Ons is ’n groot span: daar is die helikoptervlieënier (bekend as die pilot), die wildvanger, die wildvanger se assistent en dertig vangers. Soos die bokke in die vangtregter afbeweeg, word die een gordyn na die ander agter hulle toegetrek sodat hulle nie kan omdraai nie. Die vyfde gordyn is die laaste een. As jy hom getrek het, jaag jy die wild teen die ramp op tot binne-in die vragmotor. Die bokke moet heeltyd hulle vorentoe-momentum behou; die laaste ding wat jy wil hê, is dat hulle skielik omvlieg en jou gaffel of trap.
In hierdie oomblik van groot adrenalien gryp jy instinktief terug na vergete tye toe jy as kind beeste in die drukgang ingejaag het. Lé phambili, doer voor! Suka la kimi, weg hier by my! en Phakathi, binne! So jaag jy die bokke in Zulu teen die ramp op.
Die vragmotor se staaldeure klap toe en ’n stilte sak meteens oor die boma neer. Almal lê nou weer laag terwyl die tjopper die volgende klompie wild in die veld gaan aankeer. Hier by die vangtregter kan jy niks sien nie; jy hoor net die aanhoudende gedruis van die tjopper iewers in die agtergrond. Maar geen bokke kom in sig nie; jy kan ook nie loer wat aangaan nie. Later kan jy die gewag nie meer uitstaan nie.
“Wat doen die fokker?”
“Hy jive,” roep die wildvanger terug.
Ons kan nie sien nie, ons hoor net. Daarom is dit eers tydens die lui uur van die dag dat jy op die stoep uitvind wat hy bedoel. As die bokke nie by die bek van die tregter wil in nie, dan sak die helikopter tot op hulle vlak; hy hang roerloos in die lug met net sy stert wat heen en weer beweeg; so jive hy.
5. RENTIA
Die spaarkamer het skoon beddegoed en handdoeke gehad. Daar was nie veel meer wat ek vir die gaste kon voorberei nie en ek het na die beeskraal geloop, my teen die klipmuur opgetrek en in die son gesit met my bene wat teen die growwe muur afhang. Na ’n rukkie het die akkedisse weer uit die skeure gekom.
Ek kon onthou hoe ek as kind gesien het hoe hulle die beeste by die drukgang met rieme op die grond neergetrek het. Hulle het merke in die ore gesny, die bulkalwers gekastreer, die horings geknip en die bloed en groei met witwarm ysters doodgebrand sodat die reuk van geskroeide hare en vel tot in die huis gedra het.
’n Ent ondertoe het ek soos baie keer in die verlede op die opstal afgekyk. Aan die stoepbalke het geroeste paraffienblikke gehang waaruit varings na die vloer gerank het. Bo teen die dak het modder vasgesit. Die swaeltjies het jaar na jaar teruggekom om hul neste te bou met die geel klei wat hulle onder in Dwaalspruit gaan haal het. Party oggende het daar eierdoppe op die vloer gelê, ander kere ’n dooie voëltjie, die maag nog deurskynend; swart vlieë het gepak om die groot, toegeknipte oë wat nooit sou oopmaak nie.
As jong meisie het ek wyd getrap om die plasse water wat uit die paraffienblikke drup ná die plante natgegooi is. Ek wou nie die blare teen my voel nie – soos lang, harige vingers wat na my bene gryp.
Amadlozi vir voorvaders, het my pa gesê. Ibululu vir pofadder; umbani vir weerligstraal; umhlolo vir slegte voorteken. Die bakkie het teen die opdraande uitgeskiet en ek het diesel en uitlaatgas geruik.
Sondagmiddae het ek op die werf rondgedwaal. Dis hoe ek op Henriette se dagboek afgekom het: tussen die stapels boeke wat geslagte lank ongelees in Dwaalpoort se rakke gestaan het. Ek het dit skelm op die voerbale in die stalle gesit en lees, en dit op die muur gebêre wanneer my pa van die huis af geroep het. Partykeer het ek dit voor in die bakkie by die vendusie gelees . . . die konsentrasiekamp, die sweet aan haar lyf op die kampbedjie in die vreemde offisier se tent, en die hartseer deuntjie van die music-box met die ballerina op die seepkissie langsaan.
Saans het ek in die gang voor Henriette se portret gestaan. “Oerhoer,” het oupa Lood se stem meteens agter my gepraat.
Ek het omgeskrik vir die vreemde woord, maar oupa Lood het my nie raakgesien nie, hy was besig om met homself te praat. Ek het saggies teruggestaan op die plankvloer, want die laaste ruk was ek al skrikkeriger vir hom – dit was nie meer lank voor hulle hom na die familiekerkhof sou dra nie. Wanneer ek in die gang af geloer het, kon ek hom gebukkend voor die portrette sien staan. Dan het ek óm die huis na die voorstoep geloop, maar wanneer ek by die voordeur inloer, het hy nog altyd op dieselfde plek gestaan.
