Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lerina Erasmus
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798174220
Скачать книгу
nie al nie, Tom. Ek het uitgevind waar Adam Williams hom bevind – in ’n tronk in Angola. Ek wou die nuus vanoggend aan sy vrou oordra, toe kry ek die skokkende inligting dat sy haar kind en haarself Dinsdagnag geskiet het.”

      Fronsplooie van baie jare keep dieper in Waters se voorkop. “ ’n Grusame insident, maar wat het dit te doen met . . .”

      “Alles,” sê Braam beslis, en vertel van die video, sy laaste gesprek met Adam, die radelose Lilly wat hom besoek het ná sy Maandag by die SAW-kantoor was.

      “Sy was ’n senuweeagtige soort mens en sy was daardie middag naby aan histerie. Hulle het dit geweet. Hulle het haar oor die rand van die afgrond gestoot.”

      “Watter bewyse het ons?”

      “Adam Williams gaan ons die bewyse gee waarna ons soek.”

      Waters se wenkbroue lig. “Die man sit in ’n tronk in Angola.”

      “Juis! Daarom wil ek met hom gaan praat.”

      “Is jy gek? Dis buite die kwessie. Dink jy hulle sal jou toestemming gee om . . .”

      “Ek het klaar ’n uitnodiging. Ek kan as die koerant se verteenwoordiger saam met ’n Rooi Kruis-afvaardiging tronke in Angola besoek. Nou soek ek net jou toestemming.”

      Waters haal sy bril af en vryf oor sy oë, lag ongelowig. “Jy’s ’n ander een, Braam Brink. Iets sê vir my jy sal in elk geval gaan, met of sonder toestemming.”

      Braam grinnik. “Ek veronderstel daar’s heelwat buitelandse koerante wat sal belangstel in wat werklik in Angola aangaan.”

      “Pers jy my af?”

      “Nee, baas. Komaan, Tom, al sit jy nou in die groot stoel, is jy nog steeds nuushond genoeg om ’n goeie scoop te ruik. Williams gaan ons die ammunisie gee wat ons nodig het. Hierdie storie is ’n wenner. TNT vir die Mail – en jy kan die hefboom trek.”

      “Hoop maar die bom gaan nie in my gesig af nie,” sê Waters droog. “Goed, kry jou sake agtermekaar vir Angola.” Hy stoot sy stoel terug en staan op. “Ek hoop Rachel gee jou mêrrie hel omdat jy in ’n oorlogsone wil gaan infoeter. Ék sou as ek jou vrou was. En verstaan goed, jy doen dit op eie risiko. Die Mail gaan nie ’n reddingspan agter jou aan stuur nie.”

      Hoofstuk 8

      Lilly en Betsie Williams word op ’n koue, triestige Juliedag in Wespark se begraafplaas begrawe. Daar is net enkele mense om die graf, ook Braam, met Rachel aan sy sy. Die vorige dag moes hy ’n kort beriggie oor die sterftes vir die koerant skryf, in die tipiese styl van ’n vreemde wat oor onbekende mense berig. Maar vir hom was dit bitter swaar, want hulle was nie onbekend nie.

      Sy gedagtes bly draai om Adam, en aan wat vir hom voorlê. Die vooruitsig om die tragiese nuus oor te dra, lê soos lood in sy binneste. Alle reëlings is reeds getref vir hulle vertrek môre. ’n Private vlug neem hulle na die weermagbasis op Rundu, en daarvandaan sal hulle per helikopter die onderskeie tronke besoek.

      Soos Tom Waters voorspel het, was Rachel omgekrap oor Braam se plan om Angola te besoek. Boonop kon hy haar nie al die feite gee nie, net dat hy Adam gaan sien, dat hy dit as sy plig beskou en dat hy deur die koerant gestuur word. Maar Rachel ken hom deur en deur en vermoed dat hy iets wegsteek.

      “Kom ons gaan eet iewers,” stel hy voor toe hulle van die begraafplaas af wegry.

      “Wat van Danny?” vra sy kortaf.

      “Danny is veertien en meer as selfstandig. Toe, jong, ’n lekker lunchie in die Italiaanse plek daar in Braamfontein.”

      Sy staar by haar syvenster uit. “Miskien as jy terug is. Ás jy ooit gaan terugkom.”

      “As? Nou word jy regtig ’n ou drama queen, my vrou. Waarom sal ek nie terugkom nie?”

      Sy skud haar kop. “Dis nie aldag maklik saam met jou nie, Braam Brink. As Danny eendag vir my sê sy gaan met ’n koerantman trou, sluit ek haar sowaar op tot sy dertig is.”

