Ek sién hoe klap die uitspansel hande,
gloeiend en geluidloos.
En wie kan die son miskyk?
Wie kan sy stralende vreugdepad ontken?
Hy trap dan ’n briljante spoor heelpad deur die hemelruim;
dit is skynbaar sy manier om te wys: Só is ek!
Te verkondig: Só is U, Here God!
’n Verterende vuur, ’n hittegloed
waarteen niks en niemand hulle kan verweer nie.
So sien ek dit:
Die uitspansel skryf ’n storie tot God se eer,
’n sprankelende verhaal.
Jy lees dit maklik in die sterre
wat guitig knipoog, en die maan
wat soms breëmond lag.
En jy hoor duidelik as hulle almal
– die son, die maan, die sterre, wind en wolke –
uitbundig juig, of verwonderd fluister:
God is groot, Hy is onmeetlik groot.
Lees Psalm 19:8-12 | 28 Januarie
U wet
Here, ek ken u wet
en ek begryp alte goed
wat U van my, u kind, verwag.
En, nee, dit is nie moeilik nie.
Ek weet wel hoe swaar dit is om dit na te kom.
Uit dure ondervinding weet ek, Here, dat u wet
onder meer aan my gegee is om my teen myself
te beskerm. Dat dié gebooie nie deur U uitgedink is
om my in te perk nie, maar dat dit u liefdesplan is –
’n manier om te keer dat ek my weer eens noodlottig
toespin in selfgesentreerdheid en eiewaan, ’n web
van magsvertoon en, onafwendbaar, uiteindelik onreg.
U wet gee aan my die energie
wat net ’n nuwe doelwit kan regkry.
Op ’n verstaanbare manier moedig dit
my aan om die regte dinge te doen en te sê.
U wet maak my bly, en die helderheid
daarvan maak my oë groot en blink,
omdat dit aan my die regte insig gee.
En as jy lank genoeg daaraan herkou,
leer ken jy die smaaklikheid daarvan.
Dit alles maak dat ek nie genoeg kan kry nie,
dat ek soos ’n kind nóg en nóg wil hê, Here!
Boonop weet ek dat die beloning
wat daaruit voortkom, groot is:
Hulle wat u wet ter harte neem, is skatryk.
Leer my dan, Here, om die gulde geleentheid
wat U my gee met alles wat ek het, aan te gryp.
Om hierdie oorvloed
dankbaar te ontvang
en met hart en siel en liggaam
dié soetheid gate uit te geniet.
Lees Psalm 19:13-15 | 29 Januarie
Gedagtes, woorde, planne
Here, U ken my beter as wat ek myself ken:
U lees my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
U ken my planne
terwyl ek hulle heimlik beraam.
U hoor my woorde
wanneer dit agter in my keel huiwer.
Daarom, Here, keer my as ek dom dinge bedink!
Voordat ek dit later ten uitvoer bring
in die waan dat dit goed en gepas is.
My ondeurdagte optrede is ’n verleentheid
vir my, vir die mense wat my liefhet,
én, vermoed ek, ook vir U.
Help my reg, voordat ek my naam
deur die modder sleep
en u Naam in oneer bring.
Ek weet nie aldag hoe ek dit met myself het nie;
ek is nie altyd seker of ek bloot
dom en sonder insig is nie,
of net maar hardkoppig en moedswillig.
Ai, Here!
U weet hoe dikwels ek gruwelik oortree
deur dinge te dink en te doen en te sê
– soms onbewustelik, dikwels gewoon onnosel –
wat U seer maak en u saak skade aandoen.
U weet ook hoe maklik dit ’n gewoonte word;
hoe vinnig hierdie soort optrede my baas word.
Maak my vry van dié verknegting, Here.
Bind my vas aan u gedagtes,
u planne vir my,
en aan die woorde wat U my voorsê,
o Bevryder, o Skuilplek.
Lees Psalm 20 | 30 Januarie
Vir dié wat regeer, o Heer …
Here, U is die Koning van die konings
en die Heerser oor die heersers.
Hoor dan my gebed vir die heersers in ons land:
Staan hulle by in hul hulpeloosheid, gee hulle raad.
Onderskraag hulle, Here,
help hulle met die soort krag waaroor net U beskik,
sodat hulle op húl beurt u kinders kan beskerm.
Ons wat so smag na ’n rustige en stil lewe tot u eer,
ons tree vir ons regeerders in:
Tree hulle tegemoet, Here!
Hoor hulle wanneer hulle by geleentheid u Naam op hul lippe neem,
en sien hulle in liefde aan wanneer hulle u altaar besoek.
Seën asseblief die planne wat hulle maak om u kinders goed te regeer.
En wanneer ons ’n vlag swaai en ’n pryslied sing,
sien en hoor dan ons eerbetoon wat ten slotte tot U gerig is,
o Koning van die konings, o Heerser oor die heersers.
Want as ons ons liefde teenoor die vaderland betuig,
spel ons “Vader” met ’n hoofletter.
En wanneer ons opnuut ons aan vrede verbind,
doen ons dit in u Naam, Vredevors.
Konings kom en gaan, en heersers haal dikwels nie die paal nie.
Hulle raak soms die spoor byster wat U voor hulle uit getrap het.
Hulle volg hul eie kop en begeertes,
hulle soek na agting en eerbetoon –
en dan is hul val groot en die oneer wat hulle te beurt val,