Gert van der Westhuizen
Sportredakteur van Beeld
Inleiding
EK WAS 30 jaar oud toe ek in 1980 gekies is as die eerste bruin man wat die Groen-en-goud trui van die Springbokke oor sy kop kon trek.
Ek het hard gewerk en bloed gesweet en vasgebyt en deurgedruk om hierdie kleintyddroom te bewaarheid. Nie net om die beste aanvallende losskakel ter wêreld te word nie, maar om ook aan die skeptiese wit mense van daardie tyd – rugbyondersteuners én sekere van my spanmaats – te bewys ons is almal gelyk, velkleur maak nie saak nie, en as jy die talent en vaardighede het, moet jy toegelaat word om jou land op die hoogste vlak te verteenwoordig.
Dit was natuurlik nie net die wit gemeenskap wat teen my insluiting in die Springbokspan gekant was nie. Baie van my eie mense en ander Suid-Afrikaners wat nie destyds stemreg gehad het nie, anti-apartheidsaktiviste soos aartsbiskop Desmond Tutu en internasionale kritici het my afgeskryf as ’n token, ’n “Uncle Tom”, ’n sell-out, ’n verraaier wat toegelaat het dat die wit rugbybestuur my as politieke pion “misbruik” in ’n poging om hulle eie en die wêreld se gewetes te sus en die politieke druk op Suid-Afrika te verlig.
Hierdie mense was blind van woede omdat ek bereid was om in ’n Springboktrui – “die groot statussimbool van die apartheidsregering” – op rugbyvelde reg oor die wêreld uit te draf. Volgens my kritici het ek só gehelp om ’n onregverdige, onmenslike politieke stelsel te regverdig.
Maar tot vandag toe is ek nie oor ’n enkele besluit spyt nie. Ek voel nog presies soos ek destyds gevoel het: Ek was ’n sportman – nie ’n politikus nie. Ek kon rugby speel, maar het nie stemreg of enige sê in die politiek gehad nie – net soos die apartheidsregering en hulle onmenslike wetgewing geen sê in of beheer oor my sporttalent gehad het nie.
Soos destyds glo ek steeds geen nasionale span – ja, ook nie die Springbokspan – behoort vir politieke doeleindes gekies te word nie. ’n Nasionale span word saamgestel om in ’n internasionale toets te speel en verkieslik daardie toets te wen. En in só ’n toets speel jy nie net vir jouself nie; jy speel vir jou mense, vir Suid-Afrika.
Daardie Springbokbaadjie waaroor my kritici my destyds so verkwalik het, was en is my vreugde, my trots en my eer waarvoor ek op my knieë gegaan en God gedank het – niemand kan dit óóit van my af wegvat nie.
Maar hiermee probeer ek glad nie te kenne gee dat apartheid nie ’n verfoeilike politieke stelsel was nie. Natuurlik het ek ook gedink apartheid is boos, maar ek wou op my manier en met my talente vir Suid-Afrika en die res van die wêreld wys swart spelers is net so goed soos wit spelers, indien nie beter nie.
SEDERT MY UITTREDE 30 jaar gelede het rugby-aanhangers my al male sonder tal gevra wanneer ek dan eendag my outobiografie gaan skryf. Aan die een kant het ek nog altyd geglo wat op rugbytoere gebeur, moet geslote bly vir daardie uitverkore groep wat dit meegemaak het. Maar aan die ander kant is hierdie boek die voltooiing van een van wyle dr. Danie Craven (1910–1993) se meesterplanne.
Dok Craven, die langsdienende voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad (van 1956 tot met sy afsterwe), is een van my groot helde. Kritici verwys graag na ’n uitlating wat Dok glo lank gelede gemaak het dat swart mense oor sy dooie liggaam in ’n Springboktrui sal speel, maar vir my was hy ’n ware steunpilaar wat my regdeur my loopbaan aangemoedig én bemoedig het. Dis hy wat met elke onderduimse plan of politieke herrie wat om my kop losgebars het, getroos het: “Errol, ek hoop jy maak aantekeninge, want hierdie politieke gemors is alles padkos vir jou boek.” Dis ook hy wat gewaarsku het ek moet minstens 30, 35 jaar wag voor ek my hand op papier waag.
“Hoekom so lank?” wou ek weet.
