4. HENNING
Die laaste ruk het ek gevoel hoe dit in my opbou. Seker omdat ek van voor af besef het hoe min van die dinge waarin ek oor die jare op die werf vasgekyk het, my merk gehad het. Nie eens die bleddie studeerkamer nie. Dit het nog altyd Rentia se pa se stempel gedra.
Al was dit al twintig jaar sedert Mafika my die eerste keer alleen op Dwaalpoort gelos het toe daar jagters kom rooibokke skiet het, ek was nog ’n student. Daai jagtog wat so in my gedagtes ingebrand het.
Ek het die papier voor my teruggestoot. Hierdie naweek gaan genuine anders wees. Ek hét mos nou die ervaring.
Jurgens van der Beul?
Ek het die snaakse gevoelens wat ek oor die naweek gehad het vir Rentia weggesteek deur saans aan tafel opgewonde oor Van der Beul te praat. Maar daar was ’n hol kol op my maag. Hoe sou die herontmoeting wees? En wat gesels jy met iemand wat jy so lank nie gesien het nie?
Hy sou darem iets van die wêreld terugbring wat ek gehad het voordat ek Dwaalpoort toe gekom het. Dis waarop ek gehoop het. Maar hoe sou hy mý na al die jare sien? Die dinge waarin ek op universiteit so geslyp was, het hier op die plaas al vaer geraak, eintlik heeltemal weggefade. Ek kon dit nie help nie – ek het tegelyk uitgesien na en opgesien teen die naweek.
Rentia het in die deur gestaan. Ek het heeldag al gesien iets krap aan haar, maar sy sou nie sommer net by die studeerkamer inloop nie. Dit was mos ’n gewoonte wat sy nog uit haar pa se dae oorgehou het.
“Hoekom is hierdie jag anders as die ander?” het sy gevra. “Hoekom slaap die jagter nie bo in die boskamp nie?”
Ek het nie gehou van die irritasie in haar stem nie. “Jy weet mos hy bring sy nuwe vrou saam. Jy sal my moet help sover as jy kan. Ek wil nie ’n simpel indruk op my ou dosent maak nie.”
Sy het omgedraai en die linnekas se deure het verder in die gang af oop en toe gegaan. Harder as gewoonlik. Ek kon hoor hoe die beddegoed uitgeskud word terwyl die bediendes skoon lakens by die gastekamer indra.
Die muis was onder my hand. Die bok was nog nie geskiet nie, maar ek het klaar die vervoerpermit vir die karkas uitgeprint.
“Dis nie die gewone tipe jagter nie,” het ek gesê. “Hy het sy eie manier op universiteit gehad. Om hom voor ’n klas te gesien het, was al klaar iets, maar om alleen saam met hom in sy kantoor te sit, was seker die ultimate, soos ons op varsity gesê het. Iets wat jy nie sommer vergeet het nie.”
Ek het omgekyk na die gang vir Rentia, maar sy was klaar te ver om te hoor; dit was eerder of ek met myself gepraat het . . .
Net ek het die sleutel van Mafika se studeerkamer gehad. Vir die ander het dit seker nie eintlik iets beteken nie, maar vir my was dit nogal heavy. Dit het my ’n gevoel van besitreg gegee, asof dit mý studeerkamer is, al het ek die deur nooit gesluit nie. Daar was net een venster in die vertrek; dis wat dit so bleddie donker gemaak het dat ek selfs in die dag die lig moes aansit om die boeke se titels te lees.
In die hoek het ’n gemaklike ou leunstoel gestaan; daar was ook ’n enkelbed en oral op die vloer het bokvelle gelê. Anders as die res van die huis het die studeerkamer ’n leiklipvloer gehad. Al was dit moewies groot, het dit steeds gelyk of daar te veel goed in was. Rentia het dit eenkeer as ’n hamerkop se nes beskryf – alles word hierheen aankarwei: ’n mooi klip, ’n bottel wat in ’n veldbrand gesmelt het, ’n stuk dryfhout, ’n klein skilpadjie se dop, ’n knoetserige kierie, die doppie van ’n patroon wat ’n besonderse bok platgetrek het, ’n Afrikanerbees se horings, selfs ’n ou knyptang, ’n gladgevatte sweepstok en ’n vinknes.
Tog was “gesellig” nie regtig die woord waarmee ek die vertrek sou beskryf nie; dit het eerder ’n soort “teenwoordigheid” gehad. ’n Presence, soos ons destyds altyd gesê het. Nie dat Mafika ooit die tipe charisma gehad het wat my aangetrek het nie. Maar eintlik sou ek hom eers na sy dood beter leer ken. Die stoeppraatjies wat ons gemaak het, het nie veel uit te waai gehad met die man in wie se studeerkamer ek toe gewerk het nie – dit het ek dêm gou al agtergekom.
