“Maar, Ma … vanaand is mos die konsert!”
“Ek weet dit goed. Juis daarom stuur ek jou vroeg bed toe.”
“Haai, nee!”
Kobie vergeet van al haar vrees vir haar ma.
“Ma kan nie so iets doen nie! Ons was tog nie so stout nie! Ma kan my op enige ander manier straf, maar moet my tog net nie van die konsert weghou nie!”
Musiek is omtrent die enigste ding in die wêreld wat Kobie genoeg moed sal gee om so te praat.
Ruth ys as sy dink wat nou gaan gebeur. Sy mompel binnensmonds: “Nou is dit klaarpraat! Ma kry op die daad ’n beroerte!”
Mevrou Malan word rooi van woede, maar sy kry nie die verwagte beroerte nie, al is dit feitlik die eerste maal dat een van haar kinders dit waag om teë te praat.
“Stil jy, dadelik! Die dag dat een van julle vir my sê wat ek mag of nie mag doen nie, moet nog aanbreek. Gaan dadelik kamer toe en wees dankbaar dat ek jou nie ’n goeie pak gee nie!”
Kobie storm haar kamer binne en val op haar bed neer. Sy huil asof die wêreld vergaan. Ruth luister gehoorsaam na haar ma se laaste opdragte. Dan stap mevrou Malan die trap af na die sitkamer om te kyk of Heloise regtig oefen.
Heloise is glad nie musikaal nie. Dis eintlik snaaks, want al die Malans toon ’n besliste aanleg vir musiek. Kobie is volgens haar onderwyser, meneer Claudius de Villiers, een van die knapste leerlinge wat hy nog ooit gehad het. Almal weet hoe sy ’n jaar gelede, kort ná haar veertiende verjaardag, saam met ’n groot orkes gespeel het. Min mense sal glo dat die malkop Kobie ’n genie is, maar meneer De Villiers is daarvan oortuig dat die hele Suid-Afrika nog eendag van haar sal hoor. Dis daarom verstaanbaar dat sy nie van die konsert wil wegbly nie.
Toe Ruth die kamer binnekom, is Kobie in ’n jammerlike toestand.
“Haai, nee wat! Hou tog op! Jy sal stik!” soebat Ruth. “Ek is tog te bly ek gaan universiteit toe, want ek is nou siek en sat vir jou en Heloise se twak! Julle doen altyd die domste dinge en as julle gestraf word, moet ek regstaan om julle oë af te vee en salfies aan die wonde te smeer! Dis nou klaar! Wat help dit om te huil?”
Kobie kyk woedend op van haar nat kussing.
“Jy kan maklik praat! Jy begryp nie wat musiek vir my beteken nie! Jy weet goed dis Olga Willovitch, wat so wonderlik viool speel, se konsert! Sy kom so pas uit Europa en is maar vyftien, en … en … O, ek wens ek kan sommer op die plek doodgaan! Ek wil nie meer lewe nie!”
“Aag, jy’s verspot!” sê Ruth. “Ek word nou moeg van die ou doodgaan-storie van jou! Elke keer as jy stout is en gestraf word, dan wens jy jy’s dood!”
“Dis te vreeslik!” snik Kobie. “Pappie het al máánde gelede die kaartjies gekry en julle gaan almal! Sy gaan die Bach-concerto speel! Ma is verskriklik wreed!”
“Dis nie Ma wat wreed is nie! Dis jy wat jou nooit kan gedra nie! Hoekom gaan jy op jou ouderdom nog soos ’n ou babatjie te kere? Gaan vra ma om verskoning, dalk laat sy jou tog gaan.”
“Ek sal gaan probeer,” sê Kobie, “maar ek weet dit sal nie help nie. In al die jare het sy nog nooit haar woorde teruggetrek nie!”
Vandag is ook geen uitsondering nie. Kobie se snikke en trane het nie die minste uitwerking op haar ma nie, en sy moet verslae teruggaan kamer toe.
“Nou ja, dan kan dit nie anders nie!” sê Ruth. “Pak maar jou goed in en vergeet van die hele ding. Ek sal jou alles van die konsert kom vertel en buitendien, Olga Willovitch sal weer eendag speel.”
“Nee, sy sal nie! Sy speel net in Europa. Dis die eerste maal dat sy hier by ons optree.”
“Regtig? Ek weet darem nie. Ek het gehoor sy is ’n Suid-Afrikaner wat oorsee is toe sy nog baie jonk was – vier, of so iets. Sy kon toe al goed speel en sy is Duitsland toe om daar te studeer. Haar naam is glad nie Olga Willovitch nie. Dis … nee, ek het vergeet. Hulle het haar seker dié uitheemse naam gegee omdat die meeste groot violiste Russe is. Sy sal seker weer kom.”
