Errol Tobias: Suiwer Goud. Errol Tobias. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Errol Tobias
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624071907
Скачать книгу
moes inglip waar hy in lande onder beheer van diktators soos Paraguay, Chili en Uruguay gespeel het en in twee toetse kragte gemeet het met ’n Argentynse span wat weens politieke redes as die Jaguars vermom was. Die Bokke was, ondanks die eerste swart speler in hul geledere in meer as agt dekades, nie in Argentinië welkom nie. Die Argentynse regering wou nie eens sy span toelaat om in die kleure van Argentinië elders op die vasteland of ter wêreld teen die Springbokke mee te ding nie.

      Tobias het nie in ’n toets op dié toer gespeel nie. Hy het sy toetsbuiging eers die volgende jaar (as senter) teen Ierland op Nuweland gemaak. Hy het ook in die tweede toets in Durban gespeel en sy skaflike vertonings het hom ’n seker keuse vir die toerspan van 1981 na Nieu-Seeland gemaak. Dit was die eerste Springbok-toer in 16 jaar na Nieu-Seeland en niemand het eintlik geweet presies wat om te verwag nie. Dat daar teenstand sou wees, was gewis. Aktiviste in Suid-Afrika en Nieu-Seeland was hewig teen die toer gekant. ’n Organisasie genaam Halt All Racist Tours was aan die voorpunt van diegene wat die Springbokke nie in Nieu-Seeland wou hê nie. Maar dit was nie net politieke aktiviste wat die Bokke onwelkom wou laat voel in Nieu-Seeland nie. ’n Versoekskrif met meer as 3 000 handtekeninge waarmee inwoners van Auckland en Dunedin die Springbokke gevra het om uit hul land weg te bly, is na die SARR gestuur. Dit het bekend gestaan as die “Book of Unwelcome”. Bruce Robertson, ’n All Black wat in 1976 in Suid-Afrika getoer het, het geweier om teen die Springbokke te speel. So ook Graham Mourie, kaptein van die All Blacks. Naïewe Suid-Afrikaners het geglo die teenwoordigheid van Tobias en Abe Williams, ’n bestuurslid, in die toerspan sou genoeg wees om teenstand te laat vermurwe; om te wys Suid-Afrikaanse rugby-owerhede is ernstig in hul voorneme om weg te beweeg van apartheid; om rugby normaal te probeer maak in ’n abnormale samelewing.

      Hulle is wreed ontnugter. Die toer het Nieu-Seeland as’t ware in twee geskeur. Dit het in ’n burgeroorlog ontaard met die polisie in die middel. Gewelddadige botsings was aan die orde van die dag. Die Springbokke moes in Hamilton magteloos uit die paviljoen toekyk hoe betogers die veld beset en die wedstryd afgelas word. Nog ’n wedstryd is weens veiligheidsredes afgelas. Glasstukke en rookbomme is op velde gegooi. Stadions is later met doringdraad omhein en deur die polisie bewaak. ’n Spesiale polisie-eenheid is op die been gebring om die Springbokke te beskerm. Die Springbokke kon dikwels nie eens in hotelle slaap nie en moes op ’n keer op ’n muurbalbaan oornag. Die derde toets in Auckland is voorafgegaan deur bloedige botsings tussen die polisie en betogers in die strate naby die stadion. ’n Ligte vliegtuig het gedurende die wedstryd op spelers afgepeil en hulle met meelbomme bestook. Een daarvan het Gary Knight, All Black-stut, neergevel.

      ’n Kort besoek van drie wedstryde daarna aan die Verenigde State van Amerika het óók tot betogings gelei. Die eerste toets ooit tussen Suid-Afrika en die VSA het gewys in watter benarde internasionale posisie Springbok-rugby was. Dit is in die geheim op ’n poloveld gespeel. Net meer as 30 toeskouers het dit na raming gesien. Selfs lede van die toerspan het nie eens geweet die wedstryd word gespeel nie. En dit in die VSA, ’n land wat anders as Nieu-Seeland nie juis vir sy rugby bekend is nie.

      Die toer van 1981 deur Nieu-Seeland en die VSA het feitlik alle rugbydeure finaal vir Suid-Afrika laat toeklap. Die Springbokke sou in die volgende dekade net vyf keer in aksie wees: twee keer teen die Jaguars, een keer teen Engeland, hulle was in 1986 gasheer vir ’n rebellespan uit Nieu-Seeland (die Kavaliers) en het in 1989 twee toetse teen ’n Wêreldspan gespeel om die honderdjarige bestaan van die SARR te vier. Die All Black-toer van 1985 is afgelas en die Springbokke het toe maar noodgedwonge in daardie jaar van noodtoestande en toenemende politieke onrus deur Suid-Afrika getoer en ’n klompie wedstryde gespeel waarvoor amptelike nasionale kleure nie toegeken is nie. Die Britse Leeus het ook besluit om hul voorgenome toer in 1986 af te stel. In 1987 het ’n span van die Suidsee-Eilande, die Suidsee Barbarians, deur Suid-Afrika getoer. Hulle het nie teen die Springbokke gespeel nie.

