Braam vou die dokument oop en laat sy oë vlugtig oor die inhoud gaan. “Die Sein . . . wat beteken dit?”
“Jy sal verstaan as jy dit lees. Kortliks: in die huidige politieke klimaat is daar mense wat die regime nie meer in die land kan bekostig nie. Sekere aktiviste het ’n pyn in die gat geword, en Die Sein is die kode om diesulkes te verwyder. Verstaan jy? Permanente verwydering uit die samelewing. Deur ’n opdrag onder dié kode word moord gewettig.”
“Hoekom vertel jy dit vir my? Ek is ’n koerantman.”
Adam trek diep aan sy sigaret en blaas die rook uit, kyk na die kringe wat in die lug verdwyn. “Ek weet watter metodes gevolg word om sulke mense te elimineer. Ek weet ook wie die voorbokke is.”
Daar is ’n soort radelose vrees in sy oë toe hy na Braam kyk. “Hulle gaan my betrek, ek wéét dit. En ek sien nie daarvoor kans nie. Ek was destyds in die operasionele gebied, eers teen Swapo as deel van ’n ops-eenheid toe ek nog verbonde was aan die mediese korps. Later ook in Angola, en dis waar hulle my ingetrek het. Ek het intensiewe opleiding ontvang as ’n recce . . . kortom, as ’n moordenaar. In die Bosoorlog het ek dinge gesien en moes ek dinge doen wat nou nog in my nagmerries by my spook. Maar in my boek was dit oorlog.”
Hy lag bitter. “Of sê liewer in my jeugdige naïwiteit. Ek soek nie verskoning nie, maar ons was vol gepomp met patriotiese illusies wat enige optrede regverdig het. Die doel was immers om die landsgrense te beskerm teen die aanslag van die kommunisme. Die direkte en indirekte aanslae van Rusland, China en Kuba was wel ’n werklikheid en daarom kon ek die oorlogsmisdade aan ons kant oorsien. Ek het geredeneer dat dit deur beide kante gepleeg is. Destyds . . . miskien omdat ek jonger was, was dit toe anders. Met dit wat nou gebeur en wat in die toekoms gáán gebeur, wil ek niks te doen hê nie.”
Hy bly ’n oomblik stil voor hy weer praat.
“Hulle gaan my Port Elizabeth toe pos vir ’n sending, saam met ’n paar ander. Dit het te doen met aktiviste op Cradock . . . Ek weet wat voorlê.”
“Is Die Sein op hulle gegee?”
Hy knik. “Net soos met die Pebco Drie wat verdwyn het. Ek moes tóé al gepraat het, geprobeer het om uit te kom. Maar ek het teen my gewete in besluit dit raak my nie. Ek was verkeerd.”
“Hoekom vertel jy my dit? Wil jy hê ek moet . . .”
“As iets met my gebeur, wil ek hê iemand moet weet. Iemand soos jy – ’n joernalis. Ek het verdere dokumentasie aan my prokureur gegee, meer breedvoerige inligting. As dinge uitwerk soos ek hoop, bly dit daar. So nie, wil ek dit ook in jou hande laat. Vir Lilly en Betsie het ek reeds voorsorg getref, maar ek wil weet dat hulle nie geraak sal word as die wind teen my draai nie.”
Hy staan op en sit ’n paar note op die tafel neer, vat sy baadjie en helm. “Kom, ons kan nog opvang. Resies oor die brug? Laaste een koop die biere!”
Braam was dié vinnige ommeswaai nie te wagte nie. Daar is nog soveel wat hy wil vra, maar Adam is reeds by die deur uit. Toe hy die Harley hoor brul, staan hy verslae op en volg sy vriend buitentoe.
Hoofstuk 2
Voor sewe is Braam al op kantoor. Hy lees weer die dokument deur wat Adam vir hom gegee het. Hy het dit laas nag gefynkam en wat hy daarin gesien het, het hom opnuut ontstel.
Sy koerant het nie oogklappe aan nie. Hulle het al keer op keer die Nasionale Party-regering aangevat oor kwessies soos die opsluiting van mense vir dertig dae of meer sonder verhoor. Van mense wat in John Vorster gly op ’n koekie seep en hulle nek breek. Gevangenes wat sonder verklaring selfmoord pleeg deur van die tronk se negende verdieping af te spring. Die Mail was nog nooit huiwerig om te kritiseer en te bevraagteken nie, maar dit wat hy pas weer gelees het, is ’n klinkklare bewys van die grusame metodes wat gevolg word om “ongewenste” mense koelbloedig te elimineer. Wettig.
