Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798174220
Скачать книгу
word die deure luid agter hulle gegrendel.

      Braam raak bewus van ’n neerdrukkende stilte wat teen sy oordromme klop. ’n Wag begelei hulle na ’n primitiewe wagkamer met ou houtbanke. Hy beduie hulle moet sit. Soos gedweë skoolkinders gehoorsaam hulle.

      Hulle wag. Niemand praat nie. Sou Svensson op die res van die groep ook ’n verbod geplaas het? wonder Braam. In die benouende atmosfeer tik minute verby, maar dit voel vir hom soos ure. Dan maak ’n korpulente swart man sy verskyning.

      Aan die talle rangtekens aan die man se uniform lei Braam af hy is die bevelvoerder. Die man bekyk hulle vir ’n paar oomblikke met ’n glimlag, maar dit word nie in sy oë weerspieël nie.

      “Welkom in Cuito,” sê hy met net ’n sweem van ’n Portugese aksent. “Daar is verversings in die personeel se eetkamer. Ons sal oor iets te ete en te drinke nader kennis maak. Altyd meer vrugbaar, nie waar nie?”

      Svensson kom orent. “Ons waardeer u gasvryheid, kommandant Da Silva, maar ons . . .”

      “En u is?” Die vraag klink soos ’n bevel.

      “Dieter Svensson.”

      Weer die smalende glimlag van die kommandant. “A, natuurlik, die regsman en segsman. U naam word in die dokumentasie genoem.”

      Hy blaf ’n vinnige bevel aan die twee wagte, dan kyk hy terug na die groep. “Die wagte sal u na die eetsaal begelei. Daarna sal ek u te woord staan, meneer Svensson.”

      Dis eers ná drie, toe die inspeksietoer verby is, dat Svensson onderlangs aan Braam sê dat hy Adam vir ’n halfuur mag sien.

      “Maar ’n wag sal teenwoordig wees,” waarsku Svensson.

      Braam frons. “Hoekom? Toe ons met die ander gevangenes onderhoude gevoer het, was daar nie —”

      “Da Silva is paranoïes. Hy was dadelik agterdogtig toe ek die versoek rig. Ek het hom nie gesê nie, maar ek dink hy weet u is ’n joernalis.”

      “Goed. Dankie vir die moeite.”

      ’n Halfuur later word hy na die westelike vleuel van die gevangenis gelei. Dié deel was nie ingesluit by hulle inspeksietoer nie, besef hy. Die wag se voetstappe weerklink in die lang gang, en weer word Braam bewus van die stilte wat soos ’n kombers oor alles hang. Dis die onnatuurlikheid daarvan wat opvallend is, dink hy. Agter die toe deure moet daar tog mense wees? Of word Adam in afsondering aangehou?

      Die wag steek voor so ’n deur vas. Die sleutel knars in die slot en hy maak die deur oop, staan opsy om Braam in te laat. Dis ’n bedompige, klein vertrek sonder vensters, met ’n tafel met ’n plastiekstoel aan elke kant. Die agterste muur is afgesper met ’n traliehek en daar wag Adam, vasgeboei aan ’n wag. Hy ontgrendel die hek, lei Adam binnetoe en ontsluit sy handboeie.

      “Half hour, then I come,” waarsku hy voor hy uitloop en die traliehek agter hom sluit.

      Braam het intussen by die tafel gaan sit. In stilte staar hy en Adam na mekaar. Hy merk hoeveel gewig die jonger man verloor het. Adam was nog altyd lenig, maar die diep holtes in sy wange laat nou sy gesig skedelagtig vertoon. Om sy oë is daar littekens.

      “Sit!” beveel die wag wat langs Braam teen die muur leun. “No touching!”

      “Hopelik verstaan hy nie Afrikaans nie,” mompel Braam toe Adam op die stoel oorkant hom neersak.

      “Hoe het jy my opgespoor?” vra Adam, sy stem hees, asof hy ongewoond is aan praat.

      Braam verduidelik kortliks, intens bewus van die tragiese nuus wat hy moet oordra.

      “Dit voel soos ’n ewigheid wat ons mekaar laas gesien het,” sê Adam. “My bekommernis daai dag . . . ek was reg. Hulle het my op ’n sending gestuur en die konvooi is in ’n lokval gelei. Drie ouens dood, die vierde het uit die brandende Casspir ontsnap, maar hy’s tereggestel. Ek weet nou nog nie hoekom hulle my laat leef het nie.”

