Errol Tobias: Suiwer Goud. Errol Tobias. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Errol Tobias
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624071907
Скачать книгу
on>

      

      Errol Tobias: Suiwer Goud

      Tafelberg

      “Errol Tobias is nie bruin nie, maar suiwer goud.”

      – Die Engelse afrigter Dick Greenwood nadat sy span op 23 Mei 1984 die Proteas net-net geklop het

      Voorwoord

      – DOUGIE DYERS, voormalige spanmaat, afrigter en administrateur

      ERROL TOBIAS het die smalle weg bewandel en met moed, suiwer geloof en sy buitengewone talent en vaardighede as rugbyspeler die mite die nek in geslaan dat mense van kleur nie goed genoeg is om Suid-Afrika op die rugbyveld te verteenwoordig nie.

      Dit was ’n geskiedkundige dag toe die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie onder aanvoering van Cuthbert Loriston en sy komitee besluit het om nouer bande met die Suid-Afrikaanse Rugbyraad te smee en te eis dat mededinging en spankeuses suiwer op meriete geskied en ook op skool-, klub-, provinsiale en nasionale vlak geïntegreer word. ’n Maklike pad was dit nie, maar die Federasie se geloof in sy mense en die gehalte rugby wat hulle speel was allermins misplaas.

      Ons is aan die diep kant ingegooi, maar het lofwaardige vertonings gelewer op rugbyvelde hier en reg oor die wêreld, waar ons onder meer teen Engeland, Frankryk en die All Blacks te staan gekom het.

      Die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie het verskeie uitstekende spelers opgelewer, maar Errol Tobias staan onder hulle uit as een van die grotes wie se spel ons spelers én ons mense geïnspireer het. Hy is sekerlik een van die beste spelers saam met wie ek gespeel het en wie ek ook later afgerig het. Errol was stil, statig en vreesloos – ONS EERSTE SPRINGBOK!

      Errol het ook die weg gebaan vir ons jeug om op meriete Springbokke te word en hulle waardigheid te behou – en dít alles lank voor die demokratiese Suid-Afrika soos wat ons dit vandag ken ’n werklikheid was. Errol het ’n wonderbaarlike bydrae gelewer tot wêreldrugby en is die verpersoonliking van die klassieke gesegde Cometh the hour, cometh the man.

      Voorwoord

      – ROB LOUW, oud-Springbok en voormalige span- en kamermaat

      “BOESMAN!”

      “JA, BOERTJIE!”

      Dis hoe ek en Errol jare al met mekaar praat – van die dag wat ek hom ontmoet het, regdeur die rugbytoere wat ons saam meegemaak het, tot vandag toe. Hy was ons eerste swart Springbok, ’n ongelooflike rugbyspeler wat grense oorgesteek en afgebreek het. Tog het niemand van ons destyds geweet wat régtig in sy agterkop aangaan of onder watter ongelooflike druk hy verkeer nie.

      Ek het oneindige respek vir Errol se toewyding, karakter en sy lojaliteit aan Suid-Afrika, sy gemeenskap en sy familie. Ek hoop hy praat in hierdie outobiografie reguit oor sy moeilike tyd as Springbok, maar ook oor die lekker tye wat ons in 1981 as kamermaats op die omstrede toer na Nieu-Seeland gehad het.

      Errol, eendag sal jy die applous kry wat jy verdien vir jou vasberadenheid en dapperheid om grense af te breek en oor te steek.

      Sport en ras in Suid-Afrika: ’n Kort geskiedenis

      Suid-Afrikaanse sport, kan ’n mens amper sê, is in politiek ontvang en gebore. Politici het al van vroeg af met sport begin lol. Dit was veral die kleur-samestelling van nasionale spanne wat hulle gepla het.

      So het Cecil John Rhodes, aarts-imperialis en destydse premier van die Kaap, die bruin snelbouler Krom Hendricks se insluiting in die Suid-Afrikaanse toerspan van 1894 na Engeland afgekeur. Hendricks moes by die huis bly hoewel hy allerweë beskou is as een van die beste snelboulers van sy tyd.

      Sy enigste “sonde” was die kleur van sy vel.

      Sommiges het voorgestel hy moes die span as bagasiemeester vergesel, lees ’n mens in Dean Allen se Empire, War & Cricket in South Africa. Maar Hendricks was nie daarvoor te vinde om op hierdie manier verneder te word nie. A.B. Tancred, ’n lid van dié toerspan wat deur Rhodes geborg is, was kwaad omdat Hendricks nie sy spanmaats se tasse wou dra en miskien ’n wedstryd of drie speel as die toestande hom sou pas nie. Dit was nie net ondenkbaar om hom as gelyke saam te neem nie, het Tancred gesê. Dit sou volgens hom ook onhoudbaar gewees het.

