Sy neem haar stilweg voor dat sy die saak nie net hier gaan laat nie.
Die seuns begin dadelik vuur maak toe hulle by die dam kom, en Annie staar sprakeloos na die ongereptheid en skoonheid van die natuur om haar.
Die omgewing is pragtig! Sy is nie in staat om die woorde van bewondering wat in haar opwel hardop uit te spreek nie.
Sy lig haar hand voor haar oë om die omgewing beter te kan bekyk. Sy klim op die damwal en staar ver oor die pragtige, groen veld.
“En daardie plaashuis wat so weggesteek sit daar tussen die bome? Wie s’n is dit?”
Kobus klouter op die wal en kom staan langs haar.
“Dis meneer Kruger se huis, juffrou.”
“Woon hy alleen daar?”
“Ja, juffrou.”
“Is hy al lankal hier?”
“Soos wat ek verstaan, is dit sy geboortegrond hierdie, juffrou. My ouers is sy bure. Ons woon net aan die ander kant van die plaas. Sy pa, ou oom Bertus, het altyd hier geboer en meneer het die grond by hom geërf.”
“Dan ken julle hom lankal?”
“Nie vir hom nie, juffrou. Ek het oom Bertus goed geken. Hy was ook so ’n stroewe mens soos meneer. Vandat ek egter kan onthou, was meneer weg: eers hoërskool toe en toe universiteit toe en later jare glad oorsee. Hy het maar eers huis toe gekom nadat sy pa oorlede is.”
“En sy ma, Kobus? Leef sy ook nie meer nie?” Annie is vreemd nuuskierig oor die stroewe, ongelukkige Bertus Kruger. Hy moes sekerlik tog die een of ander ongelukkigheid belewe het om so ’n ongemaklike soort mens te word. Geen mens kan so gebore word nie.
“Nee, juffrou, van haar weet ek maar min.”
“Dink jy sy lewe nog?”
“Almal bly altyd stil as ’n mens oor haar uitvra, juffrou. Maar van wat ek nou al so hier ’n bietjie en daar ’n bietjie gehoor het, het sy blykbaar vir oom Bertus gelos vir ’n ander man. Meneer was toe maar nog ’n klein seuntjie. Of sy dus nog lewe, weet ek nie. Ons ken maar net vir oom Bertus wat so alleen met sy seuntjie hier gewoon het.”
’n Diep jammerte roer in Annie. Arme, ongelukkige kind! Sy sien hom al met sy grysblou oë en donker hare so alleen sonder ’n ma grootword. Hoeveel vreugde het sy nie in haar kinderjare geken nie, met twee dierbare ouers en drie broers wat haar almal tot in die afgrond bederf het!
“Dis natuurlik die rede waarom hy so swaar met ander mense kommunikeer. Arme man!” Annie sug.
Sy klink so simpatiek dat Kobus verbaas na haar kyk.
“My pa sê ook altyd ons moet hom probeer verstaan. Hy sê meneer was nie altyd so erg stroef en ongeskik nie. Hy was heel menslik, veral toe hy en Rina Visagie nog uitgegaan het. Sy sou vir hom gewag het, maar toe hy van Duitsland af terugkom, was sy reeds getroud met Danie Potgieter.”
Annie byt diep ingedagte haar lip vas. Siestog! Die meisie was dalk die enigste liefde wat hy in sy lewe geken het en toe laat sy hom ook in die steek.
“Haai, waarna staar julle twee so?” Pieter trap vas en wip rats op die damwal. “Ek dog julle sien ’n vlieënde piering!”
Kobus lag en stamp Pieter van die wal af.
“Jy moet liewer sorg dat daardie vuur behoorlik brand, of die ander ouens sien so ’n lang, dun, vlieënde voorwerp deur die lug trek, een met sulke bruin velskoene aan!”
Toe die vuur lekker brand, stroop Annie haar langbroek en bloes af en voordat die ander naby haar kan kom, is sy met ’n sierlike boog in die heerlike, koel water.
Die seuns volg haar en dop soos kurkproppe oral om haar op.
Hulle jaag mekaar en druk koppe onder die water; hulle swem resies en duik. Dis ’n baie moeë maar uitgelate klompie mense wat later op die gras neersak.
