan bly glo het.

      As hy die seer in haar oë enigsins reg verstaan, is dit dalk nie so maklik vir haar soos almal reken nie. Die hartseer is te verstane, maar dit is nie die gelate seer van iemand wat ’n geliefde se dood al verwerk het nie. Inteendeel.

      Sy steek dit goed weg, maar as hy dit nie mis het nie, dra sy nog swaar aan die pyn van haar suster se dood en het sy nog lank nie vrede met die hele voorval gemaak nie.

      Anine is vandag oorbewus van Zander. Elke keer dat sy opkyk, is dit vas in sy oë. Ja, oukei, sy het die man gisteraand gesoen, maar dis nie asof sy in sy arms gespring het nie.

      Hy het haar gesoen.

      Sy wou nie vandag hier gewees het nie, want sy het geweet dit gaan ’n probleem wees om Zander in die oë te kyk. Dis baie duidelik Lizet het haar ma, Zander se ma en Anya van die soen gisteraand vertel. Die spul maak geen geheim van hulle onderlangse gegiggel nie. Sy kan al in die aarde wegsink.

      Haar pa weet genadiglik soos gewoonlik nie wat om hom aangaan nie, en is rustig aan die braai terwyl Stephen en Evan eenkant met Stephen se pa gesels.

      En hoekom het Lizet vir haar die album met Marina se foto’s gegee?

      Dis die laaste ding waarvoor sy kans sien. Die hartseer oor haar suster sit vanoggend in ’n groot knop in haar keel vas, een wat sy maar net nie weggesluk kry nie.

      Die onrus wat haar die afgelope paar weke pla, is ook met mening terug. Die gevoel dat iemand haar dophou was daar toe sy met haar motor by die hekke van haar woonstelblok uitgery het. Maar hier is geen ander voertuig of mens in die straat nie. Sy verbeel haar.

      “My broer het sy oë nog nie vandag van jou afgehaal nie,” fluister Anya agter haar.

      “Moenie laf wees nie …”

      “Ek is nie al een wat dit raaksien nie, vra sy ma,” giggel sy.

      Toe Anine omdraai, kyk sy vas in ’n breë glimlag op die gesig van Zander se ma.

      Sy beduie na die stoel wat langs haar staan. “Kom sit hier, kind. Ons terg net. Jy lyk verniet so bekommerd.”

      “Lizet is sommer laf. Gisteraand … Zander en ek …” Ag, aarde, sy moes liewer heeltemal niks gesê het nie. In die helder daglig kan sy die blos wat teen haar nek opkruip nie wegsteek nie.

      Maar gelukkig begin Zander se ma oor iets heeltemal anders praat. “Vertel my van jou nuwe werk. Jou ma sê jy werk nou in Kaapstad?”

      “Ja, ek het in Maart by die koerant in Kaapstad begin.”

      “Is die verkeer nie baie erg nie?”

      “Ek ry vroeg sodat ek nog kan gym voor ek kantoor toe gaan. Dit maak ’n groot verskil. Ek begin ook vroeër sodat ek voor vier uit die Kaap kan ry. Wel, dis die ideaal, dit gebeur natuurlik nie altyd so nie. Soms wag ek tot na ses en doen sommer eers my inkopies klaar voor ek ry.”

      Anine se ma, Lizet en Anya het intussen ook in die kring kom sit.

      “Het jy nog nie daaraan gedink om Kaapstad toe trek nie?” vra haar ma. “Ek bly maar bekommerd omdat jy so baie op die pad is. ’n Mens hoor sulke nare stories oor die N2.”

      “Ek dink beslis daaraan. Ek kon nog net nie besluit waar ek sou wou bly nie. Verkieslik so naby moontlik aan die stad, miskien Observatory. Maar ek het nog nie regtig tyd gehad om meer uit te vind nie.”

      “Jy het nou net soveel minder tyd vir jou roman,” sê Lizet. “Die ryery eet twee ure van jou dag op, soms seker nog meer.”

      “Skryf jy ’n roman?” vra Zander.

      Anine kyk op, vas in Zander se gesig. Wanneer het hy nader gestap? “Ek … kan dit nog nie ’n roman noem nie, dis nog net ’n paar los gedagtes.”

      “Wat van ’n heerlike liefdesverhaal?” vra Anya sedig, maar haar vonkelende oë vertel ’n ander storie.

      “O ja,” voeg haar ma knipogend by, “ek hou so van ’n love story.”

      “Dis beslis nie ’n liefdesverhaal nie. Ek hoop om dieper kwessies aan te raak.”

      Haar ma maak keel skoon. “Min dinge is so diep soos die liefde, my kind.”

      “Ja,