“Nee, nee, alles is in die haak.”
Hy sit die gehoorbuis terug. Soos ’n ou man gaan staan hy voor die venster. Vandag verskaf die pragtige tuin en netjiese landerye hom geen plesier nie.
Hierdie skooltjie is gebou op ’n deel van sy plaas. Hy het dit afgestaan vir die skool. Sy plaashuis is ongeveer twee kilometer hiervandaan.
Vanjaar wou hy weer in sy eie huis gaan woon het. Hier sou twee onderwysers gewees het om na die seuns in die koshuis om te sien. Hy sou meer aandag aan sy eie boerdery kon gee, want sy middae sou nie meer so geheel en al deur die seuns se bedrywighede in beslag geneem word nie. En nou dit!
Oom Brand kyk maar dat alles op sy plaas reg gaan. Hy het goeie werkers en sy plaas is ’n pronkstuk hier in die kontrei. Hy wou egter vanjaar rustiger leef, dinge ietwat afskaal. En hy wou ekstra tyd aan sy eerste matriekklas bestee.
’n Ligte, huiwerige tikkie aan sy deur laat hom met ’n sug omdraai.
“Ja?”
Oom Gawie staan effens verleë voor hom.
“Meneer Kruger, die juffrou – wat nou van haar?”
“Ek weet nie, oom Gawie. Anton Fourie is ook nog siek. Hulle het hom in die hospitaal opgeneem.”
“Haai, meneer Kruger, en nou?”
“Nou weet ek nie, oom Gawie. Nou weet ek regtig nie meer nie.”
“Moet ek die juffrou maar terugneem dorp toe?”
Bertus Kruger kyk by oom Gawie verby. As hy haar nou terugstuur, sal die departement sommer uit pure moedswilligheid nie vir hom ’n ander onderwyser stuur nie. En sê nou net Anton kan dalk nie hierdie kwartaal al terugkom nie? Wat maak hy dan?
“Skort tog maar die badkamer met ’n paar planke af, oom Gawie. Daardie lapgedoentes sal nie werk nie.”
Oom Gawie moet sukkel om die glimlag van sy gesig af te hou.
“Goed, meneer Kruger.”
Hy verdwyn vinnig en Bertus sien hoe hy behoorlik wegdraf met sy kort beentjies. Hy is natuurlik vreeslik haastig om vir haar te gaan vertel dat Bertus Kruger vandag sy moses teëgekom het.
Annie glimlag toe sy ’n rukkie later die gekap en getimmer in die badkamer hoor.
“Hy moet darem dink hy kan my sommer wegjaag soos ’n brandsiek hond,” praat sy saggies met haar spieëlbeeld. Dis al amper twee-uur en sy voel rasend honger. Sy wens iemand wil haar kom roep vir ete. Peinsend stap sy later uit en gaan staan op die stoep. Dan stap sy met besliste treë kombuis toe. As dit sy idee is om van haar ontslae te raak deur haar uit te honger, ken hy haar nog sleg.
“Goeiemôre, of liewer, goeiemiddag.” Sy groet vriendelik toe Filemon nader kom.
“Hoe laat eet die mense hier? Ek is so honger soos ’n wolf.”
“Gewoonlik eenuur wanneer die seuns hier is. As meneer Kruger alleen hier is, soos vandag, eet hy maar wanneer hy kom.”
Annie staan besluiteloos rond. Sy wonder of sy ook nou sonder kos moet bly omdat meneer Kruger nie hier is om te eet nie.
Filemon kyk half verbouereerd rond.
“Maar . . . die kos is klaar as juffrou dalk wil eet.”
“Dankie, Filemon, dit sal lekker wees. Die trein het vroeg op die stasie gekom en ek het dus nie ontbyt op die trein gekry nie. Die hongerpyne knaag nou behoorlik.”
Filemon glimlag breed en Annie stap deur na die eetkamer waar net een tafel gedek is.
Dis goeie kos – heerlike, vars groente en baie lekker vleis, maar alles is net opgekook. Die vleis is effens gebraai, maar Annie voel dat hulle darem baie beter kan doen met dit wat tot hulle beskikking is.
Ná die ete gaan lê sy ’n bietjie op haar bed. Vir Bertus Kruger het sy nog nie weer met ’n oog gesien nie.
