Kobie en die wonderkind. Stella Blakemore. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Stella Blakemore
Издательство: Ingram
Серия: Maasdorp
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798159227
Скачать книгу
wat help dit!” sug Kobie. “Ek moet my maar oorgee om verskeur te word!”

      Sy kom uit die skaduwee te voorskyn en groet haar familie beleef.

      “Naand, Ma. Naand, Pappie.”

      Haar ma kyk haar ’n oomblik sprakeloos aan. Sy kan nie glo dis haar dogter wat hier in seunsklere rondloop nie.

      Meneer Malan is diep ongelukkig oor sy liefling se gedrag.

      “Ag, nee, Kobietjie!” sê hy met ’n sluk. “Dis regtig baie stout van my kind om so iets te doen!”

      Ruth lyk net verstom, maar Lulu verberg haar gesig agter haar sakdoek en snuit haar neus hard.

      Mevrou Malan kry weer haar stem terug.

      “Klim in, Jakoba!” sê sy sag, maar met iets in haar stem wat elke krul op Kobie se kop penorent laat staan.

      “Ag, moet tog nie vir haar kwaad wees nie, Mammie!” soebat meneer Malan. Hy is baie geheg aan Kobie.

      “Kwaad!” Mevrou Malan kyk hom minagtend aan. “Ry, asseblief, Niklaas!”

      “Ag, moet haar tog nie hierdie keer straf nie!” soebat haar man. Maar hy besef dat Kobie hierdie keer werklik straf verdien. “Kobie, my liefie, hoekom het jy dan so iets gedoen?”

      Kobie sit tussen haar twee susters. Haar gesiggie lyk meteens baie bleek en haar oë swem in trane.

      “Ek … ek wou so graag die uitvoering hoor, Pappie, maar ma het my bed toe gestuur …”

      “Maar hoekom tog daardie klere, hartjie?”

      “Ek het nie geld gehad om in te gaan nie, Pappie. Ek het net genoeg gehad om ’n paar programme te koop om te maak asof ek een van die verkopers is, sodat ek verniet kon ingaan om te luister.”

      “Maar dis mos nie mooi om seunsklere aan te trek nie. Waar het jy dit gekry?”

      “Dis Stefanus se klere,” sê mevrou Malan koud. “Sy Sondagklere!”

      “Het Fanie dit vir jou geleen? Ek sal hom goed straf,” sê meneer Malan. Hy kan nie onthou wanneer laas hy een van sy kinders gestraf het nie, maar die woorde klink goed.

      Sy vrou kyk hom byna met afkeer aan.

      “Ry, asseblief, Niklaas!” sê sy en vervolg binnensmonds: “Jy maak jou net verspot voor die kinders. Jy laat Stefaans asseblief staan. Dis nie sy skuld nie. En Kobie … ék sal weet wat om met háár te maak!”

      Die toon van haar stem is ongelooflik streng en belowe niks goeds nie. Maar Kobie se goeie engel word net op hierdie oomblik wakker, al is dit op ’n manier wat ’n mens gewoonlik nie van ’n engel verwag nie. Hulle is net by die kerk toe ’n swak stemmetjie van agter praat.

      “Asseblief, Pappie … hou tog stil … asseblief tog, gougou!”

      “Hoekom, liefie?” Haar pa skrik.

      “Ek … ek voel naar … o … gou … ag … ek hét naar geword!”

      Ruth en Lulu gee ’n gil. Ja-nee, Kobie was te opgewonde oor die uitvoering. En die feit dat sy haar ma se bevel verontagsaam het, het nie juis daartoe bygedra om haar te kalmeer nie …

      2

      _____________

      Elsabe in die moeilikheid

      Die hoof van die Maasdorpse Meisieskool sug.

      “Nou ja, so is dit! Wat staan my te doen?”

      Die onderhoof trek haar skouers op en antwoord nie dadelik nie. Juffrou Muller, of Yskis, soos die leerders haar noem, en juffrou Van der Westhuizen is al jare lank vriendinne. Daarom bespreek hulle hul probleme met die grootste vrymoedigheid.

      “Ek weet nie. Ons was nog nooit in so ’n benarde posisie nie,” sê sy eindelik.

      “Nee, nog nooit nie!” gee die hoof toe. “Dis vreeslik om te dink dat ons ’n nuwe jaar ingaan met ’n klomp prefekte wat feitlik niks beteken nie! Ek voel dis my skuld, maar ek weet self nie hoe nie.”

