Ander sigaretvervaardigers was baie skepties.
Hoewel Rembrandt tegniese advies van Rothmans in Engeland gekry het, het Sydney Rothman geweier om Rothmans King Size of Rothmans King Size Filter (wat Rembrandt onder lisensie in Suid-Afrika vervaardig het) in Brittanje te bemark. Hy het glad nie gedink dat daar ’n mark vir filtersigarette van koningsformaat is nie, so nuut en onbeproef was die nuwe produk op die wêreldmark. Dit het uiteindelik daartoe bygedra dat Rupert in staat was om Rothmans oor te neem. Toe eers het hierdie Rothmans-baba, soos Rupert die nuwe sigaret genoem het, in Londen die lig gesien. Op die koop het dit gebeur eers nadat dáár sukses behaal is met die Londens vervaardigde Peter Stuyvesant King Size Filter, dus die sigaret met die handelsnaam waaronder Rembrandt sy skouspelagtigste vordering gemaak het.
Sydney Rothman was ook nie die enigste twyfelaar nie. ’n Ander was die grootste vervaardiger van sigarette in Europa, die Duitser Philipp Reemtsma, met wie Rupert se broer Jan reeds in 1950 in Hamburg kennis gemaak het. Hy het toe aan Reemtsma ’n fotoalbum van Rembrandt se fabriek, verpakking en reklame getoon, en die Duitser was geïmponeer: “Produkte soos hierdie en sulke reklame kan nooit faal nie.”
Tussen Rupert en Reemtsma ontstaan gedurende die jare vyftig ’n hegte vriendskap. Rupert kon aanvanklik geen Duits verstaan of praat nie, terwyl Reemtsma, wat Rupert beskou as die grootste tabakman wat hy die eer gehad het om te ken, op sy beurt nie Engels magtig was nie. Tog het hulle mekaar gevind.
Reemtsma, een van die mense wat Rupert op ’n deurslaggewende wyse gehelp het, het vermoed dat die jonger man sy belangrikste mededinger sou word. Hy was ’n vlieënier uit die Eerste Wêreldoorlog wat in die Tweede Wêreldoorlog drie seuns verloor het, twee op die slagveld en die derde weens polio, en hy het homself afgevra: “Wat sou jy vir jou eie seun wou doen?” Hy het besluit om Rupert te help.
Die bordjies is later verhang. Reemtsma het Rupert minstens een keer per maand om advies gevra. En hy het daarop aangedring om Rupert te betaal. Hul vriendskap was so heg dat hy Rupert as trustee vir die belange van sy oorlewende seun, Jan Philipp Reemtsma, ’n kind uit sy tweede huwelik, wou aanstel. As trustee sou Rupert egter na Europa moes verhuis, en hy het nie daarvoor kans gesien nie.
Teen 1954 veroorsaak die nuwe konsep van koningsformaat-filtersigarette ’n ommekeer in die Amerikaanse mark, maar die Europeërs bly skepties. Rupert redeneer ’n slag tot laatnag met Reemtsma in Bad Gastein in Oostenryk oor die innovasie, maar kan hom nie oortuig nie. Reemtsma volhard met sy mening dat daar nie ’n mark vir die filtersigaret bestaan nie.
Rupert, nie iemand wat maklik tou opgooi nie, bly egter ewe volhardend in sy redenasie. Uiteindelik is dit al amper vieruur die oggend en Reemtsma, waarskynlik uitgeput van die stryery, besluit om ’n kompromis aan te gaan.
As filtersigarette 6% van die mark verower, gee hy oplaas toe, sal hy Rupert gelyk gee.
Rupert, allesbehalwe kleinmoedig, sê dit sal 80% wees – ’n persentasie wat wel later bereik is. En teen die jaar 2000 het 93% van alle sigarette wat in die wêreld gerook is, filters gehad. Filtrona International bereken dat die wêreldmark in 1999 altesame 5,7 triljoen sigarette bedra het, waarvan 5,3 triljoen filtersigarette was. Die filtermark is oorheers deur sellulose-asetaatfilters, waarvan Estron die voorloper was: 69% teenoor die naasgrootste produk, polipropileenfilters met 21%, hoofsaaklik in China.
Die episode met Reemtsma vertel heelwat van die mens Rupert. Hy is ’n fynbeskaafde mens, gekultiveer en netjies, en altyd hoflik. Maar hy is ook iemand met vaste oortuigings; iemand wat kon volhou wanneer ander tou opgooi. En as hy iets gedoen wil hê, wou hy dit gedóén hê. As hy oortuig is dat ’n innovasie die regte ding op die regte tyd is, laat hy hom deur niks en niemand stuit nie. Daarom kon sommige van sy goeie vriende sê dat hy ’n man van staal is.
