Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798174220
Скачать книгу
terug. Onder geen omstandighede mag jy betrokke raak by ’n skermutseling nie, is dit duidelik?”

      “Selfs nie in ’n aanval nie?”

      “Julle moet gat skoonmaak voor so iets gebeur, Williams! Jy het Viljoen, hy’s ’n bekwame bestuurder en ken die terrein in Suid-Angola. Daar behoort geen rede te wees om in ’n geveg betrokke te raak nie.”

      Adam keer die skerp antwoord wat op sy tong prik. Wat sal dit baat om Hasslau daarop te wys dat enigiets moontlik is in hierdie onheilige oorlog?

      “Ek sal sover moontlik by die opdrag hou.”

      “Gaaf! Dan kan julle maar in die pad val. Jy het ’n lang dag voor jou.”

      Met ’n kortaf knik draai Adam om en loop uit. Hasslau se glimlag laat hom aan die grynslag van ’n hiëna dink.

      Dis knap ná vier, sien Adam toe hy op sy horlosie kyk. Ure lank, kilometer ná kilometer, skommel hulle al voort oor bosagtige terrein. Nou is hulle kort duskant Rundu, reeds diep in die gevaarsone.

      Hy som die drie mans oorkant hom op. Sweet tap hulle af, die gesigte blink in die halflig wat deur die smal vensters skyn. Die hitte in die Casspir is bykans onuithoudbaar.

      Niemand praat nie. Dalk oor die beknopte ruimte, maar meer waarskynlik weens spanning. Die beswete gesigte weerspieël Adam se eie angs en onsekerheid. ’n Casspir is veronderstel om bestand te wees teen landmyne, maar hulle weet almal geen pantservoertuig is opgewasse teen ’n langafstandkanon of afstandbeheerde missiel nie.

      Hulle het die basis kort ná ses verlaat, so met geluk behoort hulle Cuito voor sononder te bereik. Tot dusver was daar geen teken of beweging van enige vyandelike magte nie. Hulle het net enkele van die plaaslike bevolking op ’n afstand gewaar.

      Die man teenoor Adam vis ’n pakkie Lexington uit sy hempsak.

      “Sit terug, Hatting,” sê hy skerp. “Die lug is bedompig genoeg soos dit is.”

      Hatting bêre gehoorsaam die platgedrukte pakkie. “Is senuwees wat vreet, kaptein.”

      “Hou uit, man. Ons sal . . .”

      “Kaptein! Daar’s beweging vorentoe!” roep Viljoen uit die stuurkajuit.

      Adam veer orent en beweeg gebukkend daarheen. Deur die Casspir se voorruit sien hy ’n stofwolk soos ’n reusesambreel opslaan. Hy klim die paar trappe na die uitkykstasie, druk die luik oop en lig sy verkyker na sy oë.

      Die enkele stofkolom het verander in drie. Dan herken hy deur die rooi wasigheid die logge voertuie. Russiese pantsers blokkeer hulle roete.

      Hy trek sy kop terug. “Draai om, Viljoen! Gee vet, ons moet wegkom!”

      Die Casspir draai na regs en tel spoed op. Tot dusver het hulle skaars 50 kilometer per uur gery, maar Viljoen se voet op die pedaal druk die spoedmeter op na 55.

      Adam hoor die gedreun van ’n vliegtuig bo hulle. Waarskynlik bespieders wat hulle posisie aan die pantsers sal oordra. “Hou laag, Viljoen, onder die ruigtes!” skree hy.

      Die goed opgeleide bestuurder gehoorsaam instinktief.

      Dan klink ’n ander geluid op, meer vreesaanjaend, soos krete uit die hel. Adam herken dadelik die kanonvuur van die Stalin-orrel. Om die Casspir ontplof vuurpyle in kraters wat stof opjaag. Viljoen sigsag oor die veld om die skote te ontwyk.

      Adam sien die gasvlam ontplof toe ’n terugslaglose kanon van die linkerkant af gevuur word. Die granaat mis hulle net-net, danksy Viljoen se knap maneuvers. Met ’n dodelike kalmte swaai Adam die masjiengeweer in die rigting van die recoilless. Hy vuur sonder aarseling. Dis raak, want hy sien vlamme uitslaan.

      Uit ’n ander rigting begin die rat-tat-tat van ’n masjiengeweer. Terselfdertyd gil iemand in die kajuit: “Kaptein, Viljoen is getref!”