      “Hoe kan dit jou skuld wees? Dis niemand se skuld nie. Verlede jaar se prefekte was gawe kinders, hoewel miskien nie buitengewoon nie. Hierdie jaar s’n beteken, soos jy sê, bloedweinig. Jammer dat prefekte juis uit die matriekklas gekies moet word! Ek sou eintlik meer hoop vir die skool hê as die huidige graadelfs met die regering kon help.”

      “Kobie-hulle? Moenie so praat nie! Ná ’n week sal ons g’n dak oor ons koppe hê nie! Daar is natuurlik Elsabe van den Heever met ’n taamlike sterk persoonlikheid. Hoe sal dit wees as ek haar oorsit na matriek?” Die hoof lag ’n bietjie. “Ag nee, tog!”

      Juffrou Muller lag ook.

      “Moenie Elsabe van my wegneem nie. As ek graad elf oorneem, wil ek ten minste één meisie in die klas hê wat my ondersteun.”

      “Ja,” sê die hoof. “Elsabe hou baie van jou.”

      “En ek van haar,” antwoord juffrou Muller met ’n openhartigheid wat ’n mens skaars van haar verwag. “Onthou jy hoe ’n armsalige dingetjie sy was toe sy ’n jaar gelede skool toe gekom het?”

      “Ja, met haar snaakse klere en ouderwetse manier van praat. Maar Kobie het haar gou onder hande geneem. Deesdae is dit gelukkig Elsabe wat ’n invloed op Kobie uitoefen. Nou ja, die twee sal seker aanstaande jaar prefekte wees, maar nou help dit ons niks. Sê my waar kry ek ’n hoofmeisie vandaan?”

      “Ons is omtrent in ’n moeilike posisie!” lag juffrou Muller. “Die skool sal vanmiddag vol meisies wees – tweehonderd of meer van hulle – en hier sit ons in jou deftige kantoor sonder die geringste idee waar ons ’n hoofmeisie gaan uithaal! Ons moet maar die beste van ’n slegte saak maak. Die twaalf meisies wat in die eksamen die beste gepresteer het, word prefekte. Die hoofmeisie is die een wat die heel beste gedoen het.”

      Die hoof lyk bekommerd.

      “Die saak is nie so eenvoudig nie,” sê sy. “Het jy vergeet wie verlede jaar in graad elf eerste gekom het?”

      “Dis … ag, natuurlik! Fienie Assman! O nee! Dit kan ons nooit toelaat nie! Sy is nie ’n aangename mens nie!”

      “Die arme kind is nie baie innemend nie. Ek hou ook nie van haar nie, sy is heeltemal te groot vir haar skoene. Matrone kla ook oor haar gedrag. Ons sal haar onmoontlik hoofmeisie kan maak!”

      “Dan bly daar net Hattie Coetser oor!” sê juffrou Muller. Die hoof sug.

      “Ja, sy was darem verlede jaar ’n prefek. Maar hoe kan ek ’n meisie wat matriek gesak het hoofmeisie maak?”

      “Dis óf sy óf Fienie. Wie anders bly oor? Bessie Bezuidenhout, Eva Sandberg, Dora Stefaan –” Hul gesprek word deur ’n geklop onderbreek.

      “Ja!” sug die hoof. “Van nou af tot aan die end van die kwartaal sal ek nie ’n oomblik vir myself hê nie.”

      Sy lag toe sy dit sê. Juffrou Muller glimlag effens spottend terug. Hulle weet maar te goed dat hulle nie sonder die skool kan klaarkom nie. Dis hulle hele lewe.

      “Kom binne!” roep juffrou Van der Westhuizen. “Ja, Annie? Goed, sê vir Matrone ek sal nou-nou kom. Sy moet maar solank alles regsit. En neem hierdie briewe na juffrou De Wet.”

      “Nou ja, ek moet gaan kyk hoe lyk dit met die boeke en so aan vir môre se klasse,” sê juffrou Muller.

      Matrone lyk effens moeg en afgemat, al is dit die eerste dag van die kwartaal. Sy is alreeds ’n week op Maasdorp doenig om alles in orde te kry voor die leerders kom. Juffrou Van der Westhuizen kry haar in haar woonstel. Saam kyk hulle die lyste deur wat Matrone opgestel het.

      “Dis dan alles,” sê Matrone. “O ja! Ek het geweet daar is nog iets. Verlede keer toe ons gepraat het, was daar twyfel of die nuwe kind na graad elf kom. Is dit nou finaal? As sy nie kom nie, wil ek graag ’n ander plan met