Trompie Omnibus 3. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie Omnibus
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798166836
Скачать книгу
sterk en gesond en ’n kragman wil wees, hy net ’n klein bedraggie moet betaal. Dis nie baie in ruil vir al Zarko se geheime oor hoe om ’n spierdier te word nie. Sodra Trompie daardie bedrag betaal het, sal hy deel in al die voorregte wat Zarko se leerlinge geniet.

      In sy naskrif verseker Zarko Trompie weer eens dat hy wat Zarko is, sy ewige en getroue vriend en raadgewer sal wees, maar natuurlik eers nádat hy die skamele ou bedraggie ontvang het. Om te bewys dat hy dink Trompie gaan een van sy puikste studente word en dat hy nog baie trots op hierdie Trompie Toerien van Kwaggaberg gaan wees, bied die kragman hom selfs ’n baie spesiale afslag op hierdie fooi aan. Wat dink Trompie van hierdie goedgunstige aanbod?

      Zarko sluit af met die hoop dat hy binne enkele dae van Trompie sal hoor. Hy waarsku Trompie ook dat daar duisende mans is wat regstaan om studente van die beroemde Zarko te word. Trompie moenie tyd verkwis nie. Hy moet dadelik terugskryf en sy “tjekkie” pos.

      Trompie staar mismoedig voor hom uit. Dit gaan nog jare wees voor hy ’n tjekboek sal hê en so ’n ontsaglike klomp geld sal kan betaal om ’n kragreus te word. Dit lyk vir hom Zarko dink hy is ’n groot man en nie ’n graadnegetjie nie.

      Die Boksombende se Grootkaptein besluit hy sal maar sonder die beroemde Zarko se raad en vriendskap moet klaarkom. Sy vyande sal voorlopig nie bleek word as hulle hom in die straat sien afloop nie en die mense – veral die meisies – sal hom nie met bewondering aanstaar nie. Hy sal maar net eenvoudig van al hierdie dinge moet vergeet. Hy kan dit nie bekostig nie. Soos sy ma sê: “’n Mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie.”

      Trompie kyk na die pamflet wat ook in die koevert was. Daar is ’n foto van ’n ding wat ’n mens glo geweldig breë skouers en gespierde arms sal gee as jy dit gebruik. Dit lyk soos ’n stywe rekband met ’n handvatsel aan elke kant.

      Hy lees die instruksies sorgvuldig. Soos hy dit verstaan, kan ’n mens enige soort oefeninge met hierdie ding doen. Jy hou ’n handvatsel in elke hand vas en kyk dan hoe ver jy jou hande van mekaar af kan wegtrek. Jy kan hierdie oefening voor jou borskas doen, agter jou kop en voor jou voete. Jy kan allerhande verskillende goed met die rekband aanvang en dan kry jy op die ou end breë skouers en gespierde arms.

      In die pamflet sê Zarko hy het sy wonderlike gesonde liggaam en spierkrag net aan hierdie rekband te danke. Hy noem dit ’n Bonzo en beveel die rekband vir almal aan. As dit nie vir hierdie Bonzo was nie, sou hy, Zarko die Grote, vandag nog steeds tengerig en sieklik gewees het. Zarko erken ruiterlik dat sy kursus nie veel sal help as ’n mens nie ook jou eie Bonzo aanskaf nie.

      Trompie kyk weer na die foto van die rekband. Die Bonzo kos ’n hele paar rand, maar is baie goedkoper as Zarko se kursus. Trompie meen hierdie ding gaan genoeg wees om hom sterk en gespierd te maak. Dan het hy mos nie Zarko se duur raad en vriendskap nodig nie.

      Hy voel skielik weer optimisties. Hy het weer hoop dat sy vyande tóg sal bleek word as hulle hom sien en dat die mense – veral die meisies – hom een van die dae met bewondering gaan aankyk.

      Dit behoort nie té onmoontlik te wees om geld vir die Bonzo in die hande te kry nie. Hy sal wel ’n plan kan maak.

      Dié aand maak Trompie al sy eerste paar rand. Dit is die maklikste geld wat hy nog ooit verdien het. Hy kry dit deur net eenvoudig te sit.

      Die ding kom só. Trompie sit in sy kamer en huiswerk doen. Sy ouers kuier by die bure. Sy suster, Anna, en haar kêrel, Jan van Dyk, is in die sitkamer.

      “Hulle sit seker en handjies vashou,” brom Trompie by homself, “plaas dat Anna liewer vir my wat so hard werk, gaan tee maak.”

