Sy klouter vinnig deur die venster en nael oor die donker agterplaas.
“Eina!” gil sy toe sy in ’n vullisblik vashardloop en val. Sy spring vinnig op en vlug verder. Die blik maak ’n harde geraas soos wat dit rol en rol en uiteindelik tot stilstand kom. Saartjie hardloop vinnig verder. Haar een hand hou die kussing vas en die ander hand die pet.
“Kom!” skree sy toe sy naby haar maat kom. Anna laat haar nie twee keer nooi nie – sy het die geraas gehoor. Die twee meisies nael vir al wat hulle werd is. Toe hulle ’n goeie entjie van die woonstelgebou af weg is, slaan hulle oor na ’n drafstap. Hulle kyk aanhoudend oor hul skouers, maar gewaar niks nie. Alles is stil.
By ’n posbus sê Saartjie hygend: “Eers gou … van hierdie ding ontslae raak … Dis die brief wat al die nonsens veroorsaak het.”
Saartjie haal die brief uit die baadjiesak en pos dit met ’n sug van verligting. So ja, nou is haar gewete skoon. Dis gepos. Daar sal nou nie moeilikheid wees nie.
Op haar maat se aandrang vertel sy van al die moleste in juffrou Necker se woonstel.
“En sê nou,” sê Anna, “Ou Nukke het nie flou geval nie? Sê nou sy’s dood of iets? Sê nou sy’t só geskrik dat haar hart ingegee het?”
Saartjie voel hoe haar bene lam word onder haar. Het die juffrou nog asemgehaal toe sy daar gelê het, of nie? Sy weet nie.
“Anna, asseblief,” sê sy en haar stem klink effens histeries, “as jy weer iets sê wat begin met ‘sê nou’, dan gaan ek skree. Ou Nukke makeer niks. Sy’t net flou geval.”
Maar Anna kan sien Saartjie is baie bekommerd.
In die Strydoms se buitekamer trek Saartjie gou die klere uit waarmee hulle haar vermom het om soos ’n dief te lyk. Een ding is seker: Ou Nukke het haar definitief nie herken nie.
“Nie ’n woord aan ’n siel hiervan nie,” sê Saartjie streng toe sy loop. Anna belowe plegtig om tjoepstil te bly.
Saartjie stap met hangende skouers huis toe.
Toe sy daar kom, vra haar ma kwaai: “Waar was jy? Ons het al klaar geëet.”
“Ek was by Anna, Mamma,” sê Saartjie sag, “en die tyd het so verbygevlieg …” Dis mos waar. Sy wás by Anna en die tyd hét verbygevlieg.
“Jammer, Mamma,” sê Saartjie floutjies en glimlag soet.
“Nou toe – maar dit moenie weer gebeur nie.”
“Nooit weer nie, Mamma, nooit weer nie!”
“Ek wonder net,” sê Kris wat eenkant sit en koerant lees, “wat sy en Anna aangevang het. Want waar Saartjie is, gebeur daar mos altyd iets.”
“Jy dink seker jy’s snaaks, nè?” snou Saartjie hom toe. “Wat doen jy hier? Hoekom is jy nie by Isabel nie?”
Kris antwoord liewer nie. Isabel Theron is sy meisie. Hulle twee was saam op hoërskool en hulle is nou saam op universiteit. Hy is deesdae amper meer by Isabel as wat hy by sy eie huis is.
Terwyl Saartjie eet, vra sy: “Waar is Apie, Mamma?”
“Hy’s ná ete weg om by Bennie te gaan kuier.”
Apie se maat, wat net so ondeund soos hy is, woon ’n hele ent van die hoofstraat af. Saartjie dink verlig dat hulle niks van die gedoente by Ou Nukke sal weet nie.
“En waar’s Pappa, Mamma?”
“Hy’t ’n oproep gekry om gou na een van die woonstelle in die hoofstraat toe te gaan.”
Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop weg. Sy sluk swaar aan die kos in haar mond en vra dan met ’n klein stemmetjie: “Wie’s siek daar, Mamma?”
“Jou onderwyseres, juffrou Necker. Sy het glo flou geval.”
“Hoekom, Mamma?” Saartjie se oë is stip op haar bord.