Ek het die dagboek stadig, stukkie vir stukkie in my eie handskrif begin oorskryf en dit met ougroen materiaal oorgetrek sodat my boek nes Henriette s’n gelyk het. Soms het ek dit tussen my knieë vasgeknyp en gedink hoe eensaam sy in die kamp was toe die ander Boerevroue haar verstoot het.
Die nagte op die plaas was lank. Met die oorskryf van die dagboek het ek Henriette probeer lewend maak, probeer skryf hoe dit regtig moes gewees het, en dalk ’n bietjie aangedik in die proses.
Partykeer was daar donderweer; in die gang het my pa gehoes. Soggens het die tarentale in die bloekombos my wakker geraas en Sondae het die meubelstukke altyd swaarder gelyk as op weeksdae. Op die vloer het erdeware gestaan en daar was gehekelde lappies waarvan my pa om die dood nie ontslae sou raak nie. Aan die einde van elke seisoen moes dit versigtig gewas word en dan weer op dieselfde plekke teruggesit word.
In die sitkamer het ek my hand uitgesteek om die radio aan te skakel, maar dit dadelik weer teruggetrek toe die sinkplate op die dak kraak. Dis hoe hulle jou gewaarsku het dat Sondag ’n stemmige dag was.
My pa was slimmer as die ander boere in die kontrei. Hy het ’n aanleg vir tale gehad en as ons die lang pad met die bakkie gevat het, het ons vasvra gehou om die tyd om te kry. Uchakijana vir stokstertmuishond, het hy my die soveelste keer met ’n woord getroef. Ek het voor my in die pad gekyk en die telefoonpale het by ons verbygeflits. Ukunquma ngentambo, hang met die doodstraf, het hy my skrikgemaak om my aandag te kry. Maar hy het gelag. “Toemaar, dis net ’n grap.”
Op die dorp het hy nog ’n huis gehad waar hy geslaap het as hy tot laat in die aand vergaderings moes bywoon.
Sondagmiddae het hy altyd op die voorstoep met sy koerant gesit; hy het nie my voetstappe op die plankvloer gehoor nie. Van waar ek in die deur gestaan het, kon ek net die kant van sy gesig sien. Ek het na hom gestaan en kyk soos ek hoeveel keer in my latere lewe sou doen. Die man wat net oor dinge gepraat het wat nie saak gemaak het nie. Daar was ’n effense frons op sy voorkop. Hy was nie ’n mooi man nie – hy was Mafika.
Hy het die koerant laat sak. “Rentia?”
Ek het met my hand opgewys na die kloof. “Emmarentia!” het my pa se stem uit my kindertyd gekom – dis hoe hy my genoem het wanneer hy ernstig was. “Bly weg daar!”
Bedags wei die wit hartbeeste daar – hoog in die kil, dun lug, tussen die diep klipskeure bo-op die spelonke met die Boesmantekeninge: die hol aarde waar jy nooit alleen ingaan nie, maar altyd saam met iemand anders en met ’n gerf brandende dekgras in jou hand.
Altyd ’n bietjie dieper in. Teen die rotswande swem die geelvisse stroomop in Dwaalspruit se kuile en ’n entjie verder ruik ’n rooibokram aan ’n bronstige ooi. Weer kronkel die spelonk. Die strepie lig by die bek raak al yler en jy steek vroegtydig ’n nuwe gerf aan die brand: die mantis – die eerste mens? Nog ’n paar treë vorentoe en dan verstikkend in die skroei van die vlam terwyl die vlermuise vervaard om jou kop begin uitvlieg: die verbode wit portret van Mhlophe self! Die tekening wat geen vrou mag sien nie.
Op die stoep het my pa sy koerant gelig. Sy oë het na die woorde voor hom gekyk, maar ek het geweet hy lees nie. Hy het die koerant langs hom op die klipvloer neergesit en opgestaan. “Die vee behoort vanjaar goeie pryse te haal,” het hy gesê en met die stoeptrap afgestap na die skure toe. Ek het hom agterna gekyk tot by die rondawel waar hy met die voetpaadjie weggedraai het na die familiekerkhof toe, waar oupa Lood toe ook gelê het.
By die veiling het dit altyd na stof en bees geruik, terwyl Bullet en Julius Nkosi die beeste volgens grootte en ras in lotte gesorteer het. Toe begin die afslaer se stem sing, maar die bod op die eerste paar lotte het my pa net so van die hand gewys. “Meneer die afslaer,” het hy gevra, “dink jou kopers miskien