Saartjie besef sy moet kalm bly. Sy moet helder dink. Muggie skree en huil nou histeries. Anna huil ook hard. Lina is so lam geskrik dat sy nie ’n woord kan uitkry nie.
Weer kyk Saartjie af. Die gat is omtrent vyf meter diep. Hier is nie ’n tou waarmee haar maats haar kan laat afsak nie. Hier is niks waarmee sy in die gat kan afklim nie.
Muggie lê nou sag en kreun, maar af en toe gil sy nog van pyn.
“Ek moet na haar toe gaan,” sê Saartjie vasbeslote.
“Maar . . . hoe . . .” stamel Lina, “hoe gaan jy dit regkry?”
“Daar is net een manier. Ek sal moet spring!”
“Nee, Saartjie,” snik Anna. “Jy gaan jou nek breek. Dis mý sussie. Laat ek.”
“Moenie simpel wees nie,” snou Saartjie haar toe. “Jy is te lomp en jy’s glad nie ’n atleet nie.”
Saartjie kyk weer af. Ver onder haar sien sy die gebreekte planke. Eenkant en half op die planke lê die kreunende Muggie met Trienkie. Net langs die planke lyk dit asof daar ’n sanderige plekkie is. Sy sal moet spring sodat sy daarop te lande kom.
“Luister mooi,” sê Saartjie. “Ek gaan afspring en by Muggie bly. Daar is geen manier hoe ons haar gaan uitkry nie. Sodra ek onder is, hardloop julle en gaan haal hulp. Dit help nie een van julle bly hier en bekommer haar dood oor die ander nie – hardloop albei van julle! Verstaan?”
Lina en Anna knik.
“Hier, Lina,” sê Saartjie en gee vir haar die flits. “Lig op daardie sanderige plek.”
“Wees tog asseblief net versigtig,” kerm Anna.
“Ek sal. Julle moet baie vinnig hardloop.”
Muggie begin weer huil. Haar rou snikgeluide sny deur die verlate huis.
Saartjie kyk na die ligkol op die sand ver onder haar. Sy moet só probeer spring dat as sy seerkry sy darem nog tot by Muggie kan kruip om haar te help en te troos.
Sy vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. Dan sê sy: “Hier kom ek, Muggie!” en spring.
Saartjie val hard, half op haar sy. Sy kreun en snak na asem. Haar wind is byna uit.
“Is jy oukei?” skree Anna en Lina beangs.
Saartjie hyg. Dan glimlag sy en roep boontoe: “Ek dink so!”
Sy sukkel regop en kreun van die pyn. Haar skouer het seergekry.
“Gooi nou die flits af, Lina!” beveel sy hygend. “En hou dit aangeskakel.”
Saartjie vang die flits en sukkel tot by die kermende dogtertjie met die pop.
“Hier’s ek, Muggie, hier’s ek,” sê sy sag. “Nou hoef jy nie meer bang te wees nie.”
Moederlik neem Saartjie die huilende figuurtjie in haar arms.
“Waar is dit seer?”
“Hier,” snik Muggie en wys na haar enkel. Saartjie sien hoe geswel dit is. Muggie moes dit verstuit het.
“Sy is nie ernstig beseer nie,” lig Saartjie haar twee maats in. “Hardloop nou en gaan kry vir ons hulp. Sê hulle moet ’n leer saambring. Maak gou!”
“Ons is nou-nou terug!” skree Anna. Dan hardloop sy en Lina by die huis uit en in die reën om hulp in Lynnekom te gaan haal.
Saartjie bly alleen saam met Muggie in Bergzicht – die huis net die donker geheime – se somber kelder agter.
Sy gesels opgeruimd met die kleintjie: “Dit sal nie lank vat nie. Hulle kom ons netnou hier uithaal,” en streel sag oor haar voorkop.
Muggie se snikke kom stadigaan tot bedaring. Dit is nou pikdonker hieronder. Alles ruik na muf.
“Saartjie,” snik Muggie skielik.
“Ja, Muggie?”
“Is julle baie kwaad omdat ek agter julle aangeloop het?”
