'n Juffrou vir Skurwekop. Sarah du Pisanie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sarah du Pisanie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624069805
Скачать книгу
wees nie. Ek gaan koop vir my ’n sinkbad op die dorp en bad in my kamer.”

      Bertus kyk verslae na die astrante vroumens.

      “Juffrou, waar kom jy eintlik vandaan?”

      “Kaapstad.”

      “Ek het so gedink.”

      “Wat bedoel jy?”

      “Stadsmense weet niks van die platteland af nie. Hier is seuns wat amper so oud soos jy is. Hulle is groot, sterk seuns wat al ’n vrou kan waardeer.”

      “Wel! Wat daarvan?”

      “Jy kan nie daar tussen hulle gaan bly nie.”

      “Ek sluit my deur.”

      “Juffrou, bewys my ’n guns en gaan terug. Ek het genoeg probleme, ek soek nie nog nie. Ek sal jou hotelkoste betaal en ook jou kaartjie terug Windhoek toe.”

      Annie kyk op in die smeulende oë van Bertus Kruger en iets koppigs kom steek dwars in haar vas.

      “Nee, ek wil nie! Ek het nog nooit weggehardloop nie. Almal sal net dink ek kan nie ’n sukses daarvan maak nie. My pa en my broers het voorspel dat ek dit nie op ’n plaas sal uithou nie.”

      Woedend swaai Bertus om en stap met lang treë deur toe. Met sy hand op die deurknop draai hy eers weer om.

      “Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie. Sodra jy wil teruggaan, sê my net.”

      Annie bly verdwaas staan toe die deur agter hom toeklap. Waarheen nou? Sy kyk om haar rond: Die skool bestaan uit drie klaskamers en die kantoor, asook hierdie personeelkamer.

      “Waar is die koshuis en waar is my bagasie?” wonder sy hardop, tel haar handsak op en stap met lang treë by die deur uit. Haar netjiese ligblou rokkie swiep om haar kuite en die twee fyn, donkerblou skoentjies rond haar uitrusting af tot iets baie fyn en vroulik.

      Buite staan sy ’n oomblik lank stil om aan die helder sonlig gewoond te raak. Sy lig haar hand voor haar oë en bekyk die wêreld om haar. ’n Ent weg is nog ’n wit gebou wat nestel onder groot koeltebome. Hierdie plekkie is ’n ware paradys! Oom Brand het vanoggend vir haar vertel dat hier ’n sterk fontein is. ’n Mens kan sommer aan die digte, welige plantegroei sien dat hier nie ’n gebrek aan water is nie.

      ’n Breë voetpaadjie loop van die skool af tot by die koshuis. Alles is so ver as wat die oog kan sien pynlik netjies. ’n Entjie agter die skool steek selfs twee rugbypale uit en met verbasing sien Annie aan die ander kant van die skool ’n tennisbaan. Voorwaar, hier is alles! Die gemeenskap kyk baie goed na hul skooltjie. Geen wonder Bertus Kruger is so grootkop nie. Hy dink natuurlik die boere se geld kan alles koop. Tot onderwysers ook!

      Sy praat saggies met haarself terwyl sy met haar hoë­hakskoentjies versigtig met die voetpaadjie langs stap. Sy wens net die ongeskikte meneer Kruger wou haar darem gewys het waar haar kamer is. Groot grasperke omvou die koshuis en koeltebome maak donker kolle op die groen gras. Teen die spierwit mure rank trosse rooipers bougainvillea. Dit omskep die eenvoudige wit gebou in iets uit ’n lentesprokie: Annie trek haar asem skerp in. Dis so mooi en rustig hier dat dit haas ondenkbaar is dat al hierdie skoonheid geregeer kan word deur so ’n befoeterde en ongepoetste mens soos Bertus Kruger.

      Toe sy nader stap en half om die gebou beweeg, sien sy dat die koshuis in ’n U-vorm gebou is. By die ingang gaan staan sy doodstil om alles in te neem. Die binnehof van die koshuis is nog mooier as wat dit buitekant is. Die grasperk lyk soos ’n groen mat wat met baie sorg netjies en versigtig oopgesprei is. Die gras word omsoom deur ’n rand van die lieflikste blomme en struike.

      Dis betowerend mooi! Annie wonder vaagweg of dit nie vermors word op seuns nie. Kan hulle al dié skoonheid waardeer?

      ’n Groot flambojant staan in die middel van die binnehof. Trosse helderrooi blomme wat soos fyn orgideë vertoon, hang weelderig aan die sambreelagtige takke.