“Nee, sy sal beslis nie. Miskien wanneer sy baie ouer is. Ag, ek is die ongelukkigste mens in die wêreld!”
“Onsin!” spot Ruth. “Ons is die gelukkigste gesin wat ek ken! Ons is al jare lank in die wonderlikste skool, en op die koop toe seker die duurste in die hele land. Dit het ma en pa al duisende rande gekos om ons daar te hou. Buitendien bly ons in ’n pragtige huis, ons het hope klere en meer sakgeld as al die ander meisies op skool. En weet jy, Kobie, Ma is na alles tog goed vir ons, al is sy so streng. Sy gee nie om hoeveel maats ons vakansietye huis toe bring nie. Kyk net die spul wat verlede maand hier was!”
“Aag, wat help dit my? Wie soek nou witvoetjie?” Kobie het glad nie lus om na mooipraatjies te luister nie. “Loop tog en laat my staan as ek dan so sleg is!”
“Dit help nie om met jou te praat solank jy in hierdie bui is nie!” sug Ruth.
Oplaas hou Kobie op met huil. Sy snik nog af en toe, maar dis nie lank nie of die twee diep kuiltjies verskyn weer in haar wange. Terwyl sy die stapels klere netjies in haar koffer pak, kom daar ’n ondeunde uitdrukking in haar oë wat haar maats op skool maar alte goed ken. Vir hulle voorspel dit gewoonlik groot pret, maar ook straf. Sy fluister saggies, maar die woorde is heeltemal onskuldig.
“Een … twee … drie … vier … ja, dis reg! En ’n dosyn paar kouse. So! Nou die klein koffertjie vir die eerste nag tandeborsel en seep. Die ander goed kan môreoggend inkom.”
Sy maak die koffer toe en kyk ’n oomblik by die venster uit.
“Hoekom nie?” vra sy vir Tafelbaai, wat haar in die warm middaglug toelag. “Kyk maar vir oulaas na die mooi toneel, Jakoba, my kind, want as jou plan nie slaag nie, sal daar net ’n nat kol op die vloer oorbly as bewys dat jy wel op die aarde gewoon het!”
Die mense stroom die trappe van die Stadsaal op. Dis nie aldag dat hulle bevoorreg is om ’n wonderkind te sien optree nie.
Meneer en mevrou Malan en twee van hulle dogters, Lulu en Ruth, kom die trappe opgestap. Mevrou Malan, wat soos altyd pragtig aangetrek is, groet hier en daar ’n vriendin, terwyl haar man programme koop. Dan gaan hulle met die trappe op na die balkon.
Net toe kom ’n meisietjie versigtig agter ’n pilaar uit waar sy geskuil het.
“Foei! Hulle kon ook nie juis later gekom het nie,” kla sy.
Kobie sien daar vanaand bitter snaaks uit. Sy het ’n groot, lang jas aan. Haar hoed, wat al haar krulle platdruk, hang oor haar gesig. Daarby dra sy dik swart kouse en skoene wat soos ’n seun s’n lyk. Sy kyk nie links of regs nie, maar gaan reguit na een van die seuntjies wat programme verkoop. Sy gee vir hom geld.
“Vyf, asseblief.”
Sy neem die programme en hardloop daarmee straat toe om haar pa se motor tussen die lang rye motors te soek. Sy kry dit eindelik nie te ver van die saal af nie.
Gelukkig vergeet Pa soms om die motor te sluit! dink sy terwyl sy gou haar jas en hoed oprol en agter in die motor wegsteek. Ek moet in elk geval sorg dat ek vroeg genoeg uitkom om dit weer te kry, sodat ek voor hulle by die huis kan wees.
Uit die motor klim ’n seun van sowat twaalf jaar – Kobie is baie klein vir haar ouderdom – in ’n mooi blou pak klere met goue krulhare so plat soos mens dit met water en ’n borsel kan kry. Seuns hou mos nie van krulhare nie!
Kobie neem die vyf programme, sit hulle bo-op ’n klomp oues wat sy ná baie vorige konserte sorgvuldig bewaar het, en hardloop terug na die saal.
Sy gaan skuil weer agter ’n pilaar waar die ander programverkopers haar nie kan sien nie.
Advokaat en mevrou Lategan loop verby.
“Kom, ons is ’n bietjie laat,” sê sy. “Ons moenie die eerste stuk misloop nie. Wat? Ag, ja, natuurlik, ’n program.” Sy glimlag vriendelik