Fort van die kappiedraers. Sarah du Pisanie. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Sarah du Pisanie
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624064206
Скачать книгу
dan is jou goed sommer veilig ook.”

      “Dankie, majoortjie! Ek het gehoop jy sal dit aanbied. Daar is belangrike goedjies in daardie wa. Ek het my huis al so halfpad gebou en nou die laaste benodigdhede gaan oplaai, sodat ek my blyplek kan begin klaarmaak.”

      “Jaap! Ek wonder . . . Kan ’n paar van my manne nie sommer saam met jou ry nie? Ons wil ’n patrollie uitstuur in daardie rigting ook. Dan kan ons mos daardie groep ’n bietjie verminder?”

      “Ja, natuurlik! Maar ek kan ook mos maar vir jou die patrolliewerkie doen. Soek julle na die Herero-bendes?”

      Majoor Leutwein verduidelik breedvoerig wat die hele opset is en wat die patrollie alles behels.

      Jaap luister diep ingedagte. “Jy kan net een man saamstuur, majoortjie. Dan kan hy vir jou die inligting terugbring. Ek het vier mense by my en hulle kan al vier skiet.”

      “Dankie, Jaap! Ek maak met graagte van die aanbod gebruik. Ons verwag nie juis moeilikheid in daardie rigting nie. Die fort daar is maar klein. Daar is mos nie veel plase in daardie rigting nie. So! Daar is dus ook nie juis beeste wat hulle kan buitmaak nie.”

      “Nee, reg! As jy my nog ’n bier aanbied, dan doen ek sommer vir jou al die patrolliewerk tot bo in die noorde.”

      Die majoor lag en wink die soldaat nader.

      2

      “Luister, nou wil ek nie weer een woord van julle hoor nie!”

      Ouma Martha se stem is kwaai en gebiedend en dit maak die groepie verskrikte, vreesbevange mense agter haar op die wa onmiddelik stil.

      “Skaam julle nie vir julle om so te sit en kerm nie? As dit nie vir ou Simon was nie, dan was ons nou almal dood! Nie een van julle was nog een oomblik dankbaar omdat hy ons vanoggend kom waarsku het nie.”

      “Maar, Ma!” Die plomp vroutjie druk haar sakdoek voor haar gesig. “Hulle gaan my huis afbrand! My pragtige huis! Daar gaan niks oorbly nie, net ’n hopie as! Wat gaan Piet sê as hy dit sien?”

      “Wat gaan Piet sê?” Ouma Martha is sommer woedend. “Piet moet net oppas dat ek nie vir hom ’n paar dingetjies sê nie. As hy op die plaas was, sou dit nie gebeur het nie.”

      “Maar, Ma!”

      “Ag! Stil tog, Anna! Jy maak my so moeg as jy so kerm. Wees dankbaar dat ons nog almal lewend is.”

      Stieneke Kitshoff kruip diep agter in die ossewa in. Die vrees laat haar keel toetrek.

      Is dit hoe haar drome en ideale gaan eindig? Met ’n koeël in haar liggaam of dalk nog erger, ’n assegaai! Of gaan sy dalk ’n leeu of ’n giftige slang ten prooi val?

      Hierdie groot uitgestrekte land met sy bome en gras en digte bosse maak haar bang! Dit jaag die vrees in golwe deur haar.

      Sy kom uit ’n ryk en vooraanstaande familie van Stellenbosch, is ’n onderwyseres wat al ’n hele jaar lank onderwys gee. Tot ’n maand gelede was haar lewe een lang onbekommerde tydperk van sonskyn en lag.

      Vir Teuns Marais het sy op ’n partytjie ontmoet toe sy net begin skoolhou het. Eers was dit net vriendskap, maar so ongemerk het dinge verander, totdat haar gevoel vir hom haar hele wese gevul het.

      Verlede jaar het sy sommerso sonder aankondiging alles net so gelos en besluit om terug te kom Suidwes toe. Sy ouers is skielik oorlede en het vir hom ’n plaas hier in Suidwes nagelaat. Hy was haastig en ongeduldig om te kom boer. Die twee jaar aan die universiteit waar hy hom probeer bekwaam het as prokureur, het hy net so vaarwel toegeroep en dit afgeskryf as ’n lekker tydjie en goeie onder­vinding.

      Hy het haar gesoebat om saam met hom te kom. Dit was Junie en sy kon nie sommer alles net so los in die middel van die jaar nie.

      ’n Rukkie nadat hy weg is, het sy ’n brief van sy buurman, meneer Piet Coetzee, gekry. Hy het vier kinders en wou weet of sy nie dalk kans sien om as hul goewernante na die plaas te kom nie. Hy het genoem dat Teuns sy buurman is en hom van haar vertel het.