      Daar is ’n spierwit tafeltjie om die stam van die boom. Dit lyk so uitnodigend dat Annie vurig wens dat sy nou daar kan gaan sit en rustig ’n koppie tee drink.

      Die blomme en struike rank tot teenaan die groot stoep wat reg rondom loop. Nou eers let Annie op dat al die kamers op die stoep uitloop. Die kamerdeure is groen geverf en dit skakel volmaak in by die sprokiestoneel, asof dit deur ’n baie kunstige hand spesiaal daardie skakering groen geverf is.

      “Waarheen moet juffrou se bagasie gaan?”

      Annie kyk verskrik om. Oom Brand wat haar vanoggend op die stasie kom haal het, staan stram agter ’n struik op met die snoeiskêr nog in sy hand.

      “Ek het maar eers juffrou se bagasie in die eetkamer neergesit. Ek het nie geweet in watter kamer dit moet kom nie. Het meneer Kruger vir jou gesê in watter kamer jy moet intrek?”

      “E . . .” Annie kyk verbouereerd na die vriendelike oubaas. Sy het so gehoop dat hy inisiatief sou neem en dit in die kamer sou neersit waar hy dink sy behoort in te trek.

      “Ek . . . e . . . ek gaan in meneer Kruger se ou kamer tuis.” Sy onthou skielik flardes van die gesprek wat sy gehoor het toe haar nuwe skoolhoof en meneer Lindtveld gesels het.

      “Is juffrou seker? Meneer Fourie het dan al sy goed daar laat indra voor die skool gesluit het.”

      “Nee, dan slaan ek die bal seker mis, dan moet ek in meneer Fourie se ou kamer intrek.”

      “Wat dan van Kobus?”

      Annie kyk hom dom aan.

      “Wie?”

      “Meneer Fourie en die hoofseun het altyd ’n kamer gedeel. Kobus is mos die hoofseun.”

      “O, krismispoeding!” Annie slaan haar hand voor haar mond en giggel onbeheers. “Dis geen wonder meneer Kruger is so ontsteld omdat sy nuwe onderwyser ’n vrou is nie.”

      Oom Gawie Brand kyk haar eers verbaas aan en dan trek die lagplooitjies fyn saam om sy oë en verkreukel sy hele gesig stadig voordat hy rukkerig soos ’n ou Fordjie begin saamlag.

      “En nou, oom, wat maak ek nou?”

      “Wat sê meneer Kruger?”

      “Hy wil hê ek moet dadelik teruggaan. Maar dit kan ek nie doen nie. Waar gaan ek nou ’n pos kry? En buitendien sal dit lyk asof ek weghardloop.”

      Woordeloos juig oom Gawie haar toe. Bertus Kruger is sommer ’n verstokte oujongkêrel, al kan hy nie veel ouer as dertig wees nie. Hy het ’n liefdesteleurstelling gehad wat maak dat hy niks en niemand vertrou nie. Hy is suur en vol draadwerk. Die arme seuns het ’n bietjie pret en vrolikheid nodig.

      “Oom, kom wys vir my hoe lyk die koshuis. Dan dink ons solank ’n plan uit.”

      “Nou toe, kom, juffroutjie.”

      “My naam is Annie, oom.”

      “Ek sal graag vir jou juffrou Annie sê, maar dan moet jy vir my oom Gawie sê.”

      Soos twee samesweerders stap oom Gawie met haar na die punt van die U-vormige gebou.

      “Sien, kindjie, die gebou lyk soos ’n U. Hier waar jy nou ingekom het, is die opening. Albei kante lyk dieselfde. Daar is alkant vier kamers elk met vier beddens daarin.”

      Hulle begin sommer by die kant naaste aan hulle en Annie loer nuuskierig by die eerste kamer in. Dit lyk maar soos ’n gewone koshuiskamer met hoë beddens en bedkassies met hangplek vir die seuns se klere. Langs die slaap­kamers is die badkamereenheid. Dit bestaan uit drie storte, een bad, ses wasbakke en ’n paar toilette. Aan die ander kant van die badkamer is nog ’n vertrek. Dis die slaap­kamer wat meneer Fourie en die hoofseun gedeel het. Dis ’n mooi, ruim vertrek met twee beddens, asook twee lessenaars en twee gemakstoele en ’n koffietafel daarin.

      “Hier maak die gebou nou sy draai. Langs hierdie kamer is die kombuis en langs dit is die eetkamer.” Oom Gawie geniet dit tog te baie om toergids te speel. “Die ander kant van die gebou lyk presies dieselfde. Die onderwyser se kamer aan daardie kant