Otto kyk soos gewoonlik eerste na Molly en Bert. Dit lyk asof Sir Tony se woorde die twee ander spoke net so onkant betrap het. Van pure skrik val ’n haarkruller uit Molly se hare en Bert hoes sy longe uit. Hy het in die melk verstik en nou vorm dit ’n wit poeletjie by sy voete, gemeng met die gekoude stukkies kaas.
Otto sug. Hy moet net nie vergeet om later die gemors skoon te maak nie. As dit deur die plafon lek en begin muf, sal tannie Sharon dalk die geheime vertrek ontdek. Sy het ’n verbasend sensitiewe neus.
“Wat gaan aan? Wat het hy gesê?” vra Emily dringend.
“Die ou van gister … het meneer Olsen na die Oorkant toe gevat, Emily,” fluister Otto en kan behoorlik voel hoe die hare op sy arms regop staan.
Emily hap geskok na lug. Die punt van haar neus raak spierwit van ontsteltenis. “Dit beteken hy is … die Dood?”
“Om presies te wees, net een van hulle,” onderbreek Sir Tony hulle en grynslag, al kan Emily hom nie sien nie. “Vroeër was daar net een Grieselgryper, maar weet julle, dié storie werk amper soos die een van Kersvader. Omdat die wêreldbevolking al hoe groter word, was een nie meer genoeg nie. Dink net aan China … of Indië.”
“ ’n Grieselgryper?” Otto snork verontwaardig. Tony is rêrig nie lekker nie. Om Kersvader met die Dood te vergelyk, is nogal swak smaak. G’n wonder Molly en Bert vermy Sir Tony as hulle enigsins kan nie.
“In elk geval, deesdae kan een Grieselgryper onmoontlik nie al die siele bymekaar maak nie,” kom Tony tot die punt. “Dis hoekom daar ’n hele leër van Grieselgrypers is.”
“ ’n Hele leër?” Net die gedagte aan ontelbare geraamtes in mantels laat Otto ril. Dit klink soos iets uit ’n fliek.
Sir Tony knik sy kop. “Daar is nogtans nie genoeg Grieselgrypers nie, want as een van die Grieselgrypers te laat kom as iemand sterf, dwaal die arme, vergete siel orals rond. Dan word hulle spoke; wesens soos ons.” Tony se grynslag verdwyn en sy gesigsuitdrukking word so hard soos klip. “Verdoem tot ’n lewe in die donker hede.”
Bert rol sy oë. “Jy maak altyd so ’n drama van alles, Tony! So erg is dit darem nou ook nie hier nie,” sê hy en trek met sy tande ’n olyf van die stokkie af. “Dit het ook sy voordele.”
“En vandat hierdie wonderkind hier bly,” voeg Molly by en wys na Otto, “hoef ek ook nie tot in alle ewigheid net met julle twee domkoppe te gesels nie.”
Sir Tony maak asof hy nie die belediging gehoor het nie. “Nogtans … as ’n Grieselgryper opduik, beteken dit niks goeds nie; net onheil.” Hy bly ’n rukkie stil. “Dis ’n genade dat Otto en Vincent hom dadelik gesien het. Ons moet hulle van nou af goed dophou.”
Otto knik en probeer om sy gedagtes agtermekaar te kry. So grillerig soos alles dalk klink, pas die hele prentjie stadigaan inmekaar. Wat Molly, Bert en Sir Tony betref, gaan dit dus oor vergete siele wat bestaan omdat ’n Grieselgryper drooggemaak het.
Hoeveel vergete siele is daar in hierdie wêreld? En hoeveel geheime is daar aan die Oorkant waarvan Otto niks weet nie? Miskien sal die wêreld van die dooies, waar sy ouers is, eendag vir hom die antwoorde gee.
Hy haal diep asem. Twee dinge is seker. Eerstens: Otto is definitief van plan om al die geheime op te los, al bewe sy kniekoppe as hy net daaraan dink. En tweedens: Soos sake nou staan, sal die lewe in Radysstraat van nou af beslis nie vervelig wees nie.
Die dertiende uur slaan!
Wat is fout met jou, Otto? Ek ken jou nie so stil nie,” mompel tannie Sharon en draai die skroef stywer in die horlosie vas.
Die houtdeurtjie spring met ’n boing! oop en ’n jammerlike koekoek-geluid kom uit die binnekant van die horlosie. Tannie Sharon glimlag tevrede. Die ou horlosie werk weer, al klink dit asof die houtvoëltjie se beste jare al agter die rug is.
