“Horst!”
Die skok en verbystering het naak op haar gesig gelê en hy het amper vir homself geskrik. Goeie genugtig, waar het hy geleer om sommer te sê wat hy dink? Of moet hy liewer vra by wie?
“Jammer, Julene, ek druk dit nou ’n bietjie kras uit, maar feit bly, ’n dokter moenie net met sy verstand en al die kennis wat hy versamel het, sy pasiënte benader nie, maar ook met die hart. Jannie is immers ook ’n mens. ’n Siek seuntjie, ja, maar ook ’n bang seuntjie. Die lumbaalpunksie moes gedoen word, ja. Maar nie terwyl hy besete van vrees vasgedruk word asof . . . asof hy maar net ’n dier is nie.”
Sy het bleek en ontsteld vertoon, haar oë weggedraai en gesluk. “Soos jy dit stel . . . dit klink baie kras.”
“Daar is soms dinge wat maar liewer reguit gesê moet word. Maar dit nou daar gelaat. Ek wil nie post mortem hou nie. Ek wou eintlik ’n guns vra.”
Sy het steeds sy oë ontwyk. “Sê maar.”
“Ek wou vra of ons nie naweke kan ruil nie. Ek sou graag volgende naweek wou vry wees en nie hierdie naweek nie.”
“Hoekom?”
“Dis privaat,” het hy ongemaklik geantwoord.
Sy het vinnig opgekyk en dit het gelyk asof sy op meer besonderhede wou aandring, maar toe net gesê: “Ek het eintlik al reëlings vir volgende naweek getref. Daar is ’n drama in die stad waarvoor ek kaartjies het.”
“Die een oor jeugbendes? Dit speel hierdie naweek ook. As ek vir jou kaartjies vir hierdie naweek kan kry . . .”
Haar lippe het op mekaar gepers. Die bedoeling was eintlik dat sy hom wou vra om haar daarheen te vergesel. Maar hy het blykbaar ander planne. Sy voel skielik ontsettend moeg en kapituleer meteens: “Goed dan. Ons kan maar ruil as jy vir my twee plekke vir hierdie naweek kan kry.”
“Dankie, Julene.”
“Plesier. Ek gaan nou huis toe. Tot siens.”
Toe dit tyd is dat hy ook van diens kan gaan, stap hy eers restaurant toe. Dis so droewig om in ’n leë woonstel aan te kom en vir jouself ’n koppie koffie te maak.
Die trolliejoggie en haar ma is blykbaar ook net klaar met hul dagtaak toe hy binnestap.
Hy knik vriendelik vir die moeder. “Op pad huis toe?”
“Ja. Eintlik nie huis toe nie, winkels toe. Elke moet goed vir ’n partytjie in die kinderafdeling gaan koop.”
“Ja. Ek weet. Het julle vervoer?”
“Ja, dankie. Ek het my motortjie.”
Peet kyk glimlaggend toe terwyl Elke hard besig is om haar kleingeld te tel.
“ ’n Hele sak vol geld vandag!” basuin die trolliejoggie haar geluk uit. “Dit gaan goed, oom Peet!”
Hy skud sy kop glimlaggend. “Ek dink jy toor die ou mans. Jou voorgangers het nooit so goed geld gemaak nie!”
“Is dit alles fooitjies, my kind?” vra haar ma verbaas en ook bekommerd, kyk vlugtig in die dokter se rigting. “Is dit toelaatbaar, dokter?”
“Dat ’n sonstraaltjie bedank word vir die warmte wat sy versprei – en ek praat nie eens van die warmgetrekte pype nie! Natuurlik, mevrou. As die pasiënte voel sy verdien ’n fooitjie, is daar geen rede hoegenaamd dat sy dit moet weier nie.” Hy kyk goedig na die wipneus. “Eintlik is die trollie harde werk. Wat gaan jy met jou fooitjies maak? Lekkers en koeldrank koop?”
“Nee. Ek gaan nog bysit en twee nagrokke koop vir oumatjie Lalie in die chirurgiese saal.”
Sy oë word ernstig. “Hoekom?”
“Haar ou nagkleertjies is al vreeslik dun geslyt. Een is al by die mou van die elmboog gestop. Jy kan natuurlik iets bydra as jy wil.”
“Elke! Dis bedel!” sê haar ma geskok.
