Trompie Omnibus 3. Topsy Smith. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Topsy Smith
Издательство: Ingram
Серия: Trompie Omnibus
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798166836
Скачать книгу
toe gaan neem. Hulle het belowe om hom daar by te staan. Die seuns hou nogal van Katrien. Sy is nie so aansitterig en snobisties soos Lucille nie.

      Dawie sê skielik: “Jissie ouens, ek is nou deksels lus vir lekkers.”

      “Ek ook,” mompel Trompie, “maar waar kry ons dit nou vandaan? Nommer een: ons het nie geld nie. En nommer twee: ons mag nie kafee toe gaan nie.”

      Die skoolreëls verbied leerders om in skooltyd by die kafee op die hoek te gaan lekkers koop. Maar as die nood regtig druk, mag hulle wel by wyse van uitsondering ’n oefeningboek daar gaan koop.

      “Ek het paar rand wat ek vanmiddag op kougom wou uitgee,” sê Blikkies, “maar ek sal suigstokkies daarvan koop as ons toestemming kan kry om kafee toe te gaan.”

      Suigstokkies. Dis presies waarvoor die seuns nou lus is!

      “Bedoel jy dit rêrig?” vra Trompie vir sy vriend.

      “Ja,” sê Blikkies aarselend.

      Hy het die ruimhartige aanbod gemaak omdat hy geweet het daar kan niks van kom nie. Nou voel hy egter onrustig. Hy hou nie van die manier waarop Trompie so ernstig sit en dink nie.

      “Gee die geld hier,” sê Trompie skielik. Blikkies oorhandig dit met ’n sug.

      “Hoe gaan jy toestemming kry?” vra Dawie vir Trompie.

      “Ek gaan Ou Bles reguit vra.”

      “Onthou, jy gee my geld terug as hy nee sê,” waarsku Blikkies.

      Die onderwyser – die kinders noem hom Ou Bles omdat sy hare begin yl raak – staan naby die skoolhek. Hy is op pousediens.

      Trompie stap manhaftig na hom toe. Hy hou die geld styf in sy hand vas. Dawie, Rooie en Blikkies loop ’n paar tree agter hom.

      “Meneer,” vra Trompie toe hy by die onderwyser kom, “mag ek en my vriende asseblief gou kafee toe gaan?”

      “Goed,” sê die onderwyser vriendelik, “maar jy weet natuurlik ek kan net vir jou toestemming gee as jy ’n oefeningboek gaan koop.”

      Trompie sluk en dan stamel hy: “Ja, Meneer, ek … ek … weet.”

      Die Boksombende stap vinnig weg. Trompie meen hy het nie summier ’n leuen vertel nie. Ou Bles het hom mos nie reguit gevra wat hy gaan koop nie.

      Wanneer hulle by die hek uitstap, hoor hulle die onderwyser se stem: “Trompie!”

      “Ja, meneer?” Trompie kyk om na Ou Bles. Daar is ’n glimlag om die onderwyser se mondhoeke toe hy sê: “Kom wys my die oefeningboek wat jy gekoop het wanneer julle terugkom!”

      Trompie se hart sak in sy skoene.

      “Ja, Meneer,” sê hy sag. Wat anders kan hy sê?

      Die vier seuns stap mismoedig kafee toe. Blikkies is omgekrap. Hy wil sy geld terughê. Hy het dit vir lekkers aangebied – nie vir ’n oefeningboek nie! Wie wil nou ’n oefeningboek hê?

      Trompie verduidelik dat hulle nou moet deurdruk. As hy sonder ’n oefeningboek by Ou Bles aankom, gaan hy detensie kry. Dis nou maar wors.

      In die kafee kyk die seuns met verlangende oë na die suigstokkies. Trompie sug en dan koop hy ’n oefeningboek.

      “Onthou net,” sê Blikkies kwaai, “jy skuld my nou daai geld.”

      “Nie as ek dié boek vir jou gee nie.” Trompie druk die oefeningboek onder Blikkies se neus in. “Dis joune. Ek gaan dit net vir Ou Bles wys, dan gee ek dit vir jou …”

      “Maar ek wil nie die simpel boek hê nie. Ek wil my geld hê. Ek wil vanmiddag kougom koop.”

      Met ’n sug sê Trompie: “Blikkies?”

      “Ja?” Sy maat kyk hom agterdogtig aan.

      “Sê net vir my een ding: kan ’n mens bloed uit ’n klip tap?”