      Die Casspir swenk en tol soos ’n dronk tor. Toe dit omslaan, word Adam uitgeslinger. Hy lê vir ’n oomblik bedwelm, sy gesig teen die grond. Dan hoor hy die geskreeu van die mans in die Casspir. Hy hys hom moeisaam orent en sien hoe die dakvaldeure outomaties oopspring. Gebukkend haas hy hom soontoe.

      Hy sien met die eerste oogopslag dat twee van hulle reeds dood is en die derde swaar gewond. Net Sammy die Ovambo-spoorsnyer is ongedeerd. Hy kom wankelrig orent, maar sy bene gee onder hom in. Adam gryp sy hand net betyds en sleep hom na buite.

      “Maak dat jy wegkom!” skree hy en buk by die deur om die gewonde man te gaan haal. Die volgende oomblik word hy en Sammy die lug in geslinger toe ’n granaat die Casspir volskoot tref. Dadelik slaan vlamme uit.

      Lilly! is Adam se laaste gedagte voor ’n swart newel oor sy bewussyn sak.

      Hy raak vaagweg bewus daarvan dat hy nog lewe. Waar is hy? Beweging. Van ’n swaar voertuig, registreer die gedagte. Watter voertuig? Die Casspir het ontplof toe die petroltenk vlam vat.

      Hy probeer sy oë oopmaak, maar sien niks. Hy raak aan sy gesig. Daar is verbande om, sy oë is toegebind. Is hulle beskadig?

      “Kaptein!” fluister ’n stem. “Kaptein, kan jy my hoor? Dis Sammy!”

      Adam probeer praat, maar sy tong lê sy hele mond vol, dit wil nie beweeg nie.

      “As jy my kan hoor, beweeg jou hand,” fluister Sammy.

      Adam slaag daarin om die vingers van sy regterhand te roer. Stadigaan kom helderheid terug. “Wa-isj-onsj . . .” kry hy ’n paar klanke uit.

      “In ’n trok. Jy’t seergekry, kaptein. Hulle vat jou na die hospitaal in Cuito. Ek het gehoor hulle vat my na die tronk.”

      “Wie? MPLA?”

      “Ek weet nie, kaptein. Nie MPLA nie. Ek dink dis Unita.” Daar is vrees in Sammy se stem.

      “Hoe- . . . hoekom?”

      “Daar was ’n witman, hulle roep hom Harm Hasslau. Was net kort daar gewees, toe vlieg hy weer weg met ’n helikopter . . . was ons helikopter.”

      Adam voel asof iets die lewe uit hom pers. Harm Hasslau! Die sending was bloot ’n rookskerm. Hulle is met opset in ’n lokval gelei.

      Die trok kom rukkerig tot stilstand. Harde voetstappe en dan word die agterste deure oopgeruk.

      “Out!” skree ’n stem.

      “Bid vir my, kaptein,” prewel Sammy. “Hulle gaan my skiet, die Unitas . . .”

      “Out, Vambo traitor!” kom die bevel weer.

      Adam herken die stem: John Radebe, een van Hasslau se laksmanne by Lupus. Hy hoor ’n geskuifel, Sammy se voetvalle op die metaalbodem van die trok, die plof van stewels op die grond.

      Hy raak bewus van ’n prikkeling aan sy kopvel. Dis asof die hele wêreld vir ’n oomblik stol. Dan klink ’n vreesbevange gil op, gevolg deur ’n sarsie geweerskote.

      Daar is by hom geen twyfel nie: Radebe het die spoorsnyer koelbloedig tereggestel.

      Hoofstuk 4

      Teen vyfuur is dit spitstyd en die verkeer op die M1 op sy ergste. Lilly Williams is verbouereerd en bestuur oorversigtig. Agter haar toeter motors ongeduldig toe sy te lank draal om by Jan Smutsrylaan in te draai. Senuweeagtig stuur sy die motor tot in die linkerkantste baan.

      Dis deur Parktown en dan Westcliff voordat sy Parkview bereik, herinner sy haarself. Sy het op die kaart gekyk voordat sy by die plot weg is. Daarna moet sy net kophou, want sy moet by Onder-Parkweg indraai. Agter haar honk ’n motor weer.

      “Ignoreer dit net,” beveel sy haarself en kruie aan teen ’n slakkepas. Al is dit ’n koue dag in Junie, is haar hande wat om die stuurwiel geklem is nat van die sweet.

      Sy was nog net een keer by Braam en Rachel Brink se huis en toe het Adam bestuur. Sy weet die afdraai is langs die Dieretuinmeer, want hulle het Betsie soontoe geneem om die eendjies te voer. As sy die mense net ’n bietjie beter geken het . . . Daardie dag was hulle