      Dan begin dink hy weer aan moontlike planne om geld te maak. Skielik kry hy ’n idee. Hy knipoog vir homself in die spieël. Hy is sowaar ’n beeld van ’n man – en slim daarby.

      Buite reën dit hard. Die twee verliefdes sal nie op die stoep kan gaan sit as hy hulle geselskap opsoek nie. Hulle sal daar in die sitkamer by hom moet bly sit en hulle sal nie voor hom wil handjies vashou nie. So hulle sal met hom moet onderhandel. Trompie knipoog weer vir homself in die spieël. Dit gaan maklik wees.

      Hy staan op en stap in die gang af sitkamer toe. Hy hoes toe hy naby kom. Hy hoor die rusbank se vere kraak soos wat die twee vinnig wegskuif sodat hulle darem nie te naby aan mekaar sit nie. So ja, hy was ordentlik genoeg om hulle te waarsku.

      Trompie stap by die vertrek in en gaan sit op ’n stoel voor die rusbank.

      “Naand, Jan,” sê hy sedig. Hy glimlag glad nie.

      “Naand, Trompie,” sê Jan met ’n sug.

      “Hallo, sus,” sê hy vir sy suster.

      “Ja, hallo.” Sy klink sommer baie vies.

      Die drie sit. Dit is stil in die sitkamer. Jan van Dyk kyk na sy hande. Die punte van sy vingers rus teen mekaar en sy duime draai om en om mekaar. Wanneer hy moeg word om sy duime in die een rigting te draai, doen hy dit in die teenoorgestelde rigting.

      Anna byt op haar lip. Sy kyk stip na die blompatrone op die mat. Dit lyk amper of sy die blomme tel. Trompie sit sommer net. Hy hoef nie te dink nie. Een van die twee op die rusbank sal wel eerste begin besigheid gesels. Al wat hy moet doen, is om stil te sit en wag.

      Niemand praat nie. Die stilte is amper ondraaglik. Uiteindelik sê Anna: “Trompie?”

      “Ja, sus?” glimlag hy vriendelik. Dis tyd om te onderhandel.

      “Het jy nie huiswerk of iets om te doen nie?”

      “Man, ja, sus, ek het nogal.” Dis al wat Trompie sê. Hy het besluit hy sal meer uitrig as hy so min moontlik praat. Hy moet net so hier voor hulle sit en na hulle kyk.

      “Nou hoekom gaan doen jy dan nie jou huiswerk nie?”

      “Ek sal nog.”

      “Wanneer?”

      “So oor ’n uur of twee,” sê Trompie en voeg dan droogweg by: “Ek rus nou eers bietjie.”

      ’n Uur of twee! Jan kyk mismoedig na Anna. Anna kyk mismoedig na Jan. Trompie sit sedig voor hulle en kyk hulle ernstig aan.

      Jan kug.

      Trompie sê effens te vinnig: “Ja, Jan?”

      “Ja, wat?”

      “Nee, niks. Ek dag jy wou iets sê.”

      “Nee, ek wou nie.”

      “Ekskuus,” sê Trompie. As Jan nie nou iets wil sê nie, sal hy wel later wil – daarvan is hy oortuig. Hy wonder hoeveel die omkoopgeld gaan wees.

      Dit is weer stil in die sitkamer.

      Dan kug Jan weer. Trompie sê dié keer niks nie. Sy wenkbroue word net vraagtekens.

      “Trompie?’

      “Ja, Jan?”

      “Hoekom gaan rus jy nie liewer in jou kamer nie?”

      “Man, Jan, die ding staan só: Al my skoolboeke lê daar rond en as ek die goed sien, word ek sommer naar.” Dan voeg Trompie ewe onskuldig by: “Maar as ek nou dalk iets anders het om aan te dink terwyl ek daar rus …”

      “Soos wat?” vra Jan en Anna gelyktydig.

      “Soos al die lekker lekkers wat ek môre vir my kan koop.”

      Trompie kyk aandagtig na sy ingeduikte skoenpunt. Hy loer onderlangs vir die vryers en sien hoe Anna haar kop vir Jan knik. Om sy aanval verder te versterk, sê Trompie met ’n swaar sug: “Maar ek het niks geld nie, so dit help nie ek dink aan lekkers koop nie – so ek rus nou maar hier by julle vir so ’n uur of twee, julle weet.”

      “Dink jy ’n paar rand sal jou help om in jou kamer te gaan rus?” vra Jan glimlaggend. “Dan kan jy mos dink aan watse lekkers jy môre daarmee gaan koop.”

      Trompie se hart bons. ’n Paar rand! Dis meer as wat hy verwag het!

      “Met