“Wat . . .?”
“Die kinders verrek hul nekke om te kan hoor hoe jy my oor die kole haal. Hoekom spaar jy hulle nie die moeite en neem my eetkamer toe en laat my daar op ’n stoel staan nie? Ek is mos net vier jaar oud en het geen maniere of ordentlikheid nie!”
Twee rooi kolle van verontwaardiging brand op haar wange.
“Jy hét ook geen ordentlikheid nie! Jy laat die seuns toe om hier in jou kamer in te kom en dit terwyl jy . . . so skamel geklee is.”
“Speel jy tennis, meneer Kruger?”
“Ja, juffrou, maar ek het nie nou tyd om hulle af te rig nie. Die atletiek is nou die belangrikste.”
“Wel, speel jy gewoonlik in ’n langbroek en ’n langmouhemp?”
Sy kyk op in die nors gesig en wag nie vir ’n antwoord nie.
“Hou op om kinderagtig te wees! Dis nie meer die agtiende eeu nie. Kry dit vir eens en altyd in jou kop dat ek nie in hierdie seuns belangstel nie. Ek stel in hul geleerdheid en opvoeding belang en dis al! Hoe gouer hierdie seuns egter leer dat ’n vrou in ’n kort rokkie tennis speel, hoe minder sal hulle hulle daaraan vergaap as hulle teen ander spanne speel.” Sy sluk diep. “Wat Paul betref, ek het hom gehelp met wiskunde. Ek kan egter insien dat dit nie reg was om hom hier te woord te staan nie. Daarom sal ek daardie deel van die skrobbering aanvaar en in die toekoms sal ek die seuns in die eetsaal spreek wanneer dit nodig is.”
Bertus staan stil en uit die veld geslaan na haar en kyk. Sy het nou die wind heeltemal uit sy seile geneem. Hy maak sy mond oop om iets te sê, maar sy praat al klaar weer.
“Ek kan nou ander klere aantrek, maar die kinders sal dadelik weet dat dit die rede is hoekom jy my oor die kole gehaal het. Dit sal hulle aan die wonder sit en dinge laat opmerk wat glad nie nodig was nie. Hierdie seuns het almal ma’s en die meeste het susters ook. Andersins kan ek nou hier uitgaan soos wat ek is en hulle sal nie raai waaroor dit alles gegaan het nie.”
Sy staan terug en wag op sy antwoord.
Bertus gluur haar nog steeds woedend aan. Sy was darem nou grootmoedig genoeg om te erken dat dit verkeerd was om vir Paul in haar kamer ekstra klas te gee. Dit het hom onkant betrap. Hy het gereken sy sou haar op daardie punt ook wou verdedig. Hy snork dus net verontwaardig en swaai om om uit te stap.
Sy wip egter rats voor hom in voordat hy by die deur kom.
“Moet ek ander klere aantrek?” Sy meet hom met haar oë en die eerste keer sien hy watter mooi bruin oë sy het. Hy sien ook hoe sag haar hare om haar wange krul voor dit aftuimel na haar skouers toe.
“Maak tog soos jy wil! Jy doen dit in elk geval.”
Hy druk by haar verby en stap met lang treë by die deur uit.
Annie tel haar boeke op en stap na die eetkamer toe. Sy kan beswaarlik haar lag hou toe sy sien hoe vinnig die nuuskierige gesigte voor die venster verdwyn.
Hoofstuk 4
Bertus tik op die tafel en ’n doodse stilte sak oor die dertig seuns in die eetsaal toe.
“Kobus, ek gaan net ná ontbyt in dorp toe. Ek laat alles in jou hande. Ek wil niks, absoluut niks, van een van julle hoor nie!” Hy kyk die spannetjie tydsaam deur en Annie moet sluk aan die onvergenoegdheid wat in haar opstoot.
Hy ignoreer haar geheel en al. Sy is al drie weke hier en nog steeds het hy nie veel meer as ’n paar sinne met haar gepraat nie.
Vandag is Saterdag en dit sal die eerste dag wees dat hy nie hier by die koshuis is nie. Hy het sy intrek in die ander kamer kom neem en hy is net eenvoudig oral. ’n Mens is te bang om hard te praat.