      Braam lag groot, en teen haar sin glimlag Rachel.

      Hy lê sy vry hand op haar skoot. “Dís my Ragie, ’n vrou duisend!”

      Hoofstuk 9

      Die helikopter se skaduwee is soos ’n groot naaldekoker wat ver onder saam vlieg oor die verdorde landskap. Braam staar na die winterse barheid van die Afrika-savanna, die diep uitgespoelde dongas en verpoeierde rooi grond waaroor stofduiwels dans.

      Dis nie net die winter wat sy spoor gelaat het nie, besef hy soos hulle verder noord vlieg. In die Bosoorlog wat nou al so lank voortsleep, het troepebewegings en swaar pantservoertuie die aarde vertrap. Dis ’n oorlog van gruwelike geweldpleging tussen die SAW en magte van buite: Kubane wat deur Rusland ondersteun word, en die Sowjetunie wat sy belange bevorder deur die Angolese troepe te voorsien van langafstandkanonne en missiele. Suid-Afrika vrees die Rooi Gevaar aan die Suidwes-grens, terwyl die buitelandse moondhede verklaar dat hulle die inwoners wil bevry van die kettings van koloniale regering. En in die proses word mens en aarde sinneloos verkrag deur ’n oorlog sonder einde.

      Hy kyk na die kaart wat oopgevou op sy skoot lê. Cuito. Hy het die woord omkring. Dis waar hy hoop om Adam te vind, hoewel dokter Ziegler hom voorberei het op moontlike teleurstelling. Volgens haar gebeur dit dikwels dat gevangenes eenvoudig verdwyn of onverwags na ’n ander tronk oorgeplaas word.

      Hy hoop om Adam op te spoor, maar terselfdertyd vrees hy die ontmoeting. Hoe moet hy aan hom oordra wat met sy vrou en kind gebeur het? Terwyl hulle die ander tronke besoek het, het dit hom heeltyd gekwel, en nou is die ontmoeting op hande. Om boodskapper te wees van só ’n tyding is iets waarna hy geensins uitsien nie.

      Hy word bewus van iemand langs hom en draai sy kop. Dieter Svensson, ’n sproeterige Sweed, skuif langs hom in. Hy is die Rooi Kruis se regsverteenwoordiger.

      “Ons gaan binnekort land,” sê Svensson. “Dit sal wys wees as ons volgens die stipulasies optree en die gewone Rooi Kruis-protokol handhaaf. U as joernalis is hier as gas van die afvaardiging.”

      Braam knik. Wat wil die man eintlik sê? wonder hy. “Met ons aankoms sal dit die beste wees as u saamsmelt met die groep,” gaan die Sweed voort. “Ek wil vra dat u saam met die res van ons die inspeksietoer meemaak en onderhoude voer met die prisoniers. Die hoofbewaarder is kommandant Da Silva. Ek sal sodra ek die geleentheid kry sy toestemming vra dat u meneer Williams alleen mag besoek.”

      “Wat is die kans?” vra Braam.

      “Ek sal die humanitêre aspek beklemtoon: dat die gevangene se vrou en kind gesterf het en dat u as sy vriend die tyding persoonlik wil oordra.”

      Braam oorweeg Svensson se versoek. Hy kan seker nie anders as om in te stem nie, besluit hy.

      “Goed, ek sal hou by wat u voorstel. Ek wil glo dat u alles in u vermoë sal doen om ’n persoonlike gesprek te reël?”

      “Ek sal,” beloof Svensson.

      Die helikopter begin daal in die rigting van die landingstrook. Onder hom kan Braam nou die omgewing duideliker uitmaak. Links sien hy ’n soort krater wat witterig glim in die skerp sonlig. Nee, eerder ’n soort steengroef of myn, dink hy, want daar is koekepanne wat beweeg en mense, klein soos miere, wat oral werskaf. Verder aan merk hy die tronk, ’n uitgestrekte eenverdiepinggebou met hoë sekuriteitsomheining.

      Met die helikopter wat oor die landingstrook huiwer, maak almal reg vir die landing. Soos die tuig nader aan die grond sak, jaag die kragtige rotor stof op wat alle sig versper. Die vlieënier maak ’n foutlose landing.

      Wat ’n godverlate plek, dink Braam toe hy uitklim. Die dorp moet verder weg lê, want afgesien van die bunkeragtige gebou merk hy geen teken van bewoning in die omgewing nie. Die hoë doringdraad wat die tronkperseel omhein, herinner hom aan foto’s van Duitse konsentrasiekampe. Net, hier is jy intens bewus van die hitte en die skril geskree van sonbesies.

      Wagte gewapen met AK47-gewere maak