Ander innovasies waarmee Rembrandt die voortou geneem het, is die wêreld se eerste mentolfiltersigaret; die wêreld se eerste koningsformaatsigaret met “Multifilter”; die wêreld se eerste sigaret met superporeuse “Multivent”-papier; die wêreld se eerste sigaret met die ultramoderne gouebandfilter; en die wêreld se eerste sigaret van luukse lengte.
Teen 1953, skaars vyf jaar ná ’n beskeie begin in ’n koringmeul in die Paarl, beheer Rembrandt ’n groot deel van die mark in sigarette in Suid-Afrika.
Dit stel Rupert egter nie tevrede nie. Bedag op mededinging en die moontlikheid van ’n prysoorlog, sowel as besiel deur sy droom om te bewys dat die Afrikaner in die beste geselskap kan slaag, begin hy na die buiteland kyk.
In November van daardie jaar kom hy van ’n vriend in Londen te hore dat Rothmans, die ou maatskappy wat in 1890 in Engeland gestig is, besig is om aan ’n nog ouer Britse tabakhandelaar, Carreras, uit te verkoop.
Dié ontwikkeling hou gevaar in vir Rembrandt, aangesien die lisensie-ooreenkoms oor die handelsmerke van Rothmans en Consulate, wat met groot sorg tot winsgewendheid opgebou is, ná tien jaar verstryk en teruggeneem kon word.
Die transaksie was al byna afgehandel, maar toe kom Carreras af op ’n belastingprobleem met Rothmans. Die moontlikheid ontstaan dat Carreras drievoudig aangeslaan kon word weens oorlogstydse belastings wat die belastinggaarder as nie heeltemal bevredigend beskou nie. Die onderhandelings word daarna tydelik verslap.
Rupert, toe reeds van inligting bedien deur ’n netwerk wat mettertyd in die moderne terminologie as ’n “korporatiewe intelligensiediens” bekend sou staan, besluit om blitsig toe te slaan. Hy vra sy vennoot Dirk Hertzog om onmiddellik na Londen te vertrek met net één opdrag: Doen vir Sydney Rothman ’n aanbod mits hy onmiddellik ja of nee sê.
Rupert bereken dat die opbreekwaarde van Rothmans £750 000 beloop, met geen klandisiewaarde nie, en dit is al wat hy bereid was om te betaal. Hy het Rothman goed geken en weet dat hy nie vinnig besluite neem nie.
Hy gee Hertzog opdrag om, as Rothman hom nie dadelik wil meedeel of hy ja of nee sê nie, dan na die Vasteland uit te wyk en daar te wag sodat Rothman kans kon kry om die saak te oordink.
Hertzog doen dit. Toe hy ná ’n ruk in Londen terugkeer, sê Rothman aan hom: “Goed, ek sal nou vir jou antwoord op jou aanbod.”
Hertzog bied, soos vooraf afgespreek, £750 000 aan, dus R1,5 miljoen. En Rothman sê ja.
Eensklaps bekom Rembrandt ’n onderneming wat in Brittanje sake gedoen het sedert die vorige eeu, toe Louis Rothman sy kiosk in Fleet Street in Londen geopen het. Maar toe Hertzog die transaksie beklink, beskik Rembrandt oor sowat £125 000 kapitaal, met ’n bietjie reserwes. Rupert moes skielik iewers meer as £700 000 vind, maar waar?
Op die aand van Woensdag 18 November 1953 ontmoet Rupert vir A.D. (Lens) Wassenaar, hoofbestuurder van Sanlam, in die ou Hotel Carlton in Johannesburg. Hy vra Wassenaar of Sanlam nie kan help met ’n lening nie, want hy het ’n groot bedrag nodig. Juis die Sanlamgroep se besturende direkteur, dr. Louw, het vyf jaar tevore die eerste sigaret van Rembrandt se Paarlse fabriek in ontvangs geneem.
Maandag 25 November 1953 is bepaal as betaaldag vir die oorname deur Rembrandt, dus is daar nog net vier dae oor om die geld te vind. Wassenaar laat nie gras onder sy voete groei nie. Hy is die volgende dag terug in Kaapstad en belê ’n buitengewone vergadering vir Vrydag van Sanlam se dagbestuur, wat gewoonlik op Woensdae vergader. Die saak is so dringend dat ’n motor die Vrydagoggend na Riebeek-Wes gestuur word om een van Sanlam se direkteure, F.S. Malan, te gaan haal.3
Vir die eerste keer in Sanlam se geskiedenis word ’n buitestander toegelaat om die direksie toe te spreek. Rupert se voorlegging, gelewer met al die oorredingskrag waaroor hy beskik, word so goed ontvang dat hy magtiging kry om omskepbare skuldbriewe ten bedrae van £500 000 te bekom. Sanlam skiet die helfte van die bedrag voor, sy filiaal African Homes Trust (later Homes Trust, uiteindelik Metlife) en Bonuskor en FVB, wat albei deur Sanlam gestig is, die ander helfte. Die orige kwartmiljoen kom van Volkskas.
Die geld moes die