“Jammer vir jou, ou Kobus, maar jy sal die vleis moet braai. Jy is die hoofman oor dertig.”
Annie strek haar lui op haar handdoek uit, glad nie van plan om hulle te help nie.
“Nee, nou is juffrou darem skelm! Juffrou is die leerkrag, die hoër gesag wat na ons wel en wee moet omsien!”
“Sê wie?”
Org staan lui op. “Ek sal braai. Ek skuld nog vir juffrou ’n guns. Sy het ’n lelike afranseling gekry oor my simpel ou grappie.”
“Vertel, vertel, dit klink na nuus!” Kobus kyk geamuseerd na Org.
Effens verleë vertel Org vir Kobus die storie.
“Wat het ou Zeus toe alles vir juffrou gesê?” Paul staan aggressief nader.
Annie lag vir die kwaai uitdrukking in sy oë.
“Nee, dit was nie soveel oor die gille wat ek ’n afranseling gekry het nie, dit was oor iets heel anders. Wie is Schalk Potgieter eintlik? Ek bedoel . . .”
Die groot seuns wat om haar staan, lag skielik uitbundig.
“O! Die wind waai van die ander kant af!”
Annie bloos toe sy besef dat sy sommer weer gepraat het voordat sy gedink het.
“Ag, dis glad nie wat julle dink nie! Ek ken nie eens die man nie. Ek bedoel maar net: is hy getroud?”
“Nee, hy is nie getroud nie, juffrou, maar hy is ’n ou haan! Hy . . .” Boef lag skeef toe die ander hom ongelowig aanstaar omdat hy ook nou so spontaan saamskerts. Gewoonlik is hy die stil een wat altyd baie ver in die agtergrond bly.
Kobus buk ongeërg oor na Annie toe die ander aan die argumenteer raak oor die braai van die wors.
“Dis sy broer wat met meneer se meisie getrou het toe hy oorsee was.”
“O!”
Vir Annie is baie dinge omtrent Bertus Kruger nou skielik duideliker. Hy kon ook hierdie dag saam met hulle geniet het. Hierdie kinders het so baie liefde om te gee. Hulle sou hom van liefde kon voorsien het wat ’n leeftyd kan hou.
Sy wonder watter soort mens sy pa was. Stroef, sê Kobus. Hy het dalk vir Bertus gedruk om meer en meer te presteer, totdat hy alles wat vir hom dierbaar was, verloor het. Is dit dalk die rede hoekom hy die seuns so dryf?
Die wors is heerlik en die seuns eet soos mense wat weke laas kos gehad het. Die waatlemoene verdwyn die een na die ander en hulle voel uiteindelik soos vet paddas wat nie kan beweeg nie. Daar is nie eens meer genoeg krag in hul lywe oor om mekaar met die skille te smeer nie.
“Ek sal nou eers ’n rukkie moet lê en dan baie stadig moet opstaan, want anders ruk my sluk af.” Annie draai versigtig op haar sy. “Dit was heerlik! Dis die lekkerste waatlemoene wat ek nog geëet het. Die druiwe . . . nou ja! Daarvan sal ek niks sê nie, want die Boland –”
“O, so! Nie meer ’n enkele stukkie vrugte vir Perse-phone nie!” Pieter lig hom effens op en swaai sy hand lui om sy standpunt te bekragtig.
Annie lag net en maak haar oë toe. Daar daal ’n rustige stilte oor die klompie lui mense onder die groot koeltebome neer. Dis Jan en Oswald wat die vrede ’n rukkie later wreed versteur. Ná ’n halfuurtjie se rus raak dinge vir hulle te dooierig en nou begin hulle ’n smeerdery met die taai skille. Arme Annie ontgeld dit behoorlik. Dis vir die seuns nie juis pret om mekaar te besmeer nie en dus word sy dertig keer gesmeer!
“Nee, nou mors julle darem te veel met my!” Laggend duik sy in die dam.
“Ouens, ons sal moet oppak.” Kobus kyk verlangend na sy horlosie en wens hy kan die tyd ’n bietjie terugskuif.
“Ag, nee wat,