“Nee, Muggie,” sê Saartjie.
“Julle sal nie die lekkers wat julle vir my gegee het terugvat nie?”
“Nee, natuurlik nie.”
Dit lyk of Muggie nou begin beter voel. Sy vra vir Trienkie hoe sý voel en dan sê sy: “Lyk my Trienkie het so geskrik dat sy nou nie eers boe of ba kan sê nie.”
Saartjie gee ’n effens verbouereerde laggie. Sy hou nie van hierdie bedompige kelder nie. Sy wens Anna en Lina wil nou hulp bring. Die grillerige, dooie reuk word al skerper. Sy wonder hoekom die kelder hier gebou is. Sy sal graag wil ondersoek instel, maar sy kan Muggie nie nou alleen los nie. En haar skouer pyn nogal erg.
Sy vat egter wel die flitslig en laat die lig in die kelder – of is dit ’n grot? – rondspeel.
Skielik trek Saartjie haar asem vinnig in. Sy kry hoendervleis. Sy wil gil, maar onthou net betyds van Muggie wat nou so gemaklik in haar arms lê en half insluimer.
Dit voel vir Saartjie of haar hart gaan staan.
Sy kyk weer na die hoek waar die lig val. Sy het haar nie misgis nie. Dit is wat sy gedink het dit is: bene – doodsbeendere!
Die skedel met die twee holtes waar die oë was, kyk reguit na Saartjie. Dit voel vir haar hulle staar soos twee kole vuur na haar!
Sy skakel die lig af en sidder.
“Wat’s dit, Saartjie?” vra Muggie wat nie die geraamte gesien het nie.
“Dis . . . dis . . . niks nie,” stamel Saartjie. “Probeer bietjie slaap. Die mense is nou-nou hier om ons te kom haal.”
Saartjie hoop van harte die mense neem nie te lank nie. Dit voel vir haar hulle is nou al ure lank in hierdie grafkelder met net die geraamte as geselskap.
Kort-kort verbeel sy haar sy hoor iets: die dooie beendere wat kletterend na hulle toe aangeloop kom! Dan skakel sy die flits weer vinnig aan en lig na die hoek. Maar die aaklige kopbeen lê nog gelukkig in dieselfde posisie.
“My been is baie seer,” begin Muggie later weer huil.
Saartjie versit haar effens en laat die kleintjie meer gemaklik in haar arms lê.
“Moet ek vir jou ’n storie vertel?” vra Saartjie. Sy hoop dit sal sommer haar gedagtes ook aflei van die geraamte wat lyk of hy hulle so belangstellend dophou. Saartjie wens sy kan die flits die hele tyd aanhou, maar sy weet die batterye sal dan nie lank hou nie.
Muggie is lus vir ’n storie. Saartjie vertel vir haar van ’n pragtige prinses wat deur ’n skurk in ’n groot kasteel gevange gehou word. Toe hoor ’n prins eendag van die prinses en hy besluit om haar te red. Saartjie dink die een insident na die ander uit – al die gevare wat hy moes trotseer.
“En toe,” besluit Saartjie uiteindelik die verhaal moet endkry, want sy weet nie meer weet wat om verder uit te dink nie, “ry die prins met haar op sy wit perd weg. Hy neem haar na sy kasteel en trou met haar. En daar het hulle vir ewig en altyd gelukkig saam gelewe.”
“Dankie,” sug Muggie. “Dis ’n mooi storie.” Ewe verontwaardig voeg sy by: “Die prins moes daai skurk nie net een keer met sy swaard doodgesteek het nie, maar sommer twee keer.”
Saartjie se skouer pyn erg. Dan voel sy iets skerps teen haar rug. Sy lig haar op en sien dit is ’n stuk yster. Fronsend kyk sy daarna. Sy krap die sand met haar een hand weg en kom af op die hoek van ’n groot ystertrommel. Saartjie wonder wat daarin is. Maar sy kan nie nou verder ondersoek instel nie, want haar skouer kry te seer as sy so omdraai.
Sy lig weer een keer in die hoek waar die doodsbeendere is en begin nou