Net toe seil Vincent doodsveragtend van die kandelaar af en duik holderstebolder op die geraamte af. “Hou jou pote van Otto af, jou ratelende geraamte!” dreig hy en vlieg soos ’n wafferse wilde flap al om die Grieselgryper se kopbeen. “Jy gaan hom nie in een van jou verdekselse argurkieglase sit nie! Jy sal eers by my moet verbykom.”
Dis Otto se kans. Dit lyk of die vreemdeling se aandag afgelei word deur Vincent se gefladder. Hy skel en vryf steun-steun oor sy voorkop, asof hy ewe skielik ’n kwaai hoofpyn het.
Voordat Otto kan dink hoe ’n hoofpyn moontlik is sonder ’n brein, wen sy instink om te vlug. Soos blits hol hy deur die sitkamer, maar hy kom nie ver nie.
Die Dood is vinniger as hy. Binne ’n sekonde sny hy Otto se ontsnappingsroete af. Otto kyk paniekerig rond, maar die kaggel is agter hom. Daar is nêrens uitkomkans nie … behalwe as jy miskien Kersvader is. Of as jy kan vlieg.
Vincent klou aan Otto se nek. “Tyd om te hol. Ons sien mekaar op die dak!” Die volgende oomblik laat los hy en vlieg deur die skoorsteen buitentoe.
Otto skel in sy binneste. Wat vir ’n verraaier van ’n troeteldier! Hy kan duidelik nie op Vincent staatmaak nie. Hy sal die Grieselgryper alleen moet keer om nie sy of tannie Sharon se siel te steel nie.
Die Grieselgryper het ’n entjie teruggedeins en met sy kop effens skuins gedraai kyk hy stip na Otto, asof hy ’n buitengewone dier is.
Otto skraap al sy moed bymekaar en sê: “As jy dink jy kan iets aan my doen, vergeet dit! Ek is blakend gesond. En topfiks! Die beste sokkerspeler in die hele skool.” Oukei, dis ’n leuen, maar nou ja. Sonder om van die geraamte af weg te kyk, vat-vat Otto na die stookyster by die kaggel en hou dit beskermend voor sy bors vas. Die ding is van yster gemaak. Miskien kan hy die ou met ’n goedgemikte hou op sy kopbeen buite aksie stel. “En tannie Sharon is ’n vegetariër en gaan draf elke oggend so sesuur se kant,” voeg hy by alhoewel sy hande bewe. “Ons voel op-en-top! As jy ons uit hierdie wêreld wil help, moet jy vroeër opstaan.”
Die wese aarsel ’n oomblik. Voordat Otto behoorlik besef wat aangaan, gee die ou oorkant hom twee vinnige treë in sy rigting en druk sy mond met ’n kaaswit, benerige hand toe. “Sjuut! Klim af van jou perdjie en hou jou mond, jongman,” sê hy met ’n stem wat heeltemal anders klink as wat Otto van ’n inbreker-geraamte verwag het. Dis hoegenaamd nie grillerig nie. Dit klink eerder soos die stem van ’n cool karakter uit ’n tekenprent. “Hou op histeries wees, of is jy ’n meisie?”
Otto skud die benerige hand van hom af sodat hy kan antwoord. “Ek is ’n seun en my naam is Otto.”
Die Grieselgryper skud sy kopbeen en sug. “ ’n Seun … rêrig? Nou weet ons ten minste. Luister nou baie mooi; ek moet my besigheid klaarmaak. As jou simpel tannie van jou geskree wakker word en my probeer keer, moet ek môreaand weer kom. Dink jy miskien drie aande se nagdiens in ’n ry is ’n grap? Is dit wat jy dink?”
Otto skud sy kop sonder om ’n woord te sê.
“Miskien kan jy jou bure hier in Radysstraat ompraat om liewer in die dag dood te gaan,” brom die Grieselgryper verder. “Dit sal ons almal wat by die SBI werk, baie help. Dalk stuur iemand nog vir jou ’n Kerskaartjie om dankie te sê.”
“Wat … wat is die SBI?” Otto hou nog die hele tyd die stookyster voor sy bors vas.
“Siele-Bevorderings-Instituut,” antwoord die Grieselgryper kortaf en wys na die agterkant van sy mantel, waar drie vet letters vasgewerk is: SBI. “Vrotsige werk, vrotsige betaling en nog vrotsiger maatskappy-voertuie. Moet ek aangaan?”
Otto weet nie wat om te sê nie. Stomgeslaan sien hy hoe die Grieselgryper in die rigting van die deur beweeg, waar sy agurkiebottels op ’n hoop lê. Steunend tel hy die spul op en dra dit na die staanhorlosie.
