Amraal. Marinda van Zyl. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marinda van Zyl
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624075622
Скачать книгу
gaan was. Nou sal hy almal op Holkrans kan wys hy is nie sommer ’n hierjy nie. Veral vir Klara.

      Die blaffende verwelkoming toe hulle Holkrans se opstal nader, is die eerste teken dat dinge op die plaas verander het. Lammert herken amper nie sy broer toe hy nader hardloop nie. Adam het ’n jong man geword in die tyd dat hy weg was.

      “Dis Meester se honde,” verduidelik Adam nadat hy die honde met ’n paar skril fluite stilgemaak het. “Ma gaan dood neerslaan van blygeit as sy jou sien. Gaan groet haar eers. Sy’s by ons werf.”

      Lammert drafstap na die matjieshuise. Sou sy ma dan siek wees? Sy sit op ’n veldstoeltjie voor haar matjieshuis, met ’n baba in haar arms.

      “En dit, Ma?”

      Rut spring met ’n gil op en laat val amper die baba wat keel opsit. “Lammert, dis jy in lewende lywe.” Die baba skree en woel tussen hulle toe sy ma hom omhels. “Dis Jakobus, jou boetie,” wys sy trots na die skreeuende bondel toe Lammert hom uit die omhelsing losmaak om nie die kind te versmoor nie.

      “Hoe nou, Ma?”

      “Ek en oom Ben het ons skapies bymekaargejaag.”

      “En tannie Dina?” Dít het hy waaragtig nie van sy ma verwag nie.

      “Sy’s dood. Geelslang se pik toe ons matjiesgoed gaan sny het. Ouma ook. Van skone hartseer.”

      “En nou het ma ’n slawekind wat nôi Elsie of Aalwyn kan verkoop net wanneer hulle lus het.”

      “Jy’s laf, ek is mos nie ’n slaaf nie. Jakobus is so vrygebore soos jy,” glimlag sy ma nog breër. “En Ben is lankal ’n vry man. Met Aletta se troue al het Elsie die papiere gaan regmaak in die Kaap. Saam met Klara s’n.”

      Die naam tref hom soos ’n vallende rots en Lammert sak neer op die veldstoeltjie.

      Rut gee die baba vir hom. “Hou jou boetie bietjie vas. Ek maak vuur vir koffie.”

      Lammert trek die kombersie weg om darem iets meer te sien as ’n skreeuende, tandlose bekkie. Toe sy vinger aan die wangetjie raak, hou Jakobus op skree en kyk vir hom met groot bruin oë. “Hy’t mooi swart krulhaartjies.”

      “Het jy jou mooi vrou vir ons kom wys, soos jy vir Adam belowe het toe jy soos ’n skelm in die Kaap agtergebly het?”

      “Vroumense is gifgoed. Ek wil met hulle niks te make hê nie.” Maar in sy gedagtes sê hy dankie vir Aletta oor sy nie sy geheim uitgelap het nie en vir die klere waarmee hy almal kan flous dat dit met hom goed gaan.

      Maar nie vir Meester nie. Lammert volg die honde se geblaf en kry hom in die boord.

      “Jy het die kyk en die stap van ’n woedende mens, Lammert. Wat het gebeur? Die slavin toe ook maar net ’n slang, soos al die ander mooi vrouens?”

      Lammert haal sy skouers op en kyk anderpad. “Meester het my gewaarsku. Kla sal nou niks help nie.”

      “Jou plek hier is leeg, Lammert. Die plaas kort ’n ekstra paar hande. Ben raak oud, al hou hy sy lyf deesdae jong man. Aalwyn …”

      “Hoi daar, Meester. Ek sal nooit hierheen terugkom nie. Dan liewer Gert se slaaf tot ek vyf-en-twintig is. Dis mos wat Meester gesê het, nie waar nie? Op vyf-en-twintig word ek ’n vry mens.”

      “Ja, jy kan net ingeboek word tot jou vyf-en-twintigste verjaarsdag. Maar dit beteken nie jy gaan vry wees nie, Lammert. Vryheid vind mens net in jou eie binneste. Dit help nie om te bly weghardloop nie. Gaan môre kloof toe en begrawe die spoke wat jou so jaag.”

      Lammert skud sy kop. “Nie tyd daarvoor nie. Gert het gesê een dag se rus vir die osse is genoeg. Oormôre voordag moet ons in die pad wees. Sal Meester asseblief vir my neerskryf presies wanneer ek vyf-en-twintig gaan wees, sodat ek by die veldwagmeester kan gaan kla as Gert my nie wil losmaak nie?”

      “Met plesier. Jou geboortedatum is mos naby Aalwyn s’n.”

      “Die presiese dag weet ek nie. Nôi Elsie sal weet. Ek wil nie my ma daarmee pla nie.”

