Bo by die stalle het ek ’n vrou met ’n perd sien staan.
Ek het ’n vreemde gevoel gekry terwyl ons oor die werf stap. Iets wat saam met die reuk van die bloekoms gekom het. Ek hét wel op die platteland grootgeword, maar was vir die grootste gedeelte van my lewe ’n stedeling – dís die kultuur wat ek myne gemaak het. In die stap het ek opgekyk in die bloekombos in; ek het ook die hoenderhokke raakgesien en voor die rondawel was die grond gevee. Ek kon ’n beeskraal sien, ook die gepakte klipmuur van ’n familiekerkhof. Agtertoe was die skeefgetrekte stellasie van ’n windpomp en langsaan ’n vervalle sementreservoir met kikoejoe wat in die barste groei.
In die bloekoms het die blare geritsel, maar die windpomp se stert het roerloos teen die lug gestaan. Ek het afgekyk. Onder by die stamme het stukke geroeste yster gelê – ou implemente wat hierheen getrek is om hul laaste staan te kry: ploeë, êe, hooiharke en skoffels. En die planter met sy gemaklike gaatjiestoel waarin ek later die naweek sou gaan sit om my sigaar te rook, toe die klonkies op pad kraal toe die hasepad sou vat toe hulle my sien . . .
Ek het oor die grasvlaktes en koppies gekyk terwyl ek na die vrou toe stap wat die perd aan die toom vashou. Terwyl ek loop, het ek ’n kras geluid gehoor. Ek kon nie onmiddellik sê waarvandaan dit kom nie. ’n Industriële geluid, dis al hoe ek dit kan beskryf. ’n Geluid van iets wat sukkel om aan die gang te kom. Ek het gaan staan en geluister – definitief die geluid van iets wat in beweging probeer kom: yster wat teen yster skuur.
Die windjie was effens sterker, maar die windpomp se stert het nie geroer nie. ’n Paar van die windpomp se lemme was geknak en het afwaarts gehang. Onder op die grond, half toegegroei onder die kweekgras, kon ek die punt van nog ’n lem sien uitsteek. Ek het opgekyk in die skerp lig. Dit was tog of die stert effens beweeg, het ek gedink. So min dat ’n mens dit skaars kon waarneem.
Toe weer die skel geluid van yster op yster . . . iewers in die masjien was onderdele besig om onder die drukking van die een of ander krag mee te gee. Daar was ’n harde klapgeluid! ’n Rat in die vasgeroeste toestel het losgebreek en die stert het weer geroer. Sigbaarder hierdie keer. Maar die opgewende rem het uitgehou. ’n Uitgerekte klageluid teen die lug. ’n Meganisme wat te lank sonder olie gestaan het. Die windpomp se oorblywende lemme het vibreer en ek het my verbeel ek sien die stang op en af beweeg.
Was ek duiselig van al die opkyk? Meteens het ’n stroom helder water uit die geroeste afleipyp in die gebarste sementdam begin loop. Het die wind dan tog sterk genoeg gewaai? By die bodem het dit begin lek. In die hitte kon ek nie die koeligheid van ’n trek teen my natgeswete blaaie voel nie, maar die windpomp het steeds bly pomp. Die stang het op en af beweeg; die yl geluid al vinniger, al skerper – soos ’n sonbesie wat op die hitte van die dag op sy eie in ’n boom betrap word.
’n Paar geelbekeende het lawaaierig bokant die bloekombos rondgedraai. Het hulle die water geruik? ’n Oomblik het hulle gemik, dit het gelyk of hulle gaan afduik na die sementdam.
Ek het in die blou lug bly inkyk totdat dit onhoudbaar skerp vir my oë geword het en die eende in spikkels vervaag het asof hulle nooit daar was nie. Maar dis al hoe ek dit kan beskryf – hoekom het dit daar op die vreemde werf meteens soos ’n tuiskoms gevoel?
3. RENTIA
Die dag dat die besoekers sou opdaag, het ek nog vroeër as gewoonlik opgestaan. Ek het die aand sleg geslaap, nie oor die gaste nie, maar omdat Henning nie langs my tot rus wou kom nie; net toe ek begin dink het hy het nou vrede gemaak met die plaas se titelaktes. Maar hy het die afgelope paar aande aspris in die bed rondgerol om my hieraan te herinner, byna asof die koms van die gaste die idee opnuut in hom wakker gemaak het.
In die kombuis het ek twee Disprins gedrink.
Buite was dit nog nie heeltemal lig nie en die oggendlug was koud teen my gesig toe ek met my hande diep in my baadjiesakke gedruk na die stalle loop. Agter die rondawel het die haan wat die afgelope ruk begin skop het, my voorgesit. Ek kon nie waag om my rug op hom te draai nie; ek moes ’n lang ent agteruit loop met my hande nog in my sakke terwyl ek met die agterkant van my skoene ’n pad tussen die nat graspolle deurvoel, tot ek buite sy bereik was.
