'n Juffrou vir Skurwekop. Sarah du Pisanie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sarah du Pisanie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624069805
Скачать книгу
>

      

      ’n Juffrou

      vir Skurwekop

      Sarah du Pisanie

      Jasmyn

      Hoofstuk 1

      “Meneer Kruger, waar dink jy moet ek nou iemand anders kry? Dink jy dis maklik om iemand met sulke kwalifikasies sommer net in die hande te kry?”

      “Ek gee nie om nie! Al pluk jy ook nou ’n ander een van ’n boom af. Wat de drommel dink jy moet ek met ’n vroumens hier maak?” Die man aan die ander kant van die verbinding se stem is hees van sarkasme.

      “Jy is veronderstel om haar as ’n leerkrag te gebruik, meneer Kruger. Dis al wat die departement van jou verwag.”

      “Ek wil haar nie hê nie! Dis ’n seunskool, ’n landbou­skool! Kan jy dit nie verstaan nie?”

      “Die seuns kan niks daarvan oorkom om deur ’n baie bekwame onderwyseres geleer te word nie, meneer Kruger. Hulle sal beslis nie smelt nie.”

      “Meneer Lindtveld, jy verstaan die posisie moedswillig verkeerd.” Bertus Kruger se stem is nou sissend, sag van woede. “Dis ’n proefskool . . . ’n spesiale soort skool. Ons woon op ’n plaas dertig kilometer van die naaste dorp af. Hier, meneer Lindtveld, is net seuns. Selfs ons kok is ’n Ovambo en daarby ’n man. Sê dit nie vir jou iets nie, meneer Lindtveld?”

      “Meneer Kruger, juffrou Delport is bewus daarvan dat dit ’n seunskool is. Ons het haar ingelig daaromtrent. Ná ’n gesoebat en baie mooipraat, het sy ingewillig om vir ’n jaar te gaan. Ek is bevrees ek kan jou ontsteltenis net nie begryp nie. Jy en meneer Fourie is tog seker mans genoeg om die sport af te rig?”

      Woedend gooi Bertus die gehoorbuis op die mikkie neer en haal hard asem. Annie Delport staan handewringend in die personeelkamer langs die kantoor waar sy feitlik elke woord van die gesprek kon hoor.

      Vanoggend vroeg het ’n ouerige man, oom Brand, haar met ’n netjiese vragmotortjie op die stasie kom haal. Die oubaas was sonder woorde toe hy haar sien en het vier keer gevra of sy seker is dat sy die Delport is wat op Skurwekop kom skoolhou. Sy het net laggend haar bagasie aangegee en haar nie verder ontstel oor die man se reaksie nie. Hy het seker maar ’n ouer vrou verwag.

      Nou eers verstaan sy oom Brand se ontsteltenis. Meneer Kruger, die hoof van die skool waarvan die personeel tot dusver net uit hom en nog ’n onderwyser bestaan het, het nooit verwag dat hulle vir hom ’n vrou sou stuur nie.

      Die agtergrond van die skool interesseer haar geweldig. Meneer Lindtveld het haar so een en ander vertel. Hier was glo ’n groot behoefte aan ’n landbouskool. Die boere in die omtrek het toe saamgespan en die skoolgebou en ’n koshuis hier opgerig. Tot dusver is die skool feitlik selfonderhoudend en verder sorg die boere goed vir alles wat nodig is. Dat hier egter geen ander vroue sou wees nie, is vir haar net so ’n groot skok. Sy het darem ’n kok en ’n matrone hier verwag.

      Bertus Kruger vloek saggies en tel dan weer die gehoorbuis op. Dit sal hom niks baat om kwaad te word nie. Hy is nog niks nader aan ’n oplossing vir sy probleem nie.

      Ten eerste is daar nie ’n trein terug vir die juffrou voor oor drie dae nie. Daar ry net twee treine per week hiervandaan na Windhoek. Ten tweede is die naaste boere ongeveer dertig kilometer van die skool af; sy kan dus nie by een van hulle gaan woon nie. Die skool is op sy grond opgerig hier by die fontein. Hier is landerye en krale en stalle. Dit het ’n spogskooltjie geword. Daar is al glad ’n waglys van seuns wat hierheen wil kom. Hierdie landbou­skool, waar die seuns al van jongs af kan leer boer, beteken vir die boere geweldig baie. Vir die meeste van hulle voel dit na ’n vermorsing van tyd om hul kinders jare lank op die gewone skoolbanke te hou en dan kom boer hulle tog maar nadat hulle matriek geskryf het.