      Sulke houdings teenoor sportlui van kleur het vererger en mettertyd die norm in die wit Suid-Afrikaanse samelewing geword. Hulle kon glad nie saam met wittes aan sport deelneem nie, al was hulle ook hoe goed. Die moontlikheid van sogenaamde veelrassige of gemengde spanne was vir baie ondenkbaar.

      Dit het erger geword in die jare van segregasie in die eerste helfte van die 20ste eeu voor dit in wetgewing vasgelê is nadat die Nasionale Party in 1948 met sy beleid van apartheid aan bewind gekom het.

      Die lande teen wie Suid-Afrika op sportgebied meegeding het, het dié stand van sake aanvaar omdat internasionale sportliggame oor die algemeen deur konserwatiewe wittes beheer is. Hulle het steeds teen wit Suid-Afrikaanse spanne meegeding en nie enige spelers van kleur in hul eie spanne ingesluit nie. Die Nieu-Seelandse Rugby-unie het in 1949 en 1960, nes in 1928, nie Maori-spelers in sy toerspanne na Suid-Afrika ingesluit nie.

      Die stille goedkeuring van Suid-Afrika se rasse- en sportbeleid sou egter nie vir lank nog voortduur nie. Die era ná die Tweede Wêreldoorlog met al sy gruwels was immers, so anders as in Suid-Afrika, een van gelykheid, bevryding en menseregte.

      Druk van buite het oorsese sportowerhede anders laat begin dink. Die Springbok-toerspan van 1960–61 deur Brittanje en Frankryk het met betogers te doen gekry. Dit was op baie klein skaal in vergelyking met die teenstand wat later Springbok-spanne in die buiteland sou begroet, maar dit was ’n bewys dat daar mense was wat ontevrede was met Suid-Afrikaanse rassisme, ook op sportgebied. In Nieu-Seeland is al hoe meer in die openbaar kapsie gemaak teen die uitsluiting van Maori’s uit toerspanne na Suid-Afrika. Die manier waarop die Nieu-Seelandse rugby-owerhede keer op keer hul landgenote verneder het om Suid-Afrika se rassebeleid terwille te wees, het stemme ten gunste van die verbreking met sportbande met Suid-Afrika laat opgaan.

      Dit het ook nie net by betogings en openbare uitsprake gebly nie. Suid-Afrika het in 1960 aan Rome die laaste keer vir meer as 20 jaar aan die Olimpiese Spele deelgeneem. Die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) het Suid-Afrika uitgeskop. Wit Suid-Afrikaanse spanne was duidelik nie meer oral in die wêreld welkom nie.

      Dié teenstand het soms tot belaglike “hervormingspogings” in Suid-Afrika gelei. So het die regering onder meer ingestem dat swart boksers wel gekies kan word om Suid-Afrika te verteenwoordig, maar hulle mag onder geen omstandighede op dieselfde vliegtuig as hul wit spanlede na die buiteland reis nie. In ’n poging om Fifa te paai, het die plaaslike sokker-owerhede voorgestel dat ’n wit span in die kwalifiserende wedstryde vir die Wêreldbeker-toernooi van 1966 uitdraf en dat ’n swart span moet probeer om Suid-Afrika vir 1970 se toernooi te laat kwalifiseer. Swart mense kon hul land dus af en toe verteenwoordig, net nooit in een span saam met wittes nie.

      Dit het, nodeloos om te sê, nie veel indruk elders in die wêreld gemaak nie. Die teenstand teen Suid-Afrika se rassistiese sportbeleid het verder toegeneem. In 1963 is die South African Non-Racial Olympic Committee (Sanroc) in Londen gestig om saam met ander Suid-Afrikaanse uitgewekenes stukrag aan dié veldtog teen rassisme in sport te gee.

      Suid-Afrikaanse rugby is aanvanklik nie veel deur internasionale veldtogte geraak nie: in die eerste helfte van die jare 60 het die Springbokke in Brittanje, Ierland, Frankryk, Australië en Nieu-Seeland getoer en gasheer gespeel vir Skotland, die All Blacks, Ierland, die Britse Leeus, die Wallabies, Wallis en Frankryk. Bande met Argentinië is ook hernieu met ’n Junior Springbok-span (1959) en ’n Gaselle-span (1966) wat in dié Suid-Amerikaanse rugbyland getoer het.

      Die Springbok-spanne was steeds wit en apartheid het op die paviljoene gegeld waar swart toeskouers luidkeels die oorsese spanne vanuit hul afgekampte swakker sitplekke (gewoonlik iewers hoog, skuins agter die pale) aangemoedig het. Dit het dan en wan tot opstootjies gelei, maar die rugbybase het nie omgegee solank die Springbokke nog in aksie was nie.

      Tog sou die onversetlike houding van die apartheidsregering spoedig ook Suid-Afrikaanse rugby se internasionale verhoudings vertroebel. Die Springbok-toerspan van 1965 was nog in Nieu-Seeland toe dr. H.F. Verwoerd, die destydse premier, dit in sy