      Die salaris was buitensporig hoog. Stieneke kon daaruit aflei dat hierdie meneer Coetzee ’n ryk man moet wees. Alles het so aantreklik en avontuurlik geklink.

      Teuns se brief was ook met dieselfde pos daar. Hy het haar aangemoedig om dit aan te neem sodat sy naby hom kon wees. Hy het weer eens sy liefde vir haar verklaar. Hy was nog besig om sy plaas op te bou en hy wou vir haar ’n groot en gerieflike huis oprig voordat hy haar as sy bruid daarheen wou bring. Intussen sou hulle mekaar gereeld kon sien en ten minste net verloof raak.

      Alles was net een groot heerlike droom! Die groot ongetemde Suidwes met die blouoog Teuns wat so ongeduldig in sy liefde vir haar wag, het haar hart telkens laat bons van vreugde.

      Haar ouers was buite hulself van vrees. Hoe kon sy, hul enigste dogter, so iets oorweeg? Hoe kon sy weggaan en hulle alleen agterlaat? Hoe kon sy haar aan soveel gevare gaan blootstel?

      Vir alles het sy in haar gelukkige toestand ’n antwoord gehad.

      Haar vrees en die knaende onrus het eers begin die dag toe sy op Swakopmund se hawetjie aan wal gaan en daar niemand was om haar te verwelkom nie.

      Sy het haarself getroos en probeer oortuig dat dit dalk die pos se skuld kon wees. Sy het egter vir Teuns baie lank-al geskryf en ná haar eerste brief het sy selfs nog een van hom ontvang, waarin hy sy blydskap oor haar besluit uitgespreek het.

      Daar was egter vir haar ’n briefie by die hotel op Swakopmund. Van Piet Coetzee.

      Hy het haar gevra om tog asseblief met die treintjie tot op Karibib te kom, waar hy haar sou ontmoet.

      Dit was ’n warm en vermoeiende rit met die ou treintjie. Piet Coetzee was egter op Karibib se stasietjie met sy perdekar en sy twee pragtige, vet-blink karperde.

      Piet was ’n gawe maar stil man. Stieneke wou so graag uitvra oor Teuns, maar iets het haar gekeer.

      Nadat hulle oor allerhande onbenullighede gesels het, het Piet onverwags self van Teuns Marais gepraat: “Juffrou . . . Teuns Marais het my gevra ek moet tog vir jou sê dat hy jou ongelukkig nie kon kom haal nie. Hy sal egter alles self aan jou verduidelik.”

      ’n Diep vrede het skielik in haar kom nestel. Dan was hy darem nog hier in Suidwes. Dan het daar net iets onvoorsiens voorgeval. Daar sal wel ’n goeie verskoning wees. Sy het haar verniet die afgelope paar dae so gemartel.

      Sy het dankbaar geglimlag en nie eens die bekommerde trek op Piet se gesig raakgesien nie. “Is hy op die plaas? Hy is mos jou buurman.”

      “Nee, hy is nie op die oomblik op die plaas nie. Hy is in Ovamboland. Ek gaan ook môre juis daarheen. Ons jag vir ivoor en ons het ’n rukkie terug die berig gekry dat daar weer ’n groot trop olifante is.”

      “O!” Stieneke het so iets nie verwag nie en die wind was vir ’n oomblik heeltemal uit haar seile. “Het . . . het u nou spesiaal gewag om my te kom haal?”

      “Ja! Ons is u vreeslik baie dank verskuldig, juffrou. Ons het ’n onderwyseres so nodig! Ek wou u darem nie afskrik deur ongasvry te wees nie.”

      Hulle het laat daardie nag eers by die huis gekom. Ouma Martha het vir haar kom koffie maak en iets gegee om te eet.

      Die volgende oggend is Piet Coetzee toe weg Ovamboland toe, waar Teuns al op hom gewag het. Sy wa was reeds gelaai en alles was in gereedheid.

      Stieneke was baie dankbaar dat hy tog die moeite gedoen het om haar persoonlik te kom haal. Sy was vreemd ontsteld en hartseer omdat Teuns nie bereid was om die opoffering te maak nie.

      Die Coetzee-kinders het egter dadelik haar hart gesteel. Anna, Piet se vrou, was ’n klaerige en onbeholpe soort mensie. Sy het al die reëlings in die bekwame hande van haar skoonma gelaat en haar heeltemal op die agtergrond gehou.

      Die Coetzees het ’n pragtige huis gehad. Groot en prakties. Die een stoepvertrek is as klaskamer ingerig.

      Stieneke was dankbaar vir die groot vertrek en ook omdat