Die smerigheid daarvan het hom laat voel om te kots. Hoe sal hy aan hulle kan verduidelik dat die video ’n vervalsing is? Hy was al baie keer met vroue deurmekaar, hy was geen engel voor hy Lilly ontmoet het nie, maar die vroumens in daardie walglike video het hy nog nooit in sy lewe gesien nie. Dis sonder twyfel ’n maaksel van die vuiltruukdepartement, en volkome oortuigend as jy nie die waarheid ken nie.
Maar omdat hy sy vrou en kind liefhet, het hy geen verweer teen hulle afpersing nie. Hy sal doen wat hulle hom beveel. Hierdie een keer sal hy nog vir hulle op ’n sending gaan, maar daarna . . .
Nee, hy wil nie daaraan dink nie. Hy moet eenvoudig glo dat hulle woord sal hou, dat hulle hom daarna in vrede sal laat.
Sy klein Betsie . . . Hy soen haar saggies op haar voorkop en skakel die lig af voor hy uitstap. Buite op die terras roer daar nie ’n briesie nie. Hy kyk op in die lug waar weerlig teen ’n donker wolkbank speel. Hopelik sal reën die bedompigheid van die nag verlig.
Hy hoor die skarniere van die agterdeur kraak. Lilly stap uit met ’n paraffienlampie in die hand. Hy staan op en trek haar stoel vir haar uit.
“Is jy regtig nie honger nie?” vra sy toe sy die lamp op die tafel neersit.
Hy skud sy kop. “Dis te warm vir kos vanaand.”
Hy kan nie vir haar sê dat die blote gedagte aan kos sy keel dik laat raak nie. Hy kan nie eet ná wat hulle vanmiddag vir hom gewys het nie.
Sy sak op haar stoel neer. “Dis darem ’n bietjie koeler hier buite. Die huis is ’n bakoond.”
Hy kyk na haar met haar groot bruin oë in die sagte lig. Hoe mooi is sy nie, hoe lief het hy sy Leliemeisie nie. Só noem hy haar van die oomblik dat hy haar ontmoet het, want daar is ’n ongerepte skoonheid aan haar, ’n reinheid wat jy net aantref by dié wat innerlik goed is en wat nog nooit in die donker slymkuile van die lewe moes afkyk nie.
Nogtans was haar lewe allesbehalwe maklik. Haar vorige huwelik, met ’n gewelddadige man, het veroorsaak dat sy maande lank in ’n senukliniek was. Juis daarom voel hy so beskermend teenoor haar, omdat hy weet sy is emosioneel nie sterk nie.
Toe sy vraend na hom kyk, kan hy sien dat sy afgetrokke houding haar onrustig maak. Hy kom gemaak opgeruimd orent. “Daar’s ’n yskoue bottel wyn en ek gaan dit nou oopmaak!”
Hy gaan haal dit uit die buiteyskas, vis die kurktrekker uit die muurkas se laai en maak die bottel oop. Terug op die terras sit hy dit saam met twee glase op die tafel neer.
Sy lag. “Wel, dis een manier om die hitte te besweer! Of vier ons dalk iets spesiaals? Jy’t hulle gesien vanmiddag . . . jou base?”
Hy gaan sit, skink die wyn en gee vir haar ’n glas aan. Vat ’n sluk uit syne. “Ja, ek was by hulle . . . Hmm, hierdie wyn is goed.”
“Wat het hulle gesê?”
Versigtig nou, maan hy homself. Hy moet die saak só stel dat sy nie onraad merk nie.
“Kom ons klink eers.” Hy lig sy glas. “Miskien het ons tog iets om te vier, my hartlam.”
Haar gesig verhelder. “Hulle sal jou laat gaan! Het hulle jou vrystelling gegee?”
Hy probeer glimlag. “Ja, so op hulle manier.”
Sy frons. “Hoe bedoel jy nou?”
Hy druk die koel glas teen sy voorkop. “By hulle kry mens selde sommer net vrystelling, my skat. Hulle sal my laat gaan, maar in ruil moet ek nog een laaste taak afhandel.”
“Watse taak? Sal . . . sal jy weer moet weggaan?”
Hy knik swyend.
“Waarheen? Hoe lank?”
“Nie lank nie, dink ek. Miskien twee of drie weke.”
Sy kyk hom ontredderd aan en hy dwing ’n glimlag na sy lippe.