      “Wie was die aanvallers? Frelimo?”

      Adam skud sy kop. “Verstaan jy dan nie? Dit was ’n valse sending. Hulle wou my uit die pad kry omdat ek wou uitklim. Hulle kon dit nie bekostig nie, want ek weet te veel. Daarom het hulle ’n hele maneuver uitgewerk om van my ontslae te raak. Dit was sonder twyfel die werk van die SAW.”

      Hy raak aan die littekens op sy gesig. “My oë het skade gekry in die ontploffing, ek was twee weke lank in die hospitaal. Toe is ek oorgeplaas hiernatoe, seker die mees vergete hool in Angola. As jy ooit iemand wil verlóór, is dit die plek. Hier hou jy op om te bestaan.”

      “Is jy alleen? Eensame opsluiting?”

      Adam knik.

      “Word geweld gebruik?”

      “Baie. Dit hang af van die bui van . . . Soos ek twee weke gelede gelyk het, sou hulle niemand toegelaat het om my te sien nie.” Adam kyk onderlangs na die wag. “Kan nie nou name noem nie, maar die . . . bevelvoerder is ’n sadis, dis al wat ek kan sê. Hoekom is jy hier?” vra hy skielik.

      Braam staar hom stom aan. Hy soek na die versagtende woorde wat hy so sorgvuldig beplan het, maar dis asof sy verstand vasslaan.

      Adam se oë raak waaksaam. “Wat is dit? Is dit Lilly?”

      Braam laat sak sy kop. “Sy is dood, sy en Betsie,” tuimel die woorde uit sy mond.

      Die uitgeteerde man oorkant hom ruk asof ’n elektriese skok deur sy lyf trek. Hy sit lank stil, sy oë toe. Dan vra hy skor: “Hoe?”

      Braam vertel kortliks. “Ek is jammer, Adam,” eindig hy lam. “Ek weet wat hulle vir jou beteken het.”

      Die jonger man staar emosieloos na hom.

      “Hulle het my gedwing om te gaan,” sê hy oplaas. “Gedreig hulle sal die video vir Lilly wys as ek weier. Toe het hulle dit tóg gedoen, om my finaal te breek. Het jy die video gesien?”

      Braam knik en kyk weg, skielik skaam om Adam in die oë te kyk.

      “Ek het vroeër nie onbesproke geleef nie, Braam, maar ek kan sweer dat ek daai vrou in die video nog nooit in my lewe gesien het nie. Hulle het ’n afdeling wat spesialiseer in dié tipe ding. Glo my, hulle kan jou enigiets laat glo. Ek moes vir Lilly van die video gesê het, dit self aan haar verduidelik het. Hulle hel toe gestuur het!”

      Braam leun vorentoe. “Niks kan haar en Betsie terugbring nie, dit weet ek. Maar ek gaan daaroor skryf, die video is in my besit. Ons gaan jou hier uitkry en . . .”

      Adam lag bitter. “Uitkry? Ek is reeds dood, my maat. Sonder my vrou en kind . . . Wat het ek om voor aan die lewe te bly?”

      “Nee, Adam, luister na my. Ek het nog inligting.”

      Braam vertel vlugtig van die Cradock Vier en sy ondersoek. “Die Mail is reg om die storie te laat loop. En dis die ander rede hoekom ek hier is: ek wil die name hê van die ouens wat die moorde gepleeg het.”

      Adam kyk hom fronsend aan. “Jy speel met vuur, besef jy dit? Jou koerant kan jou geen beskerming bied teen Botha se regime nie, hulle is genadeloos. Ek was dwaas genoeg om te glo dat ek hulle kon vertrou. Hulle metodes is onmenslik.”

      “Ek is bereid om die kans te vat.”

      “Om jouself en jou familie só bloot te stel? Dink goed daaroor, my vriend.”

      “Gee my net die name.”

      “Five minutes!” roep die wag en ratel sy sleutels.

      Adam kyk na hom en knik, sê dan sag: “Ek het jou gesê dat ek verdere dokumentasie by my prokureur gelaat het. Sy naam is Louis Silberstein. Ek het opdrag gegee dat hy dit vir jou moet gee indien iets met my gebeur. Ek het gehoop jy sou alles aan Lilly kon verduidelik, maar nou maak dit nie meer saak nie. Jy sal die inligting wat jy soek daarin vind.”

      “Time’s up!” bulder die wag.

      Adam kom orent. “Dit was goed van jou om te kom.”

      “Moenie