“Maar te duidelik.”
“Daar is nog iets, Julene. Moenie Horst Buchner hiervandaan probeer verwilder nie. Dis glad nie vanselfsprekend dat jy outomaties hoof van die kliniek sal word as Horst dalk besluit hy gee liewer pad nie. Glad nie.” Hy staan op. “Ek gaan slaap. Nag.”
“Nag, Oupa.”
Sy luister hoe sy voetstappe in die gang afgaan, afdraai en ’n deur toegaan. Dan is daar ’n stem agter haar.
“Jy moet doen wat hy sê, Julene.”
“Al weer staan en afluister.” Sy draai haar kop teësinnig in die rigting van die lang, maer vrou. “Ek weet nie of ek aan sy vereistes kán voldoen nie, Anna.”
“Natuurlik kan jy! Wat bedoel jy?” kom dit skerp.
“Veral daardie een vereiste . . . Ek weet nie of ek dit sal regkry om met Horst Buchner te trou nie.”
Die vrou is ontsteld. “Hoekom nie? Jy het dan self gesê hy is die enigste man wat jy tot dusver raakgeloop het met wie jy sal trou.”
“Ja, maar ek twyfel sterk of ek die enigste vrou is wat hy tot dusver raakgeloop het met wie hý bereid is om te trou.”
Dokter Albert se huishoudster neem eiegeregtig op haar werkgewer se stoel plaas, haar gesig strak. “Jy is jonk, mooi en intellektueel sy gelyke. As jy nie slaag nie, sal dit wees omdat jy nie hard genoeg probeer het nie.”
Die jong vrou se lippe smaal. “Jy moet, behalwe mooi en jonk en slim wees, nóg ’n eienskap hê.”
“Wat is dit?”
“Jy moet ook wulps wees, Anna. Jy weet wat ek bedoel? Of nee, jy sal nie weet nie. Ek is nie so seker of ék weet nie.” Sy lag kortaf. “Ek was al die jare so hard besig om aan my en jou drome te werk, dat ek net die karaktertrekke wat vir ’n dokter nodig is, ontwikkel het en by ander in gebreke gebly het.”
“Hou op onsin praat, Julene!” Die stem is streng. “Jy moet net nie die stoel so vol sit nie. Moenie Buchner teëgaan nie. Wat maak dit saak as daar ’n bietjie pyptabak op die kliniek se blink vloere val? Wat is dit in vergelyking met wat jy kan wen?”
“Ek het ’n dokter geword, Anna, nie net omdat die gedagte van kleins af saam met my babakos vir my gevoer is nie. Ek het ook een geword omdat ek een wóú word . . . en ek wil ’n goeie dokter wees. Dit druis teen al my oortuigings as dokter in dat daar pyp in die Meissner-kliniek gerook mag word!”
Anna snork onverfynd. “Goeie dokter! Jy sal geen dokter wees as jy hierdie kans van jou lewe gaan verbrou nie, Julene. En moenie dan op mý reken nie. Ek sal ook nie daar wees nie!”
Sy laat haar kop tussen haar hande sak toe Anna se ontstelde voetstappe wegsterf. Sy is so moeg, so ontsettend moeg om iets te probeer wees wat sy weet sy nooit werklik kan wees nie: Albert Meissner se kleindogter; Albert Meissner se opvolger. In hierdie oomblik wens sy amper dat die regte kleindogter nou by die voordeur wil instap . . .
6
Horst Buchner is eers ná die tweede koppie koffie ná ete weg. Elke het hom betigtigend aangekyk toe hy skimp vir ’n “loopkoffie”. “Jy drink darem baie koffie vir ’n dokter. Is dit nie veronderstel om sleg te wees vir die gesondheid nie?”
Hy het so ontspanne gevoel dat niks sy goeie bui kon bederf nie. Nie eens ’n wysneusige tiener nie!
“Dit dateer uit my studentedae. Die studeerdery snags. Dan drink jy letterlik liters koffie om wakker te bly.”
“Ag twak. Ek is ook daar deur en ek het nie . . .” Sy klap haar mond toe. Gits! Sy is besig om haar vas te praat.
Hy knik. “Ja. Die eksamens wat ék geskryf het en dié wat jý geskryf het, is darem twee verskillende goed. Nou ja! Ek sal seker nou moet gaan. Kom, help dra. Ek kan sommer die partytjiegoed saamneem, dan is dit daar. Netnou eet jy al die lekkers op!”
By die motor buk hy skielik af en sy kry ’n soen op haar voorkop. “Nag, snip. Sien jou môre.”
