Een nag in Vegas. Elize Mitchell. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elize Mitchell
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624057734
Скачать книгу
hoor niks van die seremonie nie. ’n Onbeheerste lagbui wil haar oorval toe sy dink hoe lekker hulle nog in die toekoms hierdie storie aan hulle vriende gaan vertel –nie asof iemand dit sal glo nie. Dis amper soos kleintyd toe sy en haar maatjies so lekker trou-trou gespeel het. Sy sien nog die wit laken om haar lyf gedrapeer en haar ma se teenet op haar kop, kompleet soos ’n sluier. Net die bruidegom het ontbreek, maar in daardie stadium was hy van minder belang. Alles het om die bruid in al haar kinderlike glorie gegaan.

      Toe Simon die ring aan haar vinger moet steek, onthou albei daar is nie een nie. Maar hier word aan alles gedink. Die dame wat getuie van die seremonie is, is blitsig by met ’n houer vol ringe en Simon kies een wat naastenby reg lyk. Hy glip die ring aan Telani se ringvinger en hou haar hand styf vas. Sy oë blink toe hulle man en vrou verklaar word en die ampsbekleër sê dat hy sy bruid mag soen. Simon se lippe raak net vlugtig aan hare en Telani glimlag mooi toe daar selfs foto’s van hulle geneem word.

      Ná die plegtigheid handel Simon die dokumentasie af terwyl Telani gaan verklee. Sy hou die rok ’n oomblik styf vas. Dis seker die naaste wat sy aan trou sal kom, dink sy hartseer.

      “Dit was nou lekker, onverwagse vermaak,” wag Simon haar in. “Hulle het sowaar vir alles gesorg, daar het niks ontbreek nie.”

      “Het jy onthou om die foto’s te vat?” vra Telani. “Ons pelle sal hulle doodlag as hulle dit sien.”

      Hy gee die koevert aan en sy soek tussen die papiere en haal ’n foto van haar en ’n glimlaggende Simon uit. Sy hou dit triomfantelik omhoog asof hulle ’n eerste prys in die skoolkonsert gewen het.

      “Hierdie een gaan ’n lekker storie wees.” Sy draai na hom. “Het ons dit regtig gedoen, Simon?”

      Hy knik, kyk by die venster uit, ontwyk haar oë. “Jip, ons is man en vrou.”

      “Nou kan ek ook sê ek is getroud waar party van Holly­wood se bekendes al getrou het,” sê sy selfvoldaan.

      Simon wink ’n taxi nader. Hy is ongewoon stil. Telani is skielik lomerig, asof die lang en opwindende dag besig is om sy tol te eis. Die sagte geruis van die motor laat haar kop knak en sy is skaars bewus daarvan toe Simon haar saggies teen sy skouer laat rus.

      3

      “Wakker word, Telani, ons is hier.” Iemand skud haar liggies.

      Telani maak haar oë oop en kyk verward rond. Sy en Simon is by die hotel.

      Half deur die slaap loop sy saam met hom tot by haar kamer. Nou soek sy net haar bed. “Dit was ’n heerlike dag, Simon. Baie dankie vir al die mooi plekke wat jy my gewys het.” Sy probeer ’n gaap onderdruk. “Kyk net hoe laat is dit al. Vanaand gaan ek darem soos ’n klip slaap,” sê sy terwyl sy in haar handsak krap vir haar kamersleutel. Hy neem dit en sluit oop.

      “Mag ek my bruid oor die drumpel dra, mevrou Van Breda?” vra hy en tel haar op.

      Sy skrik haarself wawyd wakker en lê doodverskrik in sy arms. Watse nonsens is dit? vra sy haarself toe haar hart bokspring. Ek is mos lankal nie meer ’n bakvissie nie. Hy moet net nie hierdie ding oordryf en dink hulle trouery gee hom huweliksregte ook nie.

      Sy wens hy wil ophou om so intens na haar te kyk. Sy sug en maak haar oë toe, verlustig haar teen wil en dank in die warmte hier in sy arms. Sy wil net ’n oomblikkie langer hier in sy arms nestel, vir oulaas nog ’n bietjie van die warmte van ’n man teen haar voel. Veral vanaand het sy dit bitter nodig.

      Sy loer deur haar wimpers toe hy geen aanstaltes maak om haar neer te sit nie. Verbeel sy haar, of kom sy lippe ál nader? En die manier waarop hy na haar kyk! Sonder dat sy dit kan help, veroorsaak dit ’n vlammetjie wat ’n warmte in haar ingewande aan die brand steek. Haar asemhaling word hewiger, sodat sy bang is haar deinende borste gaan by die lae hals van die rok uitpeul. Sy moes nooit die dekselse ding aangetrek het nie, verwyt sy haarself toe sy sien hoe sy oë elke beweging volg. Alles ouma Lettie se skuld. Dis van haar dat sy haar vol borste geërf het wat altyd eerste aandag trek. Geen wonder haar vriendinne glo vas sy het borsinplantings gehad nie.