Hy trek die telefoon nader en skakel die nommer van sy redakteur. Dis te betwyfel of Tom Waters so vroeg al op kantoor sal wees, maar tot sy verbasing antwoord die man self.
“Môre, baas, Braam Brink hier. Jy’s vroeg uit die vere?”
“Om my lessenaar skoon te maak. Goed het lê en ophoop sedert ek in die Kaap was.”
“Kan jy tyd inruim vir my?”
“Kom dadelik. My dag vorentoe is vol gepak.”
Tom lees die laaste bladsy van die dokument. Hy kyk op na Braam wat oorkant hom sit. “Waar kry jy dit?”
“Wat dink jy daarvan?” antwoord Braam met ’n teenvraag. “ ‘Daar word voorgestel dat bogenoemde persone as ’n saak van dringendheid permanent uit die samelewing verwyder word’ . . .”
“Hang af hoe mens dit interpreteer. Wat presies beteken ‘permanent verwyder’? Jy weet so goed soos ek dat mense daagliks ‘verwyder’ word deur middel van aanhouding sonder verhoor. Van dié ongelukkiges word selde indien ooit weer gehoor, maar in my boek is dit ook permanente verwydering.”
“Komaan, Tom, jy weet dis nie dieselfde nie! Wat mý betref, is dit gelisensieerde moord deur die sekuriteitsmagte.”
Tom lig die dokument op en waai dit in Braam se rigting. “Hierin is geen definitiewe bewyse nie, nie wat ék kan sien nie. Bloot ’n woordspeling wat meer as een betekenis kan hê. Dis nie genoeg nie, my vriend.”
“Ek sal meer konkrete bewyse kry as jy my sal toelaat om daarop in te gaan!”
Tom sug en kom orent. Hy gaan staan voor die venster. Ver ondertoe stroom motors en mense in die straat verby.
“Wie’s jou informant, Braam? Waar het jy die dokument gekry?”
“By ’n vriend. Iemand wat in die Diens is, maar wat wil uit. Ek vertrou hom.”
“Ons leef in vreemde tye. Hoe kan jy so seker wees hy’s betroubaar? Jy sê hy’s deel van die sekuriteitsmagte?”
Braam knik.
“Wat as hy nié te vertrou is nie? Al daaraan gedink dat dit ’n lokval kan wees? Jy’s nie te gewild in regeringskringe nie. Met alles wat jy al oopgekrap het, het jy die spreekwoordelike doring in hulle vlees geword. Al daaraan gedink dat jy self op die lys kan wees van dié wat ‘permanent’ verwyder moet word?”
“Ek’s bereid om die kans te waag. As jy my toestemming . . .”
“Nee. Ek’s bevrees ek kan nie.”
Tom loop terug na sy lessenaar. Hy weeg sy woorde voor hy weer praat.
“Die Mail is op dun ys, ons het al te veel nek uitgesteek. Maar dis nie al nie. Die aandeelhouers is knorrig. Hulle sê ons sirkulasiesyfers is nie goed genoeg nie, maar ek vermoed van die spul het in die regering se luiers geklouter. Vet katte wat bang is om nie te miaau soos wat Botha voorskryf nie. Daar’s ’n mosie om ons vir goed toe te maak.”
Hy lag sinies. “Miskien ressorteer die Mail ook onder die lastiges in die samelewing. Jammer, Braam, maar in hierdie stadium moet ons versigtig loop. As Die Sein wel beteken dat dit moord wettig, gaan die kak behoorlik spat as ons dit nou aan die groot klok hang.”
Braam staan teleurgesteld op. Hy ken Waters goed genoeg om te weet die onderhoud is verby. Hy knik ’n groet en loop deur toe, maar draai terug toe ’n gedagte hom tref.
“Daar’s ’n groep aktiviste in Cradock . . . As ek reg is en hulle word vermoor, is ons al twee deels skuldig daaraan. Want ons het die inligting gehad, maar nagelaat om iets daaraan te doen.”
Hy draai om en loop uit.
Tom sit ’n lang ruk stil. Braam se woorde vreet aan hom. Hy voel suur in sy keel opstoot. Sy maagsweer keil hom al weer op. Hy trek die boonste laai oop en haal sy pakkie Rennies uit.
Adam