Toe sy terugkom in die sitkamer, frons sy vererg. Sy wens die man wil ophou om haar soos ’n laatlam-kleinsus te behandel!
“Wat lyk jy so kwaai?” wil haar ma verbaas weet. “Was die aand dan nie ’n sukses nie?”
“Ja, gans te suksesvol. Eers eet hy ses lewerkoeke op en toe gaan maak hy hom tuis in my stoel en sit daar asof hy hier gaan oornag.”
“Genade, kind! Wat gaan met jou aan? Waar is jou maniere? ’n Mens tel nie hoeveel jou gaste eet nie!”
“Ek tel, want ek wou ook nog gehad het en toe bied Ma hom sommer die laaste twee gelyk aan!”
“Elke . . .”
Sy lag skrams. “Ek terg sommer, Ma! Maar nietemin. Ons moenie dat die man hier staan en hans word nie.”
“Hoekom nie? Ek hou van hom. Hou jy dan nie . . .?”
“Dit het niks met hou of nie hou te doen nie, Mamma! Volgens die kliniektelegraaf is hy so te sê verloof aan ’n ander meisie. Verder is hy dalk nog kop in een mus met hierdie bedrogspul.”
Marlene protesteer heftig: “Ek glo nie jy glo dit werklik in jou hart nie, Elke! Ek het dan vanaand sit en speel met die gedagte dat ons hom in ons vertroue moet neem . . .”
“O nee, Ma, nee! Dit doen Ma nie! Hoe kan Ma vir die man gaan vertel die meisie aan wie hy so te sê verloof is, is ’n bedriegster van die eerste water?”
“Maar wie sê hulle is so te sê verloof? Is daar werklik grond vir hierdie storie?”
“Wel, almal verwag ’n verlowing die een of ander tyd. Hulle gaan blykbaar met niemand anders as met mekaar uit nie.”
“Dit sê nog niks . . .”
“Dit sê baie! Ag, Mamma, kom, gebruik jou verstand! Dis mos nou die ideaal dat die twee trou. Sy is die erfgenaam van die Meissner-kliniek – of so glo sy en die wêreld en Horst Buchner ook – en hy is die beste dokter in die kliniek en baie, baie toegewyd.”
Marlene se gesig is strak. “Ja, as sy net die kleindogter van Albert Meissner wás.”
Elke sug. Sy voel skielik soos ’n ballon wat geprik is. Die luimigheid van vroeër die aand het haar totaal verlaat. “Ja. Maar ek begin wonder of sy nie is nie. Ek het na ’n foto van Oupa in die wagkamer gaan kyk en hulle lyk baie na mekaar. Veral hier by die oë en die voorkop trek Julene sterk na hom. Ék, daarenteen, lyk gans en gaar nie na ’n Meissner nie.”
“Jy trek na jou ouma Meissner. Ek het jou dit al gesê. Sy was ook so klein en fyn. Jy het net my kleur hare. Nou, wat dink jy . . .?”
“Asseblief, Mamma. Ek wil nie meer dink nie . . . altans nie vanaand nie. Lekker slaap.”
Maar toe sy in die bed is, wil haar verstand nie tot rus kom nie. Dis veral die onthou wat moeilik beheer word. Dit was ’n lekker namiddag saam in die winkels. Dit is seker ’n verspotte gedagte, maar sy is oortuig hy het die uitsoek van die blaaspypies en ander speelgoed en eetgoed geniet. En toe hy hom vanaand daar in haar stoel regskuif, het hy soveel anders gelyk as die Horst wat in die gange van die kliniek aan die sy van sy kollega rondloop. Soveel jonger. Niks ernstig en byna stroef soos sy hom al sien lyk het nie. En toe soen hy haar . . . op die voorkop . . .
Sy draai haar rusteloos om op die ander sy. Elke, jy moet nou nie emosioneel raak nie, gesels sy amper hardop met haarself. Die Meissners is beduiweld, maar nie mal nie. Goed. Die man is gaaf. Hy kan soms vrééslik gaaf wees, maar selfs blote vriendskap is sinloos. G’n koffiedrinkery en lewerkoeketery weer in die toekoms nie. Dis nie nodig dat jy moeilikheid moet gaan soek nie. Jy weet goed die duiwel sal los wees as Horst Buchner moet uitvind hoe jy hom bedrieg het met jou boksterte. Hy sal dit geensins lagwekkend vind nie. Inteendeel. Hy sal voel jy het hom vir die gek gehou . . .en geen mens, ook nie Horst Buchner nie, hou van sulke speletjies nie.
Aan