Hy sug en gaan sit op die bed. Hierdie in-die-spieël-gekykery maak hom net moedeloos.
Maar dan besef Trompie hy het mos nog nie Zarko se raad oor hoe om spiere op te bou begin volg nie.
Hy voel nou weer heelwat beter.
Toe Trompie die lig afskakel, dink hy weer daaraan dat hy môre vroeg moet opstaan om die vorm in te vul sodat hy dit kan pos. Hoe gouer hy dit doen, hoe gouer sal Zarko – die sterkste man op aarde – vir hom wat Trompie is laat weet hoe hy ook so sterk kan word.
Dan, dink Trompie vakerig, gaan sy vyande bleek word as hulle hom net sien aankom. En wanneer hy in die straat afstap, gaan al die mense – veral die meisies – hom met bewondering aanstaar.
4
Trompie die kragman
Vroeg die volgende oggend is Trompie op die been. Hy kyk weer na die foto van Zarko – die sterkste man op aarde. Hy doen dan ’n paar oefeninge voor die spieël. As hy ook so sterk wil wees en sulke ysterspiere wil hê, moet hy nie nou tyd mors nie. Hy moet gereeld oefen sodat hy klaar fiks is teen die tyd dat hy Zarko se spesiale raad kry. Dan sal hy alles doen wat die kragman sê en binne ’n paar weke ’n tweede Zarko wees.
Trompie sit by die tafel in die sitkamer en vul die vorm sorgvuldig in. Dan stap hy na Anna se slaapkamer toe. Sy behoort mos al wakker te wees.
Hy klop aan die deur.
“Kom binne,” sê Anna.
Sy is nog in die bed.
“Jy slaap laat,” sê Trompie.
“Dis jy wat so vroeg op is.”
“Nee, dis jy wat so laat slaap.”
“Is nie!”
“Is!”
Die broer en suster stry soos gewoonlik weer.
Skielik bedink Trompie hom. Hy wil mos hê sy moet vir hom twee seëls en twee koeverte gee.
“Ek is nie hier om te stry nie,” sê Trompie.
“Nou waarom dan? Ek sê sommer nou al vir jou – ek het nie geld nie.”
“Ek kom nie geld vra nie.”
Anna wonder wat Trompie wil hê. Die enigste tyd wanneer hy ooit na haar kamer toe kom, is as hy desperaat geld soek.
“Onthou jy hoe het ek jou gisteraand met jou Engels gehelp?”
“Jy’t my nie gehelp nie. Ek het maar net ’n klein foutjie gemaak omdat ek oorhaastig was.”
“Ek het jou nog steeds ’n guns bewys, want nou sal jy nie meer dink jy praat en skryf so wonderlik Engels nie. Nou sal jy elke keer eers twee keer dink.”
“Wat daarvan?”
“Wel, nou moet jy vir my ook ’n guns doen.”
“Watse guns?”
Anna sit regop en kyk haar broer agterdogtig aan.
“Dis sommer net iets kleins …”
“Wat?”
“Twee seëls en twee koeverte. Dis al wat jy vir my moet gee omdat ek jou so met jou Engels gehelp het!”
Anna lag. Dit is darem nie te erg nie. Sy kry haar skryfblok van die tafeltjie langs haar bed en gee vir Trompie die seëls en koeverte.
“Waarvoor wil jy dit hê? Om vir meisies te skryf?”
“Moenie simpel wees nie. Ek sukkel nie met sulke nonsens nie,” sê Trompie nors. “Maar gee my so twee of drie weke – dan sal jy sien hoekom ek die seëls en koeverte nodig gehad het …”
“Hoe sal ek dit sien?”
“Jy sal sien hoe ek verander het.”
“Verander het?” vra Anna nuuskierig.
“Ja,” sê Trompie geesdriftig. “Ken jy vir Zarko?”
Anna skud haar kop.
“Wel, ek gaan binne ’n paar weke nes hy lyk,” sê Trompie. “Jy kan maar sê ek gaan dan Zarko die tweede wees – die klein Zarko.”
“En hoe lyk Zarko?” wil Anna weet.
“Hy’s die ene spiere – ysterspiere,” verseker Trompie haar. “En dis hoe ek ook gaan lyk.”
Hy is vinnig weer by die kamer uit. Hy het nie nou tyd om met sy suster te staan en ginnegaap nie. Hy moet gou maak. Hy wil die vorm vir Zarko op pad skool toe pos.
Die kragman se adres is in Johannesburg en Trompie dink hy behoort binne ’n dag of twee al ’n antwoord te kry. Hy wonder hoe lank dit gaan neem – ná hy alles begin doen het wat Zarko vir hom sê – voor hy ook so gespierd soos die sterkste man op aarde sal wees.
Trompie besluit dit sal seker ’n taamlike tydjie vat, maar ná veertien dae behoort hy darem al genoeg spiere te hê dat die ander kinders dit sal agterkom en hom begin bewonder!
By die skool vertel hy opgewonde vir Dawie, Blikkies en Rooie van Zarko. Hy noem die kragman nou al sy “goeie vriend”.
Wanneer Trompie klaar is, sê Dawie: “Dink jy rêrig daai kastig wonderlike Zarko gaan vir jou al sy geheime vertel en jou so sterk maak – verniet?”
“Ek wag heeltyd vir daardie vraag,” antwoord Trompie laggend, “maar ek sê jou – dis alles verniet …”
“Nou hoekom sal hy dit verniet doen?” wil Dawie weet.
Trompie dink hieroor na en dan sê hy: “Want hy’s ’n ou wat daarvan hou om ander ouens te help. Hy wil hê almal moet gesond en sterk wees en …”
“Jy praat nonsens!” val Dawie Trompie in die rede. “Ek sê jou nou, dit gaan jou kós! Jy gaan deur jou nek daarvoor betaal!”
“So? Dis wat jy dink, nè!” snou Trompie hom toe, en dan speel hy sy troefkaart: “As jy so slim is, sê dan vir my – wat beteken die woord ‘gratis’?”
“Dit beteken verniet,” antwoord Dawie dadelik.
“Die woordeboek sê ‘kosteloos’,” kap Trompie vinnig terug, want hy het dit opgesoek. “En ‘kosteloos’ beteken ‘sonder koste’. Jy betaal nie ’n sent nie. En die woord ‘gratis’ staan oral op die advertensie. Alles is gratis. So wat sê jy nou, slim meneertjie?”
Dawie hou nog steeds vol dat Trompie sal moet betaal. Blikkies maak ’n einde aan die argument toe hy met ’n grinnik sê: “Hoekom wag julle nie tot daai Zarko antwoord nie? Dan sal julle mos weet of hy geld wil hê, of nie.”
Dié oggend konsentreer Trompie minder as gewoonlik in die klas. Hy sit en droom. Hy dink aan Zarko. Hy wens hy het lankal die advertensie gesien, want dan het hy mos nou al Zarko se geheime geken.
Toe die onderwyser vir ’n oomblik by die klas uitgaan, lig Trompie sy regterhand op, buig sy elmboog en bal sy vuis. Hy voel aan sy boarmspier. Daar is nie veel om te voel nie. Net ’n knoppie.
“Voel, Rooie!” sê hy trots vir sy maat langs hom. Rooie voel. Hy is nie juis beïndruk nie.
“Wag maar,” sê Trompie, “oor twee weke gaan ek jou weer laat voel. Dan sal jy ’n ander ding sien!”
Trompie doen die oggend nie veel in die klas nie, maar hy kry dit nogtans reg om uit die moeilikheid te bly.
Met