Buite die deur staan hy ’n oomblik besluiteloos. Wat de donner gaan hy by die huis doen? Nee, besluit hy, eerder ’n paar kappe by ou Harry gaan maak. Die dag was mislik genoeg om dit te regverdig.
Die kroeg is omtrent leeg toe hy daar instap. Harry, sigaret wat soos altyd uit sy mondhoek hang, sit sonder om te vra ’n beker bier voor hom neer.
Die beker is al amper leeg toe Harry na hom oorleun en fluister: “Check, my bra, dis jou eks daar by die deur.”
Billy kyk om toe die deurklokkie klingel. Cerise storm in, haar hare veelvuldige skakerings van rooi. Sy hart sak grond toe, want haar humeur is duidelik net so rooi. Sy seil tussen die tafels deur op hom af.
Hy staan op. “Hei, Cerise . . .”
As antwoord klap sy hom teen die bors en sis: “So, dís waar jou ‘groot emergency’ is – in Harry se bar! Kon dit gedink het, jou suiplap. Mens kan jou met sweet bleddie all vertrou. Hoe durf jy die kinders weer gaan afpak op Ma? Jy weet goed sy’s sieklik!”
Billy hou sy hande afwerend op. “Cool it, man! Ek kon nie anners nie, daar was nog ’n . . .” Hy wou sê moord, maar keer homself betyds. Die inligting is vertroulik en Cerise is ’n skinderbek.
“Dit was ’n noodgeval,” sê hy flou, “ek sweer dit was.”
Sy lag honend. “Ja, vertel dit vir die voëls. Kamstig so bly om die seuns op jou af dag te kry en jy drop hulle wragtig weer!”
Die lang nael van haar voorvinger, blou en silwer geverf, druk teen sy bors. “Nou luister jy na my. Ek is óp van jou, Mr Big Cop. Ek het baie lus en gaan weer hof toe oor die kinders. En dié keer, promise ek jou, sal jy hulle nooit weer sien nie!”
Billy se hart gee ’n kramp. Dis nie die eerste keer dat sy hom dreig met die seuns nie.
Hy druk haar hand weg. “Verdomp, Cerise, hulle is my latte ook. As jy ’n hofbevel vra, sal ek jou beveg. Al kos dit my elke sent wat ek het!”
“Try me! Just try me, Billy boy!” Sy swaai om en marsjeer by die kroeg uit.
Billy gaan sit met ’n swaar sug. Hy vat die laaste sluk bier en staar bedruk na die leë beker.
“Nog een?” vra Harry simpatiek.
Billy knik.
“Sê altyd: vroumense is double trouble vir ’n man,” verklaar Harry toe hy die vol beker voor Billy neersit. “Is dié wat ek nooit sal trou nie.”
Ja, dink Billy, hoekom hét hy met Cerise getrou? Maar dit was toe . . . toe was sy nog half sweet gewees. Dis ná Johnnie se geboorte dat sy so verander het. Sy’t seker ’n punt, dit kan nie maklik wees vir ’n vrou om saam met ’n polisieman te leef nie. Maar sy moes dit tog geweet het toe hulle getrou het.
Hy sluk diep aan sy bier. As daar liefde van haar kant was, sou sy tog probeer verstaan het. Maar die liefde van haar én sy kant het opgedroog. Die seuns sê daar’s ’n man wat nou vlerksleep by haar. Billy blaas deur sy neus. Hy sal met graagte die donner se gesig vir hom herrangskik. Vraag is: Hoekom? As sy wil vry na ’n ander sucker, laat haar!
Maar hy kan nie vir homself lieg nie. Iewers diep in sy borskas voel hy seer daaroor, bitter seer.
Toe hy die koelkamer se deur oopmaak, skakel die lig outomaties aan. Die blouerige fluoorlamp bo die rakke waarop die leliebolle staan, gooi horisontale swart skadu’s oor die vloer. Hy loop na die rak waarop die volwasse bolle staan en kyk dit sorgvuldig deur. Tel die sterkste een op en bestudeer dit intens voordat hy omdraai en daarmee deur toe loop. Agter hom skakel die koelkamer se lig weer af toe die deur toegaan.
In die groot skuur loop hy na die werkbank langs die opwasbak van vlekvrye staal. Hy haal ’n plantpot en die sak met potplantgrond uit. Nadat hy die bol sorgsaam geplant het, haal hy ’n plastiekhouer uit die rak. Dis gemerk Spesiale kompos.