“Daar’s niks fout nie. Hoegenaamd niks nie,” brom Otto en skuifel op die vensterbank rond. Die staanhorlosie in die sitkamer het nou net tienuur geslaan. Van net ná aandete geniet Tannie Sharon haar tweedebeste stokperdjie … om ou horlosies reg te maak.
Vroeër het Otto se tannie haar geld as horlosiemaker verdien. Toe haar man oorlede is en vir haar ’n groot som geld laat erf het, het sy haar winkel verkoop en die oorblywende horlosies saamgevat. Van toe af ontplof Otto se huis van horlosies: staanhorlosies, sakhorlosies en armhorlosies. Tannie Sharon het selfs ’n horlosie wat soos ’n kat lyk en met elke tiktak sy oë heen en weer draai. In party van die vertrekke kan mens nie eens ’n stukkie oop muur tussen al die horlosies sien nie.
Om nie te praat van die alewige getiktak nie. Otto het in die geskiedenisklas geleer dat wrede leiers in die ou tyd hulle gevangenes gemartel het met eentonige geluide, totdat hulle amper mal word en erken wat hulle gedoen het. Vir Otto is dit nie só erg nie, maar net om seker te maak het hy die eerste aand wat hy in sy dakkamer geslaap het, al die batterye uit die horlosies gehaal. Nét om seker te maak.
Dit lyk nie asof die alewige getiktak vir tannie Sharon pla nie. Inteendeel. Sy koop gereeld nuwe horlosies en kies vir elkeen ’n spesiale plek. Party van die horlosies is nie hare nie, maar behoort aan vriende en bure wat dit wil laat regmaak. Ongelukkig is dit nie die geval met die koekoekhorlosie nie. Dit hang permanent in die sitkamer. Otto haat die ding.
“En by die skool? Waarmee is julle op die oomblik besig? Algebra?” hou tannie Sharon aan met vra en sit die skroewedraaier eenkant.
Onder normale omstandighede sal Otto nog by haar sit en gesels, net om haar gelukkig te maak. Maar vandat Sir Tony vir hom en Emily van die Grieselgryper vertel het, kan hy die nagtelike besoeker nie uit sy kop kry nie. Bang en tog nuuskierig, kyk Otto aand na aand of hy weer gaan kom. Ongelukkig het die ryding op drie wiele nie weer opgedaag ná meneer Olsen se dood nie.
“Aag, niks besonders nie,” antwoord Otto halfhartig. “Ons gaan Donderdag op ’n uitstappie Donkerland toe.” Hy rek sy nek om oor die heining voor die venster te kan sien. ’n Wit ryding draai by Radysstraat in en hou voor die bure se tuin stil. Otto se hart klop vinniger. Hy probeer deur skrefiesoë die letters op die voertuig uitmaak. Is dit weer die Grieselgryper se ryding?
“Donkerland? Dis mos die nuwe pretpark met die baie spooktreine en bangmaak-goeters.” Tannie Sharon frons. “Is jy nie bietjie te jonk daarvoor nie? Wat as jy daarna nie kan slaap nie?”
“Tannie Sharon, die pretpark is vir kinders van agt jaar en ouer.” Otto gaan staan op sy knieë om die voertuig beter te kan sien. ’n Paar simpel spoke van karton en draad sal hom en Emily nie eens laat gaap nie. Dis niks teen ’n regte, egte Grieselgryper nie.
Die bestuurder wat buite in die afleweringswa sit, is beslis nie een nie. E. T. Donahue, Stofsuiers – Kop en Verkoop, staan in vet letters op die voertuig geskryf. Al voel Otto nie lus nie, kan hy nie help om te glimlag nie. Dis vir jou ’n grap. ’n Spelfout op die afleweringswa! Op daardie oomblik gaan die deur oop en ’n sterkgeboude, kaalkop man klim uit. Hy lyk nie naastenby soos die Grieselgryper van nou die dag nie.
Otto frons. Die ou is nie ’n Grieselgryper nie, maar wat soek ’n stofsuieragent hierdie tyd van die nag in Radysstraat?
Hy begin gaap. Wat ook al. Miskien is dit hoog tyd om liewer vir eers van die spookwêreld te vergeet.
“Ek gaan slaap,” sê hy vir sy tannie en klim van die vensterbank af.
Tannie Sharon kyk ’n rukkie na Otto, dan gee sy hom ’n soen op sy wang en sê saggies: “Lekker slaap.” Toe staan sy op en gaan kombuis toe – seker om vir haar ’n stukkie kaas te gaan haal (wat Bert intussen opgeëet het). Terwyl Otto na die trap toe loop, hoor hy hoe