Piekfyn Afrikaans
’n Geïntegreerde taalteks
Graad 8
Eerste Addisionele Taal
Leerderboek
Riens Vosloo, Henk Viljoen, Lucas Malan, Hettie Scholtz
Voorwoord
Liewe graad 8-leerder
Welkom in die hoërskool!
Alles is skielik vreemd in ’n nuwe skoolomgewing, maar Piekfyn Afrikaans Graad 8 gaan jou help om alles vinnig te bemeester.
Saam met jou nuwe Afrikaansonderwyser gaan interessante tekste, foto’s, illustrasies en verskillende soort vrae jou help om jou graad 8-jaar ’n piekfyn leerervaring te maak.
Elke module se Pitkos, In ’n neutedop en Woordeskatuitbreiding gaan jou help om al die aktiwiteite foutloos uit te voer. Gebruik ook die tekste in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek om selfstandige, beurt- en groepbegeleide lees te doen.
Hoe lyk toetse en eksamens in graad 8? Module 18 het goeie wenke en voorbeeldvraestelle om jou vir die Junie- en November-eksamens voor te berei. Baie van die modules het ook hersieningstoetse wat jou vir die eksamen en kwartaaltoetse kan voorberei.
Ruil idees uit, gesels saam en moedig mekaar verder aan om Afrikaans te praat!
Die samestellers
Die module begin met ’n luisteropdrag. Jy gaan luister na ’n berig oor hoe vinnig iemand ’n SMS kan stuur. Hou ’n groepbespreking en vertel wat jy alles kan onthou.
Jy gaan leer van spelling, klankverskynsels, skryftekens en afkortings en seker maak dat jy jou SMS’e reg spel.
Lees ’n gedeelte van ’n storie en beantwoord daarna kontekstuele vrae. Leer ook uit watter dele ’n boekomslag bestaan.
Skryf jou eie verhalende opstel na aanleiding van twee illustrasies. Onthou om die stappe van prosesskryf te volg.
’n Hersieningsoefening toets jou kennis en vaardighede van wat jy geleer het.
Sluit die module af en lees ’n kortverhaal uit jou Piekfyn Afrikaans Leesboek.
In hierdie aktiwiteit gaan jy
’n groepbespreking hou ’n groepbespreking hou
na ’n berig luister
vrae oor die berig beantwoord
taalvrae beantwoord.
Het jy jou vakansie geniet? Jy het jou selfoon seker baie gebruik – veral om vinnig met jou vriende te gesels. Luister nou aandagtig wanneer jou onderwyser ’n teks aan jou voorlees oor mense wat blitsvinnig SMS’e kan stuur.
Luisterbegrip
Preluister: Gesels met mekaar oor die volgende vrae en die illustrasie.
Beskryf wat jy in die illustrasie sien.
Waarom dink jy het die vinger ’n kroon op? Waaraan laat dit jou dink?
Wie van julle het ’n selfoon?
Hoe gereeld stuur jy SMS’e?
Vir wie stuur jy die meeste SMS’e?
Tydens luister: Jou onderwyser gaan nou ’n berig “Vinnige vingers maak hom SMS-koning” aan jou voorlees. Doen die volgende:
Luister net eers terwyl jou onderwyser die berig die eerste keer voorlees. Moenie notas afneem nie.
Daarna gaan jy kans kry om na die vrae te kyk. Jy kan dan enkele notas maak.
Jou onderwyser gaan die teks ’n tweede keer voorlees. Jy mag nou notas neerskryf.
Jy moet dan die vrae beantwoord. Jy mag nou notas gebruik.
Postluister: Beantwoord die volgende vrae oor die luisterteks.
Vrae oor die inhoud van die berig.
1. In watter land bly Craig Crosbie? (1)
2. Hoeveel woorde kon hy tik? (Skryf jou antwoord in woorde uit.) (2)
3. Hou oud is Craig Crosbie? (Skryf jou antwoord in woorde uit.) (1)
4. Watter prys het hy gewen? (1)
5. Hoeveel ander mense het ook aan die kompetisie deelgeneem? (1)
Afleiding.
6. Maak ’n lysie van twee dinge wat hy nou met sy wengeld kan doen. (2)
7. Skryf ’n woord neer wat dieselfde beteken as “om geen geld te hê nie”. (1)
8. Kies die regte antwoord: Wanneer hy oor Las Vegas gedroom het, . . . (1)
a. het hy nagmerries (nightmares) gehad.
b. wou hy altyd daarheen gaan.
c. het hy baie geslaap.
9. Vul die regte antwoord in. Suid-Afrikaners werk met rande, maar Craig werk met . . . (1)
10. Craig is die vinnigste SMS’er in die wêreld.
a. Is die sin waar of onwaar? (1)
b. Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
Wat dink jy van die berig?
11. Dink jy dit is goed dat hy so baie SMS’e stuur? Hoekom/Hoekom nie? (1)
12. Wat sal jou ouers doen as jou selfoonrekening so hoog soos Craig s’n is? (1)
Totaal: 15 punte
Formele assessering: Jou onderwyser kan jou antwoorde formeel assesseer vir Taak 1 van kwartaal 1.
Groepbespreking
Gebruik nou jou notas en die antwoorde op die vrae om ’n kort verslag oor die berig op te stel. Vertel vir mekaar waaroor die berig gegaan het.
Beplan wat die hoofidees is.
Rangskik hierdie idees in ’n logiese volgorde.
Taal in konteks
Spelling
Vokale/klinkers(vowels) is klanke soos a, e, i, o en u.
Konsonante/medeklinkers(consonants) is klanke soos m, t, l, z, r en ng.
Diftonge/tweeklanke (diphthongs) is klanke soos aai, ooi, ui, byvoorbeeld: baai, rooi, lui.
Klankgrepe is wanneer woorde volgens klanke, soos jy dit uitspreek, opgedeel word, byvoorbeeld: onmiddellik – on/mi/de/lik
Lettergrepeis wanneer woorde volgens hulle spelling verdeel word, byvoorbeeld: onmiddellik – on/mid/del/lik
Oop lettergrepe is wanneer die lettergreep op ’n vokaal eindig, byvoorbeeld: le-re – oop(o)/oop(o).
’n Geslote lettergreep eindig op ’n konsonant, byvoorbeeld: hoen-der – geslote(g)/geslote(g).
Klankverskynsels