Hy grinnik. Hierdie is báie spesiale kompos. Die harte waarmee hy elke een-en-twintig dae die groot komposhouer buite voer, maak dit ’n uitstekende groeimiddel. Sy lelies is die beste in die stad, en kwekerye se aanvraag na sy bolle is oor die feesseisoen byna te groot vir ’n eenman-onderneming om te hanteer. Maar só moet dit bly tot sy taak afgehandel is.
Hy skep twee groot lepels kompos in ’n langtuitgietertjie en meng dit met water. Dan skink hy dit op die plant, wat hy in die wasbak neergesit het sodat die oortollige water kan uitloop. Toe hy klaar is, sit hy die verseëlde komposhouer terug op sy plek. Die gietertjie word uitgespoel, afgedroog en ook teruggeplaas. Hy hou van orde. Presiesheid.
Die plant tel hy op en lig dit tot op die hoë vensterbank, waar die môreson die lelie sal laat gedy. Dit sal op 22 Oktober blom – Da Silva se dag.
Hy loop na die liasseerkabinet en trek die boonste laai oop. Die lêers word gebêre in vakhouers wat duidelik gemerk is. Da Silva . . . Maklik om te vind.
Hy lig die dun lêer uit waarop José Perez da Silva in netjiese handskrif staan. Blaai die skutblad om en kyk lank na die foto met die byskrif Monster van Fort Cuito. Hy het op die TV-nuus gesien dat Angola se nuut aangestelde handelsattaché tans in Suid-Afrika is.
Hy knik tevrede. Dis goed so. Dit sal soveel makliker wees om hom hier in Johannesburg uit te haal.
Hoofstuk 15
Kommissaris Mbulu word op die lughawe ingewag deur een van Visser se manne.
“Moet ons reguit na die kolonel se kantoor gaan?” vra die bloedjong konstabel onderdanig.
“Asseblief, ja.”
Agter in die polisiemotor kyk Mbulu stilswyend na die stad se bekendste baken: Tafelberg. Vandag staan die berg breed en bonkig sonder sy tafeldoek, helder afgeëts teen die blou lug. Die stad sweet in ’n versengende hittegolf, ongewoon vir so vroeg in Oktober.
Sy gedagtes gaan na die onderhoud wat voorlê en sy ongewone versoek. Hy en die ouerige kolonel het ’n paar keer saam gewerk kort ná die nuwe bedeling in 1994 aangebreek het. Hy het Visser leer ken as ’n oop, vriendelike man, ’n verligte Afrikaner. Destyds reeds, nog voor die verkiesing, was hy openlik gekant teen apartheid. Dit het hom nie juis gewild gemaak in die Diens nie.
Mbulu, wat toe nog net die rang van speurluitenant gehad het, het die uitgesproke Visser uit ’n baie netelige posisie gehelp. In sy boek skuld Visser hom dus. Maar dalk sal sy versoek vandag net te veel wees om van die kolonel te verwag.
Die ouer man groet hom hartlik toe hy by sy kantoor instap. Die kolonel lyk bedrieglik jonk vir sy sestig jaar. Sy gesig is bruingebrand van ure langs die viswaters en net sy silwer borselkop verraai sy ouderdom.
Hy luister aandagtig terwyl die kommissaris sy saak stel.
“Kortom, Jan, ek erken ek is raadop. My laaste hoop is nou op jou gevestig – om kaptein Hector aan ons beskikbaar te stel.”
Die kolonel skud sy kop vertwyfeld. “Ai, Bongani. Ek weet maar te goed dat ek jou skuld ná die Rietfonteinsaak, maar Daniella Hector —”
Hy lig sy hande in ’n hulpelose gebaar. “Dis nie so maklik nie. Sy werk op die oomblik aan ’n groot Cape Flats-saak – ’n bendesindikaat – en sy verwag binnekort ’n deurbraak. Daarby moet ek jou sê sy’s ’n koppige vroumens. Of sy nou haar saak sal laat staan terwyl sy so warm op die spoor is . . . ek twyfel.”
“Ek kan maar net pleit dat jy my sal help. Sy is duidelik die beste wat die Diens het wat betref reeksmoordenaars.” Mbulu maak sy lêer oop en haal die koerantberig uit. “Soos dit vir my lyk, gaan jy haar in elk geval aan die FBI moet afstaan.”
Visser glimlag. “Nee, sy het dit toe gelukkig nie aanvaar nie, ter wille van haar gesin. Sy’s ’n enkelouer en haar ma sien bedags na die kind om. Soos jy kan sien, laat Danny haar deur niemand ompraat of voorsê nie, selfs nie eens die FBI nie.”
Hy lag hartlik vir sy eie kwinkslag, maar die kommissaris kyk hom net strak aan.
“Help my, Jan, asseblief. Hierdie keer