waarheen ek roep.
Ás U hoegenaamd … is.
Sonder dat ek wil, dink ek my die troosteloosheid in
van ’n lewe sonder God.
’n Wêreld met ’n doofstom God is ’n woestyn.
My bors trek toe wanneer ek die moontlikheid oorweeg
dat God vir altyd weg is. Dat Hy my alleen gelaat het,
dat ek voortaan my eie potjie sal moet krap.
Kyk net hoe weerloos laat dit my wanneer U
nie antwoord as ek op my knieë gaan om te kla nie …
Hulle het dit toe maklik reggekry, Here:
Ek wonder oor U.
Ek twyfel aan U.
Hulle sê: Nog net ’n klein tydjie,
en nóg ’n gelowige se geloof het afgesterf.
Hulle juig oor hul oorwinning – boosheid is bó!
Dit moet anders wees, Here;
dit moet soos altyd wees.
Soos die keer toe U my sonder twyfel gehoor het;
toe U my gou gehelp het, dadelik verlos het.
Die dae toe ek nog maklik oor God kon juig
en sonder om twee keer te dink ’n psalm kon sing.
Nou bly U al so lank stil.
Nou kan ek nie meer nie.
Lees Psalm 14 | 18 Januarie
Dwaasheid
Dit is ironies dat ek my oor ander mense
se dwaling verlekker, Here, eintlik belaglik.
En oneerlik, want ek is nie anders as hulle nie.
Ek hou my maar so vroom, so ordentlik,
maar my hart dra dieselfde dwaasheid.
En U weet dit.
U kyk ook na my
om te sien of ek nie straks anders is nie,
of ek nie minder afstootlik as hulle is nie.
Maar toe is ek inderdaad ook een van “hulle” –
met weliswaar die skyn van insig en godsvrug.
My sogenaamde intellek spreek die laaste woord:
Ek glo nie ek glo nie.
Hoe is dit dan dat U steeds in mý glo?
Hoe weier U dan om my “nee” vir ’n antwoord te aanvaar?
U sê “tóg” – en dan kom haal U my
en maak vir my weer plek by U.
U tel my by die regverdiges.
U onthou steeds die tyd
toe ek by U gaan skuil het.
Eenmaal my kind, sê U, áltyd …
Al is jy onder dié wat nié goed doen nie, doen Ek goed aan jou.
Al het jy moed opgegee met My, het Ek jou nooit afgeskryf nie.
Wat moet ek hierop sê, Here?
Dat ek, die afdwaler, tog hiér is?
Steeds in die skuilplek wat U nog altyd vir my was,
wagtend op die dag dat U die boosheid
finaal gaan ontmasker, wanneer U die geskiedenis
gaan skryf soos oorwinnaars dit maar doen?
Ja, ek is hier, Here, hier by U.
Ek was nog altyd hier,
ten spyte van my dwase praatjies.
Lees Psalm 15 | 19 Januarie
Ek kwalifiseer nie
Hoe bevoorreg is hulle wat by U tuis mag wees, Here!
God se gaste …
Dink net, hulle kan dit oor en oor vir hulleself sê
en, tipies mens, trots aan almal fluister:
“Ek gaan tuis by Hóm …”
Ek kwalifiseer egter nie.
Om doodeerlik te wees, Here, ek voldoen nie
eens naastenby aan daardie voorwaardes nie:
die “onberispelik leef”, die “regverdig optree” – só is ek nie.
Ek kan nie met ’n rein gewete sê ek doen nie my naaste
kwaad aan nie. En ek kan nie sê ek skinder of spot nie.
Ek kies nie altyd soos U kies nie.
En wat moet ek sê oor my finansiële filosofieë,
my houding oor geld en besittings …?
Daarom sal ek liewer van u woonplek wegbly;
ek sal nie daarop aandring om in te kom nie.
Ek sal my plek ken.
Ek ken ook my eie veragtelikheid;
ék, wat van beter moet weet;
ék, wat nooit by my goeie voornemens hou nie;
ék, wat ook maar my seile na die wind span
en my sake só plooi dat ek ’n behoorlike wins maak.
U tent bly dus vir my gesluit.
U heilige berg dra ’n kennisgewing: Geen toegang!
Maar hoe kán ek op ’n ander plek as by U wees?
Hoe oorleef ek as U ver is?
Ag, Here, ek is hier;
ek is hiér, met al my bagasie,
al die skuld wat my laat krom loop.
Kyk dan net hoe vuil is die hande
waarmee ek aan u deur bly hamer:
Kan ek … mág ek maar inkom, asseblief?
Lees Psalm 16:1-4 | 20 Januarie
Die enigste God
Soos altyd, Here, sing ek hierdie lied
vanuit die veiligheid van my skuilplek.
Soos altyd staan ek vas en stewig by U,
en vanaf hierdie stoere rots kan ek roep:
“Julle wat ander gode dien – hoor tog hier!
Daar is niks goeds aan wat julle doen nie;
dit gaan vir julle net ellende bring.
Luister na my – ek praat uit ondervinding …”
Ja, Here, U weet tog dat ek
my geluk ook by daardie spul
gaan soek het. Hoe skaam ek my
nie oor dié flirtasie met die gode nie!
Ek het mos daar gaan kuier,
gou-gou gaan besoek aflê ...
en toe oorweeg om daar te bly.
Alles lyk so goed by hulle,
so aantreklik, so aanloklik.
Totdat jy die prys bereken …
“Hoor tog, julle wat dink
om daardie pad te kies:
Ek