“Wel, nie net sal jy dan wyser wees en verstaan waarom jy al hierdie struikelblokke moes oorkom nie, maar hopelik sal die mense wat jou nou so verguis, jou wéér oordeel en sien watter baanbrekerswerk jy verrig het.
“Oor 30 jaar gaan Suid-Afrika ’n totaal ander land wees as die een wat ons vandag ken: ’n land met ’n nuwe swart regering, ’n land waar almal stemreg het. Maar onthou een ding: Politici is almal dieselfde… Ek hoop nie jy gaan in die toekoms té geskok en teleurgesteld wees oor hoe min dinge in dié 30 jaar sal verander nie…”
En hoe reg was Dok nie! Laat ons dus nie doekies omdraai nie: Wat het stemreg régtig vir bruin en swart rugbyspelers in die sak gebring? Sekerlik nie groter blootstelling en speelkanse op internasionale vlak nie…
DIE SPRINGBOKSPAN is steeds wit. Hopeloos té wit. Politici is steeds politici. Rassisme vier steeds hoogty. En wat destyds met my en ander bruin spelers gebeur het, is steeds aan die orde van die dag. In 1984 was ek en Avril Williams die enigste bruin spelers in die Springbokspan; tydens die Wêreldbeker in 1995 was dit net Chester Williams; in 2005 het Breyton Paulse en Bryan Habana ’n kans gekry; en nou sit ons met die ondraaglike situasie dat twee werklik talentvolle spelers soos Gio Applon en Juan de Jongh nie kontrakte kry nie en waarskynlik hulle heil oorsee sal moet gaan soek…
Daarom moet die teikens wat die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) in sy nuutste strategiese transformasieplan uiteengegesit het – onder meer om te sorg dat minstens die helfte van sy spelersbasis op Springbok-, Superrugby- en Curriebeker-vlak teen 2019 swart is – met ope arms verwelkom word. Maar, soos ek ook in 2015: Waar staan ons vandag? verduidelik, is kwotas nié die oplossing nie. Op internasionale vlak is meriete al wat tel.
IN HIERDIE BOEK deel ek die hoogtepunte en laagtepunte van my loopbaan soos ék dit ervaar het. Sonder ompaaie. Sonder groot woorde. Sonder om byltjies te slyp. Sonder politieke modder. Al wat ek graag wil bereik, is om my reis met rugby te deel en in die proses hopelik lewendige debat aan te wakker en te help om die gebreke en leemtes in die stelsel uit die weg te ruim sodat Suid-Afrika – en veral Suid-Afrikaanse rugby – vinniger kan vorentoe.
Errol Tobias
15 Mei 2015
Gevleuelde woorde
Verskeie mense het my gedurende my loopbaan bemoedig. Hier is ’n paar van die aanhalings wat ek vandag nog koester.
“Errol, ’n deel van die publiek waardeer jou nog nie, maar dit sal verander die dag as jy nie meer met ons is nie. Maar hiervan kan jy seker wees: Jou kinders sal sukses proe.” – Oudpres. Nelson Mandela op ’n private ete by Genadendal, die presidentswoning in Kaapstad |
“Die Afrikaner glo in apartheid, maar hy glo ook in heldeverering. Hulle sal jou die eer gee wat jou toekom, maar suiwer gegrond op jou vertoning as Springbok.” – Dok Danie Craven |
“Wanneer jou grootste vyand se lyf met modder bedek is, moet jy nie sy kop ook onder die modder intrap nie. Steek jou hand uit en help hom – ’n mens weet nooit wanneer en waar in die toekoms jy dalk sy hulp gaan nodig kry nie. Los eerder ’n vriend agter.” – My vader, Josef |
“Beheer jou emosies. Die vreugde om ’n wit opponent te lak moenie álles wees nie. Speel die bal, nie die man nie. Daar is geen groter vreugde as om die veld met meer punte op die telbord te verlaat nie. Help jou opponent van die grond af op ná ’n duikslag. Toon selfrespek en moenie jou menswaardigheid verloor nie.” – Die rugbyafrigter en -administrateur Dougie Dyers |
“God is lief vir jou, jy is geseënd met die woord ‘die eerste’… Maak dus seker wat jy ook al die eerste doen, vir ’n eerbare en reine saak is.” – Prof. Daan Swiegers, oud-Springbokspanbestuurder, nadat ek die eerste bruin man geword het
|