Toe ek die staldeur oopstoot, was dit of die perde my stemming kon aanvoel. Ek het met my rug na die werf gestaan, want ek was nie lus vir Henning se gesprekke nie. Selfs al kon ek hom nie van hier af sien nie, het sy stem steeds in my gedagtes gemaal. Terwyl die werkers die perde uitlei, het ek my tog betrap dat ek ’n paar keer oor my skouer na die huis gekyk het. Ek het hulle gevra om Nag vir my op te saal, want ek wou ’n lewendige perd ry. Dit was omtrent ’n gesukkel om die stang tussen die hings se toegesperde tande deur te forseer, want hy het sy kop bly wegruk, asof daar ’n gevoeligheid by sy ore was.
Msun’ kanyoko! het hulle gevloek toe hy na hulle skop.
Toe was die stang in sy bek, maar hulle moes hom voor aan die toom vashou sodat ek kon opklim. Met die teuels styf teen sy nek het ek hom tussen die werf se hekpale deurgestuur. Toe kon ek hom nie meer inhou nie. Hy het die stang vorentoe gewerk in sy mond, dit tussen sy tande vasgebyt en sy nek reguit gemaak asof hy die rit wou oorkry. Sy galop was onegalig en rukkerig, asof hy my aan my eie ongemak wou herinner, aangehelp deur die gedagte dat die vreemde mense in die huis self gaan slaap, met net die gang tussen ons vir privaatheid.
Onder in die drif het die perd se hoefslag verander en die water het ’n boog oor ons gespat. Eers teen die steilte het sy hale begin korter word en ek het gemakliker in die saal gevoel. Sy asem het nou in kort stote uit sy keel gejaag en ek kon salpeter en klam lusern in die lug ruik.
Ons het al dieper in die kloof ingegaan, stadiger nou. Onder die bome het die blare ’n digte mat gemaak sodat die perd se hoewe skaars hoorbaar was. Net die sagte gedrup uit die rotswande; en die reuk van nat mos en varings terwyl die skerpheid van die son geleidelik weggeraak het.
Maar die hings het sy krag steeds in hom opgekrop gehou, ek kon dit teen my bobene voel. Twee keer het hy my byna uit die saal gegooi. Die eerste keer toe die takke langsaan kraak; die tweede keer het hy sonder ’n waarskuwing omgespring – hy het nie gehou van die skaduwees nie.
Toe ek by die oog afklim, het my bene wankelrig gevoel van die geklem om sy lyf. Ek het afgebuk en water met my hand geskep. Was dit die wind? ’n Sagte rimpeling het oor die poel beweeg en ’n oomblik was die water troebel, soos ’n oog wat knip. Die son het spatsels deur die blare gemaak en meteens het ek verstyf. Voor my in die sand het die spoor gelê, duideliker as ooit tevore – die kaalvoetspoor het soos ’n afdruk tussen die bokspore gelê.
My hand het uitgegaan om daaraan te raak, toe ek die snorkgeluid hoor. Ek het omgekyk. Die perd se neusgate was wyd oopgesper terwyl hy terugbeur in die doringbosse in, asof hy wou wegkom van iets. Al twee my hande was nou om die teuels geklem, maar ek kon hom nie nader trek nie. Eers het ek net die wit van die hings se oë gesien. Toe sien ek die beweging tussen die bome: ’n wit hartbees in die skaduwee! Fyn strale son het deur die takke op sy vel geval. Oomblikke lank kon ek glad nie beweeg nie, ek het net na hom bly kyk, terwyl hy stadig, geruisloos in die voetpad afgeloop gekom het. Sy snaakse, lang kop, het ek gedink – amper mensagtig, so van naby af.
Maar dit was hý.
Aan sy hink kon ek Mhlophe herken.
Die bok het aan die water geruik sonder om te drink; ek het stadig afgesak op my hurke; die punte van sy horings was gesplinter . . . sy nek, sy borskas en sy hoewe. By sy knieë was die vel afgeskilfer en vol snye. Daar was skraapmerke oor sy neus en ’n paar diep kraphale oor sy ribbes. Hy het sy kop gelig en om die poel geloop. Tussen sy agterbene het die dun vel styf om sy teelballe gespan.
Was hy steeds die leier van die trop?
Langs my het die perd staan en bewe, met rimpels wat op en af oor sy hele lyf hardloop; sweet het op sy flanke uitgeslaan.
Mhlophe het vorentoe getree, óór die kaalvoetspoor in die voetpad sonder om daaraan te raak. Hy het by ons verbygeloop asof ons nie daar was nie en voor my oë tussen die bome weggeraak.
Nag het steeds