***
Dis ’n buitengewoon rustige nag. Tannie Sharon gaan slaap ook kort daarna. Vincent, wat die hele aand deur die tuin geswiep het op soek na insekte, snork doodmoeg en vetgevreet in die eikehoutkas. Selfs Tony, Bert en Molly is vannag tjoepstil. Miskien sit Bert en Molly soos gewoonlik op die dak en gesels oor die tyd toe daar nog bloed deur hulle are gevloei het. Sir Tony probeer seker weer om tannie Sharon bang te maak … sonder enige sukses. Hy het net te min talent daarvoor – en Sharon slaap soos altyd te vas.
Nadat Otto sy slaapklere aangetrek het, hurk hy op die vensterbank en kyk op en af in Radysstraat, waar alles rustig in die mistigheid van die herfsnag slaap. Daar is nie ’n enkele siel op straat nie. Ook die stofsuieragent moes intussen padgegee het.
Otto sug en klim in die bed. Hy lê nog ’n rukkie wakker en dink oor alles, maar na ’n rukkie raak hy so vaak dat sy oë vanself toeval. Half deur die slaap luister hy na die staanhorlosie in die sitkamer. Hy tel baie keer die slae van die horlosie om aan die slaap te raak; ander kinders tel skape.
Tien, elf … Volgens hom moet dit omtrent middernag wees, maar toe die staanhorlosie uiteindelik by twaalf kom, is daar nog ’n ekstra slag … glashelder, duidelik en sonder twyfel. Die ego van die dertiende slag dreun deur die ou mure; te hard om net in Otto se verbeelding te wees.
Otto maak sy oë oop. Dertien slae? Dis toetentaal onmoontlik! Tannie Sharon sorg altyd dat elkeen van haar horlosies perfek tyd hou en foutloos werk. Selfs Big Ben in Londen kan by haar horlosies leer.
Heeltemal deur die slaap vryf Otto sy oë en sit regop. Uit gewoonte gaan hy nog een maal venster toe en kyk buite rond. Wat hy daar sien, laat enige gevoel van moegheid soos mis voor die son verdwyn. Daar staan die Grieselgryper se afleweringswa! Die snaakse tjor met die drie wiele staan in die kollig van ’n straatlamp, reg voor tannie Sharon se tuinhekkie geparkeer. Op die agterbak staan stapels agurkiebottels, met hulle gloeiende inhoud nes pampoene op Halloween. Die laaibak se inhoud gaan egter oor baie meer as dit. ’n Hele vrag vol dooies se siele. Goeie genugtig!
Otto sluk swaar. Vandat hy by tannie Sharon ingetrek het, was hy nog nooit rêrig bang vir spoke nie. Vir hom is Sir Tony, Molly en Bert net ’n klomp windbolle, vir wie selfs die kleinste outjie nie sal skrik nie. Maar Otto moet erken, alles van hierdie nuwe wese, hierdie “Grieselgryper”, gee hom koue rillings.
Op dieselfde oomblik hoor hy ’n geluid uit die woonkamer. Dit klink soos glase wat teen mekaar gestamp word. Is die Grieselgryper dalk in tannie Sharon se villa?
Hy besluit om Vincent wakker te maak. Hy ruk die kasdeur vinnig oop en skud die klerereling waaraan Vincent gewoonlik hang en snork. “Vincent! Kom gou, waar is jy?” roep Otto hom en steek sy kop by die donker kas in.
Hierdie keer hang Vincent nie op sy gewone plek nie. Hy slaap in tannie Sharon se motgevrete winterjas se sak. Dis moontlik dat hy hom ’n rukkie gelede so trommeldik gevreet het, dat hy te vet was om koponderstebo te slaap.
“Wat is nou weer aan die gang? Hoekom maak jy my altyd in die middel van die nag wakker?” knor hy kwaad. Hy haal sy kop uit die sak se voering en loer met glinsterende goue oë na Otto. “Slaap jy deesdae glad nie meer nie? Is jy nou ’n vampier of wat?”
Otto ignoreer Vincent se giftige kommentaar. “Die Grieselgryper is terug, Vince.”
Vincent is nie beïndruk nie. Hy rol sy oë. “Wat daarvan? Dit beteken net iemand het weer hierdie tranedal verlaat,” sê hy met ’n hees stem. “Indien jy dit nog nie agtergekom het nie, meneer die slimkop … die gemiddelde ouderdom van die inwoners hier in Radysstraat is ver oor die tagtig jaar. Let wel, dan ek tel myself nie eens nie, verstaan?”
“Ek praat nie van die bure nie. Die Grieselgryper is hiér! Hy’t dalk een van ons in gedagte,” sis Otto ontsteld deur sy tande. “En ek dink hy het iets aan tannie Sharon se staanhorlosie gedoen.”