Eers teen vieruur se kant hoor Annie gedempte stemme buite. Dit moet die seuns wees wat nou begin aankom. Hulle is egter baie stil en stemmig. Aarde, dis onnatuurlik! Seuns is raserige, lawaaierige goed. Sy het mos darem self drie broers.
Alles is baie streng en formeel hier. Bertus Kruger regeer die seuns natuurlik met ’n ysterhand. Dit lyk beslis so! Sy sal maar liewer ’n paar briewe huis toe skryf. Sy sal haarself nie nou al aan die seuns gaan bekendstel nie. Dit gaan in elk geval chaos wees.
’n Ligte tikkie aan haar deur laat haar vinnig regop sit en voordat sy kan antwoord, loer iemand met ’n rooi seunskuif om die deur. Hy sien haar nie dadelik raak nie, maar stoot net die deur met sy voet oop en skuif ’n groot tas by die deur in. Annie glimlag. Dis natuurlik Kobus Snyman, die hoofseun.
“Hallo.” Annie staan op en sy kan die giggeltjie vir die verbaasde uitdrukking op die seun se gesig net nie keer nie.
“Ek- . . . ekskuus!” Die seun staan verbouereerd rond en sy hande en voete voel skielik uit verhouding uit groot sodat hy nie weet wat om daarmee te maak nie.
“Ek is juffrou Annie Delport. Jy is seker Kobus Snyman?”
Die rooikop knik net ongelowig sy kop op en af, heeltemal uit die veld geslaan.
“Daar was so ’n klein misverstand, Kobus. Blykbaar het hulle sommer aangeneem dat die nuwe onderwyser ’n man is. Jy slaap van nou af in die kamer aan die ander kant van die badkamer. Jy en die onderhoofseun sal ’n kamer deel.”
Die seun kry geen woord uit nie en sluk swaar aan die knop in sy keel.
Annie lag lekker.
“Dis nie nodig om so verbaas te wees nie. Ek dink jy sal dit ook meer geniet. Ek kan nie dink dat dit lekker is om saam met ’n onderwyser in een kamer te slaap nie.”
“Nee, meneer . . . ek bedoel, ja . . . nee, juffrou, ek . . .”
“Kamer nommer vier is jou kamer, Kobus. Ek is jammer vir die ongerief. Maar dis darem seker nie te erg nie, nè?”
“Nee, me- . . . nee, juffrou.”
Vinnig gryp hy sy tas en verdwyn heeltemal deur die wind by die deur uit.
Annie loer versigtig deur die skrefie van die deur. Oor vyf minute sal al die inwoners van die koshuis seker weet dat hier ’n juffrou in plaas van ’n meneer is.
Haar skatting is heeltemal uit! Dit duur net drie minute voordat die laaste deur oopgaan en nuuskierige oë uit alle rigtings na haar kamerdeur staar.
Oënskynlik baie ongeërg kom die seuns op die stoep uit en drentel daar rond. Hulle loer egter kort-kort na die toe kamerdeur, doodnuuskierig om die nuwe juffrou te sien.
“En toe, wat staan julle so rond? Julle weet jul tasse moet uitgepak wees voor aandete!” Bertus Kruger se harde, nors stem laat die seuns vinnig in hul kamers verdwyn.
“Ongeskikte ding!” Annie se woorde slaan vas teen die groen geverfde deur.
Hy het natuurlik die meeste van hulle nog nie eens gesien of gegroet nie. Nou raas hy sommer. Hy gaan seker nog al sy frustrasies oor haar ook op die seuns uithaal.
Sy wens meneer Fourie wil kom. Dalk is hy vriendeliker en behulpsamer en sal sy by hom kan vasstel wat daar alles van haar verwag word.
“Jan, kom help jy en Oswald my gou! Ek sal weer van my goed hiernatoe moet bring. Meneer Fourie is siek en sal nie nou al terugkom nie. Ek sal eers weer my ou kamer betrek totdat hy terug is.” Bertus Kruger blaf die woorde sonder ’n tikkie vriendelikheid uit terwyl hy wegstap.
Twee seuns kom vinnig nader gedraf. Die skraalste een steek sy hand na Bertus toe uit en groet beleef.
“Goeiemiddag, meneer.”
“Middag, Jan. Het julle lekker vakansie gehou?” Bertus skud die seun se hand afgetrokke en dit lyk nie juis asof hy op ’n antwoord wag nie.
“Ja,