“Komaan, Lilly, dis nie asof ek Suidpool toe gaan nie. Net twee of hoogstens drie weke, dan is ek ’n vry man. Dan kan ons volstoom ons kwekery opbou. Die nuwe lelies begin al knoppe maak. As die blomme oopgaan, sal ek terug wees, dit beloof ek jou!”
Hy kom orent en trek haar op, vou haar in sy arms toe. So ’n fyn ou mensie, sy Leliemeisie. Vir haar sal hy met graagte sy lewe gee.
Hoofstuk 3
Adam draai die stort vol oop. Die yskoue water stroom verfrissend oor sy gesig en lyf. Sy spiere voel styf van die lang sit. Hy kon nie slaap op die nagvlug na Rundu nie, te onseker oor wat die dag vir hom inhou.
Die Johannesburgse buro het die opdrag net te maklik laat klink. “Blote roetine, Williams, net ’n verkenningswaarneming.”
Maar niks is ooit so eenvoudig in die operasionele gebied nie, dit weet hy maar te goed. Toe hy jonger en meer paraat was, is hy ’n hele paar keer op sulke verkenningstogte gestuur, maar waarom nou weer, ná al die jare?
Hy begin hom driftig inseep. Sy bedenkinge sal hom niks baat nie, want hy het min van ’n keuse gehad. Hy sal moet deurdruk en basta. Hy draai die kraan toe en begin hom met harde hale afdroog.
Buite klink die gedreun op van ’n vliegtuig wat land. Hy trek haastig sy kamoefleeruniform aan en is nog besig om sy stewels vas te ryg toe ’n jong korporaal die ablusieblok binnekom.
Toe hy Adam sien, salueer hy. Adam knik en kom orent.
“Kaptein, die bevelvoerder het gevra dat u na die skuur moet kom, so gou moontlik. Meneer Harm Hasslau se vliegtuig het pas geland.”
“Ja, sê vir hom ek is op pad.”
Die korporaal salueer weer en haas hom na buite.
Adam druk die handdoek in sy seilsak en gespe dit toe. So, die heer en meester van Lupus is hier. Persoonlik. Hoekom? spook die vraag opnuut by hom.
Hasslau het hom ongeveer ’n jaar gelede die geleentheid gebied om by die Lupus-eenheid aan te sluit. Nadat hy dit bedank het, het hy bewus geraak van die Duitser se antagonisme jeens hom. Waarskynlik omdat min mense so ’n geleentheid van die hand sal wys. En Hasslau het nou maar eenmaal so ’n gepantserde ego dat dit ’n buffelbul sal beskaam. As ’n ryk man is hy gewoond daaraan om sy sin te kry – dis min of meer wat hy Adam daardie dag laat verstaan het.
Buite verblind die sonlig hom en hy soek na sy donkerbril in sy hempsak. Hy loop vinnig na die ou vliegtuigloods wat as kantore vir die bevelvoerders dien. Hasslau wag hom in.
“Williams!” groet hy joviaal. “Goed om jou weer te sien. Jy lyk uitstekend. Die sagte lewe het jou darem nie vet gemaak nie.” Hy lag oor sy eie kwinkslag en beduie na ’n stoel. “Sit, man!”
Adam gehoorsaam nie, maar probeer hoflik wees. “Ons is gereed om te vertrek. Die manne wag net vir my.”
Hasslau knik. “Ek weet. Ek wil jou net ’n bietjie meer inligting gee.”
Hy draai om na die muurkaart, tik met sy vinger op ’n bestemming. “Cuito, ongeveer 350 kilometer hiervandaan. Ongelyke terrein, so die Casspir sal vir die grootste gedeelte van die afstand net 50 kilometer per uur kan haal.” Hy trek die roete van Rundu af. “Julle behoort Cuito voor donker te bereik.”
Hy draai om na Adam, kyk hom stip aan. “Onthou, die veiligheid van die vier manskappe wat saam met jou gaan, is in jou hande.”
Adam knik net. Dis die gewone motiveringspraatjie, hy ken dit teen dié tyd uit sy kop.
“Die Casspir is goed toegerus,” gaan Hasslau voort. “LMG met twee 12.7 mm-masjiengewere. Maar ek moet beklemtoon dat die gebruik daarvan oorbodig behoort te wees vir hierdie sending. Jou opdrag is slegs verkenning en waarneming. Indien julle vyandelike bewegings teëkom, maak dat julle wegkom.”
“Ja, dis reeds so aan my gestel in Johannesburg. Wat nie aan my verduidelik is nie, is die ware rede vir hierdie verkenningstog.”
Hasslau frons. “Hulle moes dit aan jou verduidelik het.