      Die toer van 1981 was allesbehalwe ’n hoogtepunt vir Tobias. Hy het ook onder betogers se tonge deurgeloop omdat hule hom as ’n “Uncle Tom” beskou het. Die skandalige manier waarop hy deur Johan Claassen, bestuurder, en Nelie Smith, afrigter, behandel is, is welbekend. Hy het hom egter nie laat onderkry nie. Sy grootste Springbok-oomblik het drie jaar later aangebreek met die toer van die Engelse toerspan deur Suid-Afrika. Hy was 34 jaar oud – effens lank in die tand vir ’n agterspeler en veral ’n losskakel, is in sommige kringe gebrom. Maar watter ware rugby-fynproewer sal ooit Tobias se spel vir die Proteas teen die Engelse vergeet? Sy dodelike kurktrekker-lopies waarin hy soms die spot met die Engelse verdedigers gedryf het deur die bal na hulle toe uit te hou; so al asof hy hulle uitgedaag het om dit by hom af te neem. “Hy is nie bruin nie,” het die Engelse afrigter, Dick Greenwood, opgemerk. “Hy is suiwer goud.” Die tweede toets in Johannesburg was seker sy beste in ’n Bok-trui. Hy het op Ellispark nóg ’n mylpaal behaal deur die eerste swart Springbok te word wat ’n toetsdrie vir Suid-Afrika druk. Tobias was teen dié tyd nie meer die enigste swart Springbok nie; die vleuel Avril Willliams het ook in die twee toetse teen Engeland gespeel. Vandag kan ’n mens net wonder hoeveel ander swart spelers deur die jare van apartheid nie soos Tobias en Williams ’n aanwins vir die Springbokke sou gewees het as die beginsel van normale sport in ’n normale samelewing gegeld het.

      Dié slagspreuk het uiteindelik teen die einde van die 20ste eeu ’n werklikheid geword toe Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing ’n meerderheidsregering aan bewind geplaas het. Baie waarnemers van die Suid-Afrikaanse geskiedenis sal sê die druk wat organisasies soos Sascoc en Saru teweeggebring het, het gehelp om die einde van apartheid te verhaas. Hulle sal nie verkeerd wees nie. Hulle sal vra of mense soos Tobias werklik iets vermag het. Hy het tog nie die samelewing verander nie, sal hulle sê. Weer sal hulle nie verkeerd wees nie. Hy het wel vir die Springbokke gespeel. Maar die samelewing waarvan hy deel was, was allesbehalwe normaal. Dit het nie eens die skyn van normaliteit gehad nie: Tobias was beperk in waar hy kon bly, waar hy kon werk en vir wie, waar sy kinders kon skoolgaan, waar hy kon vakansie hou, waar hy kon koop, vir wie hy kon stem. Soos baie ander Suid-Afrikaners, ook wittes, kon hy nie eens lees wat hy wou nie. Die (wit) regering kon besluit het waar hy verpleeg word en waar hy eendag begrawe word. Bykans drie jaar nadat Tobias sy laaste toets vir die Springbokke gespeel het, kon mense soos hy nie eens swem waar hulle wou nie. Selfs nie eens as jy soos eerwaarde Allan Hendrickse ’n kabinetsminister was nie.

      Iemand soos Tobias was ook nie vir almal in sy eie rugbywêreld aanvaarbaar nie. Wit spelers het oor hom gebrom. Beamptes was hom openlik vyandiggesind. Gits, in 1987 het twee rugbybase (Boetie Malan van Noordoos-Kaap en Daan Nolte van Oos-Transvaal) hulle tot verkiesbaar gestel as kandidate vir die Konserwatiewe Party (KP). Die KP, onder die uiters konserwatiewe leiding van die voormalige skrumskakel van die Suidwestelike-Distrikte, dr. Andries Treurnicht, het glad nie aan normale sport geglo nie. Hulle wou sport én die samelewing abnormaal probeer hou. Die Konserwatiewes was onder meer heftig gekant teen gemengde Cravenweek-rugbyspanne. Springbok-spanne met Tobias en Williams in die geledere was vir hulle ’n spreekwoordelike steen des aanstoots.

      Die feit dat Tobias sy rugby in ’n grootliks rassistiese samelewing gespeel het en volgens sommiges bloot op siniese wyse deur wit rugbybase misbruik is om die wêreld oor die ware toedrag van sake in Suid-Afrikaanse sport te probeer mislei, word nou nog soms teen hom gehou. Maar die geskiedenis se oordeel is nooit só eenvoudig nie; al is dit ook net sport-geskiedenis. Die Tobias-verhaal het ook ’n ander kant. Dit móét vertel én gelees word. Dit is ’n verhaal wat vertel van ’n man wat sy hele rugby-loopbaan moes veg teen vooroordele en ’n onregverdige bestel. ’n Dapper en talentvolle man wat die geringe kanse wat hy laat in sy loopbaan gekry het aangegryp het en gebruik het. ’n Man wat grense, rassegrense, oorgesteek het in sy verdeelde land waar geen keuse ooit maklik was nie. Anders as Saru-spelers en beamptes wat in die apartheidsdae vir wittes meestal gesigloos en anoniem was en maklik as “agitators” afgemaak is, was Tobias op hul rugbyvelde en televisieskerms te sien. Hy het bewys swart spelers is net so goed, indien nie beter nie, as wittes. Daarom wil ’n wit man jare later in ’n lughawe-restaurant graag Tobias se hand skud omdat hy hom soveel rugby-plesier verskaf het, omdat hy gehelp het om oë oop te maak, gesindhede te verander. Daarom het toeskouers op Loftus Versfeld hom staande toegejuig. Daarom het wit seuntjies van ’n konserwatiewe Vrystaatse dorp soos Hoopstad al in 1980 op die Vrystaat-stadion tou gestaan om net aan Tobias te raak of sy handtekening te kry; iets wat bykans ondenkbaar was in die Suid-Afrika