      Ná ’n paar sekondes sê Blikkies: “Nee, seker nie.”

      “Nou ja, moet dan nie so onredelik wees nie. Jy weet mos ek het niks geld nie. En buitendien, dis ’n mooi boek hierdie. ’n Nuttige boek. Dink net hoe lekker gaan jy hierin skryf …”

      Blikkies besluit om nie verder te stry nie. Dis waar, ’n mens kan nie bloed uit ’n klip tap nie. Hy sal maar tevrede moet wees met die oefeningboek – iets wat hy glad nie nodig het nie. Nou moet hy vanmiddag weer grashalmpies kou!

      Toe die seuns by die skoolterrein inkom, stap Trompie dadelik na die onderwyser toe. Sy maats drentel ’n paar tree agter hom aan.

      “Hier’s die boek, Meneer,” sê Trompie en wys dit.

      “Dis goed,” sê die onderwyser met ’n glimlag, “nou kan jy lekker daarin skryf.” Daar is ’n ondeunde vonkeling in die man se oë. Trompie vermoed Ou Bles het geweet hulle wou gaan lekkers koop.

      Ná skool ry Trompie die middag vinnig huis toe. Hy het Zarko se vorm vanoggend eers gepos, maar mens weet nooit – miskien is daar al ’n antwoord. Die poskantoor maak soms vinnig met sulke goed! En hulle sal mos weet dis ’n haastige besigheid, want Trompie het Dringend! Opskud! in vet letters op die koevert geskryf.

      “Is daar pos vir my, Ma?” vra Trompie toe hy by die huis ingewaai kom.

      Mevrou Toerien kyk hom verbaas aan.

      “Pos vir jou? Wie sal vir jou skryf? Jy kry mos nooit briewe nie.”

      “Dis ’n besigheidsbrief, Ma. Groot besigheid.” Trompie probeer geheimsinnig lyk. “Dit sal seker môre hier wees.”

      Drie dae later is dit uiteindelik daar! Toe Trompie weer van die skool af kom en skree: “Het my brief gekom, Ma?” antwoord sy laggend: “Ja, maar kom eet eers.”

      “Ek is nie honger nie, Ma. Ek sal later eet.”

      Trompie gryp die brief en hardloop dadelik kamer toe. Hy gaan sit op die bed. Hy bewe van opgewondenheid. Versigtig skeur hy die koevert oop. Hy wil nie die brief – die baie belangrike dokument waarin die wonderlike Zarko vir hom sê wat hy moet doen om ’n kragman te word – beskadig nie.

      Daar is ’n lang, getikte brief en ’n pamflet in die koevert. Trompie begin die brief lees:

      Beste meneer Trompie Toerien

      Hartlik geluk met u wyse besluit! U is op die regte pad. U besef die waarde van ’n gesonde liggaam en gees …

      Trompie voel ’n gloed van tevredenheid. Hy lees die brief sorgvuldig deur.

      Zarko wens hom geluk dat hy so slim is om te besef daar is net een man wat hom sterk en gesond kan maak en dit is Zarko die Grote. Trompie voel gevlei, maar hy verstaan net nie hoekom Zarko hom gesond ook wil maak nie. Hy is mos nie siek nie!

      Die kragman sê dit is sy vurigste begeerte dat Trompie een van sy studente moet word. Hy wil graag hê Trompie moet ook een van die duisende gelukkige Zarko-volgelinge wees.

      Trompie se hart swel van trots wanneer hy lees dat Zarko glo hy gaan een van sy fluksste en beste studente wees. Zarko sê hy het dit sommer dadelik aangevoel toe hy Trompie se vorm kry. Hy gaan nog baie trots op Trompie wees!

      Zarko verseker Trompie dat hy nie net sy leermeester wil wees nie, maar ook sy raadgewer en vriend. Hy – Zarko die Grote – beskou dit as ’n besondere eer om Trompie Toerien as vriend te hê!

      Trompie is in die wolke oor hierdie wonderlike brief. Sy maats gaan baie jaloers op hom wees!

      Hy lees verder. Zarko vertel hom nou van die duisende manne wat kragreuse geword het, wat van ongeneeslike siektes genees is, wat vandag vol lewenslus en vreugde is en die wêreld as ’n speelbal beskou nadat hulle eers so swaar onder sy laste en sorge gebuk gegaan het.

      Dit is alles vir Trompie baie mooi en interessant, maar wanneer