      “Kom ons stap sommer nou opstal toe. Jy’t seker nog nie daar gaan groet nie.”

      Meester is nou heel tuis in die huis, want hy verdwyn sonder klop in die voorhuis, terwyl Lammert by die trappe wag. Net nôi Elsie kom op die stoep uit. Lammert lig sy hoed. “Dagsê, Nôi.”

      “Dag, Lammert. Jy sien mos spoggerig daaruit. Ek’s bly Gert en Aletta sorg goed vir jou, want dis met groot hartseer dat ek jou in die Kaap laat agterbly het.”

      Sy suster, wat uit die kombuis storm en hom amper onderstebo spring, keer dat Lammert haar die waarheid vertel. Aletta, die tweegatjakkals, het hom al weer ore aangesit. Kammakastig die klere vir hom gegee oor sy jammer is. Maar verkla hy haar nou by nôi Elsie, slaan Gert hom dalk vrek as Aletta stories aandra. Hy swaai sy suster in die rondte tot die ergste woede in hom bedaar het en sit haar dan uitasem neer. “Genade, maar jy’t groot en swaar geword. Jy sal ’n man se rug mos morsaf spring.”

      “Ai, Lammert, jy’s nog net so vol grappies,” lag nôi Elsie. “Dis jammer Aalwyn is nie hier nie. Hy is Doornrivier toe. Hy’t mos nou sy eie plaas daar wat ons nou eers net vir weiding gebruik, maar ek vrees die dag dat hy en Klara daarheen wil trek.”

      “Lammert,” onderbreek Meester, “juffrou Elsie skat jy’s op die vyfde of sesde Januarie 1774 gebore, want jy’s drie weke ouer as Aalwyn. Ek sal dit vir jou neerskryf, dan kom haal jy dit vanaand. My kamer is die heel laaste een,” wys Meester stoeplangs.

      “Maak dit die vyfde, asseblief, Meester.” Lammert maak verskoning dat hy na sy osse moet gaan omsien. Die roep van ’n brandwagbobbejaan in die kloof laat hom oor Meester se woorde nadink. Miskien moet hy tog maar kloof toe. Daar is nog goed twee uur se sonskyn oor. Hy is uitasem toe hy die kloof ingaan; die luilekker lewe as wadrywer het hom sleg gemaak. Daar is feitlik geen teken oor van die brand nege jaar gelede nie, want die kloof is oortrek met suikerbosse en luisies. In ’n klipskeur peul ’n kaiingbos uit. Bo-op die krans staan ’n swartgebrande sederboom soos ’n vingerwysing.

      Die bobbejaan blaf weer waarskuwend toe hy die grot nader. Verbeel hy hom of was daar ’n beweging by die grot? Sou dit ’n bobbejaanwyfie wees? As sy ’n kleintjie het, kan dit gevaarlik wees om nader te gaan. Maar die trop bobbejane klouter teen die krans uit sonder om hulle verder aan hom te steur. Dit kan ’n tier ook wees. “Wie is daar?” roep hy, onseker of hy moet nader gaan.

      “Dis ek.” Klara kom agter die kaiingbos uit waar sy probeer wegkruip het.

      Vir ’n paar sekondes oorweeg Lammert dit om in sy spore om te draai, weg te loop sonder om met haar te praat. Dan klim hy haastig die laaste paar tree tot by haar. Lig sy hoed. “Dagsê, Nôi. Jy is mos nou nôi Klara, of mag ek jou darem juffrou Klara noem?”

      “Moenie, Lammert, asseblief moenie.” Klara retireer tot sy met haar rug teen die wand staan. Sy draai haar gesig weg. Haar hare is in ’n vlegsel om haar kop gedraai sodat hy die lyn van haar nek kan volg tot waar dit in die kantkragie verdwyn. Agter haar dans geel mensies teen die rotsmuur.

      “Moenie wat nie, nôi Klara?”

      “Moenie so wees nie. Moenie so vir my kyk nie. Jy maak my bang.”

      “Jy dink tog nie ek gaan iets aan jou doen nie?” Die woede vloei uit hom. “Wat maak jy vingeralleen hier in die grot as jy bang is?”

      “Dis my wegkruipplek as ek alleen wil wees. Meester het gesê hier kom niemand nie. Oor die brand en julle pa’s.”

      Sou Meester dalk Aalwyn se liegstorie vir haar oorvertel het? “So, jy kruip eintlik vir my hier weg. Dan’s ek jammer ek het die nôi kom pla.”

      “Nee, ek wou nie vir Aletta en die baba sien nie. Nie nou al nie. Dis swaar genoeg met jou ma se baba gedurig in die huis.”

      “Wat het my ma vir jou gemaak dat jy haar nie ’n bietjie geluk gun nie?”

      “Begryp jy dan nie, Lammert?” Klara slaan op haar maag.