“Issie! Dis kollekteer vir ’n goeie saak.”
Hy glimlag maar sy oë bly ernstig. “Natuurlik sal ek bydra, maar net op een voorwaarde.”
“Ja?”
“Ek wil eers ’n koppie koffie drink en dan gaan ek saam inkopies doen.”
“Dis twéé voorwaardes,” betig sy.
“Dis twee nagrokke,” verweer hy.
Elke kapituleer. “Goed. Ek sal gou koffie gaan haal, maar jy moet gou drink. Ons moet die winkels nog oop vang.”
“Ek wil nie kafeekoffie hê nie. U maak nie miskien regte, egte boerekoffie nie, mevrou?”
Marlene lag. “Ek maak, dokter! Jy is baie welkom. Ry net agter ons aan.”
Op pad huis toe waarsku Elke: “Ma moenie so oorvriendelik met dié man wees nie. Ons weet nie watter rol hy dalk in hierdie bedrogspul speel nie.”
Marlene frons kwaai. “Hoor ’n bietjie! Ek is bloot net vriendelik. Dis jý wat sommer pront geld by hom bedel!”
“Hoekom nie? Hy kan selfs tien nagrokke koop uit dankbaarheid dat hy dokter Julene se strop tot dusver ontduik het. Hy gaan bars as sy dit eers stewig om sy nek het.”
“Dan is dit ’n uitgemaakte saak dat hulle gaan trou?” vra die ma en laat spytig hoor: “Dis ’n jammerte. Hy lyk so ’n gawe man.”
“Hy is . . . maar ek sou graag wil weet hoeveel hy presies van dokter Julene af weet. Ma kan hom gerus oor koffie pols. Dit sal snaaks lyk as ék uitvra. Wat meer is, hy weet ek het g’n ooghare vir die vroumens nie.”
“Maar hoe dink jy kan hy betrokke wees by die bedrieëry?”
“Ek weet nie, maar dis moontlik. Aangesien hy en dokter Julene so dik is . . . O, Mamma, ek weet nie meer wat om te dink nie en ek voel ons vorder geen tree nie!” Die motor kom tot stilstand voor die huis en dokter Horst trek agter hulle in. “Ek kan ook nie begryp hoekom hy skielik wil saamgaan om nagrokke en lekkers en koeldrank te koop nie. As dokter Julene dit moet uitvind, kry sy sweerlik ’n oorval!”
Maar dokter Horst wys glad nie dat hy dit enigsins vreemd vind om saam met die trolliejoggie van die kliniek inkopies te gaan doen nie. Of dat hy hom enigsins kwel oor wie hom dalk mag sien of dat dokter Julene hiervan te hore sal kom nie. Nadat hy sy egte, regte boerekoffie gedrink het, jaag hy haar aan en omseil só die subtiele vrae wat gestel word. Al wat ma en dogter meer van hom te wete kom, is dat hy al drie jaar verbonde is aan die Meissner-kliniek en voordat Julene Meissner se naam nog by die gesprek betrek kan word, is die koppie leeg en staan hy op.
“Is jy gereed? Ons sal ons nou moet roer. Ons ry sommer met my motor. Ek neem aan u het seker nie lus om dié tyd van die dag nog by winkels rond te dwaal nie, mevrou? Is daar iets wat ons vir u kan saambring?”
“Nee . . . of, ja, wag, tog. Ek sal bly wees. Elke, kan jy vir my kyk of jy ’n skaaplewer in die hande kan kry. Ek wil vanaand vir ons lewerkoekies maak.”
“Het u gesê lewerkoekies?”
“Ja. Eet jy dit?”
“Ek het dit laas as kind geëet.”
Met ’n verskonende kyk na Elke kan sy nie anders as om hom te nooi nie, en met ’n tevrede glimlag volg hy Elke by die deur uit. Dit gaan voorspoedig met die inkopies en nadat alles vir die partytjie gekoop is, sê Elke: “Nou nog net die nagrokke. Ek sal gou maak. Ek is nou terug.”
“Hoekom kan ek nie saamgaan nie?”
“Maar . . . gee jy nie om om in die damesafdeling gesien te word nie?”
“Nee, hoekom? Ek werk dan heeldag tussen vrouens in nagklere.” Daar is ’n flikkering in die oë. “Ek behoort eintlik ’n ekspert te wees op damesnagklere!”