Sy boeke was nie alfabeties gerangskik nie; die onderwerpe het so wyd soos die universiteit se sportvelde gelê. Anders as wat ek verwag het, was daar min boeke oor boerdery; die boeke het oor ander mense en dinge gegaan.
Ek het die afdeling regsboeke onmiddellik oorgeslaan en in die rak langsaan begin lees oor die taal van die plaaswerkers – die taal wat Rentia en Bullet partykeer gebruik het om goed vir my weg te steek.
Mkhwenyane, vir skoonseun – ek het die woord een oggend op die werf getoets. Hoekom het dit gelyk of die werkers lag? Rentia se plaasnaam, Lindiwe – die een waarop ons gewag het? Hulle het geknik. Dubula vir skiet. Die werkers het weer gelag. Mhlophe? het ek gevra. Die gelag het meteens opgedroog, hulle het hul tonge geklap en met hul hande in die kloof op gewys.
Die voetrus was met gevlekte Nguni-vel oorgetrek en elke week is daar ’n skoon deken oor die enkelbed getrek; die kussing het altyd gelyk of dit uitgeklop was, en al het ek die kaggel nooit gebruik nie, was dit wragtig elke week oorgepak.
Met die skerp lig buite het ’n mens die gevoel gekry dat jy in die donker sit. Die leunstoel was so gedraai dat jy deur die smal venster die kom en gaan van die mense buite kon sien – die sitplek waarvandaan Mafika ’n leeftyd lank onsigbaar die bewegings op Dwaalpoort se werf gekontroleer het.
Die Marquis de Sade. ’n Vreemde naam tussen die plaasmense. Hier en daar het ek tog iets op die rakke herken. Mary Shelley se Frankenstein. Met wie het hy hierdie belangstelling gedeel? The Piano Teacher; Darkness at Noon. Ek het by studies verbygeloop oor tatoeëring, astrologie, dobbelary, taalvaardigheid en pornografie. Plek-plek het ek ’n boek uitgetrek. Ek het Dracula geëien. Sekere paragrawe was gemerk; party reëls was onderstreep . . . Lolita van Nabokov. In die kantlyn het ek Mafika se handskrif gesien.
Hy het soms op boeredae gepraat, maar min van sy toesprake het ooit die boeretydskrif gehaal. Seker oor die kruheid daarvan. Partykeer het hy probeer om snaaks te klink, soos in sy beskrywing van die draaie van beeshorings, maar ek twyfel of dit in almal se smaak sou val. Die opvolg was darem ligter en opgeruimder – ’n benaming van die velkleure in ’n Nguni-beestrop.
Terwyl ek deur die rakke gevroetel het, het een van die kleiner stapels papier op die vloer geval: ’n beskrywing van die wildvangoperasies op Dwaalpoort. As mede-eienaar en wildbestuurder het dit dadelik my aandag getrek. Ek het dit opgetel en deurgeblaai. Bullet se hand, maar Rentia se handskrif. Hier en daar het ’n woord vanself uit die papier na my opgespring. Jeepers! Die vloekwoorde wat Rentia doodgetrek het, wou steeds nie gaan lê nie.
Ek het met die papier voor die rekenaar gaan sit en dit begin oortik. Hierdie stuk skryfwerk was in elk geval onder meer as een hand deur, het ek besluit, daarom kon dit aan niemand spesifieks behoort nie. Behalwe miskien aan Dwaalpoort. En hoe de hel kan ’n plaas nou outeursreg afdwing?
Miskien sou ek dit iewers in ’n wildtydskrif onder my naam kon publiseer.
Wildhervestiging? Wie weet? Dalk was dit net die ding om die jagsafari’s vanuit ’n moderner hoek op die kaart te plaas: omgewingsvriendelik – dís mos die buzzword wat nou oral so aandag trek. Toeriste hou mos daarvan om deel te voel van iets avontuurliks wat hulle nie elders kan beleef nie; meer nog as daar ’n lekker vet Afrika-kleur deurslaan.
Terwyl ek getik het, was dit nie regtig moeilik om my in die rol van wildvanger in te leef nie; ek het die woorde mos al vantevore gehoor.
Dis soggens vroeg op en skemerdonker wanneer ons die laaste bokke van die dag agterop die trok gekalmeer en in lotte gesorteer het. Dan word daar ’n paar drinks op die stoep gemaak, die volgende dag se vangs word noukeurig beplan en almal gaan vroeërig slaap. Dis ons program vir die volgende twee weke.
Vir ander dinge is daar dus nie veel tyd nie. Behalwe die bietjie geselskap in die middel van die dag wanneer ons op die plaasstoep op matrasse lê en rus. Dis te warm om te vang, die wild in die veld moet in elk geval settle en die vangers