“Die tennisbane moet gerol word en die rugbyveld se gras moet gesny word. Julle weet wie verantwoordelik is daarvoor. Dit moet alles netjies wees wanneer ek vanaand terugkom. Ek sal moontlik laat wees, Kobus, moenie vir my wag nie.”
“Ek wonder of hy ’n meisie het.” Jan fluister sag onderlangs vir Oswald.
Annie moet haar kieste vasbyt om nie te lag nie. Sy sit reg langs Oswald en Jan en sy kan elke woord hoor wat gesê word.
“Wie sal tog na hom kyk? Hy sal vir hom ’n vrou in ’n slagyster moet vang.” Oswald kyk vies na Bertus se groot gestalte.
Daar is ’n gedempte opgewondenheid aan die ontbyttafel en Annie wonder of dit die feit is dat Bertus die res van die dag nie hier gaan wees nie.
“Dit was darem nie nodig dat ons die bane moet rol én die gras moet sny op hierdie sonnige Saterdag nie.” Org kla kliphard toe hulle buite hoorafstand van Bertus is.
“Nee, ou matie, nou maak die groot indoena seker dat ons nie kan rondlê soos niksdoeners nie.”
Annie kyk met hartseer in haar hart na die klompie seuns. ’n Gedagte kom kruip so vinnig uit sy skuilplek en weer terug dat dit ’n tweede keer moet kom loer voordat sy daaraan aandag skenk.
Toe Bertus se bakkie oor die bult verdwyn, storm die seuns uitgelate in die binnehof van die koshuis uit.
“Jippie! Jippie! Een dag van vryheid, gelykheid en broederskap!” rond Pieter die uitbundige uitroepe af.
Annie lag kliphard waar sy ook in haar oop kamerdeur verskyn.
Pieter met sy groot liefde vir die Griekse mitologie kom buig galant voor haar.
“O Persephone, Pluto het pas uit die onderwêreld gekom om die skone kind van Demeter te vra om die dag, hierdie heerlike somersdag, saam met hom en sy medegevangenes deur te bring.”
“Ag, Pieter, jy’s ’n verspotte kind! Ek het egter ’n briljante idee gekry.”
Die seuns kom drom almal om haar saam.
“Kobus moet net eers sy toestemming gee.”
Kobus staan nader en sy rooi kop vlam behoorlik teen die agtergrond van groen grasperke en wit mure.
“Juffrou is die baas, nie ek nie.”
“O nee, meneertjie, jy is in beheer geplaas oor alles en dit sluit my in.”
Die ander lag en staan vrolik nader. Hierdie juffrou raak al dierbaarder. Org van Rensburg sal deesdae vuisslaan as iemand haar te na wil kom.
“Ek het gedink ons trek nou almal ons oudste klere aan en dan kom help ons almal werk. Daarna kan ons gaan piekniek hou. Ons vra vir die kok om vir ons piekniekkos te maak en dan kan hy ook die dag vry kry.”
Sy sien geen geesdrif op die seuns se gesigte vir die kok se piekniekkos nie en lag klokhelder.
“Goed, ek sê julle wat: Gaan werk julle solank, dan maak ek vir ons kos en dan kry ek julle by die rugbyveld.”
“Want sy is ’n gawe juffrou! En ons sê almal so!” begin die seuns soos een man sing. Jan sit die verspotte liedjie in met sy growwe stem en die ander sing vals saam en wil haar op hul skouers kombuis toe dra, maar sy keer laggend.
“Nee, wag, julle raak stuitig! Is hier nie ’n swembad nie?”
“Jaaa!” Dis meer ’n juigkreet as wat dit ’n antwoord op haar vraag is.
Kobus verduidelik sommer namens almal. “Dis nie juis ’n swembad nie, juffrou, dis ’n lekker groot dam. Dit loop vol uit die fontein en die orige water loop aan die ander kant uit. Die dam is dus altyd lieflik skoon en die water word aan die ander kant met ’n stroompie weggevoer.”
“Hoe ver is dit hiervandaan?”
“Net hier anderkant, juffrou.”
“Wat sê jy, Kobus, sal ons dit doen?”
“Vir my klink dit heerlik, juffrou, maar wat sal meneer Kruger sê as hy daarvan te wete moet kom?”
“Mag julle dan nie daar swem