“Jy bedoel hy is hiér? Onder in die sitkamer?” Uiteindelik kruip Vincent uit sy warm slaapplek, vlieg tot op Otto se skouer en val dan holderstebolder in sy slaaphemp se sak. Hy dink ’n rukkie oor alles na en knik dan vasberade sy kop. “Hoekom staan jy nog hier rond? Kom ons gaan ondertoe en kyk wat aangaan,” beveel hy.
Otto huiwer. Is dit ’n goeie idee om ’n Grieselgryper aan te pak? Ouens soos hy vat gewoonlik mense se lewens van hulle af weg. Wat as hy gekom het om ’n einde aan Otto of tannie Sharon te maak? Moet Otto nie liewer vir tannie Sharon wakker maak en dan hol dat hulle klein word nie? Of dalk kan hulle met die geut afgly ondertoe.
“Toe, opskud, jou lafaard!” Vincent wriemel ongeduldig in Otto se sak. “As daai rammelende geraamte planne met jou het, breek ek elke been in sy lyf,” belowe hy.
“Oukei, kom ons gaan kyk.” Otto weet wanneer hy verloor het en slof op sy sokkies deur toe.
Die gang is stikdonker en Otto het nie die moed om die lig aan te skakel nie. Wat as dit die Grieselgryper se aandag trek? In plaas daarvan, loop hy voel-voel al met die muur langs tot by die trap. Gelukkig ken hy elke hoekie en draaitjie. Hy moet net versigtig wees dat die ou houttrappe nie kraak terwyl hy loop nie.
Op die laaste trappie gaan staan Otto en loer in die sitkamer in. Die lig van die straatlamp val deur die venster en doop die glaskas in ’n vaalblou skynsel.
Niks. Hy sien niemand. Die Grieselgryper het seker padgegee. Miskien het hy die verkeerde adres gehad.
Net toe Otto wil omdraai, hol daar skielik ’n donker skaduwee deur een van die ligstrale. Dit gaan staan voor die staanhorlosie en begin om aan die wysers te draai, asof dit ’n kluis wil oopmaak. Otto se nekhare staan kiertsregop.
“Jou simpel, onnosel domkop! Hier is sowaar iemand.” Vincent is skoon hees. As hy ontsteld is, skel hy al wat voorkom uit. “Hoekom de dinges het jy my oortuig om af te kom sitkamer toe?”
“Maar dit was jy wat …” Otto hou op praat want iets vibreer teen sy bors. Daar’s g’n twyfel nie; Vincent bibber van kop tot tone. Alhoewel sy eie knieë teen mekaar klap, probeer hy koelkop bly. “Bly kalm, Vince. Ek wil die ou van naby sien.”
“Nog nader as nou? Is jy mal?” kerm Vincent. “Wat as hy my klapperdop met sy sens afsaag?” Hy vou sy vlerke paniekerig oor sy kop. “Ek is nog té jonk vir die Oorkant. Ek is net driehonderd-ses-en-twintig jaar oud.”
“Vincent! Het jy vergeet dat jy al aan die Oorkant was? Ek dink nie hy stel in jou belang nie,” paai Otto.
Dit laat Vincent ’n bietjie beter voel.
“Jy kan ontspan,” fluister Otto. “Hy gaan ons nie sien nie.” Versigtig sit hy die een voet voor die ander en loop voel-voel met die muur langs. As hy net tot agter die boekrak kan kom – hy sal beter van daar af kan sien wat … of wie in die huis rondsluip.
Boing! Koekoek!
Die stilte word onderbreek deur ’n oorverdowende lawaai. Die dekselse koekoekhorlosie! Vandat tannie Sharon dit reggemaak het, hang die lelike ding reg bokant Otto se kop en verkondig vol selfvertroue hoe laat dit is. Kwart oor twaalf … die geluid is so skril en hard, Emily se hardhorende ouma sal dit drie huise van daar af kan hoor.
Otto se hart gaan staan amper. Voordat hy behoorlik weet wat aangaan, haak sy linkervoet aan tannie Sharon se Persiese tapyt vas. Hy struikel en probeer paniekerig om aan die boekrak vas te hou, maar dis te laat. Met ’n groot lawaai slaan Otto en Vincent op die blokkiesvloer neer; reg voor die Grieselgryper se voete.
Otto se hart mis ’n slag of twee. Stadig gly sy oë oor die vreemdeling se swart mantel, tot by die kappie wat diep oor sy gesig getrek is. In sy hand blink iets silwerigs en skerps in die straatlig.
Die sens. O, gonna! Die spoke is toe al die tyd reg. Voor hom staan die Dood in lewende lywe. Hy lyk baie grieselrig. Net die vernielde paar tekkies wat hy aanhet pas nie by die prentjie nie.
Die wese het intussen ook agtergekom