      Vinnig draai hy die slinger van die telefoon. “Martie, skakel my tog weer deur na die man daar in Windhoek,” grom hy vies in die gehoorbuis.

      “Het hulle jou dan afgesny, Bertus?”

      “Hm . . .” Bertus het nie nou lus vir ’n geselsie met die praatgierige telefoniste nie.

      “Meneer Lindtveld!”

      “A! Meneer Kruger . . . Ek hoop jy het ’n bietjie afgekoel.”

      “Meneer Lindtveld, ek probeer jou dit net aan die verstand bring dat hier geen geriewe vir ’n vrou is nie. By die koshuis is twee badkamereenhede. Alles is in een vertrek – die storte en toilette, asook ’n badkamer wat uit dieselfde lokaal uitgaan.”

      “Meneer Kruger –”

      Die man se stem wat so stroperig slim is, irriteer Bertus tot onder sy voetsole en laat sy nek behoorlik jeuk. Hy val hom dus ongeskik in die rede.

      “Sy kan nie tussen die seuns gaan stort nie. Jy weet tog dis net sulke halwe muurtjies wat die storte van mekaar skei.”

      “Ek ken die opset daar, meneer Kruger, ek was al daar. Jy sou tog vanjaar in jou eie huis gaan woon het en daar is dus ’n ekstra kamer beskikbaar vir haar.”

      “Die kamer is nie die probleem nie! Dis die ander geriewe wat die probleem is.”

      “Dit behoort nie so ’n groot probleem te wees nie, meneer Kruger. Ek is seker daarvan dat daar ’n plan gemaak kan word.”

      “Natuurlik is dit ’n probleem!” Bertus rem aan sy oopnekhemp.

      Hierdie Lindtveld laat altyd sy bloed kook.

      “Meneer Kruger, ek en juffrou Delport se pa is ou kennisse. Ek het haar persoonlik genader om die pos te aanvaar. Sy kan Afrikaans en Engels en wiskunde gee. Selfs vir die matrieks. Hier is niemand anders wat bereid is om te gaan nie. Geen jong onderwyser is bereid om op ’n plaas te gaan wegkruip nie. Onderwysers is in elk geval baie, baie skaars.”

      “Maar –”

      “Luister, meneer Kruger, jy mors my tyd. Jou skool is niks beter as enige ander skool nie. Omdat jy nie juis geld van die departement nodig het nie, maak jy asof ons almal op aandag moet kom as jy iets nodig het. Wel, juffrou Delport is al wat ek jou kan aanbied. As jy haar nie wil hê nie, sorg dan dat sy so gou moontlik terugkom in Windhoek – op jou koste! Dan is ek ook jammer, maar dan kan ons jou nie verder help nie. Tot siens!”

      Bertus staan verslae met die gehoorbuis in sy hande. Hy kyk verdwaas daarna en plaas dit dan woedend terug.

      Met lang treë stap hy by die deur uit om die verdwaasde Annie Delport nog steeds in die vertrek langs die kantoor te sien sit. Sy spring vinnig op toe hy uitkom en stap nader. “Juffrou, jy kan saam met ons eet en dan sal meneer Brand jou terugneem dorp toe.”

      Woede blits skielik in Annie Delport se groot, bruin oë.

      “Dorp toe?”

      “Ja, stasie toe!” Bertus wil by haar verbyloop, maar met twee vinnige treë staan sy voor hom.

      “Daar is eers oor drie dae weer ’n trein. Moet ek nou drie dae lank op die stasie gaan sit?”

      “Daar is ’n hotel. Jy kan daar gaan bly.”

      “Ek sal dit nie doen nie. Die departement het my hiernatoe gestuur. Hulle het my gesoebat om te kom en ek het beloof om vir ’n jaar te bly. Ek breek nie my woord nie. As hulle my nie hier wil hê nie, kan hulle my self laat terugkom.”

      Sprakeloos staar Bertus na die blitsende oë, terwyl twee rooi kolle ook nou haar wange versier.

      “Waar dink jy gaan jy slaap?”

      “Op ’n bed! Enige bed! Of slaap die onderwysers hier gewoonlik op die vloer?”

      Bertus kners op sy tande. Nou sal sy ook nog staan en sukkel. Hy karring liewer alleen aan met ou Anton as dat hy nog ekstra probleme op sy skouers laai.

      “Juffrou, dit is ’n seunskool!”

      “Nou wat daarvan? Moet ek nou op my knieë gaan staan en my hande in aanbidding vou omdat ek toegelaat word om in ’n seunskool te wees?”

      Bertus sug en gooi sy hande in die lug.

      “Hier