      “Wag, Simon,” gooi sy halfhartig wal en probeer haarself loswikkel. Teësinnig sit hy haar neer. “Ons moenie hierdie kammatroue te ver laat gaan nie. Ons . . .”

      Sy hande vou om haar gesig en sy oë is diep, potblou poele waarin sy besig is om hulpeloos weg te sink.

      “Telani,” fluister hy hees, “ons is dan getroud.”

      “O ja, ek het vergeet,” probeer sy ’n flou grappie maak terwyl sy verwoed watertrap.

      Hy troon bo haar uit en sy oë pen hare vas met ’n krag wat haar laat versteen terwyl sy lippe naderkom. So hulpeloos moes Lot se vrou gevoel het, flits dit deur haar kop.

      “Nee, Simon,” keer sy halfhartig toe sy mond oor haar halfoop lippe sluit. Sy voel hoe sy arms stywer om haar vou.

      Hoekom kan ek nie helder dink nie? wonder Telani verdwaas. Stop hom, nou dadelik, probeer ’n stemmetjie desperaat om haar te oortuig dat hulle besig is met ’n gevaarlike en verkeerde speletjie.

      Sy draai haar kop om weg te kom van sy lippe, maar sy tong skuur teen haar oor en begin met haar oorlel speel. ’n Siddering gaan deur Telani se lyf. Nou is haar ore ook aangetas, want die stemmetjie wat haar op koers moet hou, raak al flouer, sy kan dit skaars meer hoor. Sy probeer haar loswikkel sodat dit darem lyk asof sy bedoel wat sy sê, maar sy arms om haar is te sterk. Dis nou skone malligheid, haar hart is gebreek, sy het dan ’n ander man lief. Haar lyf kan onmoontlik reageer op die liefkosings van ’n wildvreemde. Of kan dit? vra die onnutsige stemmetjie weer, die een wat sy wil verwurg omdat hy nie sy werk doen nie. Dalk is ’n bietjie koestering net die medisyne om die pyn in haar hart mee te verdoof, hou die stemmetjie aan. Net vanaand, smeek haar hart terwyl sy in haar gedagtes verskoning maak vir die onheilige begeertes wat aan die kop uitsteek is. Sy sal sorg dat dit nie te ver gaan nie, probeer sy haarself oortuig, sy weet sy kan. Sy wil haar net aan die oomblik vergryp, vergeet wat eens was.

      Netnou as hy weg is, sal sy lag oor hoe maklik hy dit reggekry het om haar hormone deurmekaar te klits, net soos dié van ’n skoolmeisietjie wat die eerste keer deur haar skoolkys gesoen is, maar dit hoef hy nie te weet nie.

      Asof Simon heldersiende is, tel hy haar op en sy probeer nie eens teëstribbel nie. Met elke tree kom die koningsgrootte bed nader terwyl sy mooi oë hare vaspen sodat sy nie kan wegkyk nie. Vir ’n oomblik bly hy staan met haar in sy arms, dan lê hy haar neer. Sy hande druk weerskante van haar lyf terwyl hy oor haar buk. Sy kyk op, vas in sy oë wat haar uitdaag.

      “Moet jy nie liewer gaan nie, Simon?” probeer sy flou­tjies keer.

      “Dis te laat, Telani, moenie dit nou van my verwag nie,” fluister hy hier by haar mond terwyl sy lippe oor haar gesig soek.

      Dis te veel vir haar uitgehongerde liggaam om sy sensuele lippe langer te weerstaan. Haar hande vou krampagtig agter sy nek en sy soen hom driftig. Sy is net vaagweg bewus van hoe sy hande oorhaastig sukkel met die knopies van haar rok.

      Sy dink nie meer logies nie. Dis asof ’n sluier oor haar verstand getrek is. Al wat op hierdie oomblik saak maak, is dat daar iemand is wat haar begeer, ’n man wat met sy aantreklike voorkoms en lenige lyf enige meisie kan kry, en hy kies om by haar te wees. Vir haar gekneusde ego is dit soos salf op ’n rou wond.

      “Jy is onweerstaanbaar, Telani.”

      “Moenie, Simon, jy hoef nie nice te wees nie.”

      “Jy praat te veel,” fluister hy hees terwyl hy sy klere af­ruk.

      Sy moet hom keer, nou, voor al haar goeie voornemens daarmee heen is, maar sy klou hom vas, wil hom nie laat gaan nie, wil nie dink aan môre nie. Sy wil net hier wees met sy warm liggaam styf teen hare, haarself in ’n see van vergetelheid verdrink. Sy wil vergeet dat hierdie nag haar huweliksnag sou gewees het met die man wat sy liefhet, dat hulle nou op hulle wittebrood moes gewees het. Sy wil alles in haar wat so seermaak, haar versmade liefde, die vernedering dat sy verwerp is, doodsmoor.

      Vannag gaan sy die pyn