“Jy kan my gerus ’n bietjie help, Ottorina.”
“Ek’s nie ’n meisiekind nie!” snork Otto verontwaardig. Die ou is duidelik nie heeltemal by nie.
“Nou ja. Dit beteken dus geen hulp nie.” Die ou sug. “Wees dan asseblief so gaaf om die horlosie se deur oop te maak sodat ek die siele betyds na die Oorkant kan vervoer. As hulle te laat kom, word dit van my salaris afgetrek. Dis baie soos ’n pizza-afleweringsdiens.”
Verward sit Otto die stookyster neer en loer in die horlosie se binnekant. Wat het die Grieselgryper gesê? Hy vervoer die agurkiebottels na die Oorkant toe? Beteken dit dat die ingang na die onderwêreld in … tannie Sharon se staanhorlosie is? Dis seker net ’n simpel grap!
“Kom jy?” hyg die Grieselgryper agter hom. “Die ding is nie juis lig nie. Dié een was seker verskriklik oorgewig toe hy dood is.” Hy kyk na die plakker op die agurkiebottel. “Dood as gevolg van lewervet. Natuurlik! Ek kan twee uit die drie keer die oorsaak van iemand se dood toe-oë raai. Dis sê nogal iets, nè?” grynslag hy in Otto se rigting.
“Um, jammer om jou teleur te stel, meneer … um … Dood, maar jy is by die verkeerde adres,” mompel Otto terwyl hy die horlosie se kas oopmaak. Die Dood sal nou self sien dat daar nie ’n pad na die Oorkant in tannie Sharon se horlosie is nie. “In hierdie horlosie is net ’n ou slinger …” sê Otto huiwerig, “. . . en ’n vervoerband?” Hy knip geïrriteerd sy oë.
Sowaar as vet! Onder die slinger loop ’n vervoerband tot diep in die muur in. Dit lyk amper soos ’n glasbottel-vervoerband in ’n supermark.
“Wel ja, die vervoerband loop nie altyd nie,” verduidelik die Grieselgryper en druk ’n agurkiebottel in Otto se hand. “Sit dit versigtig neer, dit breek maklik. Dis net as ek die kode op die syfergedeelte invoer dat mens ’n dertiende slag hoor en dan gaan die opening oop.” Sy stem word al dieper en sy oë blits. “Dan is dit al die pad ondertoe, reguit in die onderwêreld se bek in. Ha-ha-ha!”
Otto sluk swaar. “O, gonna!”
“Toemaar, ek grap net, Prinsessie.” Hy gee vir Otto nog ’n agurkiebottel aan. “Hierdie klomp is skadeloos. Hulle gaan na die Oorkant; hemel toe. Of wat jy dit ook al wil noem. Daar speel hulle brug, doen blokkiesraaisels en kyk na kletsprogramme. Dis veilig en tot sterwens toe vervelig.”
“Kletsprogramme? Jy’s seker nie ernstig nie!” Otto wonder watter kletsprogramme in die Oorkant gewys word, maar die Grieselgryper onderbreek sy gedagtes.
“Daarsy, dit is die laaste bottel. Druk die rooi knoppie vir die kwitansie en gee dit vir my.”
Otto gehoorsaam. Hy is glad nie verbaas dat daar sowaar ’n rooi knoppie bokant die vervoerband is nie.
“Nie eens honderd rand vir drie nagte se werk nie,” sug die Grieselgryper nadat hy na die kwitansie gekyk het. “Met die bietjie geld sal ek nooit ’n ander kar kan koop nie. Ek sou my morsdood vir dié een skaam as die lelike ding nie onsigbaar …” Hy bly skielik stil en sy mond hang oop van verbasing. “Hoe de ongeluk is dit moontlik dat jy my kan sien? Het jy nie beweer jy is ’n mens nie, Otto?”
“Ek het gehoop jy kan my sê,” antwoord Otto verward.
“Eienaardig. Absoluut eienaardig,” mompel die ou en skud sy kop. “Terloops, my naam is Harry Griesel. Maar almal noem my sommer Harry. Ek is al vyfhonderd-en-twintig jaar in diens van die SBI en vervoer elke dag siele deur julle ingang na die Oorkant.”
“Um … oukei.” Otto sluk swaar. “Nou … hoekom juis deur ons s’n? Is dit die enigste ingang na die Oorkant?”
“Die enigste een? Jy’s seker nie lekker nie!” antwoord Harry, maar dan kyk hy anderpad en loer verleë na sy tekkies, wat vol gate is. Die regtertekkie is rooi, die linkerkantste een blou. “Die naaste een is in Wes-Londen. So, ek hoop dis reg as ek intussen julle s’n …”