“Nee, ek weet nie. Maar Pappa sal seker nou-nou terug wees, dan kan ons by hom hoor.”
Saartjie eet glad nie lekker nie. Sy is te bekommerd en bang.
Toe sy haar nagereg eet, hoor sy haar pa se motor voor die deur stilhou. ’n Paar oomblikke later kom hy by die huis in.
“Hallo, Pappa,” sê Saartjie vriendelik. “Foeitog, wat makeer juffrou Necker?” Sy hou haar stem kalm, maar haar hart bons.
Dokter Baumann gaan sit eers en neem ’n koppie tee wat sy vrou vir hom skink. Saartjie wag gespanne dat hy verder moet vertel van Ou Nukke.
“Julle juffrou is gelukkig nou weer perdfris,” sê haar pa uiteindelik en sy slaak ’n sug van verligting. Dokter Baumann vertel die onderwyseres het glo flou geval toe sy ’n dief in haar woonstel betrap het.
“Volgens haar,” sê die dokter glimlaggend, “was die dief ’n eienaardige skepseltjie. Sy sê hy was baie snaaks gebou. Sy maag sit glo waar sy bors moet wees. En hy het met ’n growwe stem iets geskree. Sy was so verskrik dat sy nie ’n woord kon uitkry nie en dit het hom só kwaad gemaak dat hy soos ’n kwaai hond begin grom en blaf het. Dis tóé dat sy flou val.”
Almal dink na oor die eienaardige gebeure. Saartjie voel nou heelwat beter, maar net om dubbeld seker te maak, vra sy darem: “As sy die dief weer sien, sal sy hom kan herken, Pappa?”
“Nee, sy kon glo net sy kwaai, wrede oë sien.”
Saartjie loer vlugtig spieël toe. Sy sien haar groot helderblou oë. Is dit nou kastig kwaai, wrede oë? Ou Nukke kan vir jou lekker aansit, hoor!
“Die polisie was ook daar,” sê haar pa, “maar hulle gaan nie eers ondersoek instel nie. Dit sal hopeloos wees.”
Saartjie kan haar geluk nie glo nie.
“Wat eienaardig is,” gesels haar pa verder, “is dat daar niks uit juffrou Necker se woonstel vermis word nie.”
“Ja-nee, dit ís eienaardig,” sê Saartjie met ’n onskuldige gesig.
Dokter Baumann haal sy skouers op en sê dan laggend: “Maar die petalje sal die arme oujongnooi goed doen. Toe ek daar weg is, het sy heerlik vir die soveelste keer vir almal vertel wat gebeur het. Haar oë het skoon geglinster. Sy was nog nooit so die middelpunt van belangstelling nie. Dit was vir haar ’n wonderlike avontuur en sy word nogal as ’n heldin beskou omdat die gewetenlose dief padgegee het sonder om haar geld of haar lewe te neem.”
Saartjie is nou weer haarself. Alles het goed afgeloop en die belangrike brief is uiteindelik gepos.
Sy dink daaraan dat die brief darem baie moleste veroorsaak het. By die skool moes sy agter ’n afskortinkie tussen jasse en baadjies wegkruip en by Ou Nukke se woonstel in ’n klerekas tussen ’n klomp rokke. Dit was benoude oomblikke. As haar pa ooit weer vir haar ’n brief gee om te pos, gaan sy dit dádelik doen. Sy sal sowaar nie weer eers gou by iemand anders gaan inloer nie.
Die volgende oggend vertel Saartjie vir Anna wat die uiteinde van die hele storie was – en dan wil sy weet hoekom haar maat nie gefluit het toe sy die onderwyseres gewaar nie.
“Jy’t gesê ek moet fluit as ek Ou Nukke van ete af sien terugkom. Ek het nie geweet wat om te doen toe ek haar by die gebou sien uitkom en toe net daarná weer ingaan nie,” verduidelik Anna droogweg.
Anna is hoog in haar skik met hoe goed sy Saartjie vermom het. As sy nie daardie speurroman gelees en daaraan gedink het om dit te doen nie, sou haar maat nou diep in die moeilikheid gewees het.
“Maar volgende keer wanneer ek vermom word,” sê Saartjie laggend, “dra